#SwartMaandag se dubbele standaarde

Die Swart Maandag-optog in Port Elizabeth. Foto: Raahil Sain/ANA

Deur Connie Mulder

Munisipale raadslede in Kwazulu-Natal, jong bruin mans in die Wes-Kaap en boere.

Dit is die drie gevaarlikste goed om in Suid-Afrika te wees.

Die afgelope #SwartMaandag-betogings is gehou vir een van dié drie groepe.

Hierdie dag van optrede het twee belangrike goed vermag:

  1. Dit het ongelooflike bewusmaking aan die kwessie van plaasmoorde gebring. Positief of negatief, die land se agenda is die afgelope ruk oorheers deur plaasmoorde.
  2. Dit het ook eens en vir altyd die naakte rassisme van verskeie van Suid-Afrika se “meningsleiers” en “kommentators” ontbloot vir almal om te sien.

Kritiek op #SwartMaandag het een van twee vorme aangeneem:

  1. ’n Mens moet eerder op alle moorde fokus; ʼn optog vir 71 moorde uit 19 016 is wit meerderwaardigheid.
  2. Die vertoon van apartheidsimbole wys die ware kleure van die optog, dit wil sê dit gaan nie oor moord nie, maar oor rassisme.

Kom ons kyk van nader na hierdie twee vorme van kritiek.

  1. Dit is ʼn sinnelose optog vir slegs 71 moorde uit 19 016 – alle moorde maak saak.

Eerstens moet ’n mens stel dat alle geweld in Suid-Afrika totaal buite beheer is. Ons moordsyfers vergelyk met dié van Sirië, wat aktief in ʼn oorlog gewikkel is. Daar was geen #SwartMaandag-betoger wat van mening was dat Suid-Afrika se moordsyfer aanvaarbaar is nie. Die boodskap was dat daar in hierdie abnormale misdaadsituasie ʼn gemeenskap is wat ʼn nóg abnormaler moordsyfer beleef.

Ongetwyfeld is die kritici se basiese somme korrek. Plaasmoorde maak slegs 0.37% van die totale moorde in Suid-Afrika jaarliks uit.

Dit is ook ʼn besonders oneerlike manier om moordsyfers te benader. Moordsyfers word in per capita terme aangegee, juis omdat absolute syfers misleidend is.

In 2016 het daar 17 250 moorde in die Verenigde State plaasgevind. Volgens hierdie kritici is die VSA dus net effe veiliger as Suid-Afrika, tot jy in ag neem dat die totale bevolking van die VSA 323 miljoen mense is. Dan word dit duidelik dat die VSA se moordkoers van 5 per 100 000 mense, baie laer is as Suid-Afrika se koers van 34 per 100 000.

Dus moet jy nie net die 71 moorde in ag neem nie, maar ook die gemeenskap wat vermoor word. Plaasmoordslagoffers is primêr boere, waarvan slegs 32 000 oor is. Dit laat jou met ʼn moordkoers onder boere van ongeveer 105 per 100 000.

Dit is ooglopend dat hier ʼn gemeenskap is wat teen ʼn aansienlik hoër koers as die land se gemiddelde uitgemoor word. Om namens daardie gemeenskap te besluit waaroor hulle mag kwaad wees en betoog, spreek van ʼn ongelooflike arrogansie en vermetelheid.

My appeltjie is nie eens met die kritici wat so gebrekkig redeneer te skil nie, dit is met die kritici wat slegs in die geval van plaasmoorde so gebrekkig redeneer.

Hierdie selfde mense was doodstil toe daar in Maart vanjaar ʼn optog teen bendegeweld deur die Kaapse middestad gehou is. Geen slim sosialemediaplasings wat maan dat moorde weens bendegeweld tog nie belangriker geag moet word as ander moorde nie. Geen eenvoudige wiskunde wat aantoon dat bendegeweld eintlik ʼn klein persentasie van sterftes in Suid-Afrika is nie en dus nie aandag vereis nie.

Inteendeel – ons eie polisieminister het versoek dat die Suid-Afrikaanse weermag ontplooi word om die probleem van bendegeweld hok te slaan.

Minister Fikile Mbalula het die gemeenskap van Elsiesrivier, wat gebuk gaan onder bendegeweld, verseker dat hy hulle pleidooie gehoor het, en iets gaan doen aan die saak.

Hy het nie vir hulle gesê dat alle moorde belangrik is, en hulle maar moet verstaan dat hy nie besonderse aandag aan bendegeweld kan gee nie.

Hy het nie vir Elsiesrivier-inwoners vertel dat hulle tegelykertyd die Ku Klux-Klan, Hitler en die Islamitiese Staat (Isis) is nie. Hy het verstaan dat hier ʼn gemeenskap is wat buitensporig onder misdaad ly. Hulle het die reg om kwaad te wees – en hulle het die reg het om beskerm te word.

Dit is nie die enigste gemeenskap se moordkoers wat spesiale aandag van Minister Mbalula ontvang nie. Minister Mbalula beskou politieke moorde in Kwazulu-Natal as ʼn reusebedreiging vir Suid-Afrika se demokrasie.

Politieke moorde word in so ’n ernstige lig gesien dat die ANC in Julie 2017 die Moerane-kommissie aangestel het om dit te ondersoek.

Die beweegrede vir die kommissie is dat daar vanaf Maart 2014 tot Julie 2017 ongeveer 90 politieke moorde was.

In dieselfde tydperk was daar meer as 200 plaasmoorde.

Klaarblyklik is monde wat praat belangriker as monde wat eet.

  1. Vlae en veroordeling

“Ek sou julle ondersteun, maar toe daag daar mense op met die ou Suid-Afrikaanse vlag – ek kan dit glad nie ondersteun nie.”

Hierdie sentiment is wyd op sosiale media gedeel – deur ervare joernaliste en ander kommentators wat van beter moes weet. In hulle haas om die “rassistiese” betogers by te kom, is enige foto uitgekrap en klakkeloos gedeel.

Wanneer uitgewys word dat hulle besig is om oneerlik te wees, was daar geen verskoning nie. Slegs ʼn flou wegredenasie van onetiese en roekelose wanvoorstelling. “Dit was dalk nie waar nie, maar jy weet mos hierdie mense is rassiste.”

Al wat ek van hierdie kritici vra, is dat jy jou eie beginsels uitleef. Dit beteken – as jy kies om tydens ʼn betoging die gedrag van een of twee betogers te gebruik om ʼn hele betoging te diskrediteer – doen dit asseblief net met alle betogings.

Verskeie kommentators het summier besluit dat een of twee #SwartMaandag-betogers die boodskap van duisende ander ongedaan gemaak het. Hierdie kommentators het dit goedgedink om te laat weet dat hulle nie plaasmoordslagoffers kan ondersteun nie – omdat minder as 1% van betogers ʼn ou landsvlag saamgebring het.

Die nuus en sosiale media is oorheers deur ou foto’s uit ander optogte, aangeblaas deur hierdie kommentators se naarstigtelike behoefte om hulleself van plaasmoordslagoffers te distansieer.

Tydens die #FeesMustFall en #RhodesMustFall-betogings het studente opgedaag met “1 Settler, 1 Bullet” en “Kill all whites” op hulle baniere en hemde. Hierdie selfde kommentators het hulself nie oombliklik gedistansieer van die ganse betoging nie. Inteendeel – daar is simpatiek oor die betoging geskryf, met die boodskap van klasfooie wat oorheers het, eerder as een van volksmoord.

Meer relevant is dat die einste kritici wat uitvaar teen die gebruik van die ou landsvlag, nie ʼn woord gerep het oor die ongelooflike rassistiese reaksie op sosiale media teen die #SwartMaandag optog nie.

Ná ʼn trok tussen betogers ingery het op die N4 naby Middelburg, was daar ʼn hele reeks kommentare wat die trokdrywer gelukwens. Wat stel dat hy God se werk gedoen het, en dat die boere dit verdien het.

Daar was ook ʼn dawerende stilte van hierdie kommentators.

Indien ons dié kritici se beginsels op hulself toepas, moet alle kritiek op #SwartMaandag as rassisties verwerp word, want enkelinge het hulself daaraan skuldig gemaak.

Klaarblyklik geld dit net wanneer die enkelinge teen plaasmoorde betoog.

Om op te som:

  1. In antwoord op bendegeweld versoek ons dat die weermag ontplooi word.
  2. In antwoord op politieke moorde het ons ʼn kommissie saamgestel en dit as prioriteit verklaar.
  3. In antwoord op plaasmoorde het ons gehuiwer, getwyfel en gespot.

Boere in die besonder én die breër gemeenskap het die volste reg om woedend te wees oor plaasmoorde.

#SwartMaandag was ʼn roudiens langs duisende grafte.

Ons durf nie niks sê oor plaasmoorde nie.

Ons durf nie niks doen aan plaasmoorde nie.

Ons durf nie toelaat dat wit ridders wat hulle beginsels laat vaar vir polities korrekte lensiesop, aan ons voorskryf waaroor ons mag kwaad wees nie.

Genoeg is genoeg.

  •  Connie Mulder is hoof van Solidariteit se Navorsingsinstituut (SNI).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

45 Kommentare

Maryke Combrink ·

Dit is ‘n baie sinvolle artikel wat soveel perspektief gee, baie dankie Mnr Mulder

Oom Piet ·

As gesoute politikus met ellelange ondervinding en oudstryder wysheid weet Dr Connie Mulder dat die geringste rassistiese persepsie prentjie (1,000 woorde) alles oorheers en erger haat teen die Boers onder die verre meerderheid landsburgers en vele andere ontketen, hul onderlinge verdeeltheid versaak, en blitsig oormagstrydig vereenig teen onse meestal goedgesinde volksgroep, wat beterwetend onverpoos voorkomend moet dink, optree en uitpraat. Bid saam vir vergewing, wysheid, leierskap en samesyn vreedsame uitkomste, geluk en voorspoed vir ons almal in ons geseende vaderland.

SAKKIE THERON ·

Hoooeeerrraaa vir die skrywerv van bogenoemde artikel ek stem 100% saam ,maar wil net een vraag vra hoekom word die name van die joernaliste wat dubbel standaarde handhaaf nie genome nie maar fotos van ons mense met ou vlae kan gepubliseer word mnr die skrywer het jy ook nie n bietjie van n dubbel stansaard nie of is daardie joernaliste dalk jou vriende?

Awie Opperman ·

Dagsê Sakkie, ek vermoed daar is hopeloos te veel joernaliste om te noem, maar as jy enige berig oor die optog lees wat strook met die skrywer se voorbeelde van dubbel standaarde kan jy maklik vasstel wie hulle is.

Anna ·

Askuus het per ongeluk geraporteer my vinger het daarop gedruk. Ek weet nie hoe om dit ongedaan te maak nie so jammer

Dirk ·

So true ,thanks it is sometimes the brave people that has to stick their head out and tell it as it is and to stand up for what is right. These trouble makers is only good in mobs as they do not dare stand alone and stand up for what is right and take out the corrupt government who is creating division between all races to keep us all busy with each other instead of addressing the real issue…THE CORRUPT GOVERNMENT

kla-kous ·

Van tyd tot tyd word moorde op die polisie ook bygesleep om stappe te regverdig om hulle te beskerm – omdat hulle ook ‘n groep is met hoë per capita moordsyfers. Die minister van polisie is op rekord van hoe hulle moet skiet en tekere gaan om die aanslag op hulle af te weer. Hulle is belangrik, boere maak nie saak nie.

Chris Ws ·

Baie goeie artikel Mnr.Mulder!Nou moet die name van die eensydige joernaliste hier bekend gemaak word asseblief.Ons moet weet wie hulle almal is!

John ·

In die VSA moet monumente uit vorige era’s ook afgebreek word want dit maak sekere mense wat jare later daar aangeland het se harte te seer… Net sekere mense het die reg op monumente in SA en net hulle kry swaar en moet dus voorgetrek word en verskoon word en aan hul eise toegegee word? Wat sou impliseer dat witmense tensy jy kapituleer en ‘n wit vlag swaai… geduld sal word en ook net totdat jou vlag nie meer ‘n doel dien nie. Die uiteindelike uitkoms in SA kan dalk heel erger wees as in enige plek noord, of Suid-Amerika en kan selfs die vervolging van die Jode deur die Nazi’s troef. Ons kan net op die genade van Bo reken, van nerens elders nie op aarde nie …

Reinhardt ·

Een van die nuwe episodes van South Park het dit goed uitgebeeld. Die een karakter gaan tekere oor Columbus day en dat alle standbeelde oor Columbus afgebreek moet word, want die glorify die Europeers se mag en veglus teen die Indiane. Dan later in die episode vind die einste karakter uit dat hy 2.8% Neanderthal DNA in hom het. Hy gaan dan EERS tekere oor hoe die Homo Sapiens die Homo Neanderthals uitgewis het en dus sy mense (Neanderthals) gemarginaliseer het. Ek het my dood gelag, want dit is juis die punt… hoe lank is jy bereid om in die verlede te gaan om n slagoffer te wil wees?

Denise van Tonder ·

Baie goed gesê!!! Dit is net jammer dat daar toegelaat word dat rassisme, haatspraak en nyd toegelaat word en niks daaraan gedoen word nie. Swart Maandag se optog het vreedsaam verloop en sonder enige slegte voorvalle ongeag die trokbestuurder wat tussen die mense ingejaag het. Nou wil daar voorgegee word dit is aanvaarbaar deur God. Asseblief ken hulle dieselfde God wat ons ken? of van watter God praat hulle. Eending is net verseker my God is nie ‘n God vir haar en nyd nie Hy is vrede, liefde en samesyn. Kom ons wag vir Hom om nou te antwoord!!!!

StemSaam ·

Vertaal asb in Engels en probeer om dit op engelse media geplaas te kry.
Ek dink nie ons moet ons meer deur die opinie van liberale kommentators laat lei nie, want hulle is duidelik skynheilig en verblind deur die siekte van liberalisme

Ilse ·

Baie insiggewend en goed geskryf! Dink net hoeveel kan gedoen word vir ons land en al sy mense, as ons meer mense soos Mnr. Mulder in die parlement gehad het.

RB ·

Uitstekend gestel! Hierdie stuk moet verder geplaas word sodat dit deur soveel as moontlik mense gelees kan word.

Dit moet ook in engels vertaal word vir ons mede-burgers en die buiteland!

Jordaan ·

Ek stem saam, goeie artikel – die maroelamedia leser is nie die een wat hierdie moet hoor nie.

Theresa Jacobs ·

Dankie tog vir mense soos Mnr Mulder – wat alles in perspektief stel albei kante se saak word gestel..ons verstaan dinge nou baie beter. Natuurlik het ons rede tot kommer .. Regverdigheid seevier nie in Suid Afrika nie – maar ten minste word alles nou aan die lig gestel. Ons staan steeds agter ons boere – so jammer hulle waarde in ons land word so ontken.

Leahim ·

Die eerste keer in twee maande wat ek positief komentaar kan lewer ek stem saam hierdie is uitstekend gestel en 100% korrek

Therese van Schalkwyk ·

‘n Skitterende opsomming van die situasie in SA oor die algemeen, en meer spesifiek die teleurstellende reaksies uit die breër gemeenskap ten opsigte van Swart Maandag.

Die vyandige houding van die ANC regering teenoor wit Suid-Afrikaners behoort nadese vir almal wat nog getwyfel het duidelik te wees. Nie ‘n groot verrassing daar nie …

Van die mees teleurstellende optrede was dié van welbekende Afrikaanssprekende persoonlikhede, asook die Afrika-Europa-Indaba, ‘n spreekbuis vir ene Johan ‘Sloet’ de Villiers in Nederland. Die skade wat laasgenoemde deurlopend aanrig t.o.v. Afrikaners se beeld in die buiteland is enorm.

Laastens, daar is myns insiens min of meer 20 jaar te lank gewag om tot daadwerklike protesaksie teen gruwelike plaasterreur oor te gaan. Waarom het dit so lank geneem?
Stemme het gereeld opgegaan, maar is geïgnoreer.

Therese ·

Naskrif:

Dié woorde van Frans Cronje, Instituut vir Rasseaangeleenthede, is ‘n taamlike openbaring:

“We do not support the view that a politically inspired genocide of white farmers is underway in South Africa – and those who claim one exists risk being dismissed as a lunatic fringe with the risk that the very real plight of farmers is dismissed with them”.

Hierdie standpunt word gedeel deur ‘n oorweldigende groep wit Suid-Afrikaners, ongeag die feit dat die geweldplegers deur die bank swart is, en die baie suksesvolle kommandostelsel vir plase deur die ANC ontbind is.

Terwyl politiek korrektheid seëvier en belangriker as ons mede-Afrikaners se lewens geag word, sal daar nié oplossings vir hierdie kwessie gevind word nie. Wit Suid-Afrikaners moet uit een mond begin praat oor hierdie saak, Baie dringend.

edward ·

Ek is bly daar is nog mense wat die groot prent kan sien. Daar moet weer ‘n swart Maandag gereel word, maar dan moet dit alle slagoffers in Suid Afrika insluit. Twee belangrike punte kan ek nie bewys nie, maar ek glo dit is so. ‘n Groot persentasie van die mense wat boere vermoor, is ook verantwoordelik vir die 50 moorde per dag; en 80% van alle mense wat daagliks in Suid Afrika vermoor word is Christene.

JC ·

Dankie Connie:)
Bygese; dis ons volste reg om simbole en vlae wat eie aan ons erfenis is, te vertoon. En niks of niemand gaan hieraan peuter nie. Indien die Unievlag ‘n versugting na vrede, voorspoed en stabiliteit simboliseer vir Afrikaner-boere, en die breere blanke bevolking, dan is dit so. In teenstelling daartoe, indien die nuwe vlag NIE die versugting verteenwoordig nie- wel, dan skets die prentjie mos dan ‘n groot waarheid en juiste prentjie. Jaloesie is ‘n lelike ding.

Leahim ·

Jc Duitsland sit ook met die probleem die nazi groep wie se klagtes gegrond is maar omrede hulle die nazi vlag na betogings toe vat kry hulle nie die simpatie van die ander lande nie .Ek het self geen probleem met die ou vlag nie maar soos met maandag se optog was om die fokus op plaasmoorde te plaas maar die toon van die ou vlag stuur die boodskap vir die on ingeligte buiteland dat dit n apartheidsera/nazi probleem is.

Ollie ·

alles in ag genome, ons wil die simpatie van die wereld he en soek ondersteuning van die buiteland maar….. ons het die simpatie verloor weens ons patriotisme en vertoon van die ou landsvlag en sing van die Stem. Soms net soms is daar n tyd om te swyg en Swartmaandag was die dag. Ek is ook n boer in hart en siel en lief vir my land. Ek glo nie ons gaan met n opvolg Swartmaandag die selfde trefkrag he nie want ons regering het ons klaar gebrandmerk as rassiste a.g.v. vertoon van bogenoemde en sal geen simpatie met ons he. Dankie vir elkeen wat opgestaan en voor geloop het. Ons moet dalk ons aanslag vir n opvolg
n bietjie aanpas sodat hulle nie n idee het wat voorle.

Rupert Ashford ·

Ollie hulle sou aanhou soek tot hulle ‘n rede gekry het om die inisiatief te diskrediteer. Dit gaan hier oor die houding van die ander partye en eintlik is dit ‘n goeie ding dat die lyne getrek word.

Dawie ·

Baie sinvolle artikel. Kan dit nie vertaal word en gepubliseer word in die hoofstroom media nie ?

ertjie ·

Punt van die saak is – ons kan nie op die staat of die buite samelewing staat maak om ons nood te sien of te ondersteun nie. Ons sal self die skouer by die wiel moet sit en basta met wat enige persoon of land dink of se. Kies self, wil jy gewild wees of wil jy lewend wees?

Reinhardt ·

Uitstekend!! Dit is die presiese argument wat ek met menige van my liberale vriende probeer maak, maar dit gaan eenvoudig by die een oor in en die ander een uit. Ons kan nie wen nie.

Merkur ·

Ons kán wen.
Hardnekkig bly, die eie mening verdedig en veral wys dat jy die arena nie gaan verlaat nie.

Gustav Venter ·

Ons, ‘n volk wat vrede begeer, het aan ‘n vreedsame protes deelgeneem. Die reaksie wys net een ding: Daar is nie ‘n werkbare vreedsame oplossing vir ons oor nie. Ons teenstanders dring op geweld aan en om dit met geweld af te weer, is ons onvermydelike laaste oorblywende opsie. Bewapen julleself. Wees paraat. Moet nooit aanval nie. Maar as jy aangeval word, weerstaan die boosdoener met magtige geweld.

Flintstone ·

Jou mond is groot Connie Mulder.As een van my naasbestaandes deur watter terreuraanval ook al gedood word sal ek deur die strate loop en protesteer omdat ek OMGEE,nie omdat ek ‘n ras sien nie.Met jou komentaar probeer jy die optogte marginaliseer en afmaak as wit meerderwaardigheid.Soveel van ‘n misplaaste konnotasie het ek lank laas in my lewe teëgekom!Ek is terdeë bewus van ander rasse wat ook deurloop maar die onus berus by hulle of hulle dit gaan sluk en of hulle daarteen gaan skop.Ek wag vir die dag wat jy langs die oop graf van ‘n geliefde gaan staan!Dan wil ek jou apatiese kommentaar lees!

Rupert Ashford ·

Um, met alle respek Fred, wil jy nie dalk asseblief weer die stuk gaan lees nie?

Gert ·

Ek dink jy moet n leesbril aanskaf en weer poog om die komentaar met insig te lees. Jou uitlating is werklik absurd.

Stef ·

Gooi bietjie meer Coke by, Fred, jy mis die punt heeltemal…

PJR ·

Die kritici en kornuite lei aan ‘n tipe stockholm sindroom. ‘n Simbiose tussen tussen volstruispolitiek en die outydse renegate wat joiners genoem was.

B-man ·

1. Bende-moord is oor die algemeen tussen bendes – bruin-bruin.
2. Raadslede-moord is meestal politieke kompetisie – swart-swart.
3. Die boere is nie besig om mekaar te moor nie! – amper uitsluitlik swart op wit.

LG Erasmus ·

Uitstekende artikel. Flintstone, ek weet nie waar jy gelees het nie! Afriforum hoekom maak julle nie ‘n dokumentêre film hieroor en die dubbele standaarde in SA nie en wys mense wie se name genoem word en noem die name tesame met die nodige bewyse(daar is baie). Dit moet negatiewe en positiewe ding weerspieël sodat dit geloofwaardigheid kan hê. Hierdie dokumentêr moet dan die buiteland in en sover moontlik plaaslik alhoewel die anc dit nie gaan toelaat nie. Tree op soos met Tainted Heroes.

Hendrik ·

Die groot vraag is hoe ons die % plaasmoorde bereken. Uit die 76 plaasmoorde tot gister, hoeveel van hulle was getel in die 32000 populasie boere in die land? Dis foute soos hierdie wat ons eie kredietwaardigheid ondergrawe. Ongelukkig is daar nie akkurate statistiek nie. As jy vroue, kinders, plaaswerkers, besoekers ens tel onder die 76, kan jy nie die verhouding uitwerk met 32000 as basis nie.

Sulke foute trek die aandag af van die saak. 76 plaasmoorde is te veel. 1 plaasmoord is te veel. Maar verkeerde feite trek die aandag af van die wreedheid van die moorde en van die politici se aanhitsing daartoe.

Fourie ·

Ongelukkig is baie meer as 1% van Maandag se betogers rassiste en verlang terug na die dae van apartheid. Hierdie verregse groep doen die wit Afrikaanse gemeenskap in sy geheel’n groot oneer aan en versterk die persepsie onder swart mense dat alle wit Afrikaners rassiste is en hunker na apartheid. Ons sal eers hierdie element in eie geledere moet uitroei voor ons enigsens ernstig opgeneem sal word. Ons hoor byvoorbeeld nie dat mnr. Mulder en kie die wapper van die ou vlag in die openbaar veroordeel nie (dalk ondersteun hy dit). Ek dink dis deel van die probleem. Se maar net.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.