Taalregte is ’n noodsaaklikheid, nie ’n luukse nie

afrikaans

Argieffoto.

Lede van die publiek wat kommentaar op artikels oor die toekoms van Afrikaans lewer, vra dikwels of daar nie belangriker kwessies as die welsyn van dié taal, of selfs taalregte oor die algemeen, is nie. Verskeie kommentators doen dit ook.

Daarby is daar dikwels mense wat ontken dat Afrikaans se toekoms onseker is en as motivering aanvoer dat die Afrikaanse kunste dan juis tans so goed vaar.

So goed gaan dit nie werklik nie. Onlangs moes ons byvoorbeeld verneem dat die RSG Kunstefees vanjaar weens geldnood in die slag bly. Al gedy kunste, is dit dus geen vanselfsprekendheid dat dit volhoubaar is en aan die taal ’n toekoms bied nie.

Ongelukkig is ’n polsende kultuur en trotse verlede nie al wat nodig is nie – ’n taal moet aktief op alle lewensterreine gebruik word om steeds te ontwikkel en groei.

Maar terug na die vraag. Wanneer taalaktiviste kommer oor die toekoms van Afrikaans uitspreek, is dit nie ’n krampagtige poging om bevoorregting te verskans nie. Ons vra die regte vir Afrikaans wat ons ook vir ander taalgemeenskappe gun. Sommige tale moet nog groei om akademies op dieselfde vlak as Afrikaans gebruik te kan word, maar dit is vinnig aan’t gebeur – kyk byvoorbeeld wat met Xhosa by Rhodes-universiteit gebeur. Vanjaar het die eerste student sy doktorsgraad daar met ’n tesis in Xhosa behaal.

Omdat Afrikaans egter tans nog die enigste taal naas Engels is wat in alle vakgebiede op die hoogste akademiese vlak gebruik kan word, voer die kritici van diegene wat Afrikaanse taalregte wil beskerm aan dat die taal en sy sprekers nie bevoorreg mag word bo die ander nege inheemse tale nie.

Hierdie argument oor bevoorregting is eintlik besonder vreemd. Volgens die nasionale sensus van 2011 is die meerderheid eerstetaalsprekers van Afrikaans nie wit nie, maar van Engels, wel. Tog moet Afrikaans terugstaan vir Engels om “wit bevoorregting” te voorkom. Dit maak tog nie sin nie en bewys duidelik dat dit nie in die taalkwessie om enige sogenaamde regstelling gaan nie, maar om die straf van ’n bepaalde gemeenskap, ten koste van al die taal se sprekers en die land as geheel.

Nog ’n rare verskynsel is dat die Afrikaanssprekendes wat betoog dat die verdwyning van die taal uit openbare sfere soos universiteite, die regstelsel en die besigheidswêreld “regverdig is”, oor die algemeen ouer mense is wat hulle opleiding en loopbane in Afrikaans kon vestig. Hulle gun egter nie jong Afrikaanssprekendes wat vandag ’n toekoms moet bou dieselfde geleentheid nie.

As ons dus aanvaar dat die argumente teen Afrikaans drogredenasies is, waarom moet die beskerming en bevordering van hierdie groot wêreldtaal ’n prioriteit wees?

Voordat die taalonkundiges se wenkbroue lig, daar is tans 7 099 tale in die wêreld, soos bereken deur Ethnologue, die mees gesaghebbende instansie oor die verskeidenheid tale. Aan die hand van Ethnologue se inligting meen die kenner op die gebied, prof. Wannie Carstens, dat Afrikaans iewers tussen die 110de en 120ste grootste bestaande taal is.

Afrikaans is dus groot genoeg om bevordering en beskerming te regverdig. Verder bied dit ook toegang tot die verstaan en maklike aanleer van onder meer Nederlands en Duits. Dit het dus wyer invloed as net plaaslike belang. Dit word ook bewys deur die groot aantal lande waar Afrikaans tans as vak aangebied word – van die VSA en Sjina, tot in verskeie Europese lande.

Meer nog, taalregte word internasionaal as ’n basiese mensereg erken. Die regverdiging van die afskaling van ’n taal soos Afrikaans se gebruik waar die sprekers nie ingrypend verminder nie, is ’n skending van die sprekers se regte en ’n miskenning van hulle identiteit. Dit verklaar waarom taal so ’n emosionele kwessie is en waarom mense wêreldwyd al bereid was om te sterf vir die reg om hulle eie taal te gebruik – dit het vir hulle nie om die ontkenning van ’n kommunikasiemedium gegaan nie, maar om wat hulle beleef het as die minagting van hulle wese.

Waar sprekers toegang tot onderrig en dienste in hulle eie taal het, is daar hoër geletterdheidsvlakke, mense hou oor die algemeen langer aan om te studeer, werkloosheid is gevolglik laer, die ekonomie sterker en politieke stabiliteit groter.

In Suid-Afrika is daar juis ʼn groot behoefte aan al hierdie tendense. Waar daar hoë geletterdheid is, kan stemgeregtigdes nie so maklik aan die neus rondgelei word nie, met die gevolg dat politici verantwoordbaar gehou word.

Met meer kennis en minder werkloosheid word armoede en misdaad vanselfsprekend teengewerk.

So kan die bevordering van Suid-Afrikaners se taalregte betekenisvol bydra tot die oplossing van Suid-Afrika se vernaamste probleme.

’n Taalregteaktivis, ongeag watter taal hy of sy bevorder, is iemand wat die belange van sy eie gemeenskap, maar ook dié van die groter samelewing dien. Ons gun onsself en die sprekers van ander tale die geleentheid om tot ons hoogste potensiaal te kan ontwikkel in eie taal, om met waardigheid behandel te word en ook deur beter vaardigheid in eie taal, meer vaardig in meer tale te word.

Die bevordering van taalregte, waaronder Afrikaanse taalregte, is dus ’n noodsaaklikheid. Ons mag ons nie laat mislei om te glo dat ander kwessies soveel belangriker is, dat ons taal maar kan ignoreer of onbepaald kan uitstel om aandag daaraan te gee nie. Elke moedertaalspreker het die verantwoordelikheid om sy of haar taalregte deurlopend te beskerm en uit te bou. Almal sal daarby baat!

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Alana Bailey

Alana Bailey is lid van die Afrikaanse Taalraad en adjunk uitvoerende hoof van AfriForum (verantwoordelik vir internasionale skakeling, taal en kultuur).

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Antoinette Burger ·

Ek begryp nie waarom die vervaardigers van 7de Laan toelaat dat Afrikaans so gruwelik geskend word nie. Die Engelse programme vermeng nie hulle taal so aaklig met Afrikaanse terme nie. Engelse kykers kan dit mos in elk geval volg. Dis nie nodig om voor te gee dat hulle nie bv. “daarin sal slaag” of “regkry” sal verstaan nie. Watter aaklige uitdrukking is af-“pull” bv. nie. En waarom bv. “relationship” gebruik? Wat is verkeerd met “verhouding?” Is dit miskien ‘n vloekwoord wat nie in ordentlike geselskap gebruik mag word nie?

Antoinette Burger ·

Waarom, o waarom, word Afrikaans so verkrag in 7de Laan? Engelse kykers kan die storielyn mos in elke geval volg sonder Engelse uitdrukkings – wat dikwels nie eers werklike uitdrukkings is nie. Watter tipe woord is “af-pull” nou weer? En waarom bv. ‘n woord soos “relationship” in ‘n Afrikaanse sin gebruik? Is “verhouding” dan ‘n vloekwoord wat nie in ordentlike geselskap gebruik mag word nie?

JC ·

Dankie Alana,

Jou rubriek word voorwaar waardeer!
Afrikaans Leef!

Therese van Schalkwyk ·

Puik artikel!

Dit is noodsaaklik dat taalregte gereeld bespreek word, maar hoe stiksieniges oortuig gaan word dat kunstefeeste alléén nie voortbestaan verseker nie, en dat die lewe daar buite nié slegs in Engels geleef word nie, weet nugter alleen.

‘n Glas-halfleeg-soort-van-mens sou redeneer dat die koeël deur die kerk is wat Afrikaans op akadeniese gebied betref. Universiteitslesingsale en bedreigde Afrikaanse skole getuig daarvan.

Met Afrikaanssprekendes aan die spits van die vernietiging lyk sake maar donker.
Suiwer Standaard-Afrikaans word al sedert 1994 selfs deur die Afrikaanse Taalraad afgeskeep en ondergeskik gestel aan Kaapse Afrikaans. Dit was duidelik vir enigeen wat belang gestel het en gelees het.
Sterkte vorentoe.

Henriette Jacobs ·

Weldeurdag, sinvol en op die man af. Dankie!! Die aanslag is enorm en dit bly hartseer dat soveel invloedryke Afrikaners die knie buig. My dogter het so pas haar MA-verhandeling(Afrikaanse prosa) voltooi omdat sy ‘n passie vir Afrikaans het. Mag ons nooit boedel oorgee nie!

rassie ·

Ek stem saam met alles wat die outeur meedeel.

Ook daarmee dat dit elke moedertaalspreker se verantwoordelikheid is om sy of haar taalregte voortdurend te beskerm en uit te bou.

Sou egter goed gewees het as die artikel ook praktiese riglyne kon aandui van presies hoe dit in die praktyk gedoen moet of kan word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.