Swart Maandag: Wat beteken jou (ou) vlag dan, Suid-Afrika?

Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, tydens ‘n Swart Maandag-byeenkoms in Gauteng. Foto: Reint Dykema

Ek skat minstens 500 000 mense (waarskynlik meer) het op Swart Maandag swart gedra. My raming is dat sowat 50 000 ook aan die een of ander vorm van protes deelgeneem het. Ek het twee foto’s van die ou landsvlag gesien – een op ’n brug en een van ʼn ouerige man op ʼn bakkie. Die res van die foto’s was stokou argieffoto’s wat soos ʼn veldbrand versprei het. Dit was dus niks anders as fopnuus nie.

By AfriForum en Solidariteit se verrigtinge was geen ou landsvlag nie. Diegene wat die ou landsvlag op Swart Maandag vertoon het, was net ʼn klein breukdeel van die totaal. Die desimaalkomma van die persentasie is duskant die een met ʼn paar nulle tussenin. Dit is weglaatbaar klein. As die persentasie afgerond sou word, is die getal nul, met ander woorde statisties het nul mense die ou landsvlag vertoon.

Daar is ʼn baie goeie rede hoekom dit nul was: By hierdie spesifieke geleentheid sou die ou landsvlag totaal onvanpas gewees het. Dit was ʼn geleentheid vir boere, plaaswerkers en hul families wat gemoor en gemartel word. Hierdie gemeenskap word tans buitengewoon geteiken en verdien dus buitengewone aandag.

Indien enige gemeenskap, soos polisielede, gemeenskappe in bendegeteisterde gebiede, slagoffers van taxigeweld en so meer, buitengewoon geteiken word, verdien hulle ook buitengewone aandag. Ek sal vir hulle ook swart aantrek. Om tydelik te fokus op ’n spesifieke probleem neem nie die fokus en die erns van die groter probleem weg nie. Ek bly in die stad; is moeg van al die misdaad rondom my; werk aktief om dit in my omgewing te bekamp, maar ek het swart aangetrek en geprotesteer omdat ek die boere se unieke uitdagings verstaan en nie omdat ek boer nie.

Ons moet in Suid-Afrika leer om vir mekaar op te staan. Die wreedheid en frekwensie van plaasaanvalle is iets waaroor swart en wit, DA en ANC, mans en vroue, en alle Suid-Afrikaners en selfs buitelanders behoort saam te staan.

Daar is niks vreemds daaraan as die gemeenskap waarin die meeste aanvalle plaasvind die inisiatief neem en as lede van die gemeenskap die meerderheid deelnemers van so ʼn inisiatief uitmaak nie. Mense van buite die gemeenskap moet ten minste sê: “Ons dink aan julle en is aan jul kant.” Die ideaal is as almal saam sou protesteer. Die ou landsvlag sou dus net nie by die geleentheid gepas het nie en daarom het nul persent mense die ou landsvlag vertoon as ons die desimale kommas in die persentasie afrond.

Die Swart Maandag-geleenthede het byna oral ordelik verloop. Dit is oorweldigend onderskraag en ondersteun en het ʼn geestelike ondertoon gehad. Slagoffers het hul stories vertel. Daar is gehuil, simpatie betoon en mense het mekaar vasgehou terwyl die trane gestroom het. Marianda Heunis, ʼn plaasmoordweduwee met vier pragtige kindertjies, het by ons byeenkoms vertel van haar seer, maar ook van hoop en hoe sy hoop aan haar kinders oordra. Sy het die mense in swart geïnspireer. Daar is deurgaans erkenning gegee aan mense van alle rasse wat in aanvalle gesterf het.

Swart Maandag was baie spontaan. Daar was nie een sentrale punt waarvandaan mense georganiseer is nie. Natuurlik was daar individue wat hulle by van die byeenkomste en op sosiale media wangedra het. Dit was egter min, ook duskant die een persent as dit in die groter prentjie beskou is.

Ek was so trots op die manier hoe iets spontaan uit die gemeenskap ontstaan en aangepak is. ʼn Mens kon daardeur die hart van die gemeenskap sien. Daar was kwaad, hartseer en rou, maar steeds het dit met waardigheid en orde tot uiting gekom. Dit het in skrille kontras gestaan met talle ander optogte in Suid-Afrika – in hierdie geval het die integriteit van die geleentheid behoue gebly.

En toe volg die reaksie – die ou landsvlag word deur politici en rasseopstokers misbruik om rassepunte aan te teken. Hulle begin die ou landsvlag “wapper”. Die byna nul persent van die vlae word toe byna 100 persent. Sekere joernaliste gaan diep stokou argieffoto’s uit en stuur dit rond asof dit op Swart Maandag geneem is. Hoekom? The Star “waai” die ou landsvlag op ʼn stokou foto op sy voorblad. Die adjunkminister van polisie, Bongani Mkongi, “hys” die ou landsvlag voor Wachthuis in Pretoria en op grond van vals foto’s vergelyk hy AfriForum met Isis.

Video’s van swart Suid-Afrikaners wat vuur spoeg oor die boere dit durf waag om die ou landsvlag te waai, word ywerig versprei. Julius Malema “wapper” die ou landsvlag by ʼn optog om solidariteit te betoon met die Palestyne en spoeg ook vuur op deelnemers aan Swart Maandag. Selfs Mmusi Maimane wil die ou landsvlag bo die DA “hys” sodat dit demonstratief gestryk kan word om swart steun te werf.

Die politiek korrektes val ook getrou in die koor en sê ons is nie so nie en nie in my naam nie. Hulle sluk onkrities die vals nuus wat opgedis word. ʼn Reuse-strooipop word in die kleure van die ou landsvlag gebou en afgeskiet en dit word as die waarheid aangebied. Dit maak my naar.

Die enigstes wat die ou landsvlag laat “wapper” het, was dus ʼn klomp rasseopportuniste soos die adjunkminister van polisie, Malema en kie. Hulle het dan die vermetelheid om hul rassepolarisasie op die bykans 100 persent wat nie die vlag geswaai het nie, te projekteer. Wat my meer bekommerd maak, is dat hul onverdraagsaamheid daarin lê dat hulle die ou vlag in elke deelnemer sien, al wapper die deelnemers nie die vlag nie. Dit beteken dus dat hul woede nie gaan oor wat mense op Swart Maandag gedoen het nie, maar bloot daaroor dat die mense wit is. Dit is nie die ou vlag wat hulle uit openbare ruimtes wil verban nie, maar wit mense en spesifiek Afrikaners. Al was daar geen vlag nie, het hulle vlae in almal gesien. As daar iemand is waarop die media met mening moes neerkom, is dit die klomp rasseopportuniste, maar die teenoorgestelde was waar.

Die gemeenskap het op ’n natuurlike wyse daarin geslaag om norme daar te stel om ʼn simbool soos die ou landsvlag te hanteer. Die ou vlag is tot groot mate uit die openbare ruimte verdryf. Dit word nie meer by rugby of proteste soos Swart Maandag gesien nie. Simbole behoort nie sentraal gereguleer of verban te word nie. Vandag is dit ʼn ou vlag en môre? Die rasseopportuniste het die ou vlag weer terug in die openbare ruimte gebring. As die vlag verban word, kry dit nuwe betekenis, en word ʼn ou vlag ʼn strydvlag.

Die herrie rondom die ou vlag het veroorsaak dat die seer en die noodkreet nie gehoor is nie. Die gevolg is dat die ou vlag nie verban is nie, maar wel dat die stem van mense wat gemoor en gemartel word, stilgemaak is.

Terwyl die adjunkminister van polisie en ander rasseopportuniste met groot gebaar die ou vlag wapper en ʼn klimaat teen boere skep, was daar in die afgelope week minstens nog sewe moorde en 13 aanvalle op plase.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Dirk Hermann

Dirk Hermann is die bestuurshoof by Solidariteit.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

30 Kommentare

Johann Marx ·

En so sal hierdie tipe aanvalle net eenvoudig aanhou. Gaan lees die ANC se vryheidsmanifes…..

Nicolaas ·

Mnr Hermann lyk my maak graag sommetjies. Het hy al uitgewerk dat die 74 plaasmoorde (alle rasse ingesluit) slegs 0.39% uitmaak van die 18 673 mense wat in 2016/17 in SA vermoor is. Hoeveel tyd, geld, energie en media aandag word spandeer aan die ander 99.61% van die moorde in die land?

CJ ·

Nicolaas. Plaasmoorde is van die skrikwekkendste, wreedste moorde denkbaar. Dit vind plaas in ‘n politieke klimaat waar haat teen boere aktief deur politici aangeblaas word. Die implikasies, insluitende voedselsekerheid, raak almal in die land. Dit verdien spesiale aandag. Net soos bendegeweld in die Wes-Kaap, wat ook spesiale aandag kry en verdien. Dit maak nie ander moorde minder ernstig nie. Ek lees meer as ‘n halfmiljoen mense is al in die “Nuwe” Suid-Afrika vermoor. Dit, terwyl die regering nie hul burgers beskerm nie, maar eerder polarisasie en haat aanblaas. Nerens is dit so hewig as juis teen boere nie. Dit is ‘n misdaad teen die mensdom. Dit erdien spesiale aandag.

Basson ·

Gaan kyk weer mooi hoe het die Swart Maandag inisiatief begin : ‘n boer in sy voertuig wie ‘n vriend geweldadig verloor het, het mense opgeroep het om swart te dra ter nagedagtenis, dis al.

Hoekom begin jy nie ook ‘n inisiatief Nicholaas? Ek en 1000e ander sal jou ondersteun!

Jack Russl ·

Deur jou logika te gebruik moet ‘n mens seker bly wees dit is net 18 000, dit kon 41 000 gewees het soos in Indie. Verander jou syfers om dit te kry by ‘n syfer uit 100 000. SA omtrent 34 per 100 000, Indie sit met heelwat meer mense en hulle staan op 3 per 100 000. Jy kan nie net kyk na die totale moorde nie, maar ook die totaal van die bevolking waarin dit plaasvind.

Die % boere wat vermoor word is baie meer as die % gewone Suid Afrikaner. Dan sluit ons nog nie die wreedheid in soos CJ genoem het nie. Hou op om met oogklappe rond te loop

Rudi ·

Nou maar Niek, ou vrind, as jy so baie omgee, waar is jou protes?

Japie ·

Nicolaas, soos Jack Russl tereg genoem het, dink anders daaroor.
Kom ons gebruik jou syfers.
Suid-Afrika: daar is 18673 moorde per jaar uit ons bevolking van ±57000000 mense
teenoor
Plaasmoorde: daar is 74 moorde uit die ±35000 boere wat oor is.
Dinge lyk anders, of hoe?

A Kellerman ·

Nicolaas,jy is seker onbewus dat die boere teen n tempo van VYF keer meer vermoor word as die algemene bevolking.[155 per 100000 teenoor 35 per 100000]Om net 75 teenoor 19000 moorde te sien vertel nie die hele prentjie nie.

@ NICOLAAS ·

Dit gaan oor die TOENAME in plaasmoorde asook die WREEDHEID waarmee die aanvalle gepaard gaan, dis nie net ‘n gewone doodskoot nie, maar ure se MARTELING. En natuurlik die feit dat daardie mense baie afgelee is en nie die hulp van sekuriteitsfirmas en polisie naby het soos wat ons in die stede het nie. HOEKOM begin jy nie ‘n OPTOG oor die ander moorde nie? Niks keer jou om vir die ANDER moorde op te staan nie .. toe nou .. Hou ‘n ROOI WOENSDAG vir die ander moorde, ek haat dit as mense soos jy Dirk Hermann kritiseer maar jyself sit seker agteroor en ‘n CASTLE drink en wonder wat mens aan die ‘ander’ moorde moet doen ne?

Andreas Meyer ·

Het julle al daaraan gedink dat ons die moord- en misdaadsyfers kan minimaliseer deur om ‘n gebied aftebaken en al die ongewenste elemente te verwyder?

Elza ·

Ek wens een of ander navorsingsentiteit wil uiteindelik ‘n klomp doktorale studies oor plaasmoorde laat doen sodat die FEITE oor die saak op die tafel kan kom.

Eish ·

Feit van die saak is eenvoudig die anti -wit golf wat n tsunami geword het sedert 94.
Dit neem ook toe in felheid soos die staatsverval toeneem in omvang.
Ek het nooit kon dink die dag sou aanbreek dat ek onwelkom in my eie land sou wees nie.
Tereg het die lig geen gemeenskap met die duisternis nie.

Patriot ·

Julle maak regtig te veel van die ou landsvlag. Die ANC sal enigiets doen om die fokus te verskuif van die werklike probleem. Volgende keer gaan hul kla oor blanke mans wat kakieklere dra. Dit is stok ou taktiek. Die protesoptog was uiters suksesvol en het soveel bereik as wat daar bereik kan word met die mense wat huidiglik die land regeer. Vergeet die ou landsvlag, kakieklere of wat ook al en fokus om die sukses van die protesoptrede uit te dra.

Groot Krokodil ·

Daar is net een vlag wat ek ooit onbeskaamd voor op aandag gestaan het of sal staan. Nie omdat ek haat nie maar omdat ek innig liefhet.

Kom nou ·

Nicolaas, miskien as ons saam staan vir iets . dan sal alles wat fout is , inweef maar jy klink asof jy nie veel gepla is oor die wrede plaas aanvalle nie maar eerder saam met die ander groepe wil betoog oor enige iets denkbaar soos isreal ens .. Magtig dit is on aanvaarbaar om iemand dood te maak. punt . maar begin net n standpunt inneem dis tot die begin maar jy kla oor ander moorde en en en maar neem jy enige standpunt in ???

patricia ·

Patriot, jy is in die kol, as daar nie ons vlag was nie, het hulle iets anders gekry om oor te kerm.

Trots afrikaner ·

Los eerder jou vlag by die huis. Jy sal uitgehaal en geisoleer word deur die media en ander verraaiers. Maar dit is eintlik lagwekkend hoe bang die ANC en EFF vir die stukkie lap is. Dit het nog nie sy magtige impak en simboliek verloor nie. Dit moet mens eintlik hoop gee vir ons land. Die afrikaner is nog nie verslaan nie.

Rupert Ashford ·

Mnr Hermann jy kan vergeet van die HSM. Dit het wereldwyd ‘n karikatuur geword.

Basson ·

Die Afrikaanses het weer moed geskep uit Swart Maandag, ek sien weer ‘n trots en doelgerigtheid groei onder baie van ons :)

Meer sulke aksies is dalk nodig sodat ons stem weer gehoor kan word, dit is immers ons land OOK.

Gustav Venter ·

Nicolaas, daar behoort ‘n optog vir elke plaasmoordslagoffer te wees. Ek sal elke dag, die heeldag protesteer teen die moord van Willemientjie Potgieter. Ek verhoed niemand om oor ‘n ander kategorie moord te protesteer nie en sal hulle ondersteun. Ons moet leer om dinge stelselmatig reg te maak. Om alles gelyktydig te probeer verbeter, sal beteken niks word bereik nie. As ons eers toegewings het t.o.v. plaasbeskerming, is dit soveel makliker om daardie beginsels en toepassing uit te brei na ander kategorieë.

Cecilia ·

Dit was so spesiaal om te sien hoe mense saamstaan. Vir my was die ou vlag net bitter onvanpas. Ons het self ‘n opgevoude ou vlag in die kas en al sien ek nie die ou vlag as simbool van apartheid nie, sien baie Suid Afrikaners dié vlag as ‘n simbool van onderdrukking en rassisme. Dit is jammer dat daar nie beter oordeel gebruik is nie. Die ou vlag was die vlag van ons land se apartheisera en die nuwe is veronderstel om vir alle Suid Afrikaners betekenisvol te wees. Die vertoon van die ou vlag het ‘n kragtige, betekenisvollle aksie (swart Maandag) in regse politiese vertoon omskep, wat net slegte gevolge kan hê en wat baie onregverdig is teenoor die boere wat anders dink en voel.

Henry ·

Ai tog Cecilia!
Het jy regtig die artikel van mnr Dirk Hermann wat hierbo verskyn, gelees?
Indien nie, lees dit asb.
Indien u dit wel gelees het, lees die artikel gerus weer ‘n keer.

Wit vlaggie ·

“Nooit hoef jou kinders wat “trou” is te vra, wat beteken jou vlag dan Suid-Afrika”?….Uit F.A.K.

Max Boswyk ·

Dit is juis die Christelike waardes wat vandag so aanstootlik is vir die Nuwe RSA.

FW ·

wat is n boer. is hy n gewone landsburger of n besigheids eienaar.

vergelyk die statistiek dan met alle besigheids eienaars / werkers wat vermoor word. Hoekom slegs landbouers uitsonder.

misdaad moet nie oor ras gaan nie. ons moet teen alle moorde saamstaan.

Max Boswyk ·

Die “Ou Landsvlag” stel die Chistelike beginsels voor wat vandag amptelik verwerp en beveg word.

Johann ·

Maar Dr Herman, hoekom neuk jy en Solidariteit met elke geleentheid VOORTREKKER MONUMENT toe? Dis soos om DUISENDE OU SA VLAE op telefoon pale te plak en te sê dis irelevant? So was daar bv n paar honder mense by jou Voortrekker Monument Maandag teenoor DUISENDE in die Kaap wat juis NIE hul opregtheid laat oorskadu het deur n blindelingse najaag van konstant Voortrekker Monument toe hardloop om die blanke afrikaanse gemeenskap te definieer nie. Ek sien ten minste is die onderskrif van die foto nie steeds “by die Voortrekker Monument ” nie? Ek hoop van hart en logika dat jy en jou mede aanvoerders by Solidariteit MOOI dink voor julle weer die Voortrekker Monument as vergaderplek aanhang. Die afgelope Swart Maandag se karige bywoning in Pretoria ( val alle plekke), moet julle laat wakker sit oor n nuwe strategie van hoe die huidige afrikaanse blanke gemeenskap homself assosieer …of NIE?

Scientia Munit ·

Media kommentaar op Swart Maandag bevestig die dubbele standaarde wat vandag in SA geld. Elke optog het sy rand figure. As n EFF of Cosatu-optog n paar moeilikheidsmakers insluit wat n winkelvenster uitgooi of asblikke omkeer word die hele optog nie as geweldadig getipeer nie. Maar as die Swart Maandag protes 2 ou vlae vertoon word die hele optog as rassisties gebrandmerk. Neutrale beriggewing bestaan nie. Punt.

Scientia Munit ·

Afrikaners, besef dat die media ons oor n ander kam as die res skeer. As n moelikheidmaker tydens n EFF optog n venster uitgooi word die hele optog nie as gewelddadig getipeer nie. Maar as 2 ou landsvlae tydens Swart Maandag vertoon word, word die optog getipeer as rassisties. Dubbele standaarde? Beslis. N agenda ? Beslis. Weet dit en tree ooreenkomstig op.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.