Te veel, of te min regering?

geld ekonomie suid-afrika

Argieffoto

Tradisioneel wil Amerikaners hê dat die regering se rol so ver moontlik ingeperk moet word. Dit is om te voorkom dat die staat individuele vryheid te veel inperk, en vryheid is iets wat vir die Amerikaners uiters belangrik is.

Hoewel tevredenheid met pres. Donald Trump se werk die laaste paar dae effens toegeneem het, staan dit nog op minus 15, teenoor minus 26 vroeg in Augustus. Hy kon laas op 3 Maart vanjaar ’n positiewe syfer, weliswaar net-net positief op plus een behaal.

Tog, ten spyte van die baie kritiek wat die kongreslede kry was die landsburgers gou om bakhand by die regering te staan vir hulp toe storm Harvey sy verwoestingswerk verrig het. Ernstige storms tref die VSA nou gereeld en met elke storm word die Amerikaners herinner aan hul afhanklikheid van die federale regering. Die verskriklike lewensverlies en skade deur Harvey het volgens peilings ook ʼn gesindheid van omgee in die VSA laat ontwaak.

Die debat oor te veel of te min regering word wêreldwyd gevoer en die antwoorde is nie maklik vindbaar nie. Ook hier manifesteer dit ten dele in die howe en selfs die grondwethof, waar koppe gestamp word oor waar die grens lê waar die hof te veel mag aan die dag sou lê deur te ver in die verantwoordelikhede van die regering in te meng. Die gewone landsburger sou waarskynlik voel die vraag moet bloot wees of die staat die Grondwet skend deur ongrondwetlik op te tree.

Die ANC is lief om voor verkiesings met sy sogenaamde goeie storie vorendag te kom. Daar is soveel huise gebou, soveel mense kry maatskaplike toelaes en soveel word vir MIV/vigs behandel. Dat die huise uitmekaar bars, dat die strate vol riool is, dat talle dorpe werklik wanfunksioneel is, dat werkloosheid en armoede sterk aan die deur klop en dat misdaad hande uit geruk het maak uiteraard nie deel uit van die goeie storie nie. Die goed wat so verkeerd loop is oorlede apartheid se skud, of die skuld van wit monopoliekapitaal, of die stadige pas van grondhervorming.

Die blaam vir staatskaping wat waarskynlik ’n R100 miljard uit die ekonomie geruk het moet ook elders heen verplaas word want die verdagte plegers van hierdie ekonomiese sabotasie is vriende van die president. As ’n groot deel van die droogtehulp nie by die veronderstelde begunstigdes uitgekom het nie, maar skynbaar verdamp het, is dit die boere se skuld.

’n Kenmerk van ’n grondwetlike demokrasie is die opkoms van, naas ’n vrye pers, die totstandkoming van burgerlike strukture, soos byvoorbeeld Freedom Under Law, Outa en die Solidariteit Beweging. Aan die een kant word probeer om die regering sy grondwetlike pligte te laat nakom, en aan die ander kant ’n groot aantal selfhelpaksies waardeur gemeenskappe bemagtig word om minstens te sorg dat hul eie gemeenskappe die gees van uitnemendheid dra.

Vat hande en help dat projekte soos opruimaksies, buurtwagte en die uitbouing van Akademia slaag, want om vir hierdie regering te wag om vinger te trek gaan dalk ’n baie lang wag behels.

  • Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Eish ·

Amen daarop. Hierdie ongrondwetlike kleptokrasie sit ons pens en pootjies in die selfhelp drukgang.

Regsvark ·

Hoeveel burgers weet van en ken al die wette van Suid-Afrika?

Joernaliste behoort toegang te hê tot alle regeringsvergaderings wat handel oor die vereistes van en toekenning van tenders. Selfhelp is ‘n resep vir regeringslui om nog vrotsiger dienste te lewer. Die kriminele regstelsel is oorbelas met onbekwames en oorlading en politieke inmenging.

Veritas ·

Ek merk die woordemuis het weer my kommentaar weggeknaag. Ek vra net weer: ‘Watter regering?’

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.