Taalregte van álle minderheidstale slegs op papier erken

dr-leopold-scholtz-kruispaaie

Dr. Leopold Scholtz. Foto: Reint Dykema.

Artikel 6(1) van die Suid-Afrikaanse Grondwet – deel van Hoofstuk 1, die “Grondliggende bepalings” – noem die 11 tale wat die status van “amptelike tale” geniet. Onder hulle word ook Afrikaans genoem.

Artikel 6(2) bepaal: “Gesien die historiese inkorting van die gebruik en status van die inheemse tale van ons mense, moet die staat praktiese en daadwerklike maatreëls tref om die status van dié tale te verhoog en hul gebruik te bevorder.” Artikel 9(3) verbied diskriminasie op ’n aantal gronde, onder meer taal.

Artikel 29(2) voeg hieraan toe: “Elkeen het die reg om in openbare onderwysinstellings onderwys te ontvang in die amptelike taal of tale van eie keuse waar daardie onderwys redelikerwys doenlik is. Ten einde doeltreffende toegang tot en verwesenliking van hierdie reg te verseker, moet die staat alle redelike alternatiewe in die onderwys, met inbegrip van enkelmediuminstellings, oorweeg…”

Artikel 30 gee aan elkeen die reg om “die taal van eie keuse te gebruik en om aan die kulturele lewe van eie keuse deel te neem”, solank dit nie “onbestaanbaar” met die Handves van Regte is nie. In die daaropvolgende artikel – 31 – kry almal die reg om saam met ander lede van hul gemeenskap “hul kultuur te geniet, hul godsdiens te beoefen en hul taal te gebruik”, en om “kultuur-, godsdiens- en taalverenigings te vorm”.

Kortliks gestel is dit die regte wat Afrikaanssprekendes van alle kleure en geure kragtens die Grondwet geniet. In ’n grondwetlike demokrasie, soos dié waarop die ANC/SAKP aanspraak maak, sou jy dus verwag dat die regte sonder meer nagekom word.

Dit is egter nie die geval nie. In die praktyk word talle regte slegs op papier erken, maar in die praktyk óf sleg, óf net gedeeltelik, óf glad nie toegepas nie. Onder sulke regte val ook die taalregte van álle minderheidstale in ons land, met inbegrip van die swart tale en Afrikaans.

In die praktyk het Engels die enigste amptelike taal van Suid-Afrika geword. Dis prakties die enigste taal wat in die parlement gehoor word; dis eintlik die enigste taal waarin die staatsdiens na binne en buite kommunikeer. En in die private sektor, waar Engels tradisioneel in elk geval die kitaar slaan, bestaan Afrikaans byna nie.

Dis belangrik om dié saak ook uit die oogpunt van die ANC/SAKP te bekyk – altans as jy wil verstaan waarom sake is soos hulle is.

Allereers: Vir die ANC/SAKP is Afrikaans, al is dit slegs onwillekeurig, die taal van apartheid. Die amptenare en politici wat apartheid op voetsoolvlak afgedwing het, het dit in Afrikaans gedoen.

In reaksie het die ANC/SAKP, in ooreenstemming met wat koloniale bevrydingsbewegings elders in Afrika gedoen het, na Engels as gemeenskaplike taal gegryp, net soos Frans en Portugees die tale in die gewese Franse en Portugese kolonies geword het.

Dit herberg verskeie ironieë. Ten eerste kan ’n mens jouself met reg afvra of jy wérklik tussen jou ore vry kan wees as jy gedwing word om gedurig in ’n ander man se taal te kommunikeer, selfs al is dit nie jou huistaal nie en moet jy meer moeite doen om jou bedoeling duidelik te maak.

Immers, selfs vir iemand soos ek voel dit kunsmatig om in Engels te praat of te skryf, en ek ag myself behoorlik in staat om in Engels te kommunikeer. Dis eenvoudig nie dieselfde as in my moedertaal nie.

Dis in dié omstandighede dat die ANC/SAKP maar bly karring aan Afrikaanssprekendes se taalregte. Die jongste is dat die departement van basiese onderwys staatskole se mag wil wegneem om self hul taalbeleid te bepaal en dit in die hande van die provinsiale regerings te plaas.

Kragtens die beplande Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwys kry die provinsiale onderwyshoofde die “finale gesag” oor skole se taalbeleid. Die onderwyshoofde word verplig om toe te sien dat die taalbeleid die “breër gemeenskap” dien.

Ons ken mos teen dié tyd al die ANC/SAKP. Wat hier bedoel word, is eenvoudig dat die provinsiale regering elke skool kan dwing om Afrikaans af te skaal of volledig af te skaf en met Engels te vervang.

Ek is geen staatsregsgeleerde nie, maar in my onkunde sou ek reken die konsepwet druis regstreeks in teen artikel 29(2) van die Grondwet, wat vroeër in dié analise aangehaal is. Dit druis ook in teen die algemene gees van die Grondwet, ingevolge waarvan Afrikaans se regte nie verminder is nie, maar waar die ander tale se regte juis vermeerder is.

Gemeenskapsorganisasies soos die Afrikaanse Taalraad, Solidariteit en AfriForum moet hulle dus solank maar begin voorberei om die ANC/SAKP hof toe te vat. Ons kan nie toelaat dat die regering ongestraf hiermee wegkom nie.

Ás Afrikaans dan uiteindelik aan die kortste end moet trek, laat dit dan, soos my oom altyd gesê het, “nie sonder ’n helse faait” wees nie.

Daar is nog meer ironieë aan die saak verbonde.

Die een is dat Afrikaans nooit eksklusief die taal van die Afrikaners was nie, al moet hier bygesê word dat talle Afrikaners hulle op die hoogtepunt van hul mag wel só gedra het. Afrikaans behoort net soveel aan die bruin Afrikaanssprekendes as aan sy wit sprekers.

As jy Afrikááns teiken, teiken jy ook die bruin mense. Nie dat dit vir die ideologies besetenes in die regering werklik saak maak nie; al wat saak maak, is die ideologie dat Engels eenheid bring en Afrikaans verdeeldheid.

Nog ’n ironie is dat die ANC/SAKP se skaamtelose en ongrondwetlike bevoordeling van Engels ook die swart mense tref. Luister maar na hulle op straat: As hulle hul eie tale praat, dans en dartel dit. As hulle Engels moet praat, het hulle loodvoete – dit sukkel behoorlik.

Bowendien is daar verskeie internasionale pedagogiese studies wat onomwonde bewys dat kinders wat in hul moedertaal onderrig word, beter vaar as dié wat in ’n ander taal onderwys ontvang. Sulke studies is veral gedoen in veeltalige lande – onder andere Kanada, België en Switserland – en dit is nie vir tweërlei uitleg vatbaar nie.

Dus, ook in Suid-Afrika is dit noodsaaklik dat Afrikaanse kinders, wit en bruin, in Afrikáánse skole kan wees. En, wat meer is, dit raak tyd dat die ANC/SAKP afstand doen van sy aanbidding van Engels, en ook swart kinders tot op matriekvlak in staat stel om in húl moedertale onderrig te ontvang.

Maar nou ja, logika en gesonde verstand was nog nooit deel van die ANC/SAKP se geestelike mondering nie. Dit lyk vir my of daardie helse faait onherroeplik op ons wag.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Leopold Scholtz

Leopold Scholtz is 'n onafhanklike politieke kommentator en historikus. Hy is al sedert 1972 as joernalis en historikus werksaam.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Vrijburger ·

Mmmm wat ‘n artikel waarin jy ook vir Justin Trudeau met Hitler vergelyk?

Treurwilger ·

Vrijburger,
dr. Scholtz skryf steeds oor Donald Trump en die Republikeine op die ander Afrikaanse publikasie.
Naspers verdien egter nie een van my sente nie, ‘scan’ net die hoofopskrifte, so kan jou gelukkig nie meer vertel nie. ;-)

Julius ·

Dankie Leopold afrikaans sal bly bestaan solank ons dit praat en julle skrywers dit gebruik.

Treurwilger ·

Kommentare soos dié van Julius is problematies en hopeloos naïef.
Nee, Afrikaans sal hoegenaamd nié (vir akademiese gebruik) voortbestaan as sy ‘voedingsbron’, Afrikaanse skole, uitsterf nie.
Hoe moeilik kan dit nou wees om te begryp?

Frans ·

Die grondwet is net so doeltreffend as die toepassers daarvan.Dit is mooi woorde en niks meer nie,Daar is geen vetoreg vir enige minderheidgroepe nie as van hul regte geskend word nie en as dit nie vir gemeenskaporganisasies was sou Afrikaans van die toneel verdwyn het.
Dit kry ‘n mens nou as jy jou geboortereg vir ‘n pot lensiesop veruil.

Marianna ·

Die afgelope tien jaar het Afrikaans orals afgeneem as gevolg van die aanvalle op die taal van die regering. Afrikaans is uit skole geboender, uit Universiteite. Alles wat nog Afrikaans is moet geinfiltreer word en verwoes word. Uitgewers se boekoplae van Afrikaanse boeke het ‘n groot knou weg. Kinders lees nou eerder Engels omdat hulle in Engelse skole is. Vir skrywers van Afrikaanse kinderboeke is dit net nie meer die moeite werd om in Afrikaans te skryf nie. Afrikaans word orals ingeperk. Dit gaan al meer gebeur want dit word as ‘n wit taal beskou en alvorens die taal nie totaal verwyder is nie, gaan die regering nie ‘happy’ wees nie. Jong mense verlaat die land met hulle kinders. Afrikaans sterf. Ons moenie blind wees vir die waarheid nie.

Suid-Afrika Eerste - Vrydenker Vlakvark ·

Welke perentasie van die wêreldlande het net een amptelike taal wat regdeur hul staatsdiens geld?
Welke persentasie van die wêreldlande het twee amptelike tale wat regdeur hul staatsdiens geld?
Welke persentasie van die wêreldlande het drie of meer amptelike tale wat regdeur hul staatsdiens geld?
Wat sou ons standpunt gewees het indien Suid-Afrika se enigste amptelike taal regdeur die staatsdiens Standaard Nguni sou gewees het?
Welke persentasie van my mede-Afrikaners is magtig in enige van die swart tale?
Waar moet die geld vandaan kom om 11 amptelke tale in die staatsdiens en skole en tersiëre opleidingsinstansies te kan bekostig?
Wat beteken dit dat al 11 tale amptelike status moet geniet? Niks seggende politieke gebrabbel.
Was die opstellers van artikel 6(1) van die Suid-Afrikaanse Grondwet besig met dagdrome of was hulle naïef? Waar kom praktoiese realiteit in die prentjie, veral indien een taal se gebruikers oordonderend in die meerderheid is?

Petrus Albertus ·

Jy besef natuurlik as dit bloot oor getal verstaners en moedertaal sprekers gaan troef Afrikaans vir Engels elke slag. Die hele taalkwessie is ‘n ideologiese kwessie en nie bloot net ‘n kwessie van praktikaliteit nie. België, Switserland en Kanada is goeie voorbeelde van meertalige staatsdienste en samelewings. Dit is heeltwmal doenbaar as jy wil, as jy nie wil nie is niks natuurlik moontlik nie. Dit is natuurlik ook nie verbasend dat Suid-Afrika se skoolstelsel en uitslae so beroerd is as in ag geneem word dat meeste leerders in ‘n tweede en derde taal geroesemoes opgevoed word en nooit hulle moedertaal of die medium van onderrig ten volle bemeester nie.

Marthinus W ·

Hebreeus het op n stadium uitgesterf. Toe, in die vroee 20ste eeu, het `n Russiese Jood besluit om die taal te laat herleef. Op daardie stadium was daar slegs n paar duisend woorde uit die Bybel behou. Almal het vir hom gelag, maar vandag is Hebreeus n hergebore taal.

Ons Afrikaners word dalk wereldburgers, soos die Jode, nadat Nebukadnesar II die Tweede Tempel vernietig het, en die Jode regoor die aarde versprei het, omdat hulle goue kalwe en dinge aanbid het. Miskien word die Afrikaner weens apartheid daaroor oor die wereld versprei, en eendag (of soos die Jode gesug het, “Volgend jaar, in Jerusalem”) sal ons dalk ons land terugkry en die taal weer laat groei.

(Bietjie ligter: ek sien Grand-Pa tablette het nou net n Engelse pamflet. En Mrs Balls se Blatjang neig ook soontoe.)

Nici ·

Dis die moeite werd om vir Afrikaans te baklei. Afrikaanse skole het wonderlike kultuur en akademiese prestasie. Dit gaan oor meer as taal, dit gaan oor ‘n gevoel van tuiste. Dit maak nie saak hoe min of klein ons is nie, wat saakmaak is kwaliteit. Mens kan geweldig baie vermag met bitter min toegewyde mense.

annie ·

Leopold kan gerus in Nederland vir Afrikaners voorspraak doen… die oond waaruit die soetgebak kom. As ons nou net so stukkie grond kan bekom vir ‘n volkstaat kan ons ‘n president Mulder kies wat ook gewild is by ander minderhede. Die VF se plus sal so toeneem dat die VN ons seker sal ondersteun. Dink net Afrikaanse skole, Afrikaanse kerke en Afrikaanse moeilikheid… Te lekker!

Andrew ·

Kon dit vir jou voor die teken van die konstitusie gesê het. Net die ja stemmer bly nog verbaas en gil verbete soos die skip waarop hy seil sink.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.