Taaloorlewing en taalbevordering

Die Afrikaanse Taalmonument

Die Afrikaanse Taalmonument

Inleiding

Mense stel van oudsher belang in die lotgevalle van tale. Die Ou-Testamentiese profeet Nehemia beskryf byvoorbeeld taalverskuiwing – die proses waardeur ’n taalgroep sy oorspronklike taal verloor en ’n nuwe taal aanneem. Die proses het ongeveer 400 v.C. plaasgevind toe sommige Jode met Asdodiese, Ammonitiese, Moabitiese vroue getrou het. “En van hulle kinders het die helfte Asdodies gepraat, of die taal van watter volk ook al; maar hulle kon geen Joods praat nie.” (Nehemia 13:23–5; 1933/1953-Bybelvertaling)

Teen die einde van die 20ste eeu het sommige geleerdes geïnteresseerd geraak in die toekoms van bedreigde tale. So is daar onderskeid tussen (1) “reddeloos verlore” tale wat nie meer deur kinders as moedertale aangeleer word nie, (2) “bedreigde” tale wat wel as moedertale geleer word, maar wat minder as 100 000 sprekers het, en moet meeding met ander tale wat dominant is en vir die jeug ’n aantrekliker alternatief vorm as hul eie taal en (3) voorlopig “veilige” tale, wat deur kinders geleer word, meer as 100 000 sprekers het en die offisiële taal van ’n nasie of land is en dus ’n mate van steun deur die owerheid geniet.

Wat ’n mens tref, is die waarde wat aan getalle geheg word. ’n Taal groei as sy aantal sprekers toeneem, en dit kwyn as die getalle daal. Hierdie toename en afname word beïnvloed deur drie soorte prosesse. Dit is (1) demografiese prosesse soos geboortesyfers en emigrasie of immigrasie, (2) taalverskuiwing, ’n kulturele prosesse wat bepaal word deur die beleid en praktyke van die politieke, ekonomiese en ander maghebbers en (3) pogings tot taalhandhawing deur die nie-dominante taalgemeenskappe om die taal te behou en te bevorder.

Demografie

Gemeenskappe kan groei as gevolg van onder meer hoë geboortesyfers en kwyn vanweë siektes en ander rampe, lae geboortesyfers en emigrasie. Afrikaans het sedert 1900 mense verloor in die konsentrasiekampe van die Anglo-Boereoorlog, die Spaanse griep van 1918 en ná 1994 deur emigrasie. Die Instituut vir Rassebetrekkinge het bereken dat sowat 850 000 wit Suid-Afrikaners tussen 1995 en 2005 geëmigreer het; sommige sê dis ’n miljoen. In die ouderdomsgroep 25 tot 29 het 550 000 wit mense sedert 1996 uit die land verdwyn. Sowat die helfte kan Afrikaans wees.

Wat verder teen veral Afrikaners tel, is ’n lae geboortesyfer. Wit mense het die vervangingsvlak (gemiddeld 2,1 kinders per vrou) teen die laat 1980’s bereik, die Indiërbevolking teen die laat 1990’s, en die bruin bevolking waarskynlik omstreeks 2010. Die wit geboortesyfer het in die afgelope 50 jaar gedaal van 3,5 in 1960 tot 1,8 in 2001 en 1,7 in 2010. Die persentasie wit Afrikaanssprekendes daal in vergelyking met die ander groepe. Volgens die 2011-sensus is 2 710 461 Afrikaanssprekendes wit, 3 442 164 bruin, 602 000 swart en 58 700 Indiër.

Ook binne die groot geheel verkeer Afrikaanssprekendes in ’n benarde posisie. Die swart bevolking sal die vervangingsvlak eers teen 2035 bereik. Volgens die 2011-sensus is 79,2% (meer as 41 miljoen) van die 51,7 miljoen Suid-Afrikaners swart, 8.9% (4,6) bruin, 8,9% (4 586 383) wit en 2,5% (1,2 miljoen) Indiër. Immigrasie, veral uit Afrika, maar ook uit ander lande, het na 1990 en in die besonder na 1994 geweldig toegeneem. Niemand weet hoeveel onwettige immigrante daar in Suid-Afrika is nie, maar ramings wissel tussen drie en 12 miljoen. Die demograaf Flip Smit se raming in 2010 is tussen agt en nege miljoen.

Nie net die getalle is belangrik nie, maar ook die verspreiding. Die konsentrasie Afrikaanssprekendes is die sterkste in die dunbevolkte Noord-Kaap. Die meeste Afrikaanssprekendes woon in gebiede met ’n taalgemengde bevolking.

Die 2011-sensus toon 13,5% van Suid-Afrikaners se huistaal is Afrikaans. Dit is 6,85 miljoen mense. In 2001 was dié syfers 13,3% en 5,98 miljoen. Afrikaans is steeds die taal wat die derde meeste tuis gepraat word. Die gebruik van isiZulu, die grootste huistaal in die land, het afgeneem van 23,8% van die bevolking in 2001 tot 22,7% in 2011. Die tweede meeste word isiXhosa gepraat, hoewel die gebruik daarvan ook ’n bietjie afgeneem het tot 16%. Die aantal Suid-Afrikaners wat sê hul huistaal is Engels, het van 8,2% in 2001 toegeneem tot 9,6% in 2011. Dit kan wees dat ’n deel van die geringe groei van Afrikaans en die sterker groei van Engels toe te skryf is aan taalverskuiwing.

Die meeste en steeds groeiende aantal Afrikaanssprekendes woon in die Wes-Kaap (meer as 2,8 miljoen), gevolg deur Gauteng (meer as 1,5 miljoen) en die Oos-Kaap (683 410). Meer as 1,3 miljoen Afrikaanssprekendes woon in die Kaapse metropool, gevolg deur Tshwane (536 590), Ekurhuleni (375 611), Nelson Mandelabaai (333 442) en die Johannesburgse metropool (318 063).

Taalverskuiwing

Volgens een definisie van taalverskuiwing (deur Vic Webb en Kembo-Sure) verwys dié term na ’n proses waarin die sprekers van een taal ’n tweede taal vir al hoe meer funksies gebruik, totdat hulle uiteindelik slegs die tweede taal gebruik, selfs in persoonlike en intieme kontekste. Die taalverskuiwing is voltrek wanneer die tweede taal ’n simbool van die sosiaal-kulturele identiteit van hierdie sprekers word.

Taalverskuiwing vind plaas wanneer ’n groep se eie taal funksies en status verloor deur die besluite van maghebbers en ook deur die keuse van die sprekers. Die 19de-eeuse Kaapkolonie, toe die tuiste van die meerderheid Afrikaners, toon hoe taalverskuiwing verloop. Ná die Britse besetting het die owerheid ’n aantal taalbesluite geneem wat Engels as die enigste openbare taal gevestig het. Engels is gebruik vir die “hoë funksies” – die onderwys, die regbank, die landsbestuur, amptelike transaksies en die vernaamste werk; dit was die taal van ekonomiese vooruitgang. Afrikaans was die taal van die “lae funksies” – dit is in die meeste huisgesinne en in vriendskaplike gesprekke van veral die plaasmense gepraat.

Om vooruit te kom in die lewe, moes ʼn mens Engels leer, en dus is die kennis van Engels geassosieer met sosiale en ekonomiese vooruitgang. Jongmense het al hoe meer Engels met mekaar en in die openbaar gaan praat, en ouers het ook ál meer Engels met hul kinders gepraat. Die situasies, waarin Engels gebruik is, het uitgebrei, en situasies waarin Afrikaans gebesig is, het verminder.

Nog ’n faktor wat taalverskuiwing raak, is die taalkeuse van gesinne in veral taalgemengde huwelike. In die 19de-eeuse Kaapkolonie het sommige Afrikaners in die oorwegend Engelse groter dorpe en stede soos Kaapstad verengels, maar party afstammelinge van die Britse setlaars op die Afrikaanse platteland het verafrikaans, veral wanneer hulle met Afrikaners getroud was.

Dit is veral die skool wat ’n belangrike instrument vir verengelsing in Suid-Afrika was – veral in die Kaapkolonie, maar ná die Anglo-Boereoorlog ook in die Vrystaat en Transvaal. Buitendien word die proses vrywillig wanneer die kinders en ouers meen dat Engels die taal is wat hulle nodig het vir hul loopbane en verdere studie.

Ná 1994 het die omstandighede weer gunstig vir verengelsing geword. Die ANC-bewind het Afrikaans op verskeie belangrike terreine benadeel.

Televisiekykers kon dit reeds in 1994 gewaar toe die SAUK sy sendtyd in Afrikaans drasties ingekort het. Media Monitoring Africa het in 2012 vasgestel dat 76% van die SAUK se TV-uitsendings in Engels is, 6% in Afrikaans en 5% in isiZulu. Die res van die tale kry almal onder 5%. Buitendien is tot 37% van die Afrikaanse programme herhalings van episodes van die sepie 7de Laan. Die SAUK maak geen Afrikaanse kinder- en jeugprogramme nie. Vanjaar is die Afrikaanse nuus oor SABC2 gestaak en die gevolg is dat tienduisende mense in die Noord-Kaap en in dele van ander provinsies nie meer toegang tot Afrikaanse televisienuus het nie.

Die staatsdiens, semi-staatsinstellings en party private ondernemings is verengels as gevolg van aanstellings wat weens regstellende aksie en verteenwoordigendheid gemaak is.

Dis polities inkorrek om dit te sê, maar integrasie benadeel die nie-dominante tale. Baie mense voel dis verkeerd om dit teen te staan, maar die integrasie van lede van verskillende taalgroepe op die werkplek, vergaderings en party sosiale geleenthede veroorsaak die verengelsing daarvan. Op skool en universiteit lei integrasie in die vorm van dubbelmedium tot Engels as enigste voertaal, tensy maatreëls soos ’n tolkdiens dit verhinder.

Alle universiteite vir tegnologie (die technikons van vroeër) is nou Engels. Eintlik bestaan daar geen Afrikaanse universiteit meer nie, wel ’n paar waarby Afrikaans as een van die onderrigtale gebruik mag word. Afrikaans is darem nog ’n onderwystaal op skool, maar onderwysdepartemente het ’n aantal Afrikaanse openbare skole gedwing om na dubbel- of parallelmedium oor te skakel. Hofaksies was dikwels nodig om Afrikaans as onderrigtaal te beskerm.

Wat die baie tale deesdae wêreldwyd kwesbaar maak, is globalisering wat selfs vir betreklik veilige tale probleme skep. Engels is die taal van aan die een kant pornografie en die dwelmhandel, maar aan die ander kant die internasionale handel en die georganiseerde godsdiens; die taal van die meeste wetenskaplike tydskrifte en internasionale kongresse; dit word vereenselwig met die demokrasie en die kapitalisme. In Afrika is Engels en die ander gewese koloniale tale die amptelike tale om verdeeldheid op grond van stamgevoelens en taalnasionalisme te voorkom.

Taalhandhawing deur bedreigde taalgemeenskappe

Taalverskuiwing as gevolg van ’n verlies van funksies kan net teengestaan word waar daar ’n redelik sterk mate van taalbewustheid en taalgetrouheid in ’n taalgroep bestaan, veral by die elite. Dié is in staat om invloed uit te oefen deur middel van hul menings in die media, en soms besluite wat die politieke en ekonomiese lewe raak.

Taalverskuiwing is dikwels die gevolg van die onvermoë van ’n gemeenskap en sy leiers om in te sien dat hulle iets moet doen om hul eie taal te behou. Dit lyk gewoonlik vir die lede van ’n nie-dominante groep of hul eie taal geen voordeel inhou vir hulle of hul kinders nie, en hulle is dikwels onbewus van die gevaar dat hul taal kan verdwyn. ’n Noodsaaklike voorwaarde vir taalhandhawing is ’n bewustheid van die bedreiging. Die leiers moet die gemeenskap bewus maak van bedreigings maar op so ’n wyse dat hulle moed hou en nie in wanhoop en défaitisme verval nie.

Maar ewe noodsaaklik vir taalhandhawing is die wil om die bedreigde taal te laat voortbestaan. Taalverskuiwing verloop stadiger waar die sprekers ’n hoë waardering vir hul taal, letterkunde en ander kulturele werk het. Waar die taal ’n belangrike simbool van volksidentiteit is, sal dit oor die algemeen langer behoue bly as in gemeenskappe wat die taal beskou as slegs ’n instrument wat verruil kan word vir iets doeltreffender.

In Afrikaans het taalgetrouheid in die vorm van ’n taalbewuste etniese nasionalisme ’n lewensbelangrike rol gespeel om dit ná die Anglo-Boereoorlog te red. Afrikaans en Hollands het funksies en status verloor en Afrikaans was vir baie Afrikaners én nie-Afrikaners ’n taal waarop hulle neergesien het. Maar Afrikaanse politici, predikante, joernaliste en onderwysleiers het, soos die historikus Paul Zietsman dit stel, die gedagte ingegrif dat dit die Afrikaner se nasionale, morele en selfs godsdienstige plig is om sy taal te bewaar. Taalgetrouheid het die primêre toets vir Afrikanerskap geword, en Afrikaners wat Engels as hul taal aanvaar het, is as volksverraaiers beskou en verag. Die taal en godsdiens was al wat hulle nog oor gehad het, en dít mog hulle nooit prysgee nie. Taalorganisasies, kerke, politieke partye, onderwysers- en vroueverenigings het aan die taalstryd deelgeneem.

Dit is in dié tyd dat taalgetrouheid en dikwels ’n strewe na taalbevordering ’n eienskap geword het van Afrikaner-identiteit, of ten minste die identiteit van baie Afrikaners. Hierdie kwalifikasie is nodig, want die lede van ’n volk of ’n taalgemeenskap reageer nooit almal op dieselfde manier op probleme nie. In ons tyd het verskeie Afrikaanssprekendes Afrikaans as openbare taal prysgegee. Maar talle het hul taal bly gebruik, selfs in staatsinstellings. Die taal floreer in Afrikaanse openbare skole met hul bekwame en toegewyde onderwysers. Radio Sonder Grense het met vindingryke en vriendelike aanbieders Afrikaans gebly en die aantal luisteraars raak-raak aan twee miljoen.

Ook om ander redes is die verhaal van Afrikaans ná 1990 nie slegs een van amptelike miskenning en negatiewe prosesse soos emigrasie en verengelsing nie. Daar is ook ’n ander storie: dié van positiewe reaksies op nuwe uitdagings.

Afrikaanssprekendes maak gebruik van die middele waarmee taalgroepe hulle ook in ander lande verweer teen ’n onsimpatieke of vyandige owerheid. Dit is die opbou van die kultuur, die aankweek van groter taalgetrouheid, taalaktivisme (soos hofaksies) en die verwerwing van groter selfstandigheid deur die stigting van eie instellings waaroor die regering geen seggenskap het en waarop dit dus nie sy verengelsingsbeleid kan afdwing nie.

Die ruimte ontbreek om hier volledig oor die kultuur uit te wei: die gehalte en verskeidenheid van fiksie en nie-fiksie, die groot aanhang wat Afrikaanse ligte musiek geniet, die “rolprent-renaissance”, soos een kenner dit noem, die groot kunstefeeste wat die toneel en musiek bevorder. Die Afrikaanse gedrukte en digitale koerante en tydskrifte is nog altyd van die belangrikste instellings die taal in stand hou.

Die bewind het Afrikaanssprekendes gedwing tot ’n selfstandiger lewe. Die Woordeboek van die Afrikaanse Taal moet self geld insamel deur middel van sy “Borg ’n Woord”-veldtog nadat die staat sy subsidie verminder het.

Die drastiese inkorting van Afrikaanse TV-programme oor die SAUK het gelei tot ’n eie Afrikaanse televisiekanaal. Nuwe ontwikkelings in die kommunikasiebedryf het dit moontlik gemaak. Multichoice se digitale satellietdiens, DStv, het op 15 November 1999 met ’n volwaardige Afrikaanse kanaal, kykNET, begin. Vir dié groeipunt vir hul taal moet Afrikaanssprekendes mense soos Koos Bekker en Ton Vosloo bedank.

kykNET het binne enkele jare die plek ingeneem wat die Afrikaanse diens van die ou SAUK vroeër gehad het. ’n Groot verskeidenheid programme is vervaardig en werk is aan honderde verskaf. Van 1 Julie 2010 af het kykNET ’n eie nuusdiens gekry. Tans saai kykNET oor drie kanale uit. Dit is ook moontlik om in Brittanje daarop in te teken.

Een van die mees vernuwende bewegings op die pad na ’n selfstandiger lewe is die Solidariteit Beweging. Die vakbond Solidariteit se voorganger is in 1902 gestig en het in 1913 die naam Suid-Afrikaanse Mynwerkersunie (MWU) gekry.

Sy huidige uitvoerende hoof, Flip Buys, is in 1997 op 34-jarige leeftyd tot hoofsekretaris van die MWU verkies. Die vakbond was finansieel, organisatories en polities in die moeilikheid. Buys het ’n hele groep jong, energieke en bekwame kundiges soos Dirk Hermann betrek om die vakbond grondig te herorganiseer en te help sorg dat MWU-lede nie die slagoffers word van gedwonge sosiale en politieke manipulasie nie, en om te help dat hul taal, kultuur, tradisies, gebruike, godsdiens en vryheid erken en eerbiedig word. Een van die eerste take was om ’n arbeidskode vir billike dienspraktyke met 50 riglyne vir die billike toepassing van regstellende aksie bekend te stel. Die MWU het onbillike regstellende aksie as “institusionele rassisme” en “etniese suiwering” beveg en die miskenning van Afrikaans as voertaal in die werkplek met grondwetlike middele teëgegaan.

Verskeie ander vakbonde het by die MWU ingeskakel en in 2001 het ’n nuwe entiteit, MWU-Solidariteit, tot stand gekom (sedert September 2002 net Solidariteit). Dit was nodig as teenvoeter teen diskriminasie teen die Afrikaanse minderheid. Die naam Solidariteit is geïnspireer deur Solidarinosc, die Poolse vakbond wat in die 1980’s die werkers gemobiliseer en gehelp het om van die kommunistiese regime ontslae te raak. Solidariteit se ledetal het van 30 000 in 1997 gestyg tot sowat 150 000 in 2013.

Die Solidariteit Beweging is die beste voorbeeld van ’n moderne taalbeweging. Weens die verengelsing van tegniese onderwys en opleiding het Solidariteit nuwe instellings ontwikkel, soos Sol-Tech, ’n Afrikaanse tegniese kollege, en Akademia, ’n Afrikaanse telematiese universiteit. Die publiek hoor feitlik elke dag van die werk van ander organisasies soos Solidariteit Helpende Hand, die FAK, Maroela Media, en die burgerregte-organisasie AfriForum, wat nou al 105 000 lede het en op talle terreine bedrywig is.

Daar is nog talle ander inisiatiewe soos die ATKV. Ook bestaan daar verskeie private Afrikaanse Christelike skole en kolleges.

Een van die stigters van die Vereniging van Regslui vir Afrikaans, prof. Koos Malan, verduidelik die filosofie van “direkte strategie” van dié vereniging só: “Moenie iemand anders vra om iets vir jou te doen nie; moenie eers probeer om die regering te beïnvloed of om soos ’n party aan bewind te kom voor jy iets kan doen nie; doen dit self – summier. Jy kan baie dinge doen en so regstreeks iets vir jou taal en jou mense doen.”

’n Mens kan taalgetrouheid en taalaksies nie heeltemal losmaak van die heersende ideologie nie. Aan die begin van die 20ste eeu was die groot aggressiewe Europese nasionalismes maar ook die verdedigende etniese nasionalismes taal-georiënteer. Taalaksies was feitlik vanselfsprekend. Vandag is die heersende ideologie ’n hiper-individualistiese liberalisme.

Lawrence Schlemmer noem (in ’n openbare lesing in 2010) die liberale individualisme een van drie kragtige ideologiese denkrigtings wat geneig is om die strewes van etniese minderhede te minag en teen te staan. Die ander twee is die oorkoepelende staatsgebaseerde nasionalisme en die sentralistiese sosialisme. Intellektueel verhewe meningsvormers, selfs binne minderheidsgroepe, voel hulle tot hierdie hoë status- en universele denkrigtings aangetrokke. Gevolglik word die ideologieë ingespan om meer gemeenskapsgerigte denke binne minderhede te verkleineer en diskrediteer. Schlemmer se siening word bevestig deur die minagtende kritiek wat sommige Afrikaanse meningsvormers in die dekade ná 1994 uitgeoefen het op pogings om die verwaarlosing van Afrikaans te stuit.

Schlemmer sê die liberale rigting is die heersende denke onder middelklasse in die wêreld. Vandag is daar geen land of volk wat nie deur die krag van liberale idealisme beïnvloed word nie. Dit het boonop die aantreklike en onskuldige karakter van ’n besonder versoenende en mensliewende filosofie.

“Versoening” tussen kulture en tale word egter vereenvoudig tot integrasie of die “inlywing” van identiteite. Die taalminderhede moet in die meeste gevalle die inisiatief neem om aksies vir taalbeskerming te loods, dikwels met karige hulpbronne omdat hulle nie fatsoenlike teikens vir hulpverlening of skenkings is nie. Dit is makliker om geld vir die bewaring van vosse in Engeland te mobiliseer as wat dit is om skenkings vir die bewaring van die sterwende Korniese streektaal te kry, sê Schlemmer.

Dit kan wees dat die aantrekkingskrag van die individualistiese liberalisme minder sterk word vir Afrikaanssprekendes. Heel moontlik dra die sukses van sommige eie instellings daartoe by.

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

2 Kommentare

Ant ·

‘n bemarkings veldtog onder afrikaanse besigheids mense wat in die vermoe is om hul besighede te verskuif sal help om die Afrikaner gemeenskap wat reeds die grootste gemeenskap in die weskaap en noordkaap is, verder te vestig en versterk. Baie mense vra wat kan ons doen vir die behoud van ons land. die antwoord is ons met weer produktiewe en veilige gedeeltes opbou deur saam te groepeer. Solidariteit en afriforum is instansies wat die vermoe het om uit te reik na Afrikaners en ‘n strewe na ‘n beter land weer moontlik te maak. Daar gaan baie teenstand wees selfs uit eie geledere, maar het die 4.5mil wittes ‘n ander keuse?

Wat ons nou nodig het is ‘n plan, en ek is seker die eiendomsagente en klein besighede is die beginpunt. Sodra die mense in die regte areas is sal die ekonomiese groei volg.

coeneaad ·

Uitstekende artikel. Ek stem nie heeltemal saam oor die gevare van individualisme (liberalisme) vir minderhede nie. Terselfdertyd moet ek sê dat die *liberalisme* wat tans hoogty vier (na my mening), nie die tradisionele liberalisme is wat ek aanhang nie – dit is meer ‘n paternalistiese verwaantheid wat voortskriftelik die gemeenskap op sleeptou probeer neem in die rigting van sosialisme. Dus: die moontlikheid is daar dat ek en die skrywer nie verskil nie maar slegs mekaar mis met terminologie .

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.