Redakteursbrief: Maroela Media is tien, en jy is deel van ons storie

Susan Lombaard, uitvoerende hoof van Maroela Media (Foto: Noeleen Foster)

Op 29 Julie 2011, op ʼn koue wintersoggend, het ʼn stuk of 120 mense by die Blikkantien, skuins onder die Voortrekkermonument, byeengekom om Maroela Media se amptelike bekendstelling te vier.

Gaste het met wasem-asems, stomende blikbekers boeretroos in die hand, in die vroegoggendsonnetjie rondom kampvuurtjies gestaan en kuier, en later mieliepap met biltong en room vir ontbyt geniet. Daarna het ʼn vurige debat oor Afrikaanse protesmusiek die klok gelui vir nog talle debatte en besprekings oor aktuele kwessies wat later op Maroela Media gestalte sou vind.

Die oomblik het aangebreek om Maroela Media vir die heel eerste keer vir die wêreld te wys. Dié kuierplek vir Afrikaanssprekendes het ek en Nico Strydom, vandag Maroela Media se redakteur, in die twee of drie maande voor die bekendstelling saam uitgedink en uitgedroom. Suné van Heerden, deesdae ons handelsmerkbestuurder, het gehelp om ons woorde en prentjies mooi te maak, en Kobus Bezuidenhout, ons web- en tegniese bestuurder, het aan Maroela Media gestalte gegee met die bou van die webwerf. Beeld en eNuus was daar om aan dié splinternuwe mediahuisie met sy groot drome mediadekking te gee. Maroela Media is met luide applous ontvang – die tyd was reg vir ʼn nuwe rolspeler in die Afrikaanse mediabedryf.

Toe die laaste gaste weg is en die koffiepotte leeg, het ek om ʼn stil hoek gaan staan met my selfoon in my hand. Op my foon kon ek sien hoe mense Maroela begin lees. Een-een, twee-twee. Oral op die landkaart op my foon se skermpie het kolletjies verskyn waar mense vir die heel eerste keer maroelamedia.co.za ingetik het.

Ek het plat op die grond gaan sit. My hart was te vol om te bly staan. In my hand was ons droom besig om gebore te word.

Teen die einde van September 2011 het net minder as 7 000 mense Maroela Media gelees. “Wie is al hierdie mense?” het ons gewonder.

Min het ons geweet.

Maroela Media se bekendstellingsfunksie in Pretoria in Julie 2011

In November 2012 het meer as 46 000 mense Maroela Media gelees; in November 2013, net meer as 200 000. Die getalle het bly groei en groei. Ek onthou die oggend van 1 Julie 2016, toe ons saam na die Junie-syfers kyk en sien dat ons 1 miljoen lesers verbygesteek het – minder as vyf jaar ná daardie koue oggend in 2011.

Vanjaar, nog vyf jaar later, het Maroela Media elke maand tussen 2 miljoen en 2,5 miljoen lesers, en bedien ons tussen 22 en 27 miljoen bladsye elke maand. Te midde van ʼn Covid-krisis het ons lesersgetalle en ons leserslojaliteit gegroei, en uit die terugvoer van ons lesers was dit duidelik dat ons ons slagspreuk gestand doen: Afrikaanssprekendes weet dat hulle op Maroela Media kan staatmaak vir betroubare, gebalanseerde nuus in Afrikaans. Dié wete is veel groter as rekordsyfers, want dít is wat ons vir ons lesers wil wees: ʼn Media-instansie wat hulle kan vertrou; ʼn kuierplek waar hulle met vrymoedigheid in Afrikaans kan saamkuier. ʼn Ouma-se-kombuis waar hulle welkom is en veilig kan voel.

Maroela Media vier vanjaar ons tiende verjaardag. Ons doen dit met vol harte, met ʼn stil begrip van God se genade wat ons al vir tien jaar in oorvloed ervaar.

Ek wil vandag vir jou, as ʼn getroue Maroela-leser en ondersteuner, dankie sê. Dankie dat jy hierdie pad saam met ons gestap het. Dankie dat jy om braaivleisvure ons stories vir jou vriende vertel. Dankie dat jy ons artikels op sosiale media deel en saamgesels. Dankie dat jy lag vir ons grappies, en saam huil wanneer ons die hartseer verhale uit ons gemeenskap vertel. Dankie dat jy onwrikbaar glo iets is die waarheid as jy dit op Maroela Media gelees het. Dankie dat jy deel van die Maroela-familie is.

Ons is hier om te bly. Ons onderneming is om vir die volgende tien jaar, en nog baie lank daarna, vir jou ʼn kuierplek te skep waar ons met integriteit verslag doen, sodat jy ingelig kan wees om goeie keuses te maak. Mag jy nog lank jou tuiste vind by ons.

  • Voetnota: Ons maak vanjaar ʼn spesiale verjaardagvideo om ons tiende verjaardag te vier, en om hulde te bring aan ons lojale Maroela-lesers wil ons graag soveel moontlik lesers se foto’s in dié video gebruik. As jy deel van ons Maroela-gemeenskap is, stuur asseblief vir ons jou foto waar jy ʼn plakkaat vashou om ons geluk te wens, of sommer ʼn ballon of iets anders waar jy saam met ons hierdie spesiale mylpaal vier. Klik hier om meer oor hierdie verjaardag-inisiatief te lees.

Groetnis
Susan Lombaard
Uitvoerende hoof: Maroela Media

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

FM ·

Baie dankie aan die voorlopers met Maroela se geboorte.
Met ‘n traan oor die geliefde wat nie meer hier is nie.

Baie geluk Maroela

Francois Le Cochon ·

Baie geluk. Om enige besigheid tot stand te bring, en om ook suksesvol te wees, is baie moeilik en verg baie harde werk en sweet. Geniet die sukses en verjaarsdag.

SJM ·

Baie geluk Maroela! Ek lees julle nuus elke oggend en elke aand en soms skelm deur die dag by die werk (ek is skuldig ek teken nie elke keer in nie!). Mag julle van krag tot krag gaan!

Thom ·

Susan __ moet julle alles in negatiwiteit en rassisme tooi ? Behalwe daarvoor , ‘n lesenswaardige publikasie !

Vrijburger ·

Baie geluk, ‘n puik prestasie!

En baie dankie, as ‘n trekarbeider in die buiteland is Maroela Media my naelstring.

Jack ·

Veels geluk Maroela Media. Alles van die beste vir die toekoms.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.