Swak ekonomiese groei ’n globale uitdaging

ekonomie-finansies

(Foto: pixabay)

Die wêreld het geen tekort aan krisisse nie. Die nuwe jaar het weggespring met hernude krisisse in die Midde-Ooste en by die Europese Unie, die Verenigde Nasies en ook die onlangse vergadering van die Wêreld- Ekonomiese Forum (WEF) in Davos, Switserland is klimaatsverandering as die grootste uitdaging wat die wêreld tans in die gesig staar, gelys.

Hoewel die meeste lande in die wêreld vandag veiliger en voorspoediger as ooit in die geskiedenis is, bestaan daar altyd kommer oor nuwe uitdagings wat in die toekoms tot grootskaalse ontwrigting en selfs ’n terugkeer na oorloë, armoede en hongersnood kan lei.

Internasionale organisasies en nasionale regerings, maar ook nieregeringsinstellings en gewone individue se vermoë om op hierdie uitdagings te reageer, word meestal deur ekonomiese ontwikkeling bepaal. Sou lande in die noorde van Afrika minder korrupsie en beter ekonomiese groei ervaar, sal immigrasie vanaf hierdie streek na Europa ook minder wees. Net so is lande met sterk ekonomiese groei en heelwat welvaart beter toegerus om klimaatsverandering met die hulp van navorsing en slim tegnologie aan te pak.

Die huidige onstabiliteit in Irak word meer as wat die meeste analiste wil erken, deur ekonomiese uitdagings aangevuur. Ná die Amerikaans-geleide oorlog in Irak is dié land vir te lank deur swak regerings wat nie daarin kon slaag om die land se groot oliehulpbronne ten gunste van gewone burgers te ontgin nie, uitgelewer. Jong werklose mense word makliker vir betogings of selfs deelname aan terreuraktiwiteite gemobiliseer as jongmense wat ekonomies aktief en positief is oor hul ekonomiese vooruitsigte. Dit geld nie net vir Irak nie, maar vir die meeste lande in die Midde-Ooste en Afrika.

Tydens die Davos-konferensie het die Internasionale Monetêre Fonds (IMF) sy globale ekonomiese groeiverwagtinge vir 2020 ná slegs 3% verlaag. Die IMF verwag geen groot ekonomiese krisis in 2020 nie, maar daar bestaan wel kommer dat ’n hele paar van die grootste ekonomieë in die wêreld onder druk verkeer en dat dit nie in 2020 beter sal gaan nie. In Afrika groei die totale bevolking vinniger as wat dié kontinent se ekonomieë groei en dit skep ’n teelaarde vir uitdagings soos radikalisering, onwettige emigrasie en natuurlik grootskaalse besoedeling en vernietiging van natuurlike hulpbronne.

Die IMF se verwagte ekonomiese groei vir Suid-Afrika is ook afwaarts aangepas en daar word algemeen verwag dat ons land se ekonomie vanjaar baie swakker as vergelykbare ontwikkelende ekonomieë gaan presteer. Wat die situasie vererger, is dat dit juis lande is waarheen die grootste deel van ons uitvoere gaan, en sluit Europa, die VSA, China en Indië wie se ekonomiese groeiverwagtinge afwaarts aangepas is, in.

Dit skep ’n klimaat vir onsekerheid en onstabiliteit.

Net soos wat Suid-Afrika ernstige uitdagings het om te bowe te kom, geld dieselfde ook vir die res van die wêreld. ’n Land met gesonde ekonomiese groei, goeie onderwys, stabiele instellings en goeie infrastruktuur is soveel beter toegerus om planne te maak vir veiligheidsbedreigings, klimaatsverandering en ander potensiële uitdagings.

Om die vooruitgang wat die afgelope paar dekades op verskeie terreine in die wêreld gemaak is, voort te sit, sal die wêreld se leiers en belangrikste instellings vanjaar indringend oor volhoubare globale ekonomiese groei moet praat met ’n besef dat dit ’n voorvereiste vir die oplos van talle ander probleme in die wêreld is.

Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Jaco Kleynhans

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae