Swartsmeerdery met ’n slegte smaak in die mond

Cyril Ramaphosa

Adjunkpresident Cyril Ramaphosa (Foto: GCIS)

In die politiek is verskillende dinge belangrik. Uiteraard moet beginsels en beleid die belangrikste wees, maar stýl is slegs ’n kortkop agter.

Vandeesweek was daar twee voorbeelde wat die wye kloof in politieke styl tussen Suid-Afrika en Duitsland blootgelê het. ’n Mens sou ons land ook met ander lande kon vergelyk, maar ’n spesifieke gebeurtenis het die politieke kultuur in laasgenoemde goed geopenbaar.

Daardie gebeurtenis was die televisiedebat tussen die Duitse bondskanselier, Angela Merkel, en haar uitdager, die Sosiaal-Demokraat Martin Schulz. Dit ter voorbereiding van die parlementêre verkiesing op 24 September.

Ek is gewoond aan die enorme polarisasie in Suid-Afrika, waar politici dikwels die indruk wek dat hulle eerder ’n mes in hul teenstander se rug sal wil druk as om met hom te debatteer. Ek het ook gekyk na die televisiedebatte verlede jaar tussen pres. Donald Trump en sy opponent, Hillary Clinton, waar wedersydse afkeer en selfs haat die botoon gevier het.

In die Duitse debat het die twee nie hul verskille onder stoele of banke weggesteek nie, inteendeel. Ná die debat het die intelligente kyker presies geweet waaroor die twee saamstem, waar hul nuanseverskille is en waar hul fundamentele beginselverskille lê.

Maar die debat is met wedersydse respek gevoer. Hulle het mekaar, waar hulle aanleiding daartoe gevind het, geprys, maar mekaar ook aangevat op die punte waar hulle meen die ander verkeerd is.

Schulz, wat in die peilings ver agterloop, het die meeste gehad om te verloor. Hy moes met ’n uitklophou of minstens met punte wen. Ongelukkig vir hom het Merkel se enorme politieke ervaring meegebring dat sy Schulz se aanvalle met die grootste gemak kon afweer – en in die proses ’n paar gevoelige houe kon uitdeel.

Ná afloop het die kykers die oorwinning aan Merkel (55-35%) gegee.

Kontrasteer dit nou met dít wat in Suid-Afrika aan die gang is. In ons land is die regerende ANC in ’n klipharde magstryd gewikkel oor wie pres. Jacob Zuma in Desember as partyleier moet opvolg.

Die twee voorlopers is Nkosazana Dlamini-Zuma en Cyril Ramaphosa, met ’n paar buiteperde wat die stryd dalk interessanter kan maak. Dié naweek het dit egter geblyk tot welke dieptes die bakleiery kan daal met die doelbewuste uitlek van e-posse waaruit ’n … sal ons maar sê … bedenklike lewenstyl by Ramaphosa oopgevlek is.

’n Mens weet nie óf – en indien wel, in welke mate – daar waarheid in die onthullings steek nie. Ramaphosa ontken byna alles en het slegs één buite-egtelike verhouding toegegee, wat glo reeds agt jaar gelede beëindig is.

In Duitsland, en die grootste deel van die Europese vasteland, is só iets totaal ondenkbaar. Dis byvoorbeeld bekend dat huwelikstrou nooit hoog in die vaandel van Merkel se voorganger as bondskanselier, Gerhard Schröder, was nie, maar sy politieke opponente het dit nooit teen hom gebruik nie.

In Frankryk het alle presidente ná die onberispelike Charles de Gaulle – Georges Pompidou, Valéry Giscard d’Estaing, François Mitterrand, Jacques Chirac en François Hollande – ’n avontuurlustige liefdeslewe gehad. Ook daar het mense hoogstens agter hul hande daaroor gegiggel, maar niemand het daarvan gedroom om dit teen hulle te gebruik nie.

Dit het alles met ’n land se politieke kultuur te make. Op die Europese vasteland word tradisioneel ’n onderskeid getref tussen ’n leier se persoonlike lewe agter sy slaapkamerdeur en sy vermoë om ’n land doeltreffend te lei. Wat hy tussen die lakens aanvang, is die houding, het niks met mense te make nie; slegs wat hy as leier doen.

In Angel-Saksiese lande word anders na die saak gekyk. In Brittanje het ministers en regerings al geval omdat iemand homself nie kon beheers nie. Dink byvoorbeeld aan die Profumo-skandaal wat ’n Tory-kabinet in die vroeë jare sestig laat verkrummel het.

Ofskoon – hier het ’n ander element om die hoek geloer. Die prostituut waarby John Profumo (toe minister van verdediging) betrokke was, het ook gekuier by ’n militêre attaché van die USSR, Jewgeni Iwanof, wat ’n veiligheidsrisiko ingehou het.

Die Westerse land met die hardste politieke kultuur is ewenwel die VSA. Nadat pres. John F. Kennedy se sekskapades in dieselfde tyd as Profumo s’n geheim gebly het, het die samelewing steeds oper geword, en is leiers en aspirant-leiers se persoonlike lewe steeds meer aan die groot klok gehang.

Die toppunt was waarskynlik ’n volledig onbevestigde verslag deur ’n gewese Britse spioen, Christopher Steele, in Januarie vanjaar, waarin allerlei pikante bewerings oor pres. Donald Trump en Russiese prostitute in ’n Moskouse hotelsuite gedoen word. Geen enkele woord hiervan is nog deur enige ondersoek gestaaf nie.

Die verslag is oorspronklik geskryf op versoek van Trump-opponente in die Republikeinse Party wat ammunisie teen hom gesoek het. Toe hul geesdrif vir die verslag egter verflou, het Steele dit aan die Demokratiese Party gegee.

Dis nie bekend wie die stuk laat uitlek het nie, maar ’n mens hoef waarskynlik nie ver buite die Demokrate se dampkring te gaan soek nie.

Terselfdertyd staan Trump glad nie terug vir sy teenstanders nie. Hy het al beweer dat “miljoene onwettige immigrante” vir Hillary Clinton in die verkiesing gestem het, dat sy voorganger, pres. Barack Obama, sy kommunikasie laat afluister het, ensovoorts – alles bewerings sonder ’n greintjie bewys.

Suid-Afrika se huidige politieke kultuur word deur twee faktore beïnvloed. Die een is sy Angel-Saksiese agtergrond; die ander dat ons veel meer as ooit tevore deel van Afrika geword het.

Die Angel-Saksers, veral die Amerikaners, deins nie daarvoor terug om politieke opponente met enigiets wat voorkom, swart te smeer nie. En die geskiedenis van Afrika sedert die dekolonisasieperiode wys dat politieke verskille alte dikwels op moord en doodslag uitloop.

Dit maak van die “Ramaphosa-dossier” eintlik ’n vulletjie, as ’n mens die situasie in die VSA en lande soos Zimbabwe, die DRK en die Sentraal-Afrikaanse Republiek as uitgangspunt neem.

Dis jammer. Die demokrasie gaan immers daaroor om alternatiewe aan die kieserspubliek voor te hou en hulle die geleentheid te gee om in alle vryheid ’n rigting te kies.

Teen dié agtergrond laat die swartsmeerdery van Ramaphosa ’n slegte smaak in die mond. En, let wel, dit staan heeltemal los van die vraag of hy ’n goeie president sou wees of nie.

Ten slotte, die oorspronklike bewerings is in die Sunday Independent oopgevlek. Die koerant het hom skaamteloos as politieke instrument in ’n interne partypolitieke magstryd laat gebruik. Die redakteur van die koerant behoort hom te skaam.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Leopold Scholtz

Meer oor die skrywer: Leopold Scholtz

Leopold Scholtz is 'n onafhanklike politieke kommentator en historikus. Hy is al sedert 1972 as joernalis en historikus werksaam.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

4 Kommentare

Realis ·

Politieke kenners wat hier kommentaar lewer en artikels skryf en hulle weet nou nog nie dat enige potensiele presidentskandidaat se skandes en skades uitgekrap word, wat maak Afrika so anders of is ons al so gewoond aan presidente wat verkrag en steel dat Ramaphosa se affairs nou ‘n vulletjie is teen die ander se oortredings?

John ·

As ons reg onthou het die uwe net so lekker groot opskrifte gehaal met sy weergawe van skinderstories oor Trump en die Russiese dame wat toe nooit bewys is nie… en so werk die plaaslyn…

Leopold Scholtz ·

John, nou vat jy so kortpad dat jy twee millimeter duskant ‘n leuen omdraai. Ek het destyds verslag gedoen oor bewerings waaroor wereldwyd berig is. Ek nooi jou vriendelik uit om my aan te haal waar ek die bewerings as die waarheid verkoop het. As jy nie kan nie – en ons albei weet jy kan nie – sal jy mans genoeg wees om terug te trek en ekskuus te vra? Nee? So gedink. So ken ons jou mos.

Therese van Schalkwyk ·

Daar is geen twyfel dat álle swartsmeerdery ‘n slegte smaak in die mond laat nie, maar Cyril Ramaphosa is geensins gevrywaar van die behandeling wat enige bekende persoonlikheid of politikus gereeld vanuit media geledere kan verwag nie.
Wanneer het ‘n redakteur van ‘n koerant, of enige joernalis, hulle al ooit geskaam om te berig oor ‘n rokie waar ‘n vuurtjie moontlik brand?

Inteendeel. Dit kan net goed wees as die naïewe Suid-Afrikaanse publiek gouer eerder as later besef dat die man, wat gereeld as die spreekwoordelike ridder op die wit perd uitgebeeld word, taamlik groot swak plekke in sy mondering het.

Skreiende wanbestuur van staatsfondse sedert 1994, korrupte kaderontplooiing, die dood van 34 mynwerkers ens. ens. ens. het alles onder sy neus gebeur.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.