Redakteursbrief: Om op Hemelvaart ʼn pandemie in die oë te kyk

Susan Lombaard, uitvoerende hoof van Maroela Media (Foto: Noeleen Foster)

Ons neem met onrustige harte kennis van ʼn derde vlaag Covid-19 wat besig is om oor Suid-Afrika te spoel.

Ná drie maande van asemskep is die blou lyntjie op Maroela Media se daaglikse koronavirus-grafiek wat die huidige aktiewe gevalle aandui, besig om onmiskenbaar te styg. Die media berig wyd oor provinsies waarin gevalle vinnig toeneem en bespiegel oor moontlike nuwe variante van die virus. Daar word met hernude erns en ywer oor teenmiddels en ivermektien gedebatteer. In winkels glip mense nie meer skelmpies verby die handsaniteerder by die ingang nie. Maskers wat die laaste maand of wat gerieflik onder die neus gesit het, word sorgvuldig opgetrek.

Sommige skole het reeds besluit om vir twee weke as voorsorgmaatreël kontaksport en aktiwiteite soos koor op te skort. My maag draai as ek dink aan my kinders en hul maats wat nou net weer hulle ritme gevind het, en wat in hierdie moeilike tyd soveel terapeutiese waarde uit hul kultuur- en sportaktiwiteite put. En die gedagte dat aanlyn skool moontlik weer iewers in die nabye toekoms vir ons voorlê, is soos ʼn hou in die wind.

ʼn Vriendin in ʼn ver land laat weet my gister dat haar man en kinders al drie positief getoets is vir Covid-19. Hulle is nog nie lank daar nie, en my hart pyn om te dink ek is nie naby om ʼn ete of ʼn bos blomme te gaan aflaai nie.

Gesprekke met vriende wentel skielik weer rondom die sukkelende ekonomie. In winkelsentrums is die aantal winkels met toegeplakte vensters besig om meer te word. Ons almal hoor byna daagliks van nóg iemand wat hul werk verloor het. Die hoeveelheid bedelaars op straathoeke is ongekend. Misdaad neem toe. Korrupsie vier hoogty – ons skrik nie eens meer as ons hoor van miljarde rande se bedrog iewers in ʼn staatsdepartement nie.

Ons land steier.

Ons is bang.

Gister was Hemelvaart. Daar was nie, soos vorige jare, ʼn massabyeenkoms vir kinders en ouers by die skool waar ʼn klompie wit duiwe losgelaat is, of ʼn Hemelvaartdiens by die werk nie, want niemand kan in groepe bymekaarkom nie. Min kerke het Hemelvaart met ʼn byeenkoms gevier. Die grootsheid van die dag waarop Jesus opgevaar het hemel toe om vir ons ʼn plek te gaan voorberei, het ongesiens by die meeste van ons verbygegaan. Die skadu van Covid-19 het te swaar oor ons gehang.

Gisteraand dink ek aan Dawid, wat sy oë opgeslaan het na die berge en gevra het waar sy hulp vandaan sal kom. En vanoggend stuur iemand vir my ʼn boodskap met Jeremia 17:7: “Dit gaan goed met die mens wat sy vertroue in die Here stel, die mens vir wie die Here ʼn veilige vesting is.”

Met Jesus se dood aan die kruis en Hemelvaart het alles vir ons as kinders van God verander.  Maar tog vang ons onsself al te dikwels dat ons lewe asof niks verander het nie. Asof God nie twee jaar gelede geweet het Covid-19 is op pad en presies weet wat vorentoe gaan gebeur nie.

Te midde van die algehele inperking reg aan die begin van die Covid-uitbreking was ek, soos jy dalk ook, diep geraak deur mense se geestelike verdieping. Mense het aanlyn kerk gehou en saam gebid; saam aanbiddingsmusiek in strate gespeel en op sypaadjies gekniel om God te soek.

Maar toe raak ons weer besig, en ons vergeet weer waar ons hulp vandaan kom. Ons hulp kom van Hom, wat hemel en aarde geskep het. Hy wat vir ons ʼn toekoms en ʼn verwagting wil gee. Die God wie se gedagtes hoër is as ons sʼn.

Natuurlik is dit goed en reg dat ons doen wat ons moet om ons self en ons geliefdes veilig te hou. Ons beskerm ons self met maskers en saniteerder en vermy groot groepe; ons wy ons energie aan navorsing oor teenmiddels, medikasie en nuwe variante van Covid-19. Want ons gesonde verstand is ʼn gawe van God, en Hy het ons aangestel om oor die skepping te heers.

Maar daar is ʼn baie fyn lyn tussen versigtig en verantwoordelik wees, en só behep raak met ʼn virus dat ons vergeet waar ons Hulp vandaan kom.

Aan die einde van die Bybelboek Job spreek God vir Job aan uit ʼn stormwind. God wys vir Job tereg oor sy opstandigheid, maar soos ʼn liefdevolle Vader vertel Hy met sy teregwysing vir Job presies wie Hy is en hoekom hy nie bevraagteken kan word nie:

Waar was jy toe Ek die aarde se fondamente gelê het?
Wie het die aarde afgemeet? Weet jy dit?
Wie het ʼn maatlyn oor hom gespan? Waarop is sy voetstukke neergesit? Wie het hom aanmekaargesit daardie oggend toe die sterre saamgesing het en al die hemelinge gejubel het?
Wie het die see opgedam toe hy begin uitborrel het?

Weet jy waar die daeraad vandaan kom, die daeraad wat lig oor die hele aarde bring sodat goddeloses nie in die donker kan bly skuil nie?

Het jy, Job, al gekom by die plek waar die seewater uitborrel, en rondgestap op die bodem van die diepsee?

Hoe loop die pad na die plek waar die lig woon?
Kan jy die donkerte na sy gebied toe terugvat?

Was jy al by die plek waar die sneeu gebêre word?
Het jy al die plek gesien waar die hael gebêre word, wat ek opgegaar het vir ʼn tyd van rampe, vir die dag as Ek wil oorlog voer?
Hoe loop die pad na die plek toe waar die lig sy oorsprong het, en die oostewind oor die aarde begin waai?
Wie het vir die stortreën ʼn pad oopgekap en vir die donderwolke hulle koers bepaal
sodat dit reën in ʼn land waar nie mense is nie, in ʼn woestyn waar niemand woon nie
en ʼn droë, dor land deurnat word, sodat daar groen gras uitspruit?
Het die reën ʼn vader?
Wie het die doudruppels in die wêreld gebring?
Wie bring die ys te voorskyn?

Sou jy die Sewester met ʼn band kon vasknoop of die band van Orion kon losmaak?
Kan jy die sterre op hulle tyd laat opkom,
kan jy die Beer met sy kleintjies laat uitkom?
Weet jy hoe die hemelligame werk?
Wie gee verstand aan die ibis om teen die vloed te waarsku
of wie gee insig aan die haan om die dag aan te kondig?

Staan jy en kyk waar die wildsbokke kleintjies kry?
Kan jy vir ʼn leeu sy prooi vang?
Sal die buffel gewillig wees om vir jou te werk?
Is dit deur jou insig dat ʼn valk vlieg, dat hy sy vlerke na die suide toe span? *

Ek sidder as ek dink dat ons in ons onsekerheid en vrees, te midde van ʼn wêreldwye pandemie, so besig raak met planne maak dat ons vergeet van die God wat alles in sy hand hou; wat die aarde met fyn beplanning aanmekaar geweef het. Toe Jesus opgevaar het hemel toe, het Hy immers vir ons die Heilige Gees gegee sodat ons nie alleen deur ʼn tyd soos hierdie hoef te gaan nie.

Mag jy, nie net op Hemelvaart nie maar ook vandag, en elke ander dag as dit moeilik gaan met jou en jou geliefdes, onthou waar jou hulp vandaan kom.

Groetnis
Susan
Uitvoerende hoof: Maroela Media

* Gedeeltes uit Job 38 en 39, Afrikaanse 1983-vertaling

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

3 Kommentare

jongste oudste gewildste
Vrijburger

Mmmm groot waarhede.

Hennie

Baie mooi boodskap Susan!

Johan

Susan, jou skrywe het my hoendervel laat kry. Onbeskryflik kosbaar en dit sê wat ons almal moet hoor. Ons word in die holte van Sy hand gehou, wat ookal gebeur. Hy het belowe dat Hy vir altyd in alle omstandighede by ons sal bly!