Taal tel!

Alana Bailey.

Wanneer ’n mens bewusmaking oor die noodsaak van Afrikaanse moedertaalonderrig en die bevordering van taalregte probeer skep, is daar telkens mense wat teenkanting uitspreek met argumente soos “taal is net ’n kommunikasiemiddel”, of “Engels is ’n wêreldtaal wat my loopbaan gaan bevorder”.

Ongelukkig bewys dit bloot die onkunde wat omgekeer moet word.

Daar is internasionaal onomwonde bewys dat taal nie net ’n kommunikasiemiddel is nie, maar onlosmaaklik deel is van die spreker se identiteit. Word die taal misken, kan dit die selfbeeld van die spreker knou. Abstrakte begrippe wat deur ’n tweede taal aangeleer word, word maklik gememoriseer, maar moeilik verstaan en toegepas. Meer tale word ook moeiliker aangeleer as die basis nie sterk genoeg in die moedertaal gelê is nie. Die vlak waarop die tweedetaalstudent uiteindelik in beide die moedertaal en die onderrigtaal kan redeneer, is gewoonlik veel laer as dié van die moedertaalstudent. Die gevolg is dat hy waarskynlik redelik vroeg sal ophou studeer en ’n minder geslaagde loopbaan mag hê. Hoe meer mense hierdie roete kies, hoe groter is die invloed wat hul keuse vir ’n tweede taal soos Engels uiteindelik op die land se geletterdheidsvlakke en ekonomiese groei het.

’n Mens moet in aansluiting kyk waarom druk toegepas word om sekere tale soos Afrikaans uit te skuif. Ook op dié terrein is identiteit en taal vervleg, want wanneer die taal “aanstoot gee”, is daar altyd ’n groter ideologiese agenda wat teen die sprekers gedryf word. Tydens AfriForum versus Unisa se taalbeleidhofsaak in die Konstitusionele Hof het Unisa se regspan beweer Afrikaans kan nie langer as onderrigtaal gebruik word nie, omdat dit apartheidsbevoordeling sal voortsit.

Unisa het toegegee dat Afrikaanssprekendes uit alle rasgroepe kom, maar aangesien die meerderheid Afrikaanse studente wit is, kan die groep Afrikaanssprekende studente wat aan ander rasgroepe behoort, volgens hulle maar saam benadeel word. Afgesien daarvan dat die standpunt bewys dat die universiteit se nuwe taalbeleid nie geskep is om studente te bevoordeel nie (geen ander taal is immers sedert 2016 tot onderrigvlak bevorder nie), maar bloot om wit Afrikaanssprekendes te “straf”, toon dit ook aan dat die argument nou al na die vlak gedaal het waar enige ander Afrikaanssprekendes sonder enige empatie bloot as kollaterale skade beskou word. Dit is ’n skrikwekkende stand van sake en maak duidelik waarom die beskerming van taalregte noodsaaklik is en waarom AfriForum nie sake van dié aard kan laat vaar nie.

Maar kom ons kyk na die waarde van taal op ’n eenvoudige alledaagse vlak, naamlik in die besigheidswêreld. Toe AfriForum sowat ’n dekade gelede met AfriForum Sakenetwerk (toe bekend as Afrikaans Vriendelik) begin het, het ons navraag gedoen watter besighede in Afrikaans sake doen. Dikwels was die eienaars van die besighede nie self Afrikaanssprekend nie, maar hulle het vir ons gesê hul kliënte is, daarom is dit vir hulle van die grootste belang om in Afrikaans diens te lewer. Vandag is daar al amper 17 000 besighede op AfriForum Sakenetwerk se besigheidsgids en hulle word by die dag meer. Dus, enigeen wat sê die besigheidstaal is net Engels, slaan die bal ver mis.

Onlangs was ek betrokke by onderhoude om ’n vakante pos te vul. Weens die land se hemelhoë werkloosheidskoers, kry ’n mens deesdae honderde aansoeke vir elke pos. Om dit te sif, kyk ’n mens na die kandidaat se kwalifikasies, ervaring, maar veral ook ingesteldheid. ’n Verkeerde passing kan reputasieskade vir die werkgewer veroorsaak. Vir my wys die CV van die kandidaat reeds of dit iemand is wat gaan deug. AfriForum se administratiewe taal is Afrikaans. Iemand wat ’n Engelse CV indien, het duidelik nie moeite gedoen om meer oor die organisasie uit te vind nie en verder nie die nodige oordeel aan die dag gelê om die CV in dieselfde taal as die advertensie op te stel nie. Die ideale kandidaat is iemand wat oordeelkundig optree, inisiatief toon en aandag aan fyner besonderhede gee. ’n Engelse CV sê die kandidaat beskik nie oor daardie eienskappe nie.

Ewe erg is die CV vol tik- en spelfoute. Daar word gesê: nooit is ons meer perfek op aarde as in ons CV’s en werksaansoeke nie. As dit hier al lyk of die aansoeker ongeletterd is, gaan dinge waarskynlik nie beter word as hy in diens geneem is nie.

Dan is daar die persoonlike onderhoud. Die kandidaat moet ’n gesig van die organisasie word en kan dus nie iemand wees wat brabbeltaal praat nie. Ons is nie taalpuriste wat sê “een Engelse woord wat inglip en jy is uit” nie, maar as elke derde woord Engels is, gaan dit nie werk nie. Bowendien, iemand wat moeite doen om keurige Afrikaans te praat, gaan ander tale met dieselfde respek hanteer en het ’n groot voorsprong bo die eentalige kandidaat.

Opsommend, van die hoër ideologiese argumente oor die land se geletterdheidsvlakke, ekonomiese groei en maatskaplike stabiliteit, tot ’n enkeling se pogings om kos op die tafel te sit… taal tel!

Wees dus gerus, die keuse vir moedertaalonderrig en netjiese taalgebruik gaan jou beslis nie in die voet skiet nie, maar die teenoorgestelde opsie kan wel.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Alana Bailey

Meer oor die skrywer: Alana Bailey

Alana Bailey is lid van die Afrikaanse Taalraad en adjunk uitvoerende hoof van AfriForum (verantwoordelik vir internasionale skakeling, taal en kultuur).

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Nici

Wonderlik dat ons mense soos Alana het.