Swart leerders ly weens die swak onderwysstelsel

onderwys

Argieffoto.

Deur Marius Roodt

Suid-Afrikaanse onderwys beleef ’n krisis. Ons kinders bly agter ten opsigte van lees-en-skryf-vaardighede en gesyferdheid in vergelyking met ander vergelykbare lande en dit is ’n ope vraag hoe goed ons skole jong mense vir die terrein van universiteitstudie of werk voorberei.

Statistiek toon, byvoorbeeld, dat ’n minderheid van studente ’n driejaargraad in die toegewese tyd voltooi – slegs 29% van studente wat in 2011 met hul eerste jaar begin het, het binne drie jaar gegradueer. Die hoë werkloosheidskoers onder jong mense toon ook dat baie nie vir die lewe ná skool voorberei is nie. Die jongste syfers wat deur Statistieke Suid-Afrika vrygestel is, is skrikwekkend. Meer as die helfte van mense tussen 15 en 24 jaar is werkloos, en dit styg tot twee derdes binne die uitgebreide definisie van werkloosheid (wat mismoedige werksoekers insluit). Die laaste keer dat minder as die helfte van mense tussen 15 en 24 jaar werk gehad het, was so lank gelede as die derde kwartaal van 2015.

Die statistiek is verdoemend en die vooruitsigte vir Suid-Afrika is skraal. Ons skolestelsel misluk jammerlik om mense voor te berei om suksesvolle en produktiewe burgers te wees.

Waaroor ons werklik bekommerd moet wees, is dat dit swart kinders is wat buite verhouding meer onder die swak onderwysuitkomste ly. Kwintiel 1-skole, die land se armstes, word deur omtrent 40% van swart kinders bygewoon en toon die swakste resultate. In 2016 was die slaagsyfer in kwintiel 1-skole 62,5% (teenoor die algehele slaagsyfer van 72,5%). Die proporsie leerders in kwintiel 1-skole wat goed genoeg geslaag het vir universiteitstoelating was 17% (teenoor ’n algehele universiteitstoelatingskoers van omtrent ’n kwart). Resultate in die rykste (kwintiel 5) skole was baie beter.  Die proporsie kinders in kwintiel 5-skole wat matriek geslaag het, was meer as 90%, en meer as die helfte van hulle het goed genoeg geslaag om universiteit toe te gaan.

Swart kinders het ook slegter uitslae in sleutelvakke in vergelyking met bruin, Indiër- en wit kinders.  In die Nasionale Senior Sertifikaat (NSS)-eksamens het, byvoorbeeld, slegs 28% van swart leerders dit reggekry om meer as 40% in wiskunde te behaal, met slegs nege present hoër as 60%. Hierteenoor het 86% van wit leerders ’n punt van hoër as 40% behaal, en meer as die helfte het met 60% of hoër geslaag. Die patroon was soortgelyk met betrekking tot lewenswetenskappe. Vir dié vak kon net 35% van swart leerders hoër as 40% en net 11% ’n punt van bo 60% behaal. Die persentasie wit leerders wat met 40% of meer geslaag het, was 80%, terwyl net meer as die helfte 60% of meer behaal het.

Die verskille in deurvloeikoers op universiteitsvlak toon ook dat swart leerders slegter vaar. Dit is die geval weens ’n verskeidenheid faktore, maar kan deels daaraan toegeskryf word dat hul voorbereiding op skool swak was. Van die swart studente wat in 2011 vir ’n driejaar-universiteitsgraad ingeskryf het (behalwe aan die Universiteit van Suid-Afrika) het minder as ’n kwart in die toegewese drie jaar geslaag. Vir wit leerders was die proporsie 43%. Hierdie lae proporsies vir wit sowel as swart studente dui daarop dat die meeste studente swak voorbereid is vir die uitdagings van universiteitstudie en dit kan, minstens gedeeltelik, toegeskryf word aan die swak voorbereiding wat baie studente op skool ontvang.

Die bewyse is duidelik – swart leerders ly buite verhouding meer weens die swak skolestelsel.

Dit het daartoe gelei dat baie ouers afgesien het van die staatskoolstelsel namate dit duidelik word dat dit hul kinders in die steek laat. Tussen 2000 en 2016 het die aantal kinders wat in staatskole in Suid-Afrika ingeskryf het van 11,6 miljoen tot 12,3 miljoen gestyg – ’n toename van 6%. Suid-Afrika se bevolking het oor dieselfde tydperk met byna 30% toegeneem. Die aantal kinders wat by privaat skole ingeskryf het, het egter groter groei getoon. Hoewel vanuit ’n baie kleiner basis, het die aantal kinders in onafhanklike skole in die sestienjaartydperk met 130% – van 256 283 tot 590 352 – gestyg. ’n Soortgelyke patroon word in die aantal skole weerspieël. Die aantal staatskole het tussen 2000 en 2016 met 12% afgeneem, terwyl die aantal onafhanklike skole byna verdubbel en met 91%, van 971 tot 1 855, gegroei het.

Kritiek teen Suid-Afrikaanse privaat skole is dat hulle eenvoudig “Etons-on-the-Veld” is en net vir die elite beskikbaar is. Niks kan verder van die waarheid wees nie. Hoewel daar baie privaat skole is waarvan die skoolgeld ’n mens, sagkens gestel, tot trane kan dryf, hef die meerderheid niestaatskole redelik lae skoolgeld, wat vir baie ouers bekostigbaar is. Daar is ook heelwat privaat skole in lae-inkomstegebiede wat baie lae heffings het en by ouers gewild is. Dit is duidelik dat mense, ongeag hul inkomste, ’n keuse wil hê oor waar hul kinders skoolgaan.

In ’n vrye en oop samelewing behoort mense keuses te hê en dit sluit die keuse in oor na watter skool ouers hul kinders wil stuur. Wat is egter die oplossing in ’n samelewing waar baie mense sou sukkel om die skoolgeld te bekostig om hul kinders na skole te stuur wat beter presteer?

Die Instituut vir Rasseverhoudinge stel die ingebruikneming van ’n koeponstelsel voor, waarvolgens ouers ’n koepon vir elk van hul kinders ontvang. Dit sal uit die onderwysbegroting begroot word ter waarde van ongeveer R12 000. Ouers sal dan ’n groter keuse hê oor waarheen hulle hul kinders wil stuur en sal die koepon by privaat sowel as staatskole (Model C of andersins) kan gebruik. Staatskole wat nie daarin slaag om gehalte-onderwys aan kinders te voorsien nie, sal gou vind dat hulle leerders verloor en sal gedwing word om te sluit, tensy hulle kan verbeter.

Om aan ouers ’n groter skolekeuse te gee, sal daartoe bydra om die Suid-Afrikaanse onderwyskrisis te verbeter. Dit is die stukrag van ’n veldtog wat die IRV onlangs bekendgestel het. Dit is duidelik dat, tensy iets gedoen word, ons skolestelsel steeds ons jong mense (veral jong swart mense) swak toegerus sal laat vir die terrein van universiteitstudie en werk, met jammerlike gevolge vir die toekoms van Suid-Afrika.

  • Marius Roodt is ’n veldtogbestuurder by die Instituut vir Rasseverhoudinge (IRV). Meer besonderhede oor die IRV se veldtog is beskikbaar op die instituut se veldtogblad.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

23 Kommentare

Santjie ·

Na my mening moet ontslae geraak word van “beheerliggame” – as jy as klaar is met jou onderwys-opleiding, hoekom nie net aansoek doen vir ‘n pos en deur die departement betaal word nie? Dit is ook nie net swart kinders wat hier onder lei nie, maar ander ook. Dan praat ons ook nie eers van die ouers wat soos enige normale mens wil hê sy/haar kind moet skool toe gaan vir geleerdheid maar die eerste geleentheid waar iets na hul sin is nie, dan word die skool afgebrand. Dit word ‘n bose kringloop – daar is nie geld om die onderwyser ‘n behoorlike salaris te betaal nie, dan moet die skool weer opgebou word, dan is die ouers weer nie gelukkig nie omdat daar nie geld is om dit te doen nie en dan word die onderwysers gedreig… ek verstaan nie hoe mense se koppe werk nie.

Flippie ·

Sonder Beheerliggame stort die hele publieke onderwysstelsel in een. Die enigste funksionele publieke skole in SA is diè met n funksionele SBL. Dis omtrent 25% van al die publieke skole.

Willem ·

En die onderwysers, wat is die invloed wat ‘n swak onderwyser hierop het in verhouding met die ander oorsake? Kan julle aub alle tekortkominge, of oorsake lys, punt vir punt, met gewig aan elkeen toegeken?

B-man ·

Die jong onderwysers wat wel BEd gekry het – n.a.v. artikel – het ook gesukkel op universiteit, op skool en is deur ‘n swak skoolstelsel. Baie van hulle is reg opgelei, maar nie reg voorberei nie. Hulle wil werk en dom, stoute kinders reg leer, maar ongelukkig word daar van hulle verwag om die kinders maniere (wat hulle by die huis moet leer) ook te leer. Jong ouers wat net kla dra by tot die probleem. Hulle moet eerder begin om onderwysers te ondersteun en hulle bloeitjies maniere te leer. Ek dink die artikel verduidelik dit als nogal baie mooi.

Willem ·

Dan, ‘n volgende vraag, hoe weet vandag se ouer in watter rigting die kind aangelê is, ook wat die kind se potensiaal is? Word daar van tyd tot tyd aanlegtoetse en dies meer in die skole gedoen?

En dan is daar natuurlik by verre die grootste persentasie van die ouers wat hoegenaamd nie die kind by die huis kan bystaan nie, wat gebeur daar?

John ·

…. dit bewys duidelik. Sjoe. Hierdie probleem strek veel weier as hierdie navorsing en opstel. In Noordwes het leerders reeds vir 3 maande geen onderrig ontvang nie en verlede jaar in Limpopo ook as gevolg van wat? Hoeveel leerders het die afgelope aantal jaar swanger geraak en nie al die onderwysers kan pa staan daarvoor nie. Groot onmin oor dit of dat of haarstyle maak leerders glo ‘bitter’ en dan word die handboeke gestraf. Om kinders die hele tyd te betrek by politieke geweld en ouers se griewe het reeds in die apartheidsjare sy tol geeis en dit is steeds so. Huiswerk en malls werk nie lekker saam nie en duur apples voed nie die brein nie, maar eet eerder gate in beursies.

B-man ·

Ja, dis makliker om staatstoelaag te ontvang vir jou buite-egtelike kinders as om te gaan werk vir jou geld.

Eish ·

Hoe meer ek artikels lees uit die IRV stal, hoe meer hou ek van die instituut se invalshoek op die feite en waarheid. Onbelemmerd deur ideologie. Gister was dit die berig waar Dr. Frans Cronje spreker was, net so n openbaring.
Alles kom neer op n gebrek aan leierskap. In totaliteit afwesig by die kankerbestuur van die meerderheidsregering. Dan, soos met KPMG se afgedankte 400 onskuldiges, wanneer leiers faal, beland onskuldiges in die kruisvuur.

christa ·

kan die leerders regtig kla? dis reeds hulle generasie wat gaan onderwysers word. Maak matriek klaar en het die geleerdheid van standard 6.

honourable member ·

Onderwysdepartement moet begin stop om al hierdie hordes matrieks aan die einde van die jaar deur te sit omdat hulle die hele jaar skole afgebrand het en klip gegooi het. Iewers moet hierdie mense verantwoordelikheid geleer word en om almal net deur te sit help niemand nie want so gaan niemand ooit leer nie. Die swart skole se standaarde is baie laer en daarmee doen hulle nie die kinders n guns nie.

Heinrich ·

Probleem het ingekom met die wegneem van lyfstraf en die inbring van uitkomsgebaseerde onderrig. Onderwysers is oorwerk en uitgeput omdat hulle helfte van die periode moet stry met die belhamels wat sy grondwetlike reg op opvoeding en opleiding misbruik en die ander kinders in die klas ontneem van hulle grondwetlike reg. Hierop gelaai is die sinlose stapels papierwerk wat op die onderwysers gelaai word wat nodige onderrigtyd mors.

My raad aan die onderwysdepartement:
– Leer bietjie by lande wie se onderiggehalte goeie resultate lewer as dit kom by onderwys hoe die ding gedoen word (nee julle weet nie alles nie!),
– moderniseer julle stelsels, julle mors stapels en stapels papier en tyd.
– stel lyfstraf terug in die skole. ‘n Deeglike stel riglyne van wanneer lyfstraf van toepassing sal wees moet gevolg word. Stel mense aan wat in elke streek konsekwent die straf sal uitdeel en dokumenteer, so word geen emosie in die straf ingebring nie aangesien die persone wat die straf uitdeel nie die kinders ken en kan voortrek of harder slaan nie. Die straf moet dan voor die dissplinêre komitee voltrek word vir kontrole doeleindes.
Maar op hierdie stadium word die onderwysers uitgetart deur die belhamels, geboelie deur die departement en oorwerk deur ‘n onpraktiese onderrigstelsel.
En moet asb die verantwoordbaarheid vergeet nie, onderwysers wat leeglê moet vasgevat word.

Judge Dredd ·

Ongelukkig is die ANC/EFF se idee hoe om swart kinders gelyk te stel, nie om beter onderig aan swart kinders te gee nie maar om die onderig stelsels van wit kinders te verswak.

bgj van der westhuizen ·

nou word weer ras in gebring wie se skuld is dit dat daar so n swak onderwys stelsel is en swak skole is die anc regering wat die skole was wat nie hulle werk doen nie en vergeet van wit skool en bruin skool os swart skool kry alle skole op standaart en klaar hou op huil en begin doen eits omtrent die probleem

Se maar net ·

Ek stem, kom ons los ras hieruit, Kleurling, Wit, Indier kinders ly net so onder die swak onderwys stelsel nie net swart kinders nie. Die regering moet eers sy eie huis (geleerde mense wat nie weet wat hulle doen nie) in die onderwys departement in orde kry.

Cecilia van Rooyen ·

Die standaarde en slaagsyfers word jaarliks verlaag terwyl die kinders nie ‘n idee het wat aangaan nie. Die nuwe generasie kinders van die nuwe Suid Afrika word geleer dat alles verniet kom en jy nie daarvoor hoef te werk nie. Gratis huise, krag, water, skoolgelde, universiteitsgelde en wat nog als. Natuurlik gaan hulle nie wil leer nie want hulle word sommer deurgesit en dan is dit die besighede se plig om vir hulle werk te gee, al het hulle geen kennis nie. Al hierdie dinge is ook veroorsaak deur geen dissipline wat by die huis of die skool toegepas mag word nie. Kinders het al die mag en die ouers en onderwysers moet luister en toe gee. Hou op om die skool kurikulum kort kort te verander en doen weg met die belaglike vakke wat niks beteken vir die kinders die dag as hulle skool verlaat nie. Hulle wil bv. nou geskiedenis ‘n verpligte vak maak. Al hoekom hulle dit wil doen is om die kinders nog meer valse inligting te leer en rassisme kan aanblaas.

Linda van Mosselbaai ·

My hart is so seer oor die jeug – hulle vind dit opwindend om nie skool toe te gaan nie en eerder aan optogte deel te neem. Ek het met ‘n ouer dame gesels – sy is so spyt en besef nou as grootmens hoe hulle as kinders misbruik is. Die jeug raak al hoe verder agter – skole word afgebrand – wie ly – die jeug. Erens moet die sikus verbreek word – as jy afbreek – moet jy self opbou – dink maar aan die web van die spinnekop.
Die euwel van leerders net deursit moet ook stopgesit word – Jannie & Sannie hoef niks te doen nie – hulle word mos deurgesit -ipv die probleem aanspreek – dat hulle gehelp moet word in spesiale klasse en dan later in Spesiale skole.
Universiteits grade bring nie noodwendig kos op die tafel nie. Sit eerder vir boet in ‘n Tegniese skool waar hy leer om met sy hande te werk & sodoende kan hy eendag vir sy gesin self sorg. Leer almal om te doen wat binne hulle vermoe is.
Baie dankie aan al die onderwysers wat deur moeilike tye vasbyt in die onderwys omdat hulle wil – dankie ook aan die ouers – al is dit enkel ouers wat hulle kinders dissipline leer & dat mens respek vir mekaar het.

Louis ·

Die koepon stelsel kan werk, MAAR dit gee die staat ‘n reg om in te meng met die privaat skole. Waar die huidige regering ‘n vinger in die pastei het, word standaarde verlaag. In my beskeie opinie, nie ‘n goeie idee nie.

Casper Labuschagne ·

Terwyl die onderwysstelsel in ‘n permanente staat van disfunksie verkeer, is die onderwysdepartement daarop gerig om die stelsel van meritokrasie in Afrikaanse skole uit te wis.

Tensy ons onderwysstelsel omskep kan word in ‘n stelsel waar meriete die maatstaf vir leerders sowel as onderwysers is, is die stelsel verdoem om slegs uitsette volgens die laagste gemene deler te lewer.

Waarheid ·

Let wel by privaatskole kan ouer betaal dan word kind aanlegtoetse gedoen MAAR dit kos R<1000-+ niks! is verniet jy betaal tot laaste stuiptrekking daarna is jy bankrot. LW Artikel opskrif grens aan kleurfobi.

Ouma ·

Vandat daar so baie met die onderwyssisteme gekarring word en alles onder die son beproef word, het als agteruit gegaan. In my tyd was tafels, kombinasies en spelling ingedril en ons öu”generasie kan lees, spel en somme doen en Gr 12 geslaag sonder probleme. Bring die ou stelsel terug1

dr. Sakkie van der Merwe ·

Wie moet ons bedank? Die regering(ANC) wat met onkundige persone aan roer van sake sit en geen snars omgee oor wat hul doen nie. Angie Motshekga moes lankal die trekpas gekry het . Waar kry jy na 25 jaar se bestuur nog put toilette by skole? Maar afbrand en verniel was die ANC se “logo” nou pluk hul die wrange vrugte van hul eie dade.

thea ·

ons wit kinders sukkel net so, bitter min word vir arm blanke kinders gedoen, en as hulle wil verder swot, kry hulle met bete punte geen toelating nie. moet iets anders swot vir n jaar om miskien in medies te kom. ons blankes kry bitter swaar.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.