Switserland: ʼn idille met krake

Europabruecke, die langste hangbrug in die wêreld in Switserland (Foto: Valentin Flauraud/Keystone via AP)

Switserland het, soos in die vorige artikel beskryf, ʼn trotse geskiedenis, sterk federale en diep demokratiese strukture en is ekonomies voorspoedig, maar talle uitdagings staar dié land in die gesig en hy is besig om sy uniekheid te verloor. Ek praat uit eie waarneming, want ek het die land oor die jare al verskeie kere besoek.

Demografie is een uitdaging. Switserland se bevolking het maar stadig gestyg in die tweede helfte van die 20ste eeu en was rondom 5 miljoen in die 1990‘s, grootliks inheemse Switsers. Dit was uiters moeilik om ʼn Switserse burger te word, maar daar was wel heelwat tydelike werkers, veral in die toerismebedryf, uit die buurlande soos Oostenryk, Duitsland, Italië en Frankryk. Sedertdien het die bevolking weens immigrasie aansienlik gestyg en staan nou al op 7 miljoen. Dit plaas ʼn tweeledige druk op die land: eerstens die blote hoeveelheid mense in ʼn land wat reeds dig bevolk is en wie se grootste bate, sy natuurskoon, deur al hoe meer verdigting bedreig word.

Tweedens is daar die al hoe groter diversiteit van die bevolkingsamestelling. Die tydelike bewoners of immigrante in die onlangse verlede was nog volke wat stamverwant is aan die Switsers en redelik assimileerbaar. Nou is daar egter ʼn dramatiese groei van mense van buite Europa, met die meeste uit Afrika. Die bevolkingsdigtheid is ook nie meer net in groter stede soos Zürich, Bern en Basel nie, maar jy vind hulle selfs diep in die platteland. Switserland het selfs in sy stede, wat almal betreklik klein is (die grootste stad, Zürich, het minder as 500 000 inwoners), nooit enige ervaring met multikulturalisme á la Londen, New York of Johannesburg gehad nie. Trouens, die meeste stede het nog steeds daardie kenmerkende Switserse pophuis-idille met historiese middestede en kerke, fonteine en stadsaal. En, natuurlik, geen wolkekrabbers nie.

Die verdigting raak selfs eertydse boeredorpe. Daar is nog die koeie met klokke op die weiding, maar langsaan verrys woonstelblokke en die dorpe begin reeds inmekaar vloei. Volgens voorspellings sal die uitheemse bevolking in die volgende dekades drasties bly styg en teen 2050 die getal inheemse Switsers verbysteek. Daar is al reeds meer as ’n derde van Switserland se bevolking met uitheemse wortels, die meeste daarvan uit ander Europese lande.

Switserland se bevolking is meer konserwatief as dié van byvoorbeeld Duitsland, en maak ook gebruik van referendums oor sekere vraagstukke, wat op inisiatief uit die bevolking aangevra kan word. Daar was al suksesvolle referendums om die bou van minarette te verbied, om immigrasie drasties te beperk en om kriminele uitlanders te deporteer. Talle van die inisiatiewe word gesteun en soms gedryf deur die Switserse Volksparty (SVP). Die SVP is wel die grootste enkele party in die parlement, met sowat 30%-steun, maar die ander partye staan gewoonlik saam teen die SVP, en die implementering van die referendumsbesluite word dikwels vertraag en afgewater tot dit in die wetgewing vervat is. Alhoewel Switserland ook al verskeie referendums gehad het om nie deel van die Europese Unie (EU) of die Europese Ekonomiese Gebied te word nie, is daar aparte ooreenkomste tussen dié land en die EU wat talle voor- en nadele van EU-lidmaatskap bevat – soos handelsvoordele, maar ook die verpligting tot vrye beweging van persone. Switserland se ekonomie is sterk op uitvoer gerig en die land wil nie die bande met die EU heeltemal verbreek nie. Die EU met sy globalistiese agenda het Switserland herhaaldelik berispe oor sy bevolking se besluite wat immigrasie en Islam aan bande wil lê.

Die Switsers is egter ook pragmaties en wil nie hul ekonomiese voorspoed, wat op internasionale toerisme en vrye markte gebou is, bedreig nie. Toeriste het nog altyd in groot getalle na Switserland gekom, maar in die laaste paar jaar neem dit buite verhouding toe weens Chinese, Indiërs en veral ryk Arabiere uit die Golfstate wat ʼn besonder sagte plek vir Switserland het, seker omdat die land alles is wat Arabië nie is nie.

Alhoewel toeriste kom, geld spandeer en weer vertrek, verander dit nogtans die karakter en leefwyse van ʼn land. ʼn Voorbeeld hiervan: By die Vierwaldstätter-meer in Luzern, ʼn skilderagtige klein stad met nou straatjies, voel jy soms skoon verdwerg tussen die massa toeriste uit veral Asië.  Al maak die eienaars van hotelle, restaurante en aandenkingwinkels goeie geld, beleef die inheemse bevolking die keersy van massatoerisme deurdat hulle in hul eie stede en dorpe soos ʼn toeris voel en dat alles naderhand onbekostigbaar raak.

Terwyl toeristebestemmings in Afrika dikwels verhoogde pryse vir uitlandse besoekers vra en almal dit regverdig met die toeriste se veel hoër inkomste teenoor die inheemse bevolking, sal so iets in Europa onmiddellik as diskriminasie gesien word.

Diep in die platteland is dinge nog min of meer ongerep en ek was byvoorbeeld in Stans, die hoofdorp van Nidwalden, by ʼn musiekfees waar alles nog eg-Switsers was, met plaaslike kos en drank, sangers wat in Switserduits sing en op die oog af is almal inheemse besoekers. Daar is egter ook al plattelandse plekke wat weens hul pragtige ligging (soos Interlaken of Andermatt) reeds ’n trekpleister vir Arabiese toeriste geword het en daarmee saam besig is om hul uniekheid te verloor.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Sebastiaan Biehl

Meer oor die skrywer: Sebastiaan Biehl

Sebastiaan Biehl werk as navorser, argivaris en toergids vir die Orania Beweging in Orania, is ʼn skrywer van romans en reisbeskrywings in sy vrye tyd en was op ʼn tyd (2001-2005) ook vir Solidariteit se media-afdeling werksaam. Sy kwalifikasies is BA algemeen, BA Hons (Politieke Wetenskap) en MA Politieke Wetenskap by Bloemfontein en RAU, onderskeidelik. Sebastiaan se gebiede van belangstelling en skryf is veral politiek, geskiedenis, reis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

4 Kommentare

Celtis Africana ·

Wat duidelik uit die artikel onheilspellend in die agtergrond galm, is die toekoms scenario van die demografie, wat die hele Europa insluit.
Ongebreidelde immigrasie van ekonomiese vlugtelinge verander die Europese demografie onherroeplik. Twintig of dertig jaar vorentoe gaan dit verwoestend impakteer op die politiek en die Europese kultuur en leefwyse gaan n kentering ondergaan. Tensy hul iets daaraan doen, en vinnig ook. Hul gaan eerstehands ons leefwyse ervaar waar die regering jou vat na waar jy nie wil wees nie en jou menswaardigheid aftakel tot tweedehandse burgerskap in sy volle glorie.
Dit is eenvoudig of alles skielik wegtrek teen die spoed van lig na ons ondergang.

Merkur ·

Daar is ook ´n groot verskil in die joernalistiese etiek in vergelyking met dié in Duitsland. Al is die hoofstroom media in Switserland nie heeltemal neutraal en vry nie, is dit nog steeds ligjare meer professioneel en neutraler as die hoofstroom media of sogenaamde „Qualitätspresse“ in Duitsland.

Frans C ·

Dit lyk my die vergelyking wat ek met Amsterdam en Nederland getref het is nie aanvaarbaar nie.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.