Taalbeleide op tersiêre vlak: Quo Vadis?

afrikaans-sal-bly

Foto: Stellenbosch Lente/Facebook.

Deur Karien Brits

Taal is nie net ’n kommunikasiemiddel nie – dit is deel van wie ons is. As jy aan iemand se taal raak, raak jy ook aan daardie mens. Taalbeleide is dus ook ’n saak waar daar sterk emosies by betrokke is, want taal raak mense. Dit voel asof daar ’n aanslag op Afrikaans en Afrikaanssprekendes op tersiêre vlak is wat die taalbeleide betref. Die tradisioneel Afrikaanse universiteite is besig om die een ná die ander te verengels.

Hoop

Is alles nou vir Afrikaans op tersiêre vlak verlore? Nee, daar is tog ’n sprankie hoop: die konseptaalbeleid vir hoër onderwys (2017). Dit is dié nasionale taalbeleid wat eintlik die goue rigsnoer vir die universiteite en ander hoëronderwysinstellings se taalbeleide moet wees.

Dit is ’n sinvolle taalbeleid waarop die ATKV verlede jaar soos volg kommentaar gelewer het:

  • Die ATKV is dankbaar dat hierdie taalbeleid die sterk bevordering van meertaligheid aanmoedig en dat Afrikaans deel van die beleid is.
  • Die ATKV het gevra dat daar meer duidelikheid gegee moet word rakende “Primary Language of instruction” en daar is versoek dat streeksdemografie in ag geneem moet word in die bepaling van die primêre onderrigtaal.
  • Die ATKV het daarop gewys dat Afrikaans toegang tot hoër onderwys kan bied.
  • Die hoëronderwysinstellings moet jaarliks ’n vorderingsverslag lewer en die ATKV het versoek om daaroor ingelig te word.

Die hoop is dat hierdie taalbeleid vir hoër onderwys geïmplementeer en afgedwing word. Dit sal dan baie instellings se taalbeleide positief raak – nie net die tradisioneel Afrikaanse universiteite wat verengels het nie.

Dwaasheid?

Hoop is die moeder van dwaasheid, lui die Poolse spreekwoord. Dit grens seker aan dwaasheid om in hierdie tydsgewrig te hoop dat die nasionale taalbeleid afgedwing sal word of dat al die universiteite in meertalige (in die ware sin van die woord) beleide sal inkoop. Dit is wel dalk wys om ons hoop nie nét op taalbeleide te plaas nie.

Kom ons doen!

Waar laat dit ons as vuisvose Afrikaanssprekendes en Afrikaanssprekende akademici? Moet ons boedel oorgee en alles maar in Engels doen? (Verstaan my reg: ek is nie anti-Engels nie, ek is pro-Afrikaans.)

Daar is dalk meer as een manier om Afrikaans in die akademie te behou. Ek het ’n paar beskeie voorstelle:

  • Afrikaanssprekende akademici – publiseer óók in Afrikaans – daar is nog vaktydskrifte wat dit moontlik maak en op hierdie manier dra ons by tot die skepping van Afrikaanse terminologie. Akademici kan dalk ook in hierdie verband by Prolingua aansluit.
  • Woon óók Afrikaanse akademiese konferensies by:
  • Publiseer in Engels, Duits, Frans en Spaans oor Afrikaans. Dit is nie net Afrikaanse mense wat oor Afrikaans as vakgebied moet weet nie. Ander linguiste moet ook van Afrikaans kennis neem.
  • Afrikaanssprekende studente kan met anderstaliges oor Afrikaans gesels. Moenie bydra tot negatiewe persepsies oor Afrikaans nie (breek die negatiewe persepsies eerder af.) Leer as Afrikaanssprekende ook ’n Afrikataal aan. Dit mag dalk die dinamika op kampus aangenaam verander!
  • Praat met gesag oor die geskiedenis van Afrikaans deur die volgende boeke te lees: Van Afrikaans Gepraat en Die storie van Afrikaans.

Afrikaanssprekende studente en dosente moet hul taalregte ken en daarop aanspraak maak. Die taalbeleide maak oor die algemeen daarvoor voorsiening. (Dit word net nie altyd deur die universiteitsowerhede afgedwing nie.)

Ons kan nie net ophou nie. Ons is dit teenoor ons voorgangers verskuldig om ’n plek vir Afrikaans in die akademiese wêreld te behou.

  • Hierdie artikel is met die vergunning van Talig die nuusbrief van die ATKV gepubliseer.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Jerry ·

Karien doen wat vir jou belangrik is en jou gelukkig maak. Onthou net dat alles omtrent Afrikaans wat vir jou belangrik is en jou gelukkig maak, die huidige universiteitsowerhede sielsongelukkig maak. Die feite staaf die realiteite. Spandeer eerder jou tyd en energie by akademia of stig n Afrikaanse universiteit in SA of oorsee waar daar reeds groot konsentrasie Afrikaners is. Afrikaans se heil le nie meer by staats en semi staatsinstellings in SA nie. Die staat en vertakkinge is anti Afrikaner en alles wat daarmee gepaard gaan en waarvoor daar tientalle redes daarvoor bestaan. Hierdie realiteit gaan nie verander nie, nie terwyl die ANC/EFF regeer nie, inteendeel sal die aanslag teen die Afrikaner, sy menswees en sy taal toeneem. Beskerm Afrikaans deur dit uit die aanslag area te skuif na n veilige omgewingsvriendelike area tot tyd en wyl n wonderwerk plaasvind!

Klippie ·

Nee wat, dit is verby wat Afrikaans aan ons staatsuniversiteite betref. Ek moes dit self aan Universiteit Stellenbosch ervaar. Akademia is die enigste en laaste opsie wat ons nog oor het. Die ATKV was vir te lank in n gemaksone oor die kwessie.

Heinrich ·

Dis net verby met Afrikaans as ons sê dis verby met Afrikaans. Die klomp wat huidiglik die kitaar slaan oor die taalbeleid by universiteite het ‘n kultuur van afbreek en nie opbou nie. In plaas van Afrikaans behou en ander tale ophef is dit maar net soos baie dinge in die land afgetrek na ‘n laer vlak. Soos wanneer hulle die universiteite wil ‘de-colonise’ maar die taal van die ‘colonisers’ voorstaan. Die staatsuniversiteite kan hulle miskien nog beheer, soos wat Karien van die ATKV sê (bieg; heeltemal te laat; die ATKV het hierdie geleentheid heeltemal gemis om Afrikaans by staatsuniversiteite te hou), privaat inisiatiewe om die taal lewendig te hou moet ondersteun word. Ons voorvaders het hulle lewens gegee sodat ons die reg kan hê om in Afrikaans te mag voortbestaan, ek dink dit verdien bietjie respek as om maar net op ons ruggies te gaan lê en oor te gee aan die kommunistiese kultuur- en taalmoordenaars.

Deon ·

Tot in die 1980s was die meerderheid van die proefskrifte wat by Afrikaanse universiteite ingedien is hoofsaaklik in Afrikaans. Goeie vakterme is geskep. Indien promotors besef het daar was ‘n besondere proefskrif aan die broei, is fondse veskaf om dit na die tyd in Engels te vertaal. Dit is vinnig gedoen deur professionele vertalers met die nuwe doktor wat net seker gemaak het alles tegnies korrek was en dat die regte vakterme is gebruik.

Charles ·

Ons neem kennis van die reklamepoging om die verraderlike – en uiters swak-verkopende – boek, “Die Storie van Afrikaans” – wat die leuen bly propageer oor “Afrikaans se ongelukkige verlede ( naamlik die leuen dat Afrikaans gesien word as die “taal van die onderdrukker”- wat lagwekkend is!~) aan ons af te smeer. Want as AFRIKAANS ENIGIETS IS; DAN is dit ‘n teiken van die onverdraagsame swart MEERDERHEID van hierdie land as synde sinoniem met Afrikaners te wees (WANT ONS TAAL AFRIKAANS IS ONS ALLES EN HULLE WEET DIT!) wie hulle NIE KAN VERDRA nie – en wie hulle die SEERSTE kan maak deur hul taal aan te vat en leuens daaroor te bly versprei; wat klakkeloos en sonder bevraagtekening opgevreet word deur die akademiese establishment. 1976 se gebeure het nie oor Afrikaans gegaan nie, maar het dit in alles behalwe naam gegaan oor die opneem en die begin van die gewapende verset teen die regering van die dag. Ons PRAGTIGE taal is goedsmoeds en onskuldig op SIMBOLIESE wyse daarby betrek, MAAR DIE LEUEN BLY!!!

So, nee dankie, skiet verby asb. ONS IS NIE ONDER KALKOENE UITGEBROEI NIE, EN IS NIE ‘N STEMVEE NIE!

ONS EN ONS TAAL IS OP ONS EIE.

Johanna Botha ·

Waneer staan die swart en bruin gemeenskappe op wat Afrikaans praat en die taal lief het …waneer ?

Hendrik ·

Ek is bevrees dat die grootste gedeelte van afrikaanssprekende mense nie ‘n snars omgee vir hons taal nie. Kyk maar hoe swak is die taalgebruik in die kommentaar gedeeltes van die Internet. Maar selfs asl sou Afrikaans vir ons almal belangrik wees, is die ander volke in Suid-Afrika se tale nie vir hulle belangrik nie. Hoekom sou hulle dan oor Afikaans omgee? As jy wil kyk wat vir iemand belangrik is, kyk na hoe hy sy beursie gebruik. Gelukkig begin Afikaners wakker skrik en ondersteun ons meer besighede wat ons taal en kultuur ondersteun.

Ra Amon Khan ·

As jy nie jou Tegnikon-diploma of Universiteits-graad kan kry as dit slegs in Engels aangebied word nie, dan is jy nie gereed vir die wêreld daar buite nie, gaan dan maar weer terug Standerd 8/ Graad 10 toe….jy gaan dit nie maak nie….tensy pappa of n oom vir jou n werk gee nie…of gaan werk by koffie-winkel in Stellenbosch.

Deon ·

Chinese wat in hul eie tale grade behaal werk oor die hele wêreld in alle tale behalwe Mandaryns of Kantonees. Die taal waarin jy studeer is irrelevant, dit is die kwaliteit wat tel. Ons “Engelse” grade hier het hul waarde in elk geval klaar verloor. Australië en New Zeeland is al klaar skepties. Jou oom se roomyswinkel is in elk geval ‘n goeie idee, want werk gaan jy nie maklik kry nie, selfs met jou “Engelse” graad.

Reinhardt ·

Snaaks, want my graad was verwerf in Afrikaans (en so ook duisende ander wat op Stellenbosch geswot het) en ons werk die hele wye wereld vol, meerderheid van ons in bestuursposisies nogal! Dalk is mense wat op Stellenbosch swot het net eenvoudig slim genoeg om professioneel in meer as een taal te wees.

Reinhardt ·

Terloops, het jy al mediese- en regsterme gesien? Watter taal is dit? Latyns natuurlik. Hoeveel van ons kan daai taal praat? Niemand. Maar tog werk dit in praktyk. Die taal waarin jy leer is veel meer belangrik as die taal van die tegniese terme. Dus as jy in jou moedertaal leer, maar op die ou einde die Engelse tegniese terme gebruik, wat ons elkgeval doen in die praktyk, dan gaan jy waarskynlik die konsepte vinniger snap en makliker kan oordra.

Carina Falck ·

M.a.w. as jy as Fransman jou graad in Frans by die Sorbonne voltooi is jy nie reg vir die wêreld daarbuite nie?

Deon ·

Carina, die Ra perd reken seker ‘n graad by Venda of Limpopo of Zululand is van meer waarde as die Sorbonne of Heidelberg. Na Brexit gaan Engels baie punte verloor in die EU. Net Ierland en Malta gebruik nog Engels as ‘n amptelike taal. Beide het ook hul eie inheemse taal wat nou op die verhoog geplaas gaan word. Vanuit ‘n taaloogpunt is Brexit dalk positief.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.