Switserland verwerp ooreenkoms met Europese Unie

Guy Parmelin, president van Switserland. (Foto: Fabrice COFFRINI/AFP)

Ná onderhandelings van sewe jaar het die Switserse regering besluit om die samewerkingsooreenkoms oor bilaterale betrekkinge met die Europese Unie (EU) finaal te verwerp. Dit was reeds vir geruime tyd in ’n komatoestand en is tog die hele tyd kunsmatig aan die lewe gehou deur voortgesette onderhandelings en intense steunwerwing deur media, politici en sakebelange.

Die groot doel van dié raamwerkooreenkoms, anderkant al die fyner regstegniese besonderhede, was om Switserland en die EU nader aan mekaar te bring – miskien met die onuitgesproke doel om Switserland de facto deel van die EU te maak.

Die finale verwerping deur die Switserse regering ná jare lange onderhandelinge was te wyte aan die onbuigbaarheid van die EU in verskeie wesenlike punte, soos die vrye beweging van persone en veral die toegang van nie-Switsers tot die rentefondse, die afwatering van Switserland se hoë lone en werknemerstandaarde en veral die kwessie van die EU se inmenging in Switserse regspreking.

Alhoewel die Switserse regering oorspronklik ten gunste van die ooreenkoms was, moes hulle besef dat dit waarskynlik deur die meerderheid van die bevolking afgekeur word. Indien hulle daarmee voortgegaan het, sou drukgroepe ’n referendum oor die kwessie kon organiseer het en in die waarskynlike geval van ’n nee-stem, sou dit ’n vernedering vir die Bundesrat beteken. Die unieke direkte demokrasie van Switserland wat so iets moontlik maak, is juis ’n doring in die vlees vir die EU, wat dinge van bo na onder bestuur en die burgers so min as moontlik raadpleeg. Trouens, die EU en Switserland het fundamenteel verskillende politieke paradigmas, naamlik globalisme teenoor volksoewereiniteit.

Switserland was een van die min lande wat gekies het om nie deel van die EU te wees nie. In 1992 het Switserland in ’n referendum teen die toetrede tot die Europese Unie gestem. Om egter nie geïsoleer te raak nie, is daar wel honderde bilaterale verdrae op verskeie terreine van samewerking gesluit. Die verdrae bestaan wel voort, maar sal elkeen vorentoe weer hernu moet word, of verval. Die raamwerkooreenkoms sou dit alles in een pakket vervat het, maar ook verder gegaan het.

Switserland het die bilaterale sektorale verdrae gesluit as soewereine staat. Die EU se intensie met die raamooreenkoms was egter, ten minste implisiet, om geleidelik ook invloed op die Switserse politiek en regstelsel te neem en die land se soewereiniteit geleidelik uit te kalwe. Reeds nou moet Switserland, in ruil daarvoor om deel van die Europese binnemark te wees, die vrye beweging en vestiging van persone uit EU-state toelaat, waardeur ’n wesenlike deel van sy soewereiniteit aangetas word. Van Switserland se meer as agt miljoen inwoners is reeds 1,4 miljoen uitlanders, meesal EU-burgers.

Switserland het ’n unieke geskiedenis en is in Europa uitsonderlik. Dat die land as eiland in die middel van die EU lê en nie reeds lankal deel daarvan is nie, soos al sy buurstate, het te doen met die land se gekoesterde neutraliteit. Omdat Switserland so klein is, sal die land in ’n stateverbond wegraak. Deur neutraal te wees en sy soewereiniteit te verdedig, boks die land as’t ware bo sy gewigsklas en word bewonder, maar dikwels ook misverstaan.

As ’n mens dink dat Switserland al die groot oorloë en omwentelinge van Europa (soos die Eerste en Tweede Wêreldoorlog, Napoleon se verowerings en verskeie revolusies) ten spyte van sy sentrale ligging grootliks vrygespring het, dan is dit te verstane dat die land nie sy suksesverhaal wil ingooi in die groter geheel van ’n EU nie. Aan die ander kant is Switserland as klein land sonder natuurlike hulpbronne sterk afhanklik van handel en kan dus nie, soos Brittanje, ’n “splendid isolation” bekostig nie. Miskien is dit juis Brexit wat ook vir Switserland die nodige selfvertroue gegee het om die raamwerkooreenkoms te verwerp.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Sebastiaan Biehl

Sebastiaan Biehl werk tans as ʼn analis in Berlyn, Duitsland. Hy is ook ʼn skrywer van romans en reisbeskrywings in sy vrye tyd en was op ʼn tyd (2001-2005) ook vir Solidariteit se media-afdeling werksaam. Sy kwalifikasies is BA algemeen, BA Hons (Politieke Wetenskap) en MA Politieke Wetenskap by Bloemfontein en RAU, onderskeidelik. Sebastiaan se gebiede van belangstelling is veral politiek, geskiedenis en reis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Anna-marie ·

Goeie artikel Sebastiaan. Die Switsers het verstand in hulle koppe.

Jack ·

Globalisme en multi-kulturisme is die dood in die pot vir minderhede. Gooi maar ‘n druppeltjie wit verf in ‘n blik grys verf, roer dit goed en kyk wat bly van die wit verf oor. Net mooi niks. Switzerland is die model wat ons hier in Suid-Afrika in 1910 al mes ingestel het. Dis nou ongelukkig neusie verby.

annie ·

Maar die patetiese Duitsland-EU sal aanhou om Switserland te probeer intimideer want die tjieng lè in daai land se banke. Enigiemand wat weier om te glo dat Duitsland eintlik maar die WO2 in Europa gewen het, lewe in lalaland. Merkel is bloot Hitler se alterego.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.