Deur Lambert de Klerk
My eerste vergadering met minister Barbara Creecy in 2019 het vir goeie vermaak gesorg. Sy het met die intrapslag vertel dat sy ná haar aanstelling opdrag gegee het dat ’n verslag oor die stand van die land se vullisterreine saamgestel moes word. Ek en my kollegas kon nie help om te lag toe sy nie skaam was om te erken dat die “verslag” se inhoud grootliks op AfriForum se vullisterreinoudit van die vorige jaar geskoei was nie.
Ons was natuurlik ook trots dat sy besef het dat daar eenvoudig geen ander betroubare data oor die kwessie beskikbaar is nie – veral nie van die munisipaliteite af nie. Haar navorsers moes eenvoudig teen wil en dank AfriForum se verslaginhoud voorlê, of met leë hande by haar opdaag.
Waarom nou juis jaarlikse vullisterreinoudits doen? Wel, die antwoord is dat AfriForum se takke verantwoordelikheid vir hulle gemeenskappe se welstand aanvaar, veral waar munisipaliteite alles probeer om hulle verantwoordelikhede te ontduik. Vanaf die meting, verslagdoening en tot verantwoording roep van die pligsversuimers, lê daar ’n stuk rentmeesterskap en trots.
Vanjaar se vullisterreinouditverslag is pas bekendgestel nadat vullisterreine in dorpe/stede waar AfriForum se takke geleë is, vroeër vanjaar geoudit is. Dié verslag sal met Barbara Creecy, minister van Omgewingsake, bespreek word as ’n deurlopende gesprek wat reeds uit 2019 spruit en ook aan die Groen Skerpioene vir verdere ondersoek oorhandig word.
Een ding wat dié ouditverslag se resultate duidelik maak: ons is kniediep in die rommel. Slegs 17% (27 van 153) van die terreine voldoen aan die minimumvereistes van die Wet op Nasionale Omgewingsbestuur: Afval (Wet 59 van 2008).
Kragtens dié wetgewing moet ’n vullisterrein aan bepaalde vereistes voldoen. ’n Lys met 33 vrae is met hierdie minimumstandaarde as riglyn saamgestel en dié vrae is dan verder gebruik om die vullisterreinoudit uit te voer.
Die swak persentasie kan aan verskeie probleme toegeskryf word wat by munisipaliteite ondervind word, wat dan weer tot die swak en onwettige bestuur van ons vullisterreine lei. Wanbesteding van fondse, swak instandhouding en ’n gebrek aan bekwame personeel is maar ’n paar van die probleme wat ons daagliks ondervind. Die grootste uitdaging is dat daar amptenare in munisipaliteite is wat weet dat hul swak bestuur geen gevolge vir hulle inhou nie. Dit is kommerwekkend om te weet dat die meerderheid vullisterreine in Suid-Afrika nie eens aan die minimumvereistes voldoen nie. Terselfdertyd is dit eintlik verstaanbaar, aangesien geen munisipaliteite ter verantwoording oor die wanbestuur geroep word nie.
Die merkwaardigste waarneming is dat verskeie terreine gesluit het; ook dat sommige terreine wat nog operasioneel is volgens hul lisensies rééds moes gesluit het. Dit wek kommer omdat dit beteken dat daar nie meer vullisterreine in sekere dorpe of stede is nie – wat bes moontlik tot onwettige storting gaan lei.
Vanaf 2019 se vullisterreinoudit is daar met Creecy vergader en daar is deurlopend met die minister en haar span gekommunikeer. Daar is nou ses terreine identifiseer wat ons poog om te herstel. In Mei 2021 is besluit om daadwerklik hande te vat, by die ses terreine besoek af te lê en dan van daar af na oplossings te werk om die probleme by hierdie terreine aan te spreek. Een van die opsies is om openbare gemeenskapsvennootskappe (OGV) te vestig. Dit is ’n werkbare oplossing as jy gaan kyk wat in Potchefstroom gebeur het toe die gemeenskap self ná die mislukking van die munisipaliteit se kontrakteur skouer aan die wiel gesit het. Hulle het die vullisterrein herstel en hul eie masjinerie op die terrein gesit om die plek te bestuur. Plaaslike oplossings vir plaaslike probleme is ’n werklikheid.
Dit is baie belangrik om afvalmoniteringskomitees vir vullisterreine te stig om munisipale amptenare verantwoordbaar te hou. Gemeenskappe kan die volgende stappe volg om volhoubare verbeterings by ’n vullisterrein te bewerkstellig:
- Gemeenskappe moet druk op munisipaliteite plaas om afvalmoniteringskomitees te stig.
- ’n Vergadering moet een keer per maand belê word waartydens die toestand van die vullisterrein bespreek en doelwitte met haalbare tydperke gestel word.
- Goeie verhoudings moet met die munisipaliteite en betrokke rolspelers gebou word.
- Daar moet aangedring word op die aanstelling van ’n betroubare diensverskaffer wat bevoeg is om die werk te doen.
- Volhoubare druk moet via die afvalmoniteringskomitee toegepas word om te verseker dat die doelwitte wat gestel is, bereik word.
- Daar moet voltyds aan die gemeenskapsontwikkelingsplan (GOP) deelgeneem word en die kwessies rondom die terreine moet gelys word.
Dit is nou tyd vir die regering om op munisipale vlak toe te tree om oplossings soos die OGV na vore te bring vóórdat die totale munisipale infrastruktuur in duie stort. Die regering en munisipaliteite kan nie eens hulle eie planne soos die geïntegreerde vullisbestuursplan (IWMP) toepas nie. Dit is waar plaaslike gemeenskappe hulle kan bystaan en selfs die oplossing kan wees.
Munisipaliteite moet na dié soort oplossings begin kyk om Suid-Afrika se vullisbestuur op ’n aanvaarbare standaard te kry. Dit is ons almal se verantwoordelikheid om toe te sien dat ons omgewing nie besoedel word nie, en daarom wil ons ook tot ’n skoner Suid-Afrika bydra.
Só het die vullisterreine per provinsie ten opsigte van die minimumvereistes gevaar:
Provinsie | Getal vullisterreine wat geoudit is | Getal vullisterreine wat aan meer as 80% van die minimumvereistes voldoen | Getal vullisterreine wat nie aan die minimumvereistes voldoen nie |
2021 | 2021 | 2021 | |
Gauteng | 17 | 9 | 8 |
KwaZulu-Natal | 9 | 1 | 8 |
Limpopo | 11 | 1 | 10 |
Mpumalanga | 21 | 1 | 20 |
Noord-Kaap | 16 | 1 | 15 |
Noordwes | 21 | 2 | 19 |
Oos-Kaap | 7 | 0 | 7 |
Vrystaat | 24 | 0 | 24 |
Wes-Kaap | 27 | 12 | 15 |
Nasionale totaal | 153 | 27 | 126 |
- Lambert de Klerk is die bestuurder van omgewingsake by AfriForum.
Groot te do met opruim nà die plundery verlede week, so asof selfs die pres nie kan slaap voor alles weer blinkskoon is nie, maar back at the ranch, kerjakker rotte tussen ons vrot. Aardverwarming, dié moet dadelik getackle word want dis maklik om reg te sien… klouter oor rommel en riool nà ‘n dringende kongres oor probleme in die hemelruim. Spreker no 1, ons minister van omgewingsake met ‘n plastiese bottel vol glo suiwerskoon ingevoerde Italiaanse water in die hand.