Suidoos-Angola 1987-1989 in perspektief: Castro, Von Clausewitz en Liddell Hart

Brigadier-Generaal JNR (Junior) Botha

Onderstaande artikel, geskryf deur Brigadier-Generaal JNR (Junior) Botha, is gepubliseer as Hoofstuk 1 in Deel 5: Weerklanke in die nadraai van die boek Ons was daar: Wenners van die Oorlog om Suider-Afrika.

Hoofstuk 1
Suidoos-Angola 1987-89 in perspektief:
Castro, Von Clausewitz en Liddell Hart

In ’n vorige hoofstuk het ek ’n oorsig gegee van wat in dié betrokke jare in Suidoos- Angola gebeur het – gesien vanuit die perspektief van die Senior Stafoffisier: Operasies by Direkteur: Operasies in Leërhoofkwartier. Dit is reeds meer as twintig jaar na die gebeure.

Daar is egter, sedert daardie tyd, soveel onwaarhede oor dié gebeure as die “waarheid” verkondig, dat ek nie anders kan as om daarop te reageer nie. Verskeie persone en instansies, uit ’n wye spektrum van die samelewing – politici, akademici en selfs oud-soldate – lewer kommentaar oor dié gebeure. In die meerderheid van die gevalle kan ’n mens met ’n stok aanvoel dat die feite aangepas is om ’n bepaalde doel te dien. Dit word aanvaar dat politici die “waarheid” aanpas – dít is politiek. Waarmee ek wel ’n probleem het, is die belaglike beredenering van sommige akademici en oudsoldate.

Persoonlik het ek het niks om te wen of te verloor nie – ek is reeds ’n hele paar jaar afgetree, maar dit is nodig om ’n nugtere perspektief oor dié gebeure aan te bied.

Ek glo dit is nodig om eers ’n paar opmerkings oor die teorie van oorlogvoering te maak. Dit is tog sekerlik hierdie teoretiese agtergrond wat deur die akademici en oudsoldate gebruik word. Dr. Leopold Scholtz, in sy artikel, Cuito Cuanavale – Wie het werklik gewen? (Scientia Militaria – 28(1), 1988) leun swaar op die wysgere, Liddell Hart en Von Clausewitz. Verder spring hy in sy artikel vryelik deur die verskillende bevelsvlakke en bied hy uitlatings en/of kommentaar as “feite” aan. Dit maak natuurlik sy artikel ongeloofwaardig.

Ek is geen akademiese reus met kennis van al die geskrifte van Liddell Hart en Clausewitz nie. Ek is egter ook nie heeltemal onkundig nie. Ek het al gewonder of daar al ooit ’n oorlog “suiwer” op hierdie skrywers se beginsels gevoer is. Persoonlik dra ek nie kennis van so ’n oorlog nie, en indien my waarneming naastenby korrek is, het dit ’n paar implikasies.

• Die teorieë van hierdie skrywers, en vele ander, is presies dit: teorieë. Dit was nog nooit in ’n werklike oorlog getoets nie. Dit is só ver van die werklikheid verwyder dat dit bloot van akademiese belang is!

• Ek het in vele lesings oor die teorie van oorlogvoering gesit en gewonder wat dít met die werklikheid van my elke dag se offisier-wees te doen het? Hoe bring ek Liddell Hart en Clausewitz by die aanval op Smokeshell se doelwit uit? Die
beginsels is dieselfde – die praktiese toepassing is egter anders.

• Is daar werklik mense wat steeds ’n teorie van oorlogvoering aanhang wat min of meer soos volg klink: “Generaal, vernietig die vyand en sê vir my wanneer jy klaar is.” Selfs NAVO werk nie meer op dié beginsel nie.

In moderne oorlog is die Politiek (regering) en die Militêr (slagveld) nie van mekaar verwyder nie. ’n Goeie voorbeeld hiervan is toe die Kubane en Fapla aan die Lombarivier verslaan is, het Castro persoonlik beheer oor hierdie operasies vanuit Havana oorgeneem. Ons weet dat die Kubaanse operasionele bevelvoerders geen beslissings kon maak voordat dit deur “Havana” goedgekeur is nie. Daar is ook talle voorbeelde waar politici tot in die “voorste loopgrawe” deur middel van die tegnologie van kommunikasie ingemeng en beslissings gemaak het.

Die vloedvlakte van die Kavangorivier Foto: Brigadier-Generaal Gert van Niekerk

Die SA Weermag is geen uitsondering nie en sedert ons in die oorlog in Suidwes-Afrika/Angola betrokke geraak het, was die Suid-Afrikaanse politici intens daarby betrokke. Die aard van die konflik het dit genoodsaak, en dit is natuurlik reg dat dit só moes wees. Oorlog is tog die praktiese implementering van politiek op ’n ander vlak. Dr. Scholtz skryf egter: “The operation was, however, run with excessive operational control from Pretoria”. Geen opmerking of kommentaar oor die Kubaanse bevel nie. Hy pas een stel maatstawwe op die RSA toe, maar gebruik nie dieselfde stel maatstawwe vir die anderkant nie. Dit beklemtoon die eensydige siening van dr. Scholtz in sy vermelde artikel. Hy gee sy geloofwaardigheid as ’n akademikus prys deur hierdie ondeurdagte en eensydige standpunt. Ten minste was “Pretoria” nader aan die “slagveld” as Havana.

Dit kon verwag word dat, as dr. Scholtz beide kante met dieselfde maatstawwe sou meet, hy tot ’n meer sinvolle slotsom sou gekom het. In die omgewing waarin ons beweeg het, was twee plus twee nie altyd vier nie – in baie operasies het Suid-Afrikaanse soldate doelwitte verower wat hulle volgens ’n suiwer mags- of getalleteorie nie kon aanval nie. Die “somme-oefening” of teorie het in die praktyk anders gewerk. Hierdie stelling kan deur verskeie lede van die SA Weermag met letterlik honderde voorbeelde gestaaf word. Die beginsel bepaal byvoorbeeld dat jy tenks met tenks beveg. Die Russiese tenk wat by die SA Leërkollege staan, of gestaan het, is deur ligte pantserkarre, ook bekend as “noddy-karre”,
uitgehaal.

Dit is ook noodsaaklik dat ek terugkeer na ’n verdere stelling van dr. Scholtz: “The stalemate was then brilliantly broken by Cuban Forces, who marched to the southwestern Namibian border, threatening to cut the South Africans off at Tumpo, or alternative to invade Namibia.” Dit is ’n uitstekende voorbeeld van die volslae onbegrip of wanpersepsie van die situasie deur ’n gesiene akademikus. Wat is die ware feite?

• Die voorste elemente van die 50ste Kubaanse Divisie het in die Lubanguomgewing (Suidwes-Angola) inbeweeg gedurende die tydperk van Operasie Hooper (November1987/Januarie 1988). As ’n mag om in aanmerking te neem, was hulle eers lank na Operasie Packer (Maart 1988), en eers tydens Operasie Displace (April/Mei 1988) ontplooi en in plek. Slegs ’n vrugbare verbeelding, aangespoor deur moontlik ander motiewe, kan hierdie mag ’n faktor in Operasies Moduler (November
1987), Hooper en Packer maak. Dit het die SA Weermag se besluite in Suidoos-Angola nooit beïnvloed nie, omrede die 50ste Kubaanse Divisie in dié tydperk eenvoudig nie daar was nie.

• Die skets met pyle op bladsy 26 van dr. Scholtz se artikel kan eenvoudig nie waar wees nie. Die Kubaanse mag was nie daar toe dit saak gemaak het nie. Dit herinner my aan ’n goeie spotprent, waarvan ek al ’n paar gesien het.

• Verder is dit belangrik om te kyk na die terrein waarvan die Kubaanse mag totaal afhanklik sou gewees het. As jy na die kaart van die gebied kyk, sal jy merk dat in die gebied waardeur die Kubaanse mag moes beweeg het, al die riviere en droëlope noord/suid vloei. Die hele dreineringsisteem vloei na die Kavango-delta. Hierdie Kubaanse mag sou al hierdie riviere en droëlope van wes na oos moes oorsteek. Op ’n kaart is dit nie ’n probleem nie, maar op die grond kan dit ’n “uitdaging” wees. Elk van hierdie “droëlope” het ’n vloedvlakte en wanneer die water uit Suid-Angola na die Kavango dreineer, word hierdie gebied in ’n groot hindernis omskep. In die tyd toe hierdie aanmars moes plaasvind,
was hierdie riviere en droëlope juis in vloed en die vloedvlaktes ’n ongelooflike hindernis. In werklikheid sou na berekening elke derde voertuig in die modder vasgeval het. Die magtige Kubaanse mag sou inderdaad nie op grond kon beweeg het nie; dalk in die lug – of in iemand se verbeelding.

• Maar, wat sou die doel van so ’n Kubaanse “aanmars” kon wees? Glo iemand regtig dat hulle Cuito Cuanavale wou beveilig teen só ’n prys? Ek het min twyfel daaroor dat só ’n plan selfs Castro sou verbaas het.

• Indien die onervare en swak opgeleide Kubane of Russe die “wysheid” van dr. Scholtz sou volg, sou dit vir die SA Weermag en, veral vir Unita, ’n plesier gewees het. Beide sou oor baie kilometers baie maklike teikens gehad het om rustig uit te haal. Selfs die Kubane en die Russe was nie só onnosel nie.

Maar wat het die 50ste Kubaanse Divisie in Angola kom maak? Hulle ontplooiing het in der waarheid niks met die operasies in Suidoos Angola te make gehad nie. Hulle was suiwer daar om die onttrekking van die Kubane uit Angola te dek. Die Kubane was in Angola sedert 1975, waar hulle deur al die jare ’n wesentlike bydrae aan die bevolking van Angola gelewer het.

Dit is egter ook belangrik om te verstaan dat Afrikaanssprekende individue sleutelrolle in die konflik gespeel het. Hoewel dit in ons gene is om te verskil, het ons geloof in die Here gemaak dat ons dinge gedoen kry. Maar, wat beteken dit – gesien vanuit die gesigspunt van die SA Weermag?

• Die offisiere wat ’n sleutelrol in dié operasies gespeel het, was almal, op hulle onderskeie vlakke, uitstekend opgelei, toegerus en ervare. Die generaals het deur die range beweeg van omtrent die vlak van kompaniebevelvoerders af. Toe hierdie operasies plaasgevind het, was dit vir seker nie die eerste keer dat hulle so ’n situasie beleef het nie –
ook nie op hul vlak nie, en ook nie as veldoffisiere nie.

• Elke nuwe geslag offisiere glo dat hulle die wiel uitgevind het en dit was nie anders in dié operasies nie. Daar is verskeie individue wat daarvan oortuig is dat hulle die eerstes was om ernstig oor die probleem van Suidoos-Angola na te dink. Maar, elkeen oorweeg die situasie met die stel feite tot sy beskikking. Hierdie kennis (takties, operasioneel of strategiese feite) sal afhang van jou bevelsvlak. Elke nuwe generasie offisiere het nie die wiel uitgevind nie, en ook nie oor alle feite beskik nie. As dít nie só was nie, sou daar geen behoefte aan bevelsvlakke gewees het nie. Elke offisier het sy besluite gebaseer op die feite tot sy beskikking op ’n betrokke stadium. Die hoër en/of laer vlak sal nie, noodwendig, dié volle waarheid of situasie begryp nie.

• Dan, die inherente krag van ons mense. Ten spyte van alle goeie militêre opleiding sal ons van mekaar verskil. Ek glo dit is ’n krag is wat nie getemper moet word nie, want ons het soldate nodig wat kan dink. In die tyd van hierdie operasies het ons oor ’n groep offisiere beskik wat “dit al gesien het” en verstaan wat dit beteken. Natuurlik sal hulle sê wat hulle dink – dit moet só wees. Die vraag bly of hulle oor al die feite beskik.

• Daarom is dit ook ’n feit dat individue operasies op ’n bepaalde manier beleef. Ek het dit só ervaar – iemand wat ’n paar meter van my op ’n doelwit was, het die hele saak dalk totaal anders beleef. Elkeen is geregtig op sy mening, maar wat is die volle waarheid?

• Die hele saak raak nog ingewikkelder as daar individue is wat glo hulle moes reeds generaals gewees het.

• Enige persoon is geregtig is op sy eie mening. Maar, glo dr. Scholtz werklik dat “As die besluitnemers ’n behoorlike begrip van die teoretiese beginsels van die strategie en operasionele kuns gehad het, wie weet, kon sake anders verloop het”?

Ek wil myself nie verlaag tot ’n debat oor dié soort argument nie. Dr. Scholtz werk immers met ’n stel teoretiese beginsels wat nog nooit werklik getoets is nie. Daarteenoor beskik die oud SA Weermag-generaals oor bewese suksesse van ongeveer twintig jaar. Is Liddell Hart en Clausewitz regtig nog toepaslik? Natuurlik is hulle. Dit is net verstommend oor hoe hul beginsels toegepas word – nie een van hulle sou dit kon glo nie. Hoe dit dan nou ook al mag wees. Ek wonder wat dr. Scholtz, as historiese wetenskaplike, met hierdie artikel beoog het: is dit omdat sy siening die Kubaanse (Havana) en die RSA-regerings sou pas? Dit is skrikwekkend om te dink dat hy as ’n kenner oor die onderwerp beskou kan word. Ek het geen ander verklaring daarvoor nie.

Die Kavangorivier in die droë seisoen Foto: Brigadier-Generaal Gert van Niekerk

Ek is oortuig daarvan dat die RSA en die SA Weermag die propagandaoorlog verloor het. Dít was egter ál wat die SA Weermag verloor het, en daarom is dit is vir my onverklaarbaar dat dr. Scholtz homself ’n wetenskaplike noem en hierdie ondeurdagte feite as deel van sy argumente aanbied. Speel hy saam met Assoernasirpal se “jonger boetie” met die naam Fidel of, gaan dit bloot oor ’n paar ander professionele leemtes?

Dr. Scholtz gebruik Liddell Hart as sy verwysingsraamwerk om die gebeure te evalueer. Maar is die werk nog toepaslik? Toe Liddell Hart oor militêre sake geskryf het, wat was sy kennis van rewolusionêre oorlogsvoering? Selfs NAVO het oor dié “hekkie” gekom. Dr. Scholtz speel sokker op die atletiekbaan, terwyl die werklike wedstryd op die rugbyveld plaasvind volgens waterpolo-reëls. Die “wenner” word, volgens dr. Scholtz, op die atletiekbaan bepaal deur waterpolo-reëls toe te pas. Hoe geloofwaardig kan dit wees?

Die meer sinvolle manier om te bepaal wie die wenner is, is om te kyk na wat die verskillende partye wou bereik en of hulle dit bereik het. In so ’n ontleding moet ook na dieselfde bevelsvlakke gekyk word. Jy kan byvoorbeeld nie die doel van ’n klein vegspan met die van ’n gemotoriseerde veggroep of ’n leërmag vergelyk nie. Indien jy dít nie doen nie, vergelyk jy appels met pere.

Ek baseer my standpunte, beredenering en sienings op die bevelsvlak van leërhoofkwartier, waar ek ten tye as stafoffisier gewerk het. As bronne werk ek met die volgende: Die fisiese operasionele instruksies wat die SA Leërhoofkwartier uitgereik het, asook die inligtingsprent soos die operasies verloop het. Ek sou graag die tersaaklike operasionele instruksies wou gebruik, maar dit is egter nie beskikbaar nie. Dalk kan dr. Scholtz ons hiermee help?

Wat was die Kubane/Fapla se doelwit? Daar is min twyfel daaroor: hulle wou Mavinga as stadium een verower in hul veldtog om Jamba (Unita se hoofkwartier) te verower. Vir seker het hulle nie hierin geslaag nie. Selfs diegene wat totaal vir Fidel Castro se propaganda “geval” het, moet dít erken. Daar kan geen twyfel wees nie en enige argument wat die teendeel beweer, is te wyte aan ’n akademiese “mistasting” of ’n bewys van hoe suksesvol Fidel se propaganda was. Dr. Scholtz moet seker maar kies waar hy wil inpas.

Wat wou die SA Weermag bereik? Die SA Weermag wou nie ’n situasie toelaat wat Swapo in staat sou stel om weer die Kavango en die Caprivi te aktiveer nie. Hierin het Swapo nie geslaag nie. Fapla en die Kubane was besig om Cuito Cuanavale te verdedig “teen elke prys”. Enige argument wat die teendeel beweer, is weer eens te wyte aan ’n akademiese “mistasting” of ’n goeie bewys van hoe suksesvol Fidel se propaganda was. Ek is baie bewus daarvan dat van my kollegas meer operasionele ondervinding as ek in dié oorlog opgedoen het. Ek het egter ook nie geen ondervinding op die grond gehad het nie. Ek het sedert Operasie Savannah in 1975/76 periodiek in operasies betrokke geraak. Retrospektief is
ek dankbaar dat ek die voorreg gehad het om “dieselfde ding” op die verskillende bevelsvlakke in die SA Weermag, van kompaniebevelsvlak tot op die vlak van Hoof van die SA Weermag (in dié situasie as ’n stafoffisier) te kon beleef en in verskillende aanstellings gefunksioneer het.

Laastens wil ek verwys na twee aanhalings uit dr. Scholtz se artikel:

• Bladsy 57:

Heitman het daarom gelyk: ‘The South Africans managed to bring about a total change in both the strategic and polical situation in south-eastern Africa by the carefully controlled application of limited force. Operation Moduler and the ensuing campaign are an excellent illustration of war as an instrument of politics: the deployment of a small force operating under very close political control achieved the polical end that eluded the diplomats for years.

• Bladsy 58: Ek haal weer aan:

Die onbevredigende punte wat Suid-Afrika behaal het, is gedeeltelik te wyte aan die feit dat die Suid-Afrikaanse topoffisiere waarskynlik geen voldoende insig in die teoretiese beginsels van oorlogvoering had nie.

Hoe op aarde bring ’n mens, in één artikel, dié twee stellings byeen? Ek sou baie graag teenwoordig wou wees by ’n “debat” oor die teorie van oorlogvoering waaraan dr. Scholtz en die klomp “dom” generaals op gelyke vlak deelneem. Ek verwys na generaals soos genl. Jannie Geldenhuys, genl. Georg Meiring, genl.maj. Chris Serfontein, die betrokke hoofde van die SA Lugmag en die SA Vloot. Dan is daar ook diegene wat nie meer met ons is nie: lt.genl. Deon Ferreira (ten tye ’n kolonel) en genl. Kat Liebenberg (ten tye Hoof van die SA Leër). Al hierdie individue was nie net geskoold in die teorie van oorlogvoering nie – hulle was, hoewel nie een van hulle ’n doktorsgraad behaal het nie, goed opgelei om sukses te behaal in werklike oorlogvoering.

THERE NEVER WAS A “BATTLE FOR CUITO CUANAVALE”

Dis nou al baie jare dat Suid-Afrika aan die einde van die jaar ’n rugbytoer na die Verenigde Koninkryk onderneem. Tydens sommige van hierdie toere het hulle oor die jare teen die meerderheid van die nasies gespeel wat aan die sesnasie-kampioenskap deelgeneem het. Hoewel dit nie onlangs gebeur het nie, het die Springbokke al hierdie wedstryde op ’n stadium gewen. Is dit regverdig om hulle daarvan te beskuldig dat hulle die sesnasie-kampioenskap in 2007 “verloor” het? Hulle het nooit aan daardie kampioenskap deelgeneem nie. Net so met Cuito Cuanavale!

In Memoriam – Junior Botha

Generaal Jannie Geldenhuys: ’n Paar dae nadat Junior Botha sy finale hoofstukke ingedien het, kry ek die boodskap dat hy skielik heengegaan het, op Woensdag 20 Julie 2011. Ek was geskok!

Hy het heelwat ondervinding van oorlog te velde gehad, en hy was ’n sleutel senior operasies staffoffisier gedurende die middel/laat tagtigerjare. Hierdie Suid Afrikaanse patriot was uiters bekwaam en trots daarop, maar beskeie. Na aftrede was hierdie gesinsman baie bedrywig.

Gedurende die laaste dekade, met sy operasionele ondervinding en kennis uit die operasiekamer, het hy al hoe meer woedend geword vir die skelm en bedrieër, Fidel Castro, met sy ongelooflike bedrog van ’n “Kubaanse oorwinning by Cuito Cuanavale”.

Verder was hy erg gekrenk deur diegene wat Castro as ’n vermaarde strateeg ondersteun het omdat dit hul eie persoonlike doelwitte bevorder het.

Dit het my letterlik jare geneem om Junior te oortuig om ’n bydrae tot hierdie boek te maak. Sy hoofstukke behoort uiteindelik die waarheid te laat seëvier – ongelukkig in sy afwesigheid.

Ek salueer hom!

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

3 Kommentare

Leopold Scholtz ·

Ek gaan my reaksie baie kort hou, want ek vind dit buitengewoon moeilik om met ‘n oorledene te debatteer. Ek moet egter ‘n paar punte maak:

1. Dis vir my duidelik dat wyle Junior Botha die artikel wat hy aanval óf nie behoorlik gelees óf nie behoorlik begryp het nie. Wat ook al die geval is, hy dig standpunte aan my toe wat ek nooit gehad het nie. Ek word as ‘n teenstander van die SAW en ‘n aanhanger van Fidel Castro afgeskilder, wat totaal belaglik is. Ek is ‘n historikus, wat beteken dat ek objektief moet probeer wees. As die SAW lof verdien, gee ek dit. As daar foute begaan is, moet ek dit aandui. As Castro ‘n goeie skuif gemaak het, moet ek dit sê, en ek vra nie ekskuus daarvoor nie.

2. Dis verder duidelik dat Botha nóg Clausewitz nóg Liddell Hart ooit gelees het. Natuurlik help Clausewitz se idees nie wanneer jy vir ‘n aanval op Smokeshell beplan nie, en ek het ook nooit so iets geïmpliseer nie. Clausewitz is veral nuttig wanneer jy die verband op die hoogste vlak tussen politiek en oorlog – en tussen die politici en die soldate – wil begryp. Só het ek hom ook behandel. Liddell Hart is veel nuttiger op operasionele vlak. Botha gee te kenne daar is nog nooit ‘n oorlog volgens sy idees gevoer nie. Wel, die Duitsers het in WOII nogal by hom geleen, soos ook die Israeli’s in 1967 en 1973 en die Amerikaners in 1991 en 2003. Albei se idees word wêreldwyd in militêre akademies geleer, en Botha se verregaande onkunde sal met ‘n dawerende gelag in feitlik elke moderne weermag begroet word. Dis verstommend.

3. Ek vra my af waarom dié aanval uit die bloute op my in genl. Jannie Geldenhuys se boek ingesluit is. Wie het hom gevra om dit te doen, en waarom? Wie skuil agter Botha? Waarom kan die verantwoordelike nie in sy eie naam oor ‘n oop visier veg nie?

Dis al wat ek wil sê. Botha is oorlede, en vir die dood moet ‘n mens respek hê.

Met vriendelike groete

Leopold Scholtz

Louis du Plessis ·

STRATEGIE PATROLLEER

Dag Leopold ~

1 Jy maak hieronder jou stem dik oor geskiedskrywing sowel as oor oorlogsbeginsels. Ek verwys graag na albei.

2 Dat Junior Botha in sy bydrae wel sekere persepsies herlei, mag beteken dit kom ook elders voor. So, ek is bly jy het deeglik daarvan kennis geneem. Soos jy seker dadelik opgemerk het, verwys hy na jou artikel asof dit in 1988 verskyn het terwyl dit eers tien jaar later, in 1989, gepubliseer is.

3 Ek verbaas my gereeld oor die onvermoë van waarnemers om te kan onderskei tussen wat werklik gebeur en wat ‘n spesifieke agent sou wou hê móét gebeur; tussen is en behoort; tussen feite en waardes; tussen verstand en hart; tussen geskiedenis en voorkeure. Lyk my ons moet maar aanvaar baie toeskouers vóél voordat hulle dink.

4 In militêre operasies dink jy eers wat is die opsies (waardering) en dan kies jy die mees wenslike opsie (plan). Hy wat gebeure beskryf volgens sy eie voorkeure oor die uitslae, eerder as volgens die harde feite, verinneweer geskiedenis. Trouens, reeds in 1972 naby die Swartberge het die instrukteurs van die Infanterieskool ons gewaarsku daarteen om jou waardering te laat besoedel deur jou plan! Dankie vir jou diep waarheid: “Ek is ‘n historikus, wat beteken dat ek objektief moet probeer wees.”

5 Voorts, wie ook al veldslae, operasies, gevegte en selfs skermutselings deurdink het, sien die tersaaklikheid van die beginsels van oorlog daarin. Natuurlik is Liddell Hart relevant. Ek sou wou argumenteer talle ander strateë is ook relevant, vanaf Soen Tsoe en Von Clausewitz, verby meer praktiese leiers soos Bismarck en Mao, tot by die uitmuntende gidse wat Leërhoofkwartier, soos in die 1970s, oor die konvensionele landgeveg die lig laat sien het.

6 Ons kan hierdie kwessie verder ontrafel. Jy merk hierbo op: “Natuurlik help Clausewitz se idees nie wanneer jy vir ‘n aanval op Smokeshell beplan nie, en ek het ook nooit so iets geïmpliseer nie.” Ek dink jy het te gou die knie gebuig voor Junior se ondeurdagte kritiek. Natuurlik geld die teoretiese beginsels van oorlog, ook van Von Clausewitz – kyk veral sy boek 3 oor strategie en sy boek 4 oor die geveg – as jy ‘n aanval soos Smokeshell beplan asook, en verál, terwyl jy dit uitvoer!

7 Beginsels soos misleiding, mobiliteit en konsentrasie geld selfs ook op subeenheidsvlak, in kompaniegevegshantering. Trouens, Leopold, dit geld vir pelotongevegsdrils, soos vuur en beweging! Uiteraard verg dit aansienlike ervaring en ‘n skerpsinnige oordeelsvermoë van bevelvoerders om die relatiewe voorkeurorde van die beginsels te deurdink en toe te pas. Kyk wat het Piet Joubert prinsipieel by Magersfontein reggekry!

8 Leopold, ek was self oorbluf oor die “verregaande onkunde” oor krygskundige teorie wat jy ontbloot. Dit word opreg waardeer dat jy agter jou visier ingeklim het vir die onbreekbare band tussen politiek, strategie, operasies, taktiek, gevegshantering, gevegsdrils, en selfs patrollering: dis almal vlakke van een en diesélfde uitdaging.

9 Kyk noord en veg voort!

Abel Esterhuyse ·

Ek is maar altyd altyd baie versigtig om betrokke te raak by akademiese bekgevegte. In die geval van debatte oor die SAW en wat die SAW veronderstel was om te doen / nie moes doen in Angola, is dit selfs nog meer gevaarlik. Daar is baie gevoelens by betrokke en dit is juis die gevoelens van hulle wat naby die vuur sit (of gesit het) wat wat mens nie wil seermaak nie. Soveel te meer omdat daar baie persoonlike respek is vir van die (senior) oud-SWA lede en die SAW so ‘n kritiese saakmakende rol in die 1980s gespeel het in die versekering van ‘n toekoms waar ons die reg het om van mekaar te verskil in 2011.

Daar is egter vir my twee aspekte in hierdie hoofstuk wat ek as akademikus interessant vind. Die een is die anti-intellektuele aard van die debat vanuit die SAW perspektief. Selfs die wyse waarop hierdie artikel geskryf is en opmerkings soos “[d]ie teorieë van hierdie skrywers, en vele ander, is presies dit: teorieë. Dit was nog nooit in ’n werklike oorlog getoets nie. Dit is só ver van die werklikheid verwyder dat dit bloot van akademiese belang is!” is absoluut skrikwekkend. As dit die vlak is van die intellektuele insigte en die verstaan van die toepassing van krygsteorie deur die senior offisiere van die SAW gee dit geweldige insig in die rede waarom die SAW ook die propaganda-oorlog verloor het. Dit bevestig die geweldige “tactical and operational mindedness” van die SAW: ‘n fokus op gevegte, en ‘n gebrek aan ‘n hoër orde verstaan van oorlog en die gebruik van militêre mag as beleidsinstrument. Dat selfs dit wat die korporaal doen direkte politieke impak het.

Daar is egter vir my ‘n tweede opvallende aspek in hierdie artikel. – ‘n “speel van die man eerder as die bal” benadering gemeng met ‘n slagoffer mentaliteit en ‘n goeie skoot sarkasme. Die outeur is nie hier om homself te verdedig nie. Maar ‘n mens sou beter verwag van senior offisiere. ‘n Logies beredeneerde uiteensetting van argumente om die teendeel te bewys eerder as ‘n sarkastiese slagoffer ingesteldheidheid wat eerder ‘n refleksie is van ‘n afbrekende benadering en swak menseverhoudinge! En ek stel die feit gedagtig daaraan dat ek self in presies dieselfde slaggat mag trap! Ek hoop egter dat die res van die boek op beter bene staan as hierdie soeke na selfreverdiging.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.