Switsers stem vir boerka-verbod

‘n Veldtogplakkaat ten gusnte van die verbod. (Foto: Fabrice Coffrini/AFP)

Verlede naweek was daar verskeie referendums in Switserland oor sake van nasionale belang: die verbod op gesigsbedekking, oor ’n vryhandelsooreenkoms met Indonesië en oor ’n elektroniese ID-dokument.

Veral die referendum oor die gesigsbedekkings wat eintlik gemik was op die dra van boerkas, hijabs en nikabs (kledingstukke wat die hele gesig bedek en slegs die oë ooplaat) deur Moslem-vroue, het groot opslae gemaak omdat dit ’n onderdeel van die wêreldwye kultuuroorlog is wat ook in Switserland woed.

Alhoewel die inisiatief vir die verbod op gesigsbedekking vanuit die kringe van die regse Switserse Volksparty (SVP) kom, was die stem nie volgens die gebruiklike links-regse verdeling gewees nie. Die argumente vir die verbod op gesigsbedekkings kom sowel van die liberaal-sekulêre as van die nasionalistiese kant: dit sou vroue se regte beskerm teen ’n onderdrukkende en ekstremistiese godsdiensvertolking én dit beklemtoon Switserland se eie identiteit en Westerse waardes.

Teenstanders van die inisiatief, wat die grootste deel van die politici en die media insluit, asook linkse partye en aktiviste, sien dit as diskriminasie en rassisme teen minderhede. Boonop wys hulle daarop dat dit simboolpolitiek – daar is min Moslems in Switserland (sowat 5%), en nog veel minder wat streng godsdienstig is en die gesigsbedekkings dra. In die daaglikse lewe sal die verbod dus min verskil maak. ’n Ander saak is die groot getalle toeriste (voor die koronavirus) uit veral die Arabiese Golf-state, wat graag in Switserland vakansie hou en natuurlik in hul Arabiese klere verskyn, veral die vroue. Die outeur het self in 2018 beleef hoe die Switsers tussen al die Arabiese toeriste soos ’n minderheid in hul eie land gevoel en gelyk het.

Die gesigsbedekkingsverbod is, soos dikwels by sulke verdelende kwessies, redelik naelskraap aanvaar met 51%. Die meeste plattelandse en meer konserwatiewe kantons soos Schwyz, Tessin, Uri en Appenzell het met sowat 60% vir die verbod gestem, terwyl in die groter en meer liberale stede soos Zürich, Basel, Genève en Bern die meerderheid daarteen gestem het. Dit is interessant dat die westelike, Franssprekende kantons, wat gewoonlik eerder links neig, ook in hul meerderheid vir die verbod gestem het. Dit mag ’n rol speel dat Frankryk reeds op nasionale vlak die gesigsbedekkings van Moslems verbied het, soos ook Oostenryk, Denemarke, Bulgarye en België. In Switserland het reeds enkele kantons dit verbied. Die verbod op boerkas, hijabs en nikabs mag ’n wesenlike uitwerking op toerisme uit die Arabiese streek hê.

In 2009 was daar ’n vergelykbare referendum, naamlik die verbod op die bou van minarette, wat ook met dieselfde persentasie aanvaar is. Ook in daardie geval het die bevolking anders besluit as die regerende elite, wat langtand die referendum in wetgewing moes vervat.

Met die gesigsbedekkingsverbod is dit ook nie ’n uitgemaakte saak dat dit wet word nie: Die Groen Party het reeds aangekondig dat hulle hul tot die Europese Hof vir Menseregte wil wend omdat die verbod godsdiensvryheid, persoonlikheidsregte en die reg tot gelyke behandeling sou skend. Daar is egter ook liberale en sekulêre Moslems wat die referendum oor die verbod verwelkom, omdat dit integrasie vergemaklik en omdat hulle self deur radikale en ekstremistiese Moslems bedreig voel.

Wat die ander kwessies betref, het ook ’n naelskraap meerderheid vir die vryhandelsooreenkoms met Indonesië gestem, terwyl die elektroniese ID met ’n tweederde meerderheid verwerp is. Met die e-ID sal maatskappye elektroniese ID-dokumente in die toekoms kon uitreik en nie slegs die staat nie. Hier het die vrees bestaan dat groot tegnologiemaatskappye dit kon misbruik om nog meer inligting uit mense te kry.

Switserland het ’n stelsel van direkte demokrasie, wat burgers of organisasies soos partye in staat stel om sogenaamde inisiatiewe van stapel te stuur: As jy ’n sekere hoeveelheid handtekeninge ter ondersteuning van ’n vraagstuk kry, dan word dit aan die kiesers voorgelê om daaroor te stem. Daar is inisiatiewe op plaaslike, kantonnale en nasionale vlak. Net die inisiatiewe op nasionale vlak haal gewoonlik die nuus, veral as dit oor ideologiese vraagstukke gaan.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Sebastiaan Biehl

Sebastiaan Biehl werk tans as ʼn analis in Berlyn, Duitsland. Hy is ook ʼn skrywer van romans en reisbeskrywings in sy vrye tyd en was op ʼn tyd (2001-2005) ook vir Solidariteit se media-afdeling werksaam. Sy kwalifikasies is BA algemeen, BA Hons (Politieke Wetenskap) en MA Politieke Wetenskap by Bloemfontein en RAU, onderskeidelik. Sebastiaan se gebiede van belangstelling is veral politiek, geskiedenis en reis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.