‘Te min skole vir te min gemeenskappe’  

panyaza-lesufi

Panyaza Lesufi. Foto: Flickr/GovernmentZA

Deur dr. Christo Pretorius

Panyaza Lesufi, Gautengse LUR vir onderwys, het sedert die begin van sy ampstermyn geen geheim van sy antagonisme teen Afrikaners en Afrikaanse skole gemaak nie.

Die aanslag wat tans teen Afrikaanse skole, waaronder die hoërskole Montana en Overkruin, geloods word, illustreer dit. Lesufi maak ook geen geheim daarvan dat hy Afrikaans- enkelmedium skole as Verwoerdiaanse nalatenskap beskou nie en dié erfenis met mening wil vernietig nie.

Ander skoolmodelle of opvoedkundige instellings, of dit nou godsdienstige, gemeenskaps- of korporatiewe skole is, sal mettertyd seker ook Lesufi se argwaan wek.

Dit is vir Lesufi en ANC-kaders maklik om gemeenskapsinstellings te teiken en met belastinggeld tot hulle beskikking transformasie af te dwing. Nietemin moet hulle egter kennis neem dat dinge verander.

Die opvoedkundige prof. Richard Bates bespreek van die veranderinge in ʼn artikel “The Politics of Civil Society and the Possibility of Change”.

Die opkoms van die burgerlike samelewing blyk volgens hom een van die veranderinge in die wêreld te wees. Volgens Bates is die burgerlike samelewing daardie lewensruimte tussen die gesin en familie aan die een kant en die oral indringende staat en korporatiewe wêreld aan die ander kant.

Dat die burgerlike samelewing as tussenruimte gewild raak, word toegeskryf aan drie oorsake:
Eerstens, dat gemeenskappe self verantwoordelikheid wil neem en self wil organiseer en dat die staat op dié manier begrens word;
Tweedens leef die burgerlike samelewing nie met ʼn kompetisie- en heersersmotief voor oë nie, maar plaas die burgerlike samelewing of gemeenskappe die klem op gesprek, onderhandeling en begrip vir die meervlakkigheid van die samelewing;
Derdens streef die burgerlike samelewing na samewerking in die gemeenskap in plaas van die versplintering van die individu of oorheersing deur die staat.

Boonop bevind die burgerlike gemeenskap haar tussen die regse poging, wat die invloed van politiek wil inkrimp en die vrye mark bevorder, en aan die ander kant die linkse en liberalistiese benadering wat onderwys wil gebruik om sosiale transformasie te bevorder ter wille van sogenaamde sosiale geregtigheid.

Of Lesufi ʼn ingeligte gesprek oor diversiteit van die werklikheid wil voer of wil onderhandel ter wille van die voorspoed van Suid-Afrika, haar mense en ál haar gemeenskappe, is te betwyfel. En of hy hom aan statistiek en deeglike berekening sal steur is ook te betwyfel.

Dalk moet Lesufi en ANC-ideoloë weer kennis neem van die 2014 opvoedkundige statistiek wat in Maart 2016 gepubliseer is.

Volgens dié verslag het Gauteng in 2014 oor 2 070 skole beskik; Limpopo oor 3 929 en die Oos-Kaap en Kwa-Zulu Natal onderskeidelik oor 5 554 en 5 915 skole.

Opvallend is dat die gebrek aan skole in Gauteng geleentheid bied aan privaatskole, want in verhouding met die ander provinsies beskik Gauteng oor 650 privaatskole, KwaZulu Natal oor 236 en die Oos-Kaap 187.

Lesufi se aanslag teen Afrikaanse gemeenskappe blyk nie net uit pas te wees met ʼn diverse werklikheid nie: Dit beteken Lesufi en die ANC het eenvoudig te min skole gebou.

  • Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

33 Kommentare

jongste oudste gewildste
Alida

Die man is nie lekker nie. Hulle moes al in 2004 en 2010 begin skole bou het vir die groeiende massas. Geen beplanning. Hoekom het hy nie die geboorteregister nagegaan en gekyk hoe groei die getalle nie. Net soos met ‘n boerdery moet jy genoeg hokke bou dieselfde geld vir kinders.

Alida

Hoekom erken hy nie maar reguit dat dit hulle eie skuld is nie. Nou kom die afrikaaners weer onder skoot. Dit is tyd dat die DA die man op TV aanvat en presies hoor wat die probleem is.

Krappie

Alida, Lesufi het nie die insig om daardie beplanning te doen nie. Dit is vir hom baie makliker om die Afrikaanse skole tot niet te laat gaan.

M'Lady

Pas geboorte beperking toe dan sal daar nie n probleem wees nie. Dis gratis.

Alida

Dan moet hulle hom afdank en iemand aanstel wat beplanning kan doen. Ek is so gatvol vir hierdie land met sy onbevoegde ministers en aanhangsels.