Swede soek rommel

Argieffoto

In ’n wêreld wat besig is om onder sy eie gemors te versmoor, is Swede ’n helder lig wat skyn: Net een persent van sy huishoudelike vullis het verlede jaar op die ashoop beland en hy het te min afval vir sy behoeftes!

Dis maklik om te gaan sit en uit te pak oor al die kwinte en kwale van Suid-Afrika, Afrika en die hele wêreld. Die probleem is net dat jy straks gaan sukkel om iets nuut te sê…

Dis reg: Die Swede se groot probleem is anders as jy oor Swede praat – ’n land wie se groot probleem is dat hy nie meer oor genoeg afval beskik nie en dit selfs moet invoer vir die opwek van krag en die instandhou van ’n geil bedryf herwinningsentrepeneurs. Hier word goed nie weggegooi nie – hulle word reggemaak!

As daar een ding is wat die supervooruitstrewende Hongkong van die Skandinawiërs kan leer, is dit herwinning, want hierdie eiland is besig om weg te sink onder sy vullis. En Denemarke, terloops, het onlangs ’n volle dag lank slegs van windopgewekte energie gebruik gemaak.

Belastingkortings

Swede is egter besig om veel verder te gaan as die opwekking van krag – deur van afvalprodukte gebruik te maak. Belastingkortings word toegelaat op die herstel van enigiets van trapfietse tot wasmasjiene sodat dit voordeliger sal wees as die aankoop van nuwes. Die AVB op fietse, klere en skoene gaan met tussen 25% en 12% gesny word. Daar word ook voorgestel dat mense toegelaat moet word om die helfte van die reparasiekostes aan goed soos yskaste, oonde, skottelgoedwassers en wasmasjiene terug te eis – alles om die rommelhoop weggooigoed te verklein.

Daar word gehoop dat ’n nuwe tuisherstelbedryf geskep sal word wat werk sal bied aan immigrante sonder formele opvoeding.

Dis seker ook makliker om gebruikte goedere in ’n land te herstel waar die oorpronklike produk een van gehalte was en nie iets minderwaardig wat uit China ingevoer is nie.

Swede het sy jaarlikse vrystelling van koolsuurgas sedert 1990 reeds met 23% ingekort en maak reeds meer as die helfte van sy krag van hernubare bronne. Verbranding stel wel self sy eie gifstowwe aan die atmosfeer vry, maar die Swede het stelsels ontwerp wat dit baie inkort. Meer as 40% van die wêreld se afval word verbrand, meestal in die opelug in ’n proses wat baie verskil van die gereguleerde lae vrystellingsprosesse van Swede.

Die gemiddelde Sweed produseer 461 kg afval per jaar, bietjie minder as die Europese gemiddeld. Die verskil is dat Swede jaarliks meer as twee miljoen ton afval verbrand en krag daarmee opwek.

“Afval in stortingsterreine lek metaan- en ander groenhuisgasse in die grond wat sleg is vir die omgewing. Ons is gefokus op die ontwikkeling van maniere om sulke besoedeling te keer,” het ’n Sweedse regeingsamptenaar aan Huffington Post gesê. “Die resep is verminder, hergebruik, herwin. Die vul van stortingsterreine is laaste op die lys.”

Afval word eers deur huis- en sake-eienaars gefilter en herbruikbare items word terugehou. Volgens wet is vervaardigers verantwoordelik vir alle kostes verbonde aan die kollekteer, herwinning of vernietiging van hul produkte.

Swede se hele benadering tot herwinning en die hantering van sy afval is nie oornag gebore nie. Streng reëls in hierdie verband is in die 1970’s ingestel en die land se “afval-hiërargie” is nou deel van die kultuur.

Baie Europese lande het nie die vermoë om hul afval self te verbrand nie weens verskeie belastings en wetgewing. Dit is waar die Swede die geleentheid gesien het om sommer twee voëls met een klap te slaan. (Op sy beurt verkoop Amerika weer die meeste van sy afval aan China!)

Herwinning is ’n leefwyse in Japan

Maar as jy van ’n kultuur van herwinning wil praat, is daar seker geen ander land wat meer hierop ingestel is as Japan nie. Dis iets wat amper aan die fanatieke grens, maar mens moet ook onthou dis ’n klein eiland met 127 miljoen mense teenoor reusagtige lande soos Rusland (144 miljoen) en Amerika (321 miljoen).

Japan het vier hoofkategorieë afval:

  • Brandbaar, soos rou afval, papier, klerasie en brandbare plastiek. Dit word twee keer per week opgelaai.
  • Niebrandbaar, soos glas, kannetjies, bottels, ketels, keramiek, goedere van plastiek, elektroniese ware en klein toebehore. Twee maal per maand.
  • Oorgroot afval. Naaimasjiene, trapfietse, stereo’s, mikrogolfoonde, motorfietse, beddens en ander meubelstukke. Twee keer per jaar.
  • Bottels en blikkies. Slegs goed wat kos gehou het, by spesifieke stasies. Bottels en leë glashouers (sonder proppe!), platgetrapte blikkies van tin en aluminium, asook bierblikke. Maandeliks verwyder.

Daar is nog baie reëls oor watter datums geld en watter goed in deurskynende sakke moet wees. In Japan moet jy kophou – anders loop jy maklik die pad van Hongkong, wat op ’n omgewingsramp afstuur. Hy het reeds 13 vol opvullingsterreine wat nou herontwikkel word, en die oorblywende drie se kapasiteit strek net tot 2020. Die feit dat die gebied met sewe miljoen mense jaarliks 60 miljoen toeriste lok, help ook nie.

Leo-Hendrik-Baekeland

Leo Hendrik Baekeland. Foto: Commons.wikimedia.org

Die ramp deur plastiek gebring

Toe Leo Hendrik Baekeland plastiek in 1907 vervolmaak het, is dit as ’n groot deurbraak beskou – min wetende dat dit ’n eeu later deel van die doodsvonnis oor die planeet sal wees. ’n Artikel in Time het in 1924 voorspel alles waaraan ons vat, gebruik of sien sal eendag Bakelite bevat.

* Dit duur 500 jaar om plastiek in vullingsterreine te ontbind.

* Daar is vyf drywende eilande plastiek, elk ongeveer so groot soos Texas.

* Plastiek breek oor tyd af in giftige stowwe wat die seelewe vernietig.

* Die Ellen MacArthur Foundation bereken daar sal oor 30 jaar meer plastiek as vis in die see wees.

Op land reën dit nie meer nie – groot dorpe in Kalifornië word tans weens ’n totale gebrek aan water ontruim – en die see het lankal nie meer genoeg vis om al die hongeres te voed nie. Die mensdom verbruik elke jaar 1,6 aardes.

Maar daar is darem ook die Swedes, Japans en ’n klomp ander lande wat hul sake op verantwoordbare maniere volvoer.

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Meer oor die skrywer: Org Potgieter

Org Potgieter is ’n vryskutjoernalis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

18 Kommentare

MCH ·

Wat n welkome artikel! Wat n afwisseling van die stukkie uitskotgrond se misdaad, politiek, onbekwaamheid, goddelooslikheid, verdraaide werklikhede, en slordige werksetiek! Baie dankie Org! My hart punt sommer na die Swede! Al die diepgesetelde waardes bons terug wanneer ek die artikel lees! Hier waar rede, feite, beplanning, deursettingsvermoë, karakter en etiek nog die botoon voer. Werklik verfrissend om so iets te lees.

Arend ·

MCH: dalk moet jou hart nie te sterk punt na Swede toe nie. Gaan lees bietjie op oor hul ontploffende probleem met die onbeheersde instroming van sogenaamde “vlugtelinge”. Hul grootste probleem hang reeds soos ‘n swaard bokant hul koppe….

Mien ·

Merkwaardig. Interessant dat daar so min kommentaar op hierdie skrywe is. As hierdie beginsels in ons mooi, vuil, besoedelde land toegepas kon word sou dit ‘n reuse verskil gemaak het en werk geskep het.

John ·

Maar wag. Swede gaan binnekort ‘n ander deuntjie sing want hulle word oorval deur middeoosterlinge en Afrikane wat altyd beter weet en wag dat iemand agter hulle skoonmaak. En binnekort lyk Swede soos Afrika met die ashoop net so ver as wat ‘n lui arm kan gooi.

Kalbas ·

Swede se voorspoed gaan binnekort begin draai soos die nuwelinge gaan begin demand.

Swartkat ·

Baie eer aan Swede wat die voorbeeld stel en wat rommel soek, hulle kan met graagte Zuma en die Guptas kry

Wern ·

Baie skerp! Die swede was mos so lief vir struggle heros huisves in die ou dae, so kom haal nou julle produk.

Paul ·

Die artikel is vol onwaarhede. Nes Paul Ehrlich en Rachel Carson verkeerd was en steeds verkeerd is, is meeste van wat hier gesê word, ook alarmisties en onwaar.

MissDemeanor ·

Paul, ek vind die artikel gladnie alarmisties nie . Inteendeel ek vind dit inspirerend en vol hoop. Ons kan van ons gemors ontslae raak, ons pragtige natuur bewaar en ons eie energie opwek as ons bereid is om te kyk na hoe die Swede dit doen.

MissDemeanor ·

Uitstekende artikel. Ek hoop om meer van jou artikels te lees Org. En ek hoop ons entrepreneurs kan geinspireer word deur die Swede en so iets in ons land begin, maar ons sal ook self tuis die gewoonte moet aanleer om nie te vermors nie, te herwin en te sorteer!

Adri ·

Hul kan met liefde ladismith in die wes kaap lesse kom gee en ook d rommel saamneem vanaf 2004 is ons plaas langs die stortingsterrein omtrent deel van die stortingsterrein soos hul gemors in ons veld beland maak nie saak waar en by wie jy kla niks gebeur het al vir fokus ook hier gehad swede verdien n medalje

Houtpyp ·

Interessant is IKEA ‘n Sweedse maatskappy wat we^reldwyd juis die weggooikultuur ten sterkste aangemoedig het om hul produkte te bemark. Mense is aangemoedig om veral van meubels ontslae te raak en dit het tot grootskaalse rommelophoping gelei.

Charmaine Griffiths ·

Stuur asseblief die artikel aan Mosselbaai Munisipaliteit

Roelfie ·

Weet nie van Swede nie, maar ‘n vriend in Denemarke laat weet hulle huur so elke twee maande of so ‘n groot vliegtuig om al die vreemdelinge te verwyder.

Ludwig Visser ·

‘n Wonderlike voorbeeld vir die hele Suid-Afrika en elke dorp en munisipaliteit. Plaaslike pogings hier in die Noordwes-Kaap het goed begin, maar dan om een of ander rede doodgeloop. Mense besef net nog nie dat ons omgewing doodgewurg word onder die afval wat ons so rondgooi nie. Ek dink in elke leerplan behoort ‘n afdeling te wees waar kinders hieroor ingelig word en by elke skool behoort ‘n priode per weke afgesonder te word waar die kinders kan gewys word hoe om hul omgewing skoon te maak, en dan sterk aangemoedig word om dit te gaan dóén. Nie soos wat ons munisipaliteit hier doen deur mense R58 te laat betaal vir elke vraggie vuilgoed wat hulle die moeite doen om op hul werwe op te ruim en self na die munisipale vuilgoedhoop toe weg te ry nie. Die gevolg? Mense mors eerder op oop erwe as om die goed te gaan weggooi waar dit hoort.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.