Taalbeleid: ’n Objektiewe proses?

universiteit van die vrystaat 3

Hoofgebou op die Bloemfontein-kampus van die Universiteit van die Vrystaat Foto: UV Facebook

Professor Hennie van Coller

Op 6 Junie 2015 beveel die raad van die Universiteit van die Vrystaat (UV) ná versoeke van die bestuurskomitee aan dat die Taalbeleid van die UV hersien moet word. Terselfdertyd word genotuleer dat die vorige Talekomitee (waarvan ek voorsitter was) reeds in 2010 deur die senaat ontbind is.

Hoe die senaat ’n raadskomitee kon ontbind, bly onduidelik. In koerantberigte word onder meer deur die UV beweer dat parallelmediumonderrig studente verdeel op grond van ras en dat studente voel Afrikaanssprekende studente word bevoordeel deur dosente, veral wat betref eksamineerbare stof. Dit is ook bitter onregverdig, word voorts beweer, dat sommige mense in hulle tweede of derde taal moet studeer (swart studente) en ander (Afrikaanse studente) in hulle moedertaal. Hierdie argumente bly deurklink tot in die raad se finale besluit. Nooit word gewag gemaak van die feit dat Engelse studente óók bevoordeel word nie.

’n Komitee (die Talekomitee van die uitvoerende komitee; The Management Committee’s Language Committee) word saamgestel. Die name van die lede van hierdie komitee word nooit bekendgemaak nie en is pas vir die eerste keer in die openbare media genoem. Die lede was:

  • Dionne van Reenen (voorsitter, verbonde aan die Instituut vir Versoening en Sosiale Geregtigheid)
  • Loyiso Jita (Fakulteit Opvoedkunde)
  • Munene Mwanike (Departement Linguistiek en Taalpraktyk)
  • Johann Rossouw (Departement Filosofie)
  • Angelique van Niekerk (Departement Afrikaans en Nederlands, Duits en Frans)
  • Kudzayi Ngara (Departement Engels, Qwaqwa-kampus)
  • Francois Marais (Suid-kampus en Sentrum vir Onderrig en Leer [CTL])
  • Arlys van Wyk (CTL)
  • Elias Malete (Departement Afrikatale)
  • Mosa Leteane (SR)
  • Cornelia Faasen (Studentesake)

Die kernkomitee (“Core Committee”) het dus bestaan uit 11 lede van wie ’n meerderheid hulle reeds vooraf in die openbaar en boonop herhaaldelik ten gunste van Engels as die enigste (nagraadse) onderrigtaal uitgespreek het en dikwels (soos in die geval van die voorsitter en dr. Mwanike ook fel anti-Afrikaans was. Die voorsitter, Dionne van Reenen (van die Institute for Reconciliation and Social Justice) beskik oor ’n magistergraad in Filosofie, geen bewese kundigheid ten opsigte van taalpolitiek- en beplanning nie, is Engelssprekend en uitgesproke ten gunste van Engels as onderrigtaal. Vermoedelik is dit weens ongelukkigheid oor haar bekwaamheid as voorsitter dat dr. Liz Lange (viserektor en voorsitter van die advieskomitee) al meer vergaderings begin bywoon het en feitlik die voorsitterskap oorgeneem het.

Die uitgebreide (advies-) komitee (met sy “ex officio-members”) is saamgestel deur lede uit verskeie fakulteite en belangegroepe (soos die vakbonde), maar hulle het nie oor stemreg beskik nie. Opvallend was die feit dat verskeie van die fakulteitsverteenwoordigers relatiewe juniors was. Ook hierdie lede se voorkeur was van meet af Engels, met die Engels-eentalige dr. Liz Lange as drywende krag. Lede van die komitees het mekaar ook in die openbaar aangeval; die bitsige aanval van dr. Mwanike op prof. Pieter Duvenhage, ’n voorstander van die meertalige opsie, is wyd in die media gemeld.

Die “omvattende proses” van die inwin van menings en data het ook probleme opgelewer. Daar is aanvanklik gesê dat daar voldoende tyd vir besprekings sou wees; tog is die proses uiteindelik verhaas met duidelike keertye. Kwalitatiewe onderhoude wat in die vooruitsig gestel is, het ook nooit plaasgevind nie. Die uitslae van die meningsopnames (onder leiding van die onafhanklike verkiesingskomitee) is ook nooit aan komiteelede beskikbaar gestel nie. Op 29 Oktober verneem die komitee dat daar ’n voorlopige verslag (“draft”) geskryf moet word. Wat bekend staan as die “minority report” was ’n opdrag (in ’n laat stadium) aan prof. Van Niekerk en dr. Rossouw om ’n verslag te skryf oor Afrikaans as inheemse taal, maar ook oor sy sogenaamde “rassistiese” verlede. Op 12 November vind ’n vergadering plaas ten einde ’n konsensusbesluit te formuleer. Die verslag van Van Niekerk en Rossouw het nie deel uitgemaak van die uiteindelike verslag nie, omdat dit volgens dr. Lange bedoel was as ’n voorlegging aan die komitee met ’n duidelike fokus en uiteindelik ’n persoonlike taalsiening geraak het.

Die Talekomitee se verslag (enigsins gewysig deur die bestuurskomitee van die UV) bevat 13 aanbevelings en word aan die raad voorgelê vir die raadsvergadering van 4 Desember 2015. Uit die Voorrede (“Preface”) van die verslag is dit duidelik dat die uitgangspunt van die komitee was: Afrikaans kan nie as ’n neutrale taal beskou word nie, maar slegs binne die historiese verband van sy “rassistiese” verlede. Volgens hierdie verslag is die twee belangrikste rigtinggewende beginsels dié van inklusiwiteit en multitaligheid.

Uit die hele inslag van die verslag blyk die duidelik ideologiese vertrekpunt. Daar word pertinent genoem dat Afrikaanssprekende personeel “who are supportive of change of policy for pragmatic reasons” bestempel word as “verraaiers”.

Die huidige Taalbeleid het ook ’n dimensie van onregverdigheid, want die meerderheid studente aan die UV wie se eerste taal nie Engels of Afrikaans is nie, kan nie in hulle eerste tale opgelei word nie, “because unlike Afrikaans, these languages were never developed for ‘scientific use’ with the backing of the state”. Deur hierdie stelling word bewys dat eeue en dekade lange individuele pogings van Afrikaanssprekendes om hulle taal uit te bou, gewoon geïgnoreer word. Asof die staat alleen verantwoordelik is vir taalhandhawing en -bevordering.

Op hierdie raadsvergadering is die volgende besluite geneem, naamlik:

  • Engels word die primêre medium van onderrig in voorgraadse én nagraadse studie.
  • Die UV skep en bevorder ’n taalryke omgewing wat tot veeltaligheid verbind is, met aandag veral aan Afrikaans, Sesotho, isiZulu en ander tale wat op die drie kampusse verteenwoordig word.
  • ’n Uitgebreide tutoriaalsisteem sal beskikbaar wees veral vir Afrikaans, Sesotho, isiZulu en ander tale om die oorgang na onderrig in Engels te vergemaklik.
  • In spesifieke professionele programme, soos in Opvoedkunde en Landbouwetenskappe, sal die parallelmedium-onderrig voortgesit word in die lig van die duidelike Afrikaanse markte wat steeds sodanige taalspesifieke onderrig tans noodsaak.
  • Die administratiewe taal sal Engels wees.
  • Die Engels-medium-taalbeleid moet met buigsaamheid in werking gestel word, eerder as op ’n onbuigsame wyse, sonder inagneming van omstandighede.

Van die voorafgaande aanbevelings is waarskynlik die duidelikste voorbeeld van die koelbloedig pragmatiese en nieprinsipiële filosofie onderliggend aan die hele nuwe beleid: Die besluit om Afrikaans te benut om die oorgang na Engels te vergemaklik is soos om brandoffer-slagoffers in hulle eie taal opdragte te gee hoe om by die gaskamers uit te kom. En, Afrikaans mag wel, as dit geld inbring. Dan, skielik, verdwyn die sogenaamde beginselbesware oor die verdelende aard van Afrikaans in lesinglokale.

Die aanbevelings van die UV-raad dra nie die status van ’n Taalbeleid nie. Hulle gee slegs die riglyne waaraan die nuwe Taalbeleid moet voldoen. Van die aanbevelings van die Talekomitee is ook soms gewoon absurd, juis omdat dit onbekookte, strategiese opmerkings is ter wille van goeie gesindheid. Daar moet byvoorbeeld kwansuis ondersteuning gebied word aan Afrikaanse akademiese tydskrifte. Terselfdertyd word akademiese onderrig in Afrikaans die nekslag toegedien. Waar gaan die mense vandaan kom wat nog in Afrikaans ’n akademiese diskoers kan voer?

’n Mens kan aanvaar dat die huidige Talekomitee die taak gaan kry om die nuwe Taalbeleid op te stel; ’n ander besluit sou neerkom op ’n mosie van wantroue. Dit is daarom gebiedend noodsaaklik dat die lede van die nuwe komitee se name in die openbaar bekend gemaak moet word en dat hulle kundigheid bo verdenking moet staan. Aangesien elke persoon ’n taalvoorkeur het, behoort die komitee gebalanseerd te wees.

Daar kan kanttekeninge aangebring word by die hele proses om ’n nuwe Taalbeleid op te stel:

  • Studente wat in 2016 inskryf vir parallelmediumonderrig en geen ondersteuning deur tutoriale ontvang nie, maar in 2017 dan slegs in Engels onderrig gaan word, word benadeel.
  • Dit geld ook vir huidige studente wat ingeskryf het aan die UV vir enige kursus met die verwagting (kontraktueel bevestig) dat hulle hul studie sou kon voltooi in Afrikaans.
  • Artikel 29 (2) van die Grondwet bepaal: “Everyone has the right to receive education in the official language or languages of their choice in public educational institutions where that education is reasonable practicable.” Uit alle gegewens (én die status quo) is dit duidelik dat dit wel “redelikerwys doenlik is” in terme van die Afrikaanse teks van die Grondwet. Die raad van ’n universiteit is onderworpe aan die Grondwet. Waar die vorige Taalbeleid van 2003 die gees van die Grondwet onderskryf, doen die jongste raadsbesluite dit nie.
  • Van meet af aan was die proses emosioneel en ideologies eerder as wetenskaplik. Dit blyk uit vae aannames, stereotiperende en ongetoetste bewerings soos reeds aangedui.
  • Op die raadsvergadering van 26 Junie 2015 is daar genotuleer dat die lidmaatskap van die Talekomitee “gebalanseerd en verteenwoordigend moes wees”. Die komitee was dit nie en het nie bestaan uit kundiges nie.
  • Kwalitatiewe onderhoude het nooit plaasgevind nie en geen ernstige aandag is gegee aan moontlike alternatiewe taalmodelle nie.
  • Die verouderde verslag van die Hoëronderwys se Kwaliteitskontrole(oudit)paneel (HEQC; Higher Education Quality Control) wat reeds eenogig krities was, word in die verslag klakkeloos aanvaar as grondslag waarop verskeie aannames gegrond word.
  • Die historiese verlede van die UV word vertolk op eensydige wyse en nie gesien as ’n reaksie op ’n aggressiewe angliseringsbeleid nie.
  • Daar is geen blyke van waardering vir die wyse waarop ’n taal- en spraakgemeenskap ’n taal se hoër funksies uitgebou het juis in ’n tydperk waarin Afrikaanssprekendes nie oor politieke mag beskik het nie.
  • Afrikaanse onderrig word voortdurend as minderwaardig bestempel sonder verrekening van die feit dat verskeie mense wat in Afrikaans opgelei is, internasionaal gepresteer het.
  • Meertaligheid word op plakkaatagtige wyse aangeprys, maar daar is geen moeite gedoen om op kreatiewe wyse na vore te kom met vernuwende modelle nie.
  • Die ernstigste leemte is egter die kernuitgangspunt dat Afrikaans (eintlik op enige vlak behalwe as sosiale omgangsmiddel) ’n verenigde Suid-Afrika strem en dat enige persoon wat sterk oor Afrikaans voel basies rassisties is. Gevoer tot sy logiese gevolge, impliseer hierdie UV-Taalbeleid dat mense gerus sosiaal kan verkeer en bid in die tale van hulle voorkeur, maar op generlei wyse mag aandring op enige ander regte vir hulle tale nie. Dit sluit duidelik die onderwys in.

Professor Hennie van Coller verbonde as navorsingsgenoot aan beide die Universiteit van die Vrystaat en die Noordwes Universiteit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

2 Kommentare

Cailyn Ferreira ·

Ek is graad 10 en doen ATKV debat. Kan u aan ons dalk ‘n manier verskaf om direk met Prof. van Coller in kontak te kom? Miskien ‘n e-pos! Ek glo sy insette sal vir ons van onskatbare waarde wees in ons debatsredenering.
Dankie.

Suné van Heerden ·

Dagsê Cailyn

Baie dankie vir jou navraag. Ons het jou versoek aan prof. van Coller gestuur. Ons sal weer met jou in verbinding tree indien hy julle van bystand kan wees.

Groetnis
Suné
nms Maroela Media

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.