Taalmuseum en -monument behoort aan gemeenskap, nie die staat

(Foto: Afrikaanse Taalmonument en -museum/Facebook)

Nathi Mthethwa, minister van sport, kuns en kultuur, en die departement se direkteur-generaal het gemoedere die afgelope week die harnas in gejaag met hulle voornemens om die Afrikaanse Taalmonument en -museum van Afrikaans te stroop sodat dit sogenaamd meer inklusief kan wees.

Uit die reaksies wat gevolg het, is dit duidelik dat:

  • die ANC se aanslag teen Afrikaans steeds meer momentum verkry – neem hierdie gebeure in ag saam met die Wysigingswetsontwerp oor Basiese Onderwyswette van die departement van basiese onderwys wat die voortbestaan van Afrikaanse skole bedreig en die minister van hoër onderwys en opleiding wat van mening is dat Afrikaans ʼn uitheemse taal is;
  • die minister en sy departement geen idee het waaroor die museum en monument gaan, of wat dit simboliseer nie; en
  • die staat of slegs een bepaalde instelling nie met gemeenskappe se kultuurgoedere vertrou kan word nie – dit is die plig van die gemeenskap as geheel.

Vir vele van ons wat al dekades lank by erfenisbewaring betrokke is (in my geval van 1984 af), is hierdie gebeure des te meer tragies. Ons het die harde les geleer dat ons mense lief is vir hulle geskiedenis, maar nogal suinig is om geld daaraan af te staan. Hulle sal maklik meer as ʼn R100 betaal om te fliek, maar as ʼn museum R50 toegangsgeld vra, is hulle knorrig.

Gebeure soos dié uitlatings van Mthethwa en kie herinner ons dat geen bewaringsinstelling se toekoms vanselfsprekend is nie. As ons ons plig teenoor ons voorouers en ons nageslag wil nakom om hulle kultuurdraers te wees, moet ons bereid wees om hulpbronne in ons erfenis te belê. Ons kan dit ook nie net aan een presterende instelling oorlaat nie – dit is wat ons as bewaringskundiges in die 1980s gedoen het. Dit was die blomtyd van museum- en bewaringskunde in die land, met internasionale restourateurs wat gewerf is om hier te kom werk, en ʼn kwalifikasie in museumkunde wat aan die Universiteit van Pretoria verwerf kon word en uitnemende vakkundiges afgelewer het.

Mense was aan die slaap gesus deur die prestasies en het byvoorbeeld geglo as die Taalmonument ʼn verklaarde staatsinstelling is, sal dit veilig wees met befondsing en volmag gegee aan die personeel om die instelling se etos te handhaaf, sonder vyandige inmenging.

Vandag het die destydse groei en praginstellings grotendeels in duie gestort. Van die museums het verdwyn, ander se bestuur is in die hande van leke op die terrein van erfenisbewaring maar mense wat deeglik geskool is in ideologie. Ek het al museums besoek waar rye uitstalkaste leeg staan omdat “Eurosentriese uitstallings verwyder is” – ons sal eerder niks uitstal nie as om die feit te noem dat wit Suid-Afrikaners ʼn bydrae tot die land gemaak het. Dit is wel simbolies, maar ook tragies en selfs gevaarlik, want dit dra die boodskap aan ons nageslag oor dat ons en ons voorouers geen reg op erkenning het nie. Om dié verdere rede is ons betrokkenheid by die uitbeelding van ons geskiedenis noodsaaklik.

Maar terug na die Taalmuseum- en monument.

In 2014 het die taalaktivis Cerneels Lourens, in samewerking met AfriForum, ʼn taalhofsaak oor veeltaligheid in die Kaapse Gelykheidshof gevoer. Ons deskundige getuie was prof. Fernand de Varennes, tans die Verenigde Nasies se spesiale beriggewer vir minderheidsaangeleenthede. Die saak het vinniger verloop as beplan en ons het ʼn ekstra dag in die Kaap gehad. Ek het besluit om die museum en monument vir prof. De Varennes te gaan wys. Dit was ʼn bibberkoue Kaapse reëndag, maar ons is warm met sambrele, stomende koffie en pannekoek ingewag. Deur die oë van dié taalkenner het ek my eie geskiedenis in ʼn nuwe lig ervaar.

Prof. Fernand de Varennes en personeel van die Taalmuseum en -monument (2014)

Ons kon sien hoe die monument uitbeeld dat Afrikaans sy wortels op drie kontinente het, maar in Suid-Afrika groei en hier op eie bodem ontwikkel is deur die opoffering van geslagte om een van slegs vier tale in die wêreld te wees wat in die twintigste eeu tot hoëfunksietaal kon ontwikkel, met ander woorde tot die punt waar dit van grondvlak gesprekstaal tot letterkundige en akademiese taal met ewe veel sukses gebruik kan word. Dit is ʼn enorme prestasie en iets wat almal in die land, trouens almal op ons kontinent moet vier, nie iets wat met mag en mening onderdruk moet word met kleinlike politieke speletjies nie.

Vir prof. De Varennes kon ek met trots vertel dat ek een van derduisende Afrikaanse skoolkinders was wat in die 1970s aan muntleggings deelgeneem het om die monument te help bou. Dit was nie ʼn groot staatstender wat ʼn klomp kaders verryk het nie, maar ʼn projek waaraan gewone mense soos ʼn skoolkind aan die Wes-Rand kon deel hê.

Nêrens in die uitstallings het ons iets ervaar wat enige ander taal in ʼn minderwaardige lig stel of enige persoon uitsluit nie. Nooit het ek gevoel ek moet verskoning vra aan hom oor ʼn sweempie eksklusiwiteit nie.

Vandag is dit steeds die geval. Die monument se simboliek word in 22 tale op die instelling se webtuiste uitgebeeld. Ek kan nie aan enige ander webtuiste in die land dink wat soveel moeite doen om meer tale te akkommodeer nie. Die programme van die monument is ewe inklusief vir mense van alle agtergronde, kulture en belangstellingsvelde.

Weet die minister dit? Stellig nie. Gee hy om? Nee, want hierdie hele aksie is ʼn projek van ideologiese magsvertoon en disrespek, plus ʼn handige weerligafleier van al die vergrype en korrupsie wat die regering tans kenmerk.

Wat nou? Ek wil glo ons almal, van ons uit erfenisgeledere (insluitend die uitnemende personeel van die instelling), kultuurleiers, taalstryders en ja, selfs vandag se skoolkinders moet ons aflosstokkie optel en sê Afrikaans is ons taal, dit is ons geskiedenis wat hier verbeeld word, en ons wil daaroor besluit. Nie ʼn politikus en sy kornuite nie, nie ʼn instelling wat vorentoe deel van die staat of ʼn ander ideologiese groep se apparaat word nie, maar óns, die gemeenskap.

Daar is baie instellings wat tans aksies ter ondersteuning van die behoud van die naam en aard van die instelling het. Ondersteun almal, ondersteun jou plaaslike erfenisbakens en bly betrokke! Dit is nog nie te laat nie.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Alana Bailey

Alana Bailey is lid van die Afrikaanse Taalraad en adjunk uitvoerende hoof van AfriForum (verantwoordelik vir internasionale skakeling, taal en kultuur).

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Marianna ·

Ja Alana, die Afrikaanse mat word onder ons uitgeruk op alle maniere denkbaar. Dat ‘n taal so gehaat kan word, dat daar so ‘n jaloesie omtrent Afrikaans kan bestaan? Of is daar ‘n ander agenda waarvan ons nie weet nie. Hoe lank moet ons nog dit aanvaar? Gaan ons dan nooit opstaan en regtig vir die regering sê dit hiertoe en nie verder nie? Maar sodra jy jou stem dikmaak word jy uitgekryt as ‘n rassis. Jy mag nie jou kultuur en taal verdedig nie. Dit moet stop!!!

domheks ·

Hulle ‘our people’ het NIKS om te wys nie, daarom die jalosie! Watmkan hulle wys wat hulle opgebou het – NIKS. Waar is hulle geskiedenis – het dit in 1994 begin?

groenboer ·

Of mens jou veel moet stur aan die ANC se histeriese aanvalle op Afrikaans weet ek nie; ek vermoed hulle is bloot bietjie desperaat, want dit word duidelik hulle dae as alleenregeerder is getel.

Ek sou my eerder oor Afrikaners bekommer, want as ek so om my kyk sien ek nie juis veel belangstelling in ons kultuurerfenis nie, en die taalmoord wat ons eie mense vrywillig pleeg is veel erger as enigiets wat die ANC al kon regkry.

As die ANC ‘n Afrikaanse dorp se naam verander, val ons almal maar gedweë in en begin die nuwe naam gebruik. Wanneer die weermagte van die politieke korrektes besluit ons praat nou van “leerder” eerder as “leerling,” dan volg ons ook maar almal soos skapies.

Intussen is omtrent geen sogenaamde Afrikaansspreker onder die jongeres meer Afrikaans magtig nie; hulle kan nie ‘n sin uitkry wat nie vol Engelse woorde is nie, weet nie meer wat ou bekende spreekwoorde en idiome betken nie ens. Afrikaans word nie vermoor nie; hy is besig om selfmoord te pleeg.

Nettie ·

Ons word oor die vingers getik oor ons nie genoeg geld spandeer nie. Mevrou, besef u vir hoeveel sake is ons Afrikaners verantwoordelik, en waaroor ons gereeld oor die vingers getik word? Burgerregte, monumente, skole, kerke, taalorganisasies, selfs ons paaie se onderhoud moet deesdae uit ons Afrikaner sakke kom, dit na belasting, kosprys stygings en petrol wat die hoogte inskiet.

Ons spandeer dalk R100 op ‘n fliek of R300 op ‘n wegneemete vir die gesin, maar ons spandeer ook duisende elke maand aan ons kinders se skole, ons kerke, Afriforum of Solidariteit, versekerings en veiligheidsgroepe, gesondheidsdienste en minimumlone vir werkers.

Dis net gee gee gee, en wanneer ons nie vir ‘n spesifieke plek of organisasie genoeg gee volgens hulle oordeel nie, word ons oor die vingers getik. Lyk my ons moet alle flieks, wegneemetes, speelgoed vir ons kinders en familie byeenkomste stop, en net gee vir almal behalwe ons eie gesinne en kinders. Miskien sal ons dan minder raaskry….

Alana ·

Jou eerste verantwoordelikheid lê beslis by jou gesin en jouself – nêrens vra ons skeep jou gesin of jou lewe af om gemeenskapsake te befonds nie. As iemand ook nie die vermoë het om te kan help nie, oordeel niemand nie. Waarteen ek dit wel het, is dat daar mense is wat feitlik geen bydrae wil lewer buiten kritiek nie, maar altyd die verantwoordelikheid aan ander oorlaat. Hoeveel mense wat nou planne vir die Taalmonument uitdink, was al ooit daar?

Die tragiese werklikheid is dat bitter min van gemeenskappe se belastinggeld ten bate van hulleself aangewend word. Dan is die keuse leef daarmee saam en kry jouself jammer, of rol jou moue op en doen iets vir jouself en jou gemeenskap hetsy met jou geld, tyd, kennis of ander hulpbronne. Ek werk elke dag met sulke doeners en sien en waardeer die verskil wat hulle maak.

Dus, ons raas nie, Nettie, ons vra mooi, want ons wil die wêreld bietjie mooier los as wat ons hom gekry het. Dalk naïef en idealisties, maar wat is die alternatief?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.