Supergom van ʼn diep verdeelde nasie

amerika-vlag

Argieffoto.

Deur Johann Holzapfel

As jy Amerikaners van jou wil vervreem, moet jy hul vlag en volkslied beledig. Albei is al meer as tweehonderd jaar magtige samebindende simbole van ʼn steeds diep verdeelde nasie. Op veral twee dae van die jaar skuif die Amerikaners hul twiste opsy, salueer die Stars and Stripes en sing met die regterhand op die hart saam die Star Spangled Banner.

Een van die blywendste indrukke van ons verblyf in Washington is Amerikaners se verknogtheid aan hul vlag (amptelik sedert 14 Junie 1777) en volkslied (sedert 1814 ʼn patriotiese lied wat wyd gesing is, maar eers op 3 Maart 1913 as amptelike volkslied deur die Kongres goedgekeur is). Hierdie simbole is die supergom van ʼn nasie, ondanks die erflating van slawerny (amptelik afgeskaf in 1865) en die bloedige burgeroorlog van 1861 tot 1865, wat blywende letsels gelaat het.

Dit hou straks lesse in vir Suid-Afrika teen die agtergrond van die jongste (soveelste) bekgevegte oor die behoud al dan nie van die huidige nasionale volkslied, Nkosi Sikilel’ iAfrica. Met vir sommige die “aanstootlike” Afrikaanse deeltjie “Uit die blou van onse hemel…” omdat dit aan apartheid en “die taal van die verdrukker” herinner, neffens die strofes in Xhosa, Zoeloe, Sesotho en Engels. Sommige mense dring selfs aan op ʼn totaal nuwe lied net in Engels. En ʼn ander stroming pleit om een met erkenning aan al elf amptelike landstale.

En daarmee saam steeds die sito-sito indeling van Suid-Afrikaners in ons-en-hulle-swart-en- wit-kampe. Byna daaglikse voorvalle van “rassisme”: twis en tweedrag oor “diskriminerende” reëls oor hare, kleurkwotas, regstellende aksie…noem maar op.

Ons destydse buurman in Bethesda, Maryland, was een vroegsomeroggend al van rooidag af doenig met ʼn paal en ʼn trapleer by sy voordeur. Dit was Memorial Day (Gedenkdag), ʼn nasionale vakansiedag en tyd vir een van sy twee vaste jaarlikse afsprake met die landsvlag, die Stars and Stripes en die volkslied, The Star-Spangled Banner.

Dan, net soos op ʼn selfs belangriker datum op die kalender, 4 Julie, wanneer Onafhanklikheidsdag landwyd gevier word met kalkoen op die tafel, hang hy die vlag halfstok teen ʼn hoek van 45 grade langs sy voordeur.

Dis ʼn tradisie wat hy en miljoene Amerikaners, ongeag hul politieke en verskille en nimmereindigende twiste oor ras, getrou en spontaan in stand hou.

Letterlik miljoene vlae hang die voormiddag halfstok en word om twaalfuur tot bo gehys, wanneer Amerikaners met die regterhand op die hart verklaar: “Ons is almal Amerikaners: die somtotaal van die goed en sleg van ons verlede. Ons is lief vir ons land en ons is trots op ons vlag en ons volkslied.”

Die eerste klippie het in 1866 in die dam geval. Dit was ʼn jaar ná die einde van die burgeroorlog tussen Noord en Suid, waarin na raming 750 000 soldate omgekom het. Wanneer daar in veral die suidelike state die ou Konfederale vlag, wat ná die burgeroorlog nooit verbied is nie, neffens die Stars and Stripes wapper.

Om die wonde te help heel en versoening te bevorder, is ʼn nasionale vakansiedag, Decoration Day, verklaar. ʼn Dag waarop die grafte van ál die slagoffers van die oorlog, Noord en Suid, besoek en met blomme en vlae versier word.

Die klippie se eerste golfies het mettertyd branders geword. Die dag is herdoop tot Memorial Day ter nagedagtenis van almal wat die hoogste offer in ál Amerika se oorloë betaal het.

Dit word elke laaste Maandag van Mei gevier met parades, kransleggings, opelugkonserte, padwedlope, motorfietsoptogte en vuurwerkvertonings, almal saam onder een vlag en een volkslied.

Dis nie jou vlag nie. En dis nie jou mense nie. Maar hierdie uitdrukking van ʼn  gemeenskaplike lojaliteit onder een vlag met die dertien horisontale strepe (sewe rooi en ses wit, verteenwoordigend van die oorspronklike dertien Britse kolonies in die Nuwe Wêreld) en die vyftig wit sterre (die huidige getal deelstate) op ʼn koningsblou agtergrond, roer jou.

Op Gedenkdag (Memorial Day) borrel en bruis patriotisme en vaderlandsliefde, word onderlinge twiste oor politiek eenkant toe geskuif en onbeskaamd trou gesweer aan hierdie simbole wat vir Amerikaners dierbaar is. Hul geskiedenis, hul vryheid en hul soewereiniteit.

Die gesig van derduisende vlae, klein en enorm groot, wat in die vroegsomer soos ʼn reuse-golf van blou, wit en rooi van Capitol Hill tot by die Lincoln-gedenkteken en die Arlington-begraafplaas oorkant die Potomac-rivier in die groen heuwels van Virginia spoel, is een wat jou bybly.

ʼn Dag waarop elk van die meer as 300 000 wit grafstene in die militêre begraafplaas in Virginia se groen heuwels oorkant die Potomac-rivier met vlae en blomme versier word. ʼn Dag van onthou en vorentoe kyk. Wanneer oudgediendes hul uniforms afstof, hul medaljes poets,  op aandag staan, die vlag salueer en die volkslied sing.

Jy kan van hierdie nasie van  baie dinge beskuldig. Arrogant, materialisties, oppervlakkig, luidrugtig, verwaand, onbeskof en oordadig, maar die sigbare uitdrukking van hul vaderlandsliefe dwing bewondering af. En dit maak jou jaloers.

Die verskille tussen hoe Amerikaners hul nasionale dae gedenk en hoe dit  gedoen word, is steeds opvallend.

Die feestelikhede in Suid-Afrika is op Vryheidsdag, 27 April 1998,  soos volg waargeneem:

“Die nuwe vlag is landwyd gehys. En daar was byeenkomste. Maar dit was hier, van ver af, jammer dat veral politici die geleentheid gebruik het vir hoogdrawende en kragdadige toesprake (nogal baie soos in die ou dae!) en verwyte oor die verlede.

“Dit het veel meer geklink soos die eerste skote in ʼn verkiesingsveldtog met die vlag partypolitieke, eerder as volksbesit.

“Hier in Amerika val die klem op twee belangrike vakansiedae van die jaar op dit wat saambind en nie wat verdeel nie. Die toesprake kort en patrioties.

Die Amerikaanse president, Bill Clinton, het op Memorial Day (gedenkdag) in 1998 soos gebruiklik ʼn krans by die Graf van die Onbekende Soldaat in Arlington gelê en gesê:

“As die lente oorgaan in somer, geniet Amerikaners hierdie dag saam met hul vriende en familie. Ons kom na Arlington om in herinnering te roep hoeveel opgeoffer is sodat ons hierdie dag kan gedenk en elke dag vry kan leef.”

Is dit net moontlik dat ʼn soortgelyke opwelling van vaderlandsliefde en nasietrots onder een vlag en met die sing van een volkslied alle Suid-Afrikaners in ʼn demokrasie beskore sal wees? Dat die soeke na wedersydse agting, die erkenning van verskille en verskeidenheid Suid-Afrikaners sal bring by die ontwykende droom: Een land, een nasie, een vlag, een volkslied?

ʼn Dag waarop Suid-Afrikaners hande sal vat verklaar: “Vandag skuif ons al ons ander verskille opsy… Môre baklei ons verder.”

Is dit te veel gevra? Ter wille van ʼn beter lewe vir al ons kinders?

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

8 Kommentare

Hendrik ·

Nee wat ek het GEEN patriotisme teenoor Suid-Afrika met sy staatslied (nie volkslied) nie.

Frederik ·

Ook geen patriotisme teenoor die landsvlag, getooi in ANC kleure nie.

Nico K ·

Ek praat nou uit onkunde, maar Johan, dink jy dieselfde gevoel bestaan onder byvoorbeeld die swart bevolking van die VSA. Ek wonder nogal.

Lola ·

Nog ‘n vakansie dag. Presies wat Suid Afrika nodig het. Ons is mos ekonomie se baas en almal weet armoede bring samesyn en liefde en respek en versoening.

Jordaan ·

Ongelukkig probeer ons regering niks vir versoening doen nie, maar probeer alle simbole, taal van ‘n deel van die bevolking uitwis (insluitende om hulle te ontneem van die vermoe om besigheid te doen of te werk om hulle gesin te versorg) (en dan noem hulle hulself “nie-rassig”!)

Dirk Burger ·

Deur allesdeur KON redelike mense SA sedert 1994 deurdra,groei en in goeie buurskap en respek saamleef.Alles was daar gevestig. Geboue,universiteite,struktuur,sport,ALLES. Nie perfek nie, maar daar.Ons moes van daar af net voortbou. Daar blyk nou nie baie redelike mense te gewees het nie. Mnr Mandela was die enigste skynbaar eerbare leier sonder ‘n agenda met die land en AL sy mense,wit ingesluit. Goeie nuus is,is dat hierdie land dit ook nie gaan maak sonder AL sy mense,wit ingesluit. Drakoniese ideologiee (mense of persone) kan hierdie land net skade aandoen. STOP nou! Hou op verskoning soek! Kyk hoe ‘n samekoms van soveel verskillende mense mense ‘n United States of America gevestig het ,ook nie sonder sy foute nie en wat is ek slegter. Om af te breek net om beter te bou gaan nie gebeur nie. Dit mors energie. Daar is ook nie vermoe of geld nie. Ek en ons moes al dinge oorkom. Ons sal weer.Probeer dit,dit maak jou sterker. Dirk B.

Theuns ·

Solank die meerderheid sy wil op die minderheid wil afdwing gaan niks werk nie!

gatiep ·

In die kol Theuns en die helte van ons het nog gevlug ook wat ons nog minder maak.
Binnekort vlug hulle weet terug na SA as die storie bigin warm word in Europa.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.