Taaldebat: ANC se nasiebouresep is verkeerd

Hierdie toespraak is deur dr. Pieter Mulder, leier van die VF Plus, gelewer tydens die departement van kuns en kultuur se begrotingsdebat in die parlement (Mei 2016). Dit word met vergunning op Maroela Media gepubliseer. – Red.

pieter mulder

Dr. Pieter Mulder, leier van die Vryheidsfront Plus

Prof. Thabisile Buthelezi van die Universiteit van KwaZulu-Natal doen meer om inheemse tale te bevorder as die hele departement van kuns en kultuur met al sy personeel en hulpbronne saam.

Die bevordering van alle Suid-Afrikaanse tale is een van die sleutelprioriteite van die departement van kuns en kultuur.

Artikel 6(2) van die Grondwet lui: “Gesien die historiese inkorting van die gebruik en status van die inheemse tale van ons mense, moet die staat praktiese en daadwerklike maatreëls tref om die status van die tale te verhoog en hulle gebruik te bevorder.”

Die bevordering van alle tale is dus nie net ʼn sleutelprioriteit van die departement nie maar ook ʼn grondwetlike vereiste.

Wat het prof. Buthelezi van die Universiteit van KwaZulu-Natal die afgelope paar jaar gedoen om die status van inheemse tale te verhoog?

Enkele voorbeelde: Een van prof. Buthelezi se studente, dr. Zinhle Nkosi, het die proefskrif vir haar PhD-graad in Zoeloe geskryf. Sover bekend die eerste in daardie rigting. Vyftien studente by die Skool vir Onderwys (School of Education) is besig met of het reeds hulle meestersgrade in Zoeloe voltooi.

Deur jou doktors- of meestergraadstudie in Zoeloe te doen, word die gebruikstatus van Zoeloe verhef soos die Grondwet dit vereis. Dit dien ook as ʼn bewys dat inheemse tale tot dieselfde akademiese vlak as Engels kan ontwikkel. Dit maak hierdie studente in die proses trots op hulle identiteit en herstel ook waardigheid.

Dit beteken nie dat hierdie studente anti-Engels is of Engels nie kan gebruik nie. Hulle is net trots meertalig.

Die ANC-regering sukkel sedert 1994 nog steeds om die regte resep vir nasiebou te vind. ʼn Mens vind hoofsaaklik twee modelle:

Die eerste model is die Amerikaanse smeltkroes-resep waar slegs een Engelssprekende nasie gebou word. Om dit te kan regkry moet die tale en kulture van alle ander groepe doelbewus en berekend vernietig word. Dit lyk of die regering tans hierdie model volg. Op alle vlakke word Engels bevorder en Afrikaans en die ander inheemse tale geleidelik uitgeskuif.

Die tweede model is een waarin die verskillende tale erken en diversiteit so doelbewus bevorder word. Die eindproduk van hierdie benadering is ʼn land waar almal tuis voel sonder enige bedreiging vir jou taal of kultuur. Voorbeelde hiervan kan gevind word in lande soos Switserland, België en Ethiopië. Dit is ook wat ons Grondwet voorskryf en vereis. Vergelyk onder meer artikels 6, 29, 30, 31 en 185 van die Grondwet.

Waarom die gevolgtrekking dat die regering die eerste model volg waar Engels bevorder en alle ander tale berekend afgeskeep en geleidelik vernietig word?

Omdat ons 19 jaar moes wag vir die ANC om die Talewet voor te stel en te probeer toepas. Dit terwyl so ʼn wet deur die Grondwet voorgeskryf word (artikel 6(4)). Ná 19 jaar is dit ook nie vrywillig deur die regering gedoen nie, maar was ʼn hofstryd nodig om hulle daartoe te dwing.

Die amptelike Talewet is gepromulgeer op 2 Mei 2013. Omdat daar geen erns by die regering hieroor was nie, het regeringsdepartemente en instellings die sperdatum vir inwerkingstelling van die wet geïgnoreer. Dit het veroorsaak dat die spertyd vir die inwerkingstelling van die wet uitgestel moes word.

Vandag, drie jaar ná die promulgering, kom 20% van nasionale departemente nog steeds nie die wet na nie en beskik hierdie departemente ook nie oor taaleenhede nie. Die situasie is selfs erger by nasionale openbare entiteite en ondernemings. Daar is dit net ongeveer 36% wat dit nakom.

Die enigste gevolgtrekking is dat die ANC-regering nie ernstig of van plan is om te doen wat die Grondwet vereis nie. Daarom ook die gevolgtrekking dat prof. Buthelezi van die Universiteit van KZN meer gedoen het om hierdie tale te verhef as die hele regering en die departement van kuns en kultuur saam.

Die grondwetlike instrument om die taaldoelwitte van die Grondwet te bereik, is die Pan-Suid-Afrikaanse Taalraad (artikel 5(5)). Die Taalraad se grondwetlike opdrag is om die nodige toestande te skep vir die bevordering en ontwikkeling van al die amptelike tale.

Die mees onlangse PanSAT-raad het bestaan uit verskeie baie bekwame taalaktiviste en taaldeskundiges. Hulle is berekend gekies om verteenwoordigend van al die Suid-Afrikaanse tale te wees. Prof. Mbulungeni Madiba van die Universiteit van Kaapstad was die voorsitter van die PanSAT-raad en prof. Wannie Carstens van die NWU die ondervoorsitter, albei uiters bevoeg en entoesiasties vir hulle nuwe taak.

Maar met hulle aanstelling het hulle ʼn PanSAT geërf waar die meerderheid van die personeel geen spesifieke taalkundigheid gehad het nie. Altesaam 80% van die personeel het hemelhoë salarisse ontvang, maar het absoluut niks te doen gehad met die bevordering van tale nie. Die gevolg was ʼn PanSAT wat miljoene rande oorbestee het terwyl daar nie personeel was wat die hoof-taaldoelwitte volgens die Grondwet kon uitvoer nie. Hierdie PanSAT-raad het ʼn amperse onmoontlike taak gehad om PanSAT reg te ruk.

Moeilike besluite is deur hulle geneem. Net toe die raad daarin begin slaag om PanSAT finansieel om te keer, besluit die minister in Januarie vanjaar eensydig om die PanSAT-raad te ontbind. Dit was ʼn fout wat die ontwikkeling van veeltaligheid in Suid-Afrika met baie jare teruggeskuif het.

Die raad wat nou ontbind is, het ʼn forensiese ondersoek na die wanbestuur by PanSAT laat doen. Die forensiese ondersoek wat die departement van finansies op PanSAT uitgevoer het, het bevind dat daar growwe finansiële wanbestuur in die verlede plaasgevind het. Wat het van hierdie verslag geword? Het hierdie verslag ʼn rol in die minister se besluit gespeel om PanSAT te ontbind omdat dit dalk die departement in ʼn negatiewe lig plaas? Dit mag selfs ʼn strafregtelike ondersoek vereis.

Ná die ontbinding deur die minister van hierdie bekwame PanSAT-raad moet daar nou van voor af genomineer en ʼn nuwe raad aangestel word. Waarskynlik ʼn raad wat meer na die minister se pype sal dans. Die gevolg is dat Suid-Afrika minstens twee jaar verloor voordat ʼn nuwe raad aangestel is en hulle die probleme van die huidige PanSAT sal kan begin verstaan. Dit is hoekom dit ʼn groot fout was om die huidige raad te ontbind. Slegs deur hierdie besluit om te keer en deur die grondwetlike bevordering van alle tale na te kom, kan die regering hulle verbintenis tot die Grondwet se taalbepalings bewys. Omdat die kans dat dit gaan gebeur nul is, rus die taak steeds swaarder op opposisiepartye, burgerlike organisasies en mense soos prof. Buthelezi om veeltaligheid in Suid-Afrika te vestig.

(Dr. Mulder is lid van die parlementêre portefeuljekomitee: kuns en kultuur.)

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Pieter Mulder

Dr Pieter Mulder is ’n voormalige VF Plus-leier, voormalige parlementslid en professor.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

HEVW ·

Natuurlik moet daar n strafregtelike ondersoek wees rakende die minister se eensydige ontbinding van PanSAT. Verbaas omdat dit nog nie geloods is nie

John ·

Die probleme by die PanSAT- raad moes vroeer aandag geniet het. Dit was ‘n Wit Olifant en ooglopend wanbestuur. Nog ‘n poging gaan futiel wees wat net weer gaan uitloop op nog geld en nog doellose aanstellings (met groot salarisse). Dit help nie vir Afrikaners om Zoeloe te bevorder om Afrikaans te red nie. Zoeloes moet hul eie taal liefkry en uitbou. Die ANC wil ‘n eenvormige nasie bou met een kultuur en een ideologie en een taal en diegene wat teestribbel moet eenvoudig uitgewis word. Die VF Plus vertel ons hoe oulik die Zoeloes is om nou eers ‘n doktorsgraad in hul eie taal te behaal. Hoeveel Zoeloes stem vir die Vryheidsfront? Hoeveel Boere/Afrikaners het doktorsgrade in hul moedertaal behaal, dr. Mulder?

George ·

Ek dink dit is ‘n groot stap vorentoe dat daar wel ‘n paar studente hul doktors grade in Zulu gedoen het. Dit wys daar is tog ‘n klompie wat trots kan wees op hul eie tàal.

Johann Marx ·

Ag ASSEBLIEF!!! Vir WIE is die ANC se nasiebouresep verkeerd? Net vir die klein minderheid wat nie deel uitmaak daarvan nie….vir die ander 48 miljoen is hulle die kat se snor!! Hoekom kan blanke Suid Afrikaners nie hierdie konsep begryp nie? Vir elke EEN van jou en jou soort, is daar ELF wat NIE soos jy is nie!! Jy is in ‘n minderheid…op jouself aangewese…en NIEMAND gee ‘n snars om vir jou en joune nie. Sodra ons dit begin verstaan, sal ons lewensuitkyk ook drasties begin verander.

Johann Marx ·

Christo, ek is nie ‘n raadgewer nie? Ek het ook nog nooit aanspraak gemaak daarop dat ek een is nie. Al wat ek beleef is die realiteit van ons situasie. Daar kan nou niks meer aan gedoen word nie, want dit moes nooit gebeur het nie…..maar die skapies het agter die herder aan gedrentel ter wille van internasionale rugby deelname. As dit jou motivering was, wel, dan het jy mos nou gekry wat jy wou gehad het. Jy het basies twee keuses: Aanvaar die situasie en omstandighede in Afrika soos dit nou lyk en pas jouself daarby aan…..of vat jou goed en jou mense en gaan na omstandighede en ‘n situasie wat jou beter pas as die een. Maar om konstant daaroor te staan en skree op elke moontlike openbare verhoog……gaan NIKS verander nie. Dit is die lot van die minderheid…

Frik Lotz ·

Dankie dr. Pieter vir al jou en VF Plus se goeie werk. Dis tyd dat meer mense die VF Plus ondersteun en die tyd is nou!

John ·

Waar is die VF+ aktief? Dit lyk na ‘n ‘has-been’-party. Geen vergaderings. Feitlik geen kandidate vir die munisipale verkiesing nie. Die ou partyleiers het saam met Mogabe begin en veg nou vir die voortbestaan van die Zoeloe-taal. Eksklusief net vir die Mulder-clan en die Afrikaners het dringend behoefte aan leierskap. So veel so dat hulle nou glads begin om ou ooms van die verhoog af te abba om ondeurdagte voordragte in die buiteland te gaan lewer, wat die Afrikaners se saak in die buiteland nog net verder beduiwel! Help!

Frik Lotz ·

John, lees jy koerante, kyk jy TV nuus? Het jy al VF Plus se webblad besoek by http://www.vfplus.org.za? Dan sou jy geweet het die VF Plus is besig om te groei en sterker te word. VF Plus het baie kandidate vir munisipale verkiesing en gaan goed doen in die verkiesing. VF Plus is enigste party wat veg vir minderheidsregte en opstaan vir die Afrikaner en ander minderhede.

John ·

Frik, ‘n party op papier groei nie. Drukkersink is giftig. En die web is die web. Groot jok en luiheid om kiesers te werf of toe te spreek? Verduidelik. Waar is hul volgende vergadering? ‘n Partyleier wie se mense in angs verkeer omdat een Zoeloe nonsens aanjaag, moet eers in vervoering raak oor ‘n ander Zoeloe se prestasies. Waar is die VF+ se kop?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.