Swaar dag vir demokrasie in die VSA

Foto: Samuel Corum/Getty Images/AFP

Die bestorming van die Kongresgebou in die Amerikaanse hoofstad Washington DC Woensdagmiddag deur gefrustreerde ondersteuners van president Donald Trump het die afgelope twee maande se politieke krisis in dié land verder verdiep en ernstige vrae oor die eenheid van die Amerikaanse republiek en demokrasie in die magtigste land ter wêreld laat ontstaan.

Terwyl die media aanvanklik die opkoms van Trump-ondersteuners by ’n optog in die Amerikaanse hoofstad onderspeel het en die groot internasionale nuuskanale aanvanklik na “honderde betogers” verwys het, was dit duidelik dat tienduisende mense van oor die hele VSA die optog bygewoon en na die toespraak van president Trump, waarin hy onderneem het om nooit op te gee of sy nederlaag teen Joe Biden te erken nie, geluister het. Trump het self sy ondersteuners opdrag gegee om na die kongresgebou, waar lede van die huis van verteenwoordigers en die senaat besig was om besware oor die uitslag van die November-verkiesing te bespreek, te stap. Die betogers was eenvoudig te veel vir die polisie wat die gebou moes beskerm.

Foto: Olivier DOULIERY/ AFP

Dit het die enorme skare betogers nie lank geneem om deur die versperrings voor die gebou te breek en uiteindelik die gebou binne te dring nie. Kongreslede wat met gasmaskers in hul kantore skuil, Trump-ondersteuners wat in vuisgevegte in die gange van die kongresgebou met polisielede betrokke raak en traangas wat oor die kongresgebou hang, het die tragiese einde van die Trump-era, maar nie die einde van ’n baie meer dieperliggende politieke krisis in die VSA nie, aan die wêreld vertoon.

Vertroue in die Amerikaanse kongres het reeds die afgelope paar jaar skerp gedaal. Twee uit drie Republikeinse kiesers in die VSA is oortuig dat daar in November se verkiesing bedrog plaasgevind het. Baie glo die verkiesing is eenvoudig gesteel en dat Trump die wettige wenner is. Die antagonisme en harde verdelingslyne tussen landelike konserwatiewes en stedelike liberales, tussen die elite en die gewone mense in die VSA is besig om breekpunt te bereik. Trump met sy ego, sy onafgerondheid en sy onvermoë om ’n ware visioenêre leier vir sy mense te wees, is slegs ’n simptoom van die groter krisis wat uiteindelik die VSA uitmekaar kan skeur.

Pres. Donald Trump. Foto: REUTERS/Carlos Barria

Terwyl Woensdagaand se gebeure in Washington ook ’n laagtepunt vir die Republikeinse Party en die konserwatiewe beweging in die VSA versinnebeeld, beteken dit egter ook die aanbreek van ’n nuwe era. Trump se aanval Woensdag op sy adjunkpresident volg op sy aanvalle op talle getroue Republikeine wat vir vier jaar hom bly ondersteun het. Trump se onvermoë om die aanval op die kongresgebou te keer, beteken ook die einde van sy eie politieke loopbaan, maar moontlik selfs ook die einde van die Trump-handelsmerk in Amerikaanse politiek.

Adjunkpresident Mike Pence het Woensdagaand die soort leierskap getoon wat van politici in krisistye verwag word. Die realiteit vir Republikeine en konserwatiewes in die VSA is dat die Demokrate, en gevolglik links-liberale politici, vir die volgende paar jaar die VSA gaan regeer en waarskynlik die land beleidsgewys wesenlik na links gaan verskuif.

Weens demografiese veranderinge en Republikeine se onvermoë om sterk genoeg deur te breek na konserwatiewe persone in minderheidsgroepe, raak dit moeiliker vir die Republikeinse party om verkiesings te wen. Ironies genoeg was dit juis president Trump wat die steunbasis van die party begin verbreed het, maar nie genoeg om verlede jaar se verkiesing te wen nie.

Foto: Win McNamee/Getty Images/AFP

Verkiesingsbedrog is onaanvaarbaar. Die Demokrate se praktyk om stembriewe te oes in verskeie deelstate bedreig vertroue in demokratiese verkiesings net soveel soos kleinskalige verkiesingsbedrog. Dit maak verkiesings en ’n burger se reg om sy politieke leiers te kies goedkoop. Die Republikeine beheer egter steeds die meerderheid wetgewers in Amerikaanse deelstate en kan met goeie wetgewing beter verkiesingsreëls daarstel. Die party en sy leiers het ’n plig om Amerikaners se vertroue in die Amerikaanse demokrasie en kiesstelsel te herstel.

Die Republikeine sal ’n groot fout maak indien hulle dink dat die antwoord op die afgelope twee maande se Trump-ineenstorting ’n totale wegbeweeg van die Trump-doktrine of ’n terugkeer na die party van McCain en Romney wat in 2008 en 2012 onderskeidelik tot groot verkiesingsnederlae aanleiding gegee het, sou wees.

Die party het ’n leier nodig wat Trump se steun onder miljoene Amerikaners, wat ’n totale breuk met die politieke elite van Washington ervaar, verstaan. So ’n leier moet konserwatief, beginselvas, charismaties, selfs populisties, maar ook gedissiplineerd, meer afgerond en heelwat meer eerbaar as Trump wees.

Die alternatief is ’n totale verlies aan vertroue in die federale regering by ’n groot segment van die Amerikaanse burgery en uiteindelik meer konflik, geweld en selfs sesessie.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Jaco Kleynhans

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.