Taalmoord ons voorland as ons nie baklei nie

Hendrik Verryn, ʼn 24-jarige teologiestudent van die Puk*, skryf:

Die Afrikaanse Taalmonument

Die Afrikaanse Taalmonument

Dis maklik om simpatie met ‘n saak te toon wat na aan jou hart lê. Dis net so maklik om iets as onbelangrik af te skryf as dit jou nie persoonlik raak nie. Met hierdie stelling is dit byvoorbeeld vir my as jong Afrikaner-student nie belangrik wat met vlug MH370 gebeur het nie. Dit is vir my egter baie belangrik wat met die Puk gaan gebeur. So ook is die toekoms van my geloof, taal en kultuur belangrik.

My eerste persoonlike ervaring waar ek gevrees het vir my taal en toekoms, was in matriek. Ek moes ‘n vorm invul waarop ek aandui in watter taal ek my matrieksertifikaat verkies. Soos ‘n trotse Afrikaanssprekende in ‘n Engelse stad, Pietermaritzburg, het ek Afrikaans gekies. Met groot skok is ek vermaan deur een van my Afrikaanssprekende onderwysers dat dit my gaan benadeel in die toekoms. Sy het die vorm opgeskeur en ‘n klaar ingevulde een vir my gegee en gesê ek moet net teken. Nou is my sertifikaat in Engels.

Vir jare lank het ek geglo dit maak nie saak wat die huidige regering en anti-Afrikaners doen aan Afrikaans nie, want ons het die Britte se kampe oorleef. Binne ‘n paar dekades van ‘n volksmoord het ons as volk ‘n punt bereik waar Afrikaans en die Afrikaanse kultuur op sy sterkste was. Dit is eers met hierdie matrieksertifikaat-voorval dat ek besef het ons beleef ‘n tweede moord. ‘n Taalmoord.

Dit het my ook laat besef dat die Afrikaners nie in die 1900’s gaan lê en wag het vir verligting nie. Hulle het terugbaklei. Hoe hulle terugbaklei het weet ek nie, want op skool het ek net van Apartheid en die Koue Oorlog geleer. Tog het hulle teruggekap teen hulle omstandighede.

Hierdie baie werklike Taalmoord gebeur terwyl te veel Afrikaners terugsit en nie veel omgee oor goed soos die Puk se transformasie nie. Anna Modler se vernedering oor sy Afrikaans is, bring nie ‘n naar gevoel van vrees nie. Pamflette op die Puk wat geweld teen Afrikaans en boere aanblaas, skok nie genoeg nie. Ek sien daagliks sulke trae houdings teenoor ons taal by jonk en oud.

Sommige Afrikaners meen dat dit nie die onderdrukking is van Afrikaans nie, maar die transformerende regstelling van ander kulture en tale. Hulle glo verder dat wanneer iets werklik onregverdig gebeur, soos met arme Anna Modler, is dit ‘n uitsonderlike geval waar net een persoon ‘n fout gemaak het. Verskil jy van hierdie mense word jy as ‘n rassis en grotman bestempel. Ek is nie ‘n rassis nie! Ek is nie ‘n grotman nie! Ek is ‘n Afrikaner! En ek vrees vir my taal, ek vrees vir my kultuur en ek sien die aanslag teen my as Afrikaner.

Van kindsbeen af het ek by my ouers gehoor dat die toekoms van ons land by my geslag lê. Dat wanneer ons eendag ouer is, dit ons plig gaan wees om ons taal en kultuur te beskerm. Dit het altyd so lekker warm gevoel van trots in my bors veroorsaak. Maar deesdae as ek dit onthou, voel ek net koud en verlore. Ek voel so omdat ek nou besef watter taak dit is om my identiteit te beskerm teen ‘n oorweldigende mag. Dít, terwyl my eie mense nie die aanslag kan raaksien nie.

Afrikaans word vermoor en Afrikaanse bastions soos Beeld oorhandig spreekwoordelike woordeboeke om verbrand te word. Tog sien ek uitkoms by instansies soos die Solidariteit Beweging en die VF+. Instansies wat baklei om my reg om my taal en kultuur te behou, beskerm.

My geslag het met ‘n Jannie Jammerg*t-houding grootgeword. Ons is te bang om te sê ons is trots Afrikaans. Ons is te bang om te sê ons is trots Boer. Want dis rassisties en nazisties. Tog is daar uitsonderings: die Puk-studente het onlangs gewys ons is steeds trots op Afrikaans. Jong mense het gewys daar is nog hoop in hierdie geslag. Ek wil deel wees van só ‘n groep Afrikaners, ‘n groep wat nie bang is om uniek te wees nie. ‘n Groep wat nie transformasie benodig nie. ‘n Groep wat vir Afrikaans se bestaansreg baklei.

Laat die wyse, ervare manne in die howe gaan baklei en slim praatjies maak oor waarom Afrikaans mag bestaan. Ons op straat sal uit onse leke-monde die konkreetste rede vir Afrikaans se bestaan gee: ons praat Afrikaans. Ons bid in Afrikaans. Ons baklei in Afrikaans en ons vry in Afrikaans. Ons IS Afrikaans!

Hier moet ek van my ouers verskil, die toekoms van Afrikaans lê nie in my geslag se hande nie. Dit lê ook nie in die ouer geslag se hande nie. Afrikaans is ons almal se baba, ons almal moet saamwerk om dit te voer en te versorg. En as daar leeus buite die laer brul vir babavleis, moet ons almal ons swepe en gewere optel en gaan veg.

Dit is tyd dat alle Afrikaanses besef dat daar tans net ‘n ondergrondse weerstand teen die Taalmoord is. Dit is tyd dat hierdie weerstandsbeweging in ‘n goed gewapende weermag verander. Die Solidariteit Beweging, die VF+ en ander bewegings wat vir Afrikaans baklei, kan nie sonder soldate baklei nie. Dit is tyd dat almal wakker skrik en besef Afrikaans is ‘n baba en die Blades en Bassonne is voor die laer besig om ons baba te verskeur.

* Hendrik Verryn is ʼn 24-jarige voorgraadse teologiestudent aan die Potchefstroom-kampus van die Noordwes-universiteit.

Sy standpunt, “Taalmoord is ons voorland as ons nie baklei nie”, is ʼn bydrae in reaksie op Maroela Media/Die Groot Debat se uitnodiging aan jongmense en studente om hul standpunt te stel oor aktuele sake. Lees meer hier.

Let daarop dat geen van die standpunte in hierdie stuk of op Die Groot Debat noodwendig Maroela Media se mening weerspieël nie. Klik hier om Die Groot Debat se waardes en beleid te lees.

Lees ook:
Jongmense kan nou ook hul stuiwer in die armbeurs kom gooi
Só help ek die taal leef
Ja, God bestaan en ek ken Hom
Basson se argumente rondom Steve se Stem tas mis

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Louis Marais ·

Goed gestel, jy is nie alleen nie my vriend ek is 28 en voel al so vandat ek 18 jaar oud was. Saam is ons sterker!

Gert ·

wat gaan hulle bereik daar deur?en op al die plaasmoorde,verkragtings en staatsdienste wat nie werk nie hoekom dit ook weg vat van ons?????dan moet ons baklei teen zulu,tswane,venda,xosa ens?saam staan maar n moeilike woord vir die blanke!

Louis Marais ·

As jy oud is ja. Toe ek op skool was het ons hele matriek klas die een onderwyser se motor tussen twee bome geplaas. Die hele matriek klas was ingeroep en ons was vertel dat hulle ons matriek afskeid gaan wegvat as die boosdoenders nie hulle self indentiviseer nie, ons was in aanhouding tot en met ‘n 1 uur na skool. Weet jy wat het gebeur Gert? Kom ek vertel jou, niks, niemand in daardie matriek klas het vorentoe gekom nie en niemand het die boosdoenders weggegee nie, ons matriek afskeid was nie weggevat nie, maar die matriek prefekte was geskors en die graad 11’s het prefekte geword. So wie kan nie saam staan nie Gert, of is jy dalk die probleem? Hoekom moet ons baklei teen iemand? Ek baklei eerder vir iets…

Jaco ·

Goeie artikel, dankie Hendrik. Ek is bly om te sien van ons jong mense het darem ruggraat. Ek is nie soveel ouer nie maar staan saammet jou, bring die sweep & geweer.

Wim Vander Cruyssen ·

In België zijn wij jarenlang als Nederlandstaligen achteruit gesteld tegenover Franstaligen. In het onderwijs, in het leger, in de politiek,…overal werd onze taal gediscrimineerd.
Maar wij hebben na een lange strijd onderwijs en cultuur in ons eigen taal gekregen. Onze taalgroep is beschermd in de Wet en in de Grondwet.

Ik denk dat FW De Klerk een grote fout begaan heeft met geen extra bescherming voor de Afrikaanse taal in de grondwet op te nemen. Aangezien Afrikaners een minderheid zijn in Zuid-Afrika zal het nu een moeilijke strijd worden.

Ik denk dat de Afrikaners zoveel mogelijk de internationale gemeenschap moet betrekken bij de situatie. Afrikaners moeten internationale instanties betrekken bij deze situatie, zoals de United Nations. Afrikaners moeten ook meer contact nemen met andere landen als Nederland en België. Als de Zuid-Afrikaanse regering internationale kritiek krijgt over de behandeling van de minderheden zal zij moeten ingrijpen.

Frederick J Smith ·

Ek sien die tekens van die aksie teen ons taal al vir n geruime tyd. Ja,ek stem saam dat die tyd vir ons “taaloorlog” nou in alle erns moet begin…altans moes al begin het! Steun vir hierdie “taaloorlog” kom uit alle eniese groepe in die land, veral in die Wes Kaap is die Afrikaanses keelvol vir die aanslag teen ons taal.Van my bruin lesers het in die Die Son koerant uiters kras opmerkings gemaak oor die taalkwessie en met harde woorde vir Zuma en sy aanhangers die skuld gegee dat Hulle Afrikaans wil dooddruk.Ek is oortuig wat die getalle aanbetref, enige poging om ons taal te red, en die handhawing daarvan te verseker, die sterkste steun sal geniet ooit van alle Afrikaanseprekendes, hetsy wit,bruin, swart en selfs geel!Eendrag maak mag….ons “taaloorlog” sal dit bewys…XXX NS: Hou in gedagte dat Afrikaans die 3e mees gesproke taal in die RSA is, asook die wydste versprei onder alle bevolkingsgroepe.

Martiens Fourie ·

Ek stem saam dat ons vir ons taal moet baklei. Die groot vraag is egter HOE dit gedoen moet word. Tog het ek enkele vrae vir Hendrik:

1.) Waarom negatief teenoor Beeld? Hulle bou tog Afrikaans as taal uit? Noem spesifieke dinge dat Beeld Afrikaans benadeel.

2.) Deur die GEBRUIK van Afrikaans sal ons steeds ver kom. Dit is mense soos die negatiewe Afrikaanssprekende onderwyser waarvan jy praat, waarteen ons moet optree. Hierdie persoon laat Afrikaans in die steek. Jy moet sommer vir ‘n Afrikaanse matrieksertifikaat gaan vra!

3.) Hoe meer inklusief ons met Afrikaans werk, hoe meer sal deur ander aanvaar word. Jou en van die ander se kommentaar dui op negatiwiteit. Ek kom baie goed reg met Afrikaans dwarsdeur ons land. Maak dit ‘n vriendelike en innemende taal sonder om aggressief teenoor anderstaliges op te tree. Die opmerking van Jaco: “bring die sweep en geweer” sal ons nêrens bring nie.

4.) Gaan kyk maar gerus hoe die ATKV die taalkwessie hanteer. Baie meer mense is Afrikaans magtig as wat ons soms glo.

5.) Jou verwysing na vlug MH370 is baie onsensitief, komende van ‘n teologie-student. Daardie vlug se verdwyning is vir ons ook belangrik, want dit raak mense met familie en vriende. Ons moet oppas om nie in ‘n klein Afrikaanse kokon vasgevang te word en nie die breër prentjie van ons land en die wêreld raak te sien nie.

6.) Kom ons probeer om op ‘n positiewe en nie-konfronterende wyse ons taal met liefde en geduld uit te brei.

Gerhard ·

Jy slaan die spyker op die kop, Martiens. Dit is nie nou die tyd vir oorlogvoering nie. Die gemeenskap het nog nie eers van die vorige oorlog herstel nie.
(Ek het 5 minute gelede op Facebook studente se voortvarendheid probeer regverdig en beskerm. Al is Hendrik se artikel kwetsend en onsensitief, skryf ek dit maar toe aan jeugdige voortvarendheid. Maar dit is wel kommerwekkend dat soveel – oënskynlik ouer – lesers op hierdie blad hom wél ernstig opneem…)

VerVanRyn ·

Martiens ek sal u vrae na my beste vermoë antwoord:

1. Beeld se negatiewe berig oor ‘n Nazi-Kultuur op die PUK het anti-Afrikaners, soos Blade Nzimande, skiet goed gegee om die toe later ontdekte “Afrikaanse-kultuur” te transformeer. Alhoewel die transformasie nog nie begin het nie is daar min twyfel oor die effek wat dit gaan hê op die Afrikaanse karakter van die PUK. Ek is ook oortuig dat die Beeld se berig mense soos Iris Minier die idee gegee het dat Afrikaans Nazisties is.

2. Ek stem 100% met hierdie stelling van jou saam. Ek impliseer dit ook in my skrywe dat Afrikaans sal bly lewe solank ons dit praat.

3. Ek stem weereens saam met jou. Die rede waarom ek so negatief is in verband met hierdie aspek is oor daar ‘n groeiende aantal Afrikaners is wat nie hierrdie sentiment toon nie. Ek raai aan u gaan lees die brief van Flip Buys: http://debat.maroelamedia.co.za/die-teenstelling-tussen-engelse-liberales-en-afrikaanse-linkses/ Dit verduidelik baie goed oor die liberale Afrikaners se houding teenoor Afrikaans. Sulke omerkings soos die van Jaco is tog iets wat deel is van ons kultuur. Om dit te wil sensuur of verwyder is afbrekend teenoor ons identiteit as Afrikaners.

4. Ek volg die ATKV se skrywe graag, ek besef dat daar mense is wat vir Afrikaans baklei en dit is een rede waarom ek hierdie geskryf het: sodat ander kan besef hulle kort ons steun.

5. Ek is jammer as jy dit as negatief ervaar het, dit was nie my bedoeling nie. Ek het net probeer om die erns van die Taalmoord te beklemtoon ook om te uit te lig dat alhoewel daar groot tragedies en belangrike wêreld gebeure is daar kwessies is wat nader aan die hart en huis is wat soms nie aandag geniet nie. As iemand wie se pa self ‘n vliëenier is voel ek vrees en angs elke keer as ek lees van ‘n vlieg ongeluk en het daarom dit gebruik as ‘n voorbeeld aangesien dit in my paradigma iets belangrik is. Die Afrikaanse-Kokon is iets wat vermy moet word, maar in my kort lewe het ek wel ervaar dat daar weinig min mense is wat in so ‘n kokon broei.

6. Weereens stem ek saam, dit is die rede waarom ek mense oproep om organisasies wat die taal beskerm te ondersteun. Hulle baklei klaar vir Afrikaans, maar as hul ondersteuning verdwyn of nie voldoende is al hul pogings soos om ‘n veldbrand te probeer blus met hul sweet.

Ek hoop ek het u vrae beantwoord. Groete Hendrik Verryn

Nick van der Westhuizen ·

Baklei, baklei, baklei….. Dis juis die woorde wat ons in hierdie situasie beland het. Niemand het gese ons moet ons kultuur opgee of verkoop nie. Ons self is “die moordenaars”, soos jy dit stel. Al wanneer die Afrikaner deesdae bymekaar kom is om te praat oor baklei, hulle regte en hoe spesiaal ons is. Ek voel vir die jonger mense vandag, oor daar nie meer leiers is nie. Ons leiers is die wat ons opsweef om te baklei vir hulle siening. En glo my dit gaan nie oor taal nie.Hendrik gaan kyk bietjie mooi na ons geskiedenis as jy nie nog het nie. Al wie seerkry in ‘n bakleierei, is die onskuldiges. Daar is ‘n instansie waar jy jou kultuur en jou taal kan beskerm, dit word genoem ” ‘n kerk”. ‘n Afrikaanse sertifikaart gaan jou nie help in ‘n wereldse ekonkomie nie oor dit in Engels gedoen word. Of wil jy jouself so isoleer dat jy op die res van die wereld wil afkyk en preek hoe “spesiaal” ons is. ‘n Taal of ‘n groep mense word bepaal deur hulle werke en wat in hulle hart is, nie wat uit hulle monde kom nie en wat op hulle sertifikaarte geskrewe is nie.

VerVanRyn ·

En misverstand het meeste van die bakleiery begin. Ek praat in my brief nie van openbare geweld nie, ek praat van ordelike ondersteuning van die organisasies wat op ‘n geregtilike en wetsgetroue wyse baklei. Die Kerk is nie een van hulle nie. Die Kerk is bemoei met belangriker dinge, nie dat die geveg vir ons taal en kultuur nie ook belangrik is nie.

Dankie dat u gedeeltelik my standpunt van blinde Afrikaners bewys het deur die stryd teen Afrikaans te ontken. U kommentaar is ‘n goeie voorbeeld van Afrikaners waarna ek verwys wat die aanslag teen Afrikaans ontken en dan die wat dit erken uitkryt as eksklusiwiste wat in ‘n grot bly. U kommentaar getuig van die soorte houding wat nadelig is vir Afrikaans se toekoms deur die deur oop te maak vir transformasie en kultuur-eenmaking.

Okkie C Jansen van Vuuren ·

Ek veg met my beursie. Nou onlangs nog 2 motorhandelaars verlaat odat niemand Afrikaans wou praat nie ek my nuwe motor by die handelaar gekoop wat se werknemers Afrikaans kan praat. Ek weier tele-bemarkers wat nie Afrikaans kan praat nie. Maak my motor vol bydie joggies wat Afrikaans praat, en vra vir ‘n Afrikaanse kelner.
Koop geen kompakskywe van kunstenaar as elke vierde woord in die liedjes of in onderhoude Engels is nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.