Taal en universiteite: Eendag was daar ʼn huisgesin…

Marthinus-Visser-akademia-Medium.jpg

Marthinus Visser, die uitvoerende hoof van Akademia. Foto: Verskaf.

Marthinus Visser, uitvoerende hoof van die Afrikaanse gemeenskapsuniversiteit Akademia, illustreer met hierdie verhaal die implementering van universiteite se taalbeleid oor Afrikaans en waarom ʼn universiteit soos Akademia sin maak

Eendag was daar ʼn huisgesin. Pa Hendrik, Ma Hettie en drie kinders.

Susan, die oudste, was baie sosiaal en het veral daarvan gehou om met haar vriendinne in groot winkelsentrums uit te hang. Haar punte was maar so-so. Haar troefkaart vir ʼn goeie lewe na skool was om die regte man te kry wat goed vir haar en wie ook al sou kon sorg.

Die middelste kind, Jana, het iets gesnap daarvan om hard te werk op skool en dan ʼn goeie kwalifikasie te kry wat haar in staat sou stel om ʼn goeie loopbaan te volg. Sy was baie lief vir haar oupa Paul wat daarvan gehou het om haar te vertel van sy ouers se swaarkry jare na die oorlog en hoe hulle dit reggekry het om uit armoede te ontsnap. Haar oupa was soos ʼn biblioteek en kon dikwels wyshede uit die geskiedenis haal as sy moeilike besluite moes neem. Volgens hom was die sleutel vir sukses ʼn goeie karakter op wie mense kan staatmaak, harde werk en ʼn goeie plan vir jou lewe.

Die derde kind, Johan, was die aktiewe sportman. Hy het so tussen die A- en B-spanne rugby gespeel, maar het geglo dat dinge vir hom op die sportveld gaan uitwerk en dat hy eendag oorsee sal kan speel vir groot geld. Sy plan B was sy hoop hy dat hy eendag goed sal erf sodat hy lekker daarmee kon leef. Sonder dat hy dit ooit gesê het, was skoolwerk vir hom bloot ʼn noodsaaklike euwel waardeur hy net moes beur totdat dit uiteindelik verby is.

Die probleem in die gesin het ontstaan wanneer die kinders hul rapporte huis toe bring. Aanvanklik, toe hulle nog almal op laerskool was, het Jana se prestasie nie so baie gepla nie, maar noudat hulle op hoërskool is, begin dit spanning veroorsaak. Sonder dat Jana spoggerig was oor haar goeie punte, het die ander twee vies geraak dat haar punte telkemale heelwat beter as hulle s’n was. Ma Hettie wou nie al hul ander aktiwiteite as verskoning aanvaar nie en geglo hul min insette, uitstel tot die eksamen, baie “screentime” smiddae en ander oorsake het hulle sleg laat afsteek teen Jana tydens rapporttyd. Pa Hendrik het geglo dat die verskil in sy kinders se uitslae die oorsaak is van hierdie ongemaklike spanning in die huis.

Namate hul selfvertroue in hul moeilike tienerjare toegeneem het, was dit nie lank dat beide van hulle (en veral ousus Susan) vir Jana begin afkraak het oor haar goeie punte nie. Sy het ook vinnig die bynaam “nerd” gekry en is beskuldig daarvan dat sy dink sy is beter as hulle. Dit het natuurlik in groot gevegte in die huis uitgeloop. Etenstye het ʼn nagmerrie geword. Jana kon nie waag om haar mond oor skool oop te maak nie of Susan het ʼn bakleiery begin. Die enigste uitweg, volgens Pa Hendrik, was om die tema “skoolwerk” aan tafel te verbied – wat later uitgebrei is na ʼn algemene verbod en slegs in privaat gesprekke kon plaasvind. Met rapporttyd het Jana maar stilletjies (sonder dat die ander twee weet) haar rapport in privaatheid met haar ouers bespreek – sy wou immers nie haar sussie en boetie se gevoelens seermaak nie. Niks daarvan het Susan en Johan se gesindheid teenoor Jana verander nie.

Pa Hendrik was naderhand só moeg vir hierdie spanning in die huis dat hy met goeie bedoelings begin dink het dat dit beter vir almal sou wees as Jana dalk nie so ver bo die res uitstaan nie. Hy het die saak met sy gholfmaat Jan gaan bespreek. Jan is die menslikehulpbronbestuurder by ʼn groot maatskappy en hou van die idee van gelykheid (sy eie kinders se punte is ook maar vrotterig).

Jan maak toe ʼn plan en stel voor dat Hendrik en Hettie slim maniere vind om Jana se prestasie bietjie in lyn te bring. Hul eerste plan was ʼn TV in Jana se kamer. Dit sou haar aandag aftrek, het hulle gedink. Jana het egter konsekwent by haar oupa se wyshede gebly en nie toegelaat dat die TV haar studietyd in beslag neem nie. Die volgende stap was om etenstye in Jana se studietyd in te ruim en dit bietjie te probeer verleng met huisvergaderings. Jana het bloot maar net vroeër opgestaan om haar verantwoordelikhede na te kom. Die mees drastiese was toe hulle begin reëls maak en ʼn beperking op studietyd geplaas het. Die ander twee het steeds swak punte huis toe gebring, maar ten minste kon Hendrik sien dat Jana se punte effens begin daal. Sy volgende stap was om die toegelate studie-ure te beperk tot die gemiddeld wat die ander twee aan skoolwerk presteer. Hy het verder ook ʼn verbod geplaas op vroeg opstaan. Jana het begin swaar trek…

Jana dink toe aan hoe anders alles kon gewees het. Waarom kon Susan en Johan nie self bietjie skouer aan die wiel sit en harder werk vir beter punte nie? Waarom word hulle kwaad wanneer sy wil raad gee oor watter dinge vir haar goed werk soos studiemetodes en oplet in die klas? Haar grootste vraag is waarom Pa Hendrik nie eerder van Susan en Johan verwag om harder te werk en sodoende beter punte huis toe te bring nie. Dit voel vir haar of die ander twee meer daarin belangstel dat sy swakker vaar as om self te verbeter.

Oupa Paul kom toe met ʼn blink plan. Hy stel voor dat sy eerder uit die huis kom en êrens haar eie ding doen. Sy buurman, oom Fanie, het ʼn ekstra buitekamer waar sy teen ʼn klein fooitjie kan loseer in haar laaste twee jaar op skool. Dis belangrik dat sy nou hierdie groot kopskuif maak om haar toekoms te red voordat dit te laat is. Sommige van haar vriende reken sy moet maar, ter wille van die vrede, eerder in die huis aanbly en verander. Ander ondersteun haar om hierdie moeilike stap te neem ter wille van haar eie toekoms. Daar is selfs heelwat van hulle wat bereid is om elkeen ʼn paar randjies by te dra tot haar losies en sy onthou hoe Oupa Paul altyd vertel het van ʼn helpmekaar-gesindheid.

Maar Jana gaan sterk uitkom. Moeilik sal dit wees. Haar wortels is diep gegrawe en daar is baie wat haar sal help. Sy weet ook dat sy altyd die argwaan van haar boetie en sussie gaan kry, maar sy kan nie toelaat dat dit haar ontspoor nie.

Haar toekoms is net te belangrik om nie self daarvoor verantwoordelikheid te vat nie.

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

6 Kommentare

Mike Kaapstad ·

Sjoe wil nie die ouers hê nie,hulle moet eerder die ander 2 studie hulp kry……………….

JC ·

Wonderlike allegoriese verhaal!
Afrikaans Leef!
Die kopskuif sal gemaak moet word, kom wat wil.
Mag Akademia van krag tot krag gaan!
Baie dankie.

Leer nie ·

Vir my lyk die ouers in hierdie gevallestudie asof hulle ook maar dieselfde ‘laat Gods water oor Gods akker vloei’ mentaliteit het as hulle ander twee kinders. Niks skort met Jana en Oupa Paul se lewensfilosofie nie. Werk is die Godgegewe opdrag en moet uitgevoer word.

Disselboom ·

Die direkte verband wat getrek word tussen Afrikaans en gehalte-opleiding en roepingsbewuste (of ten minste hardwerkende) menswees, is gevaarlik, omdat dit ‘n narratief van Afrikaans = beskawing = gehalte oordra, wat gewoon nie waar is nie. Dit is natuurlik Afrikaners (en Afrikaanses) se reg om vir hulleself instellings op te rig en daar is goeie bedoelings om hierdie Afrikaanse instellings tot waardedraende en gehalte-plekke op te bou en dit verdien ondersteuning, Maar kom ons besef dat ‘n Engelse instelling net so sterk kan staan. Om “taalbeleid” en die allegoriese verhaal van bly streef na hoogste prestasie ongeag die teenstand en diegene wat jou wil aftrek, hou nie een op een verband nie. Ons bluf onsself en probeer aan “Afrikaans” eienskappe toedig wat dit nie het nie. Dis ‘n taal, nie ‘n persoon nie.

Piet Snot ·

Disselboom, ek waardeer jou poging. Dis dapper, maar dit hou nie water nie. Ek moet wel toegee, dis polities korrek.
Die storie is bloot ‘n allegorie wat beskryf wat ons elke dag om ons raaksien. En daarin slaag dit uitstekend.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.