Teen kommunisme was jy paraat maar wat van sekulêre humanisme?

kerk-bankies

Foto: Nikko Tan/Pexels.com

Deur ds. Frikkie Mulder

Ek dink daar is min mense uit die pre-1994-era wat nie sal saamstem nie dat al wat ’n Afrikanerhuis was, gerat en gestaal was teen die gevaarlike en dreigende invloed van die Marxisme en die kommunistiese ideologie.

Ek onthou nog hoe ek op ’n keer saam met my pa na die saal van die NG kerk Monumentpark in Pretoria gery het, om na een so ’n praatjie te gaan luister. Ja, dit was nog so êrens in die tagtigerjare. Fyn en in detail is daar verduidelik hoe absoluut strategies Suid-Afrika geleë is hier aan die onderkant van Afrika, en oor al ons land se minerale en kosbaarhede wat die aanhangers, lesers en aktiviste van Lenin en Marx se gedagtes, hier by ons wil kom oorneem en opsuig vir hul eie selfsugtige aptyte en redes. Ek onthou, Potch het ook pakke en pakke kleinerige pamfletjies en boekies die lig laat sien waarin die idees van daardie Duits-Joodse boskop-filosoof, oorweeg, aangevat, en weerlê is.

Ons was geestelik weerbaar en paraat om enige prater met ’n totalitêre asem, tjoef-tjaf ’n stewige bloedneus op sy wêreldbeeld toe te dien. Maar o, wee! Met die verskyning van die Marxisme se tweelingboetie in die vroeë negentigs – die Humanisme – was daar vir menige, menige boere wat nog gereed gestaan het met hul sannas in die hand, geen, maar geen ammunisie in hul bandeliere om die aanstormende en skreeuende T-Rex met sy roggelende kreet: “Libertéégalitéfraternité! (Vryheid, gelykheid en broederskap) enigsins aan te durf nie.

En wat was die rede vir hul skok en magteloosheid voor hierdie soliede stuk sekulêre dier? Antwoord: Die boere se patrone, strategieë, en planne het hulle oënskynlik net voorberei en geleer om te mik op wat rooi lyk – en die nuwe boetie was ongelukkig nou blou. Gelowige Afrikaners se radars was dodelik akkuraat en sensitief om enige iets wat maar net na ’n sekel en hamer gelyk het, op te tel op die skerm, en met presisie oombliklik te verpoeier. Kom die geestelike gas van die nuwe era toe ingesyfer deur die ruite, en een na die ander persoon word gezombifiseerd deur ’n familielid of predikant gevind, in ’n donker hoek iewers.

Die ideologie van Humanisme wat die mens self, en sý uitgangspunte, begeertes, oriëntasies, drome, oortuigings, uitgangspunte, voorkeure, wette, en ideologieë vooropstel, het uiteindelik uit die blink kar se agterdeur uitgeklim, en Christen Afrikaners het soos histeriese Michael Jackson-aanhangers (destyds) op die plek flou neergeval, terwyl daar bietjie spoegies uit die hoek van die mond op die bruin teëls gedrup het.

Christen Afrikaners kon voor die koms van die nuwe bestel hulle sê sê teenoor die vorige ideologiese bedreiging, maar was absoluut pasifisties-verlam in die aangesig van die vertrapper van die Westerse beskawing van vandag. Vroeër kon ons met kragtige oortuiging verklaar: “God en sy gebod!” Maar hoe moet ons antwoord wanneer ons nou moet hoor: “Ek en my menseregte! Ek is die bepaler van my eie lot!”

Iemand fluister hier links dat Christen Afrikaners eintlik wel die regte wapens gehad het om ook die sekulêre humanisme vol gate te skiet, maar in die oorgang na 1994 het hy eintlik maar net sy vuurwapen laat sak. Hy het gemeen dat die brullende Darwin-gedrewe dinosourus eintlik maar net die geaardheid van ’n oulike foksterriër het wat, nadat hy aan jou gewoond geraak het, rustig en met ’n sagte glimlag op jou gesig, sonder vrees gevryf kan word: “Daar’s hy oubaas, ek ken jou mos!”

En tog is dit hierdie einste sekulêre gedrog wat bloedkolle trap onder talle en talle kerkgaande Afrikaners vandag. Die sekulêre mens wil nie graag ’n gesag buite homself aanvaar nie, veral nie as dit by aansprake kom oor wat waar is, of oor wat God drie-enig inderdaad van die mens in sy Woord verwag nie.

Die vraag is, of ons weer die geestelike wapens, patrone, missiele, en grofgeskut in die Woord van die Here sal vind om, soos miljoene helde van ouds die draak dapper en sonder vrees terug te stoot. Dat sy Naam verheerlik mag word, en ook dat ons gesinne, woonbuurte, provinsies, land, kontinent en wêreld, weer met rustige gewetens vrugte van die bome in God se tuin kan pluk. Mag die Here dit skenk.

“…want die wapens van ons stryd is nie vleeslik nie, maar kragtig deur God om vestings neer te werp, terwyl ons planne verbreek en elke skans wat opgewerp word teen die kennis van God, en elke gedagte gevange neem tot die gehoorsaamheid aan Christus…” 2 Korinthiërs 10:4 en 5.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

22 Kommentare

Stephan de S ·

Die skrywer van hierdie artikel bou op sand na my mening. Sy vertrekpunt is die mens en sy wisselende omgewing, gedagtestrominge en ideologiese modes. Christene se vertrekpunt is egter n Vader wat magtig genoeg is om al hierdie wisselende en skommelende omstandighede tot Sy en mense se voordeel aan te wend. Elke keer as n bepaalde ideologie en/ of mode verby is , kom ons agter dat iets goeds en waars daardeur gedeponeer is. As God nie groter is as humanisme ,kommunisme en ander -ismes waarom glo mense in Hom?

Drikus Kotze ·

1 Korinthiërs 10 : 14 ” Daarom, my geliefdes, vlug vir die afgodediens.” Ons kan selfs ons dae voor 1994 as ‘n afgod dien omdat dit alles in ons gedagtes oorheers, pasop! Daar is net EEN God. Nie kommunisme of humanisme of wat ookal, kan God Drie-Enig vervang. 1 Korinthiërs 10 :22 “Of wil ons die ywer van die Here opwek? Is ons miskien sterker as Hy?”

Frans C ·

Die kern van die probleem lê veel dieper.Die Blankes en dan veral die Afrikaner is stadig maar seker ook vanaf die kansel oortuig dat dit wat besig was om te gebeur in Suid Afrika ‘n vorm van rassisme was,wat gelykgestel kon word aan ‘Nazism ‘.

So het die gedagte stadig posgevat dat aangesien die meerderheid van Suid Afrika se mense Christene was daar eintlik ook net een kerk moet wees,met een gelykvormige
belydenis,waarin die die sonde van die verlede ook bely en erken word.

Met dit as grondslag ,was die terrein voorberei om apartheid (afsonderlike ontwikkeling) finaal die grondslag toe te dien en dit voor te berei tot ‘n eenheid staat.

Die God van alle volke het geen rol gespeel by die Kodesa onderhandelinge nie en sover ek weet is geen vergadering ooit met skriflesing en gebed geopen nie.Die God waarna verwys word in die voorwoord van die grondwet,kan enige God wees.

Soos Jakob later Esau se eersgeboortereg by hom geruil vir ‘n pot lensiesop, het die Afrikaner sy reg op selfbestaan verruil vir opname in ‘n sekulêre wêreld, waar korrupsie
en misdaad hoogty vier onder ‘n regering wat eerder die Afrikaner se hakke as tone sien.

‘n Tragedie in wording ,waarin Afrikaner soos Jode oor die wêreld versprei word.

Arak ·

Ek stem heeltemal saam. Ek dink egter ook dat die kerk en veral die predikante se aandeel aan die versuikering en aanvaarding van humanisme nie vergeet moet word nie. Hoeveel male is daardie vals evangelie nie verkondig vanaf kansels, en dit is ook hoekom baie die kerk verlaat het. Dalk tyd dat die kerke ook hand in eie boesem steek en terug keer na die Bybel.

Jerry ·

Ek as gelowige weet dat gehoorsaamheid (goedheid) of ongehoorsaamheid (boosheid) aan my God se gebooie en opdragte, vir my lot bepalend is en so ook vir alle mense. Dit maak nie saak watse ideologie of geloof mense aanhang en vir watse redes ookal nie, mense se lot word bepaal deur hulle keuse om goedheid of boosheid na te streef. Daarom is dit belangrik om jou vertroue in God te stel en jou hart te versag teenoor alle lewende wesens, sodat jy kan sien wat jou God vir jou wil wys!

Hedwig ·

Ja! Ek het so vertroue in die NG Kerk verloor! Van die NGK se huidige uitsprake is steeds teënstrydig met die Bybel. Ek dopper nou nog kerkloos rond. Doen eie Bybelstudie, huisgodsdiens en gee my “10de” waar nodig. Natuurlik is dit nie die ideaal nie. Oplossing vir die Afrikaner: Hervorming! Terug na God’s suiwer Woord!

jaco ·

was kommunisme regtig so erg? lande soos Oos-Duitsland, Tsjeggo-Slowakye en Hongarye was SONDER die volgende:
1. stakings
2. plakkerskampe
3. vyf miljoen onwettige buitelandse immigrante
4. swak vuil staatshospitale
5. swak lae standaard onderwys

En so kan my lys aangaan. daardie lande was wel anti-godsdiens, maar daar was wel maniere om ‘n Christen te wees sonder om in die tronk te beland.
Ek kan nie verstaan waarom SA so verval het onder die ANC en die SA Kommunistiese Party nie. hulle was dan almal in exile in dié einste kommunistiese lande waar al die euwels van die nuwe SA ontbreek het

DieLeeu ·

Swak opinie.

Sonder skeiding van staat en kerk eindig jy op met ‘n teokrasie – wat lei tot die korrupsie van beide die kerk en die staat.

Op watter beginsels moet ‘n staat dan funksioneer? Wel, op liberale beginsels (in die klassieke sin) waarbinne die individu se regte beskerm word en sy vryheid van keuse (ook oor geloof) nie vervreem word nie.

Dit beteken egter nie dat alles goedgepraat moet word nie.

Ek sal veel eerder in ‘n samelewing bly waar mense die keuse het om verantwoordelikheid vir hulself te neen as waar die staat besluit wat jy moet glo.

Gert Kruger ·

In ‘n nie-homogene samelewing is ‘n liberale (humanitere) politieke sisteem ongelukkig die een wat die grootste vryheid kan gee. Die antwoord le dus nie om die sisteem te probeer verander nie, maar in opvoeding en katkisasie. Hoe handhaaf jy en jou gesin hulleself in so ‘n samelewing. Dit is slegs moontlik as jou prinsipe op die Skrif gebaseer is. Dit bied ook uitstekende geleenthede om die Evangelie te verspry.

Dana du Plessis ·

Ek was nou die dag aangeval op die kerkbodeblad toe ek teen humanisme gepraat het. `n Persoon is van mening dat mens `n humanis met liefde in jou hart vir jou medemens kan wees. Ons kan die goddelose humanistiese wêreld nie beter beskryf as wat dit in Hosea 4 vers 1 en 2 omskryf word nie. Dit is wat ons elke dag ervaar. Die regering van die dag en die wette wat gemaak word is ook nie Bybel gefundeerd nie en dra ook nie `n Christelike beeld uit nie. Ons moet ons van die wêreld onderskei deur ons gedrag, taal en die lewenfilosofie wat ons verkondig. Ons moet selfs bereid wees om alles te ter wille van Christus te doen en nie kompromieë met die wêreld sluit nie. Ons moenie bang wees om Bybelse waarhede te verkondig nie, selfs al maak dit seer.

Henrietta Klaasing ·

“Verkondig die Woord; hou daarmee vol, tydig en ontydig, weerlê, bestraf, bemoedig deur met alle geduld onderrig te gee…” 2Tim 4 : 2. Lees gerus die daaropvolgende paar verse ook.

Jacques Maritz Nel ·

Dis hartseer om te sien dat RSA so nou is, eers n land waar Johannes Calvyn tuis so gevoel het , n land wat tot eer van die drie-enige God was , tot n land wat Hom verwerp het. Mag die Here mense tot bekering bring

johannes ·

“was kommunisme regtig so erg?”
So erg? Hoe erg? Hoe erg is erg genoeg?
Vriend jy ken nie jou geskiedenis nie… en daarom verstaan jy nie wat in die oosblok-lande gebeur het nie. En daarom ook nie wat vandag in hierdie land besig is om te gebeur nie. Wat ons nou beleef is maar net die oorgang tot volslae staat van kommunistiese slawerny. Stakings, miljoene werkloses, honger, verbrokkelende infrastruktuur, misdaad-ontploffing — dit alles lei tot Bloedige Rewolusie. Jy dink SA is klaar met die rewolusie? Ek het nuus vir jou. Geen rewolusie (oorgang tot die teenoorgestelde staat/toale ommekeer) is voltooi sonder dat die bloedige rewolusie nie eers plaasvind nie (totale anargie gepaardgaande met massamoord). Wat kom daarna? Normalisering… die staat waarin Oos-Duistland, Hongarye, Tseggo-Slowakye verkeer het toe jy jou oe uitgevee het en begin rondkyk het. Normalisieringbeteken NIE alles keer terug tot normaal nie. Dit beteken jy verkeer nou in ‘n Staat van algehele en totale slawerny. Waar jy nie mag sit, as daar nie vir jou gese is SIT! nie. Waar jy nie mag staan as daar nie vir jou gese is STAAN! nie. Waar jy nie mag lag, as daar nie vir jou gese is LAG! nie. My maatjie, ons gaan nog vorentoe (dalk binnekort) op die HARDE manier leer wat kommunisme is, omdat ons vergeet het wat ons eens geweet het of omdat ons ouers ons nie ingelig het nie. Ons beter ons huiswerk doen en vinnig.

Rupert Ashford ·

My posts oorleef nie te gereeld nie maar kom ons probeer: Almal mis die punt. Die kommunisme het toe nooit gesterf toe die muur geval het nie. Dit het wel ‘n bloedige wond gekry, maar sy mense het hom hospitaal toe gevat en verpleeg dat hy kon oorleef. En toe gaan sit en strategie uitwerk, want hulle het gesien hulle ou manier van werk gaan nie meer werk nie. Toe sien hulle die post-moderne Humanisme is die volgende groot beweging waar die mens Homself aanbid en reken hy kan sy eie lot bestuur (IPCC, VN, wereldwye groen beweging (Greens partye)). Toe kies die ou kommuniste van destyds om hierdie bewegings in the sypel en op hulle rug te ry na hulle volgende glorie. Ons is amper daar, want mense begin baie interessante standpunte oor o.a. outokratiese beginsels om die beleide af te dwing wat dan kwansuis die wereld gaan “red” predik, en mense gaan daarmee saam asof dit onskadelik is. Jy’s reg, ons gaan op die harde manier leer.

Michael Venter ·

In die kol skrywe. Die algehele gebrek aan geestestweerbaarheid eis sy tol. Nes sy tweelingboetie; die Kommunisme, is die Humanisme se uiteinde ook ellende. Mensgesentreerde vertrekpunte lei altyd na ellende en swaarkry.

Francois Mulder ·

In die woorde van Bob Dylan:

You may be an ambassador to England or France
You may like to gamble, you might like to dance
You may be the heavyweight champion of the world
You may be a socialite with a long string of pearls
But you’re gonna have to serve somebody, yes
Indeed you’re gonna have to serve somebody
Well, it may be the devil or it may be the Lord
But you’re gonna have to serve somebody
You might be a rock ‘n’ roll addict prancing on the stage
You might have drugs at your command, women in a cage
You may be a business man or some high-degree thief
They may call you doctor or they may call you chief
But you’re gonna have to serve somebody, yes you are
You’re gonna have to serve somebody
Well, it may be the devil or it may be the Lord
But you’re gonna have to serve somebody
You may be a state trooper, you might be a young Turk
You may be the head of some big TV network
You may be rich or poor, you may be blind or lame
You may be living in another country under another name
But you’re gonna have to serve somebody, yes you are
You’re gonna have to serve somebody
Well, it may be the devil or it may be the Lord
But you’re gonna have to serve somebody…

humor ·

Watter rol vervul die WOORD vandag in die mens van ons tyd. Die Skrif se Christus regeer sy kerk deur die WOORD en die H Gees. Hoe op aarde is dit dan moontlik dat Christus kan regeer as die mens dan die WOORD uit sy lewe ban. Ons moet weer terug na die WOORD want daarin ontdek ons weer die HERE van die WOORD.

Wolf Cilliers ·

Dis noodsaaklik dat christene ‘n alomvattende en ge-integreerde christelike wêreldbeskouing moet hê.

So ‘n beskouing sal natuurlik op God se openbaring berus – wel wetende in die eerste plek wat sodanige openbaring behels en hoe noodsaaklik dit is. Daarsonder kan mens nie sinvol lewe nie. Ons menslike verstand en begrip is te beperk om genoegsame insig te vind en te interpreteer.

Dit help nie mens het ‘n gemengde wêreldbeskouing van een of ander aard wat bloot net sekere elemente van die christelike wêreldbeskouing bevat nie – wat bewustelik of onbewustelik daar beland het.
Meeste mense, en selfs ook heelwat christene het ongelukkig so lg. wêreldbeskouing en dis oneffektief om ander vals wêreldbeskouings te neutraliseer.
‘n Christen met ‘n grondige christelike wêreldbeskouing sal aan hand van vier kernelemente waaraan wêreldbeskouings moet voldoen nl. oorsprong, betekenis, moraliteit en bestemming alle ander beskouings kan evalueer en opweeg teenoor die christelike beskouing en uitwys waarom hulle faal – en so aantoon dat die christelike een nie net bloot een van die bestes is nie maar inderdaad die enigste korrekte een is – wat behalwe sy inherente geestelike en Bybelse basis dan ook logies en rasioneel verantwoordbaar is.
Iets wat op irrasionele of rasionalistiese grondslag staan – soos o.a. ook die sekulêre humanisme – sal een of ander tyd ineenstort en sy aanhangers liederlik in die steek laat.

JAN ·

JohnVorster het die NGK oa gekaap as NP agentskap deur die HNP te verban. Ook uit die AB. .
NGK wou nie meer HNP gesinde kinders doop nie. Ons beleef die gevolge van hierdie Afrikaner teokrasie.

Kwasi ·

Lanklaas sulke snert gelees. Hierdie sienings hoort in die middeleeue. “Counter enlightenment” uit die boonste rakke. Ek glo nie ek sal die toekoms saam met sulke mense kan ingaan nie. Die hemele behoed ons.

Ontmasker ·

‘n Siek samelewing is ‘n samelewing wat nie meer tussen goed en kwaad kan onderskei nie, en daarom herken en erken hulle nie wat boosheid is nie, want alles word as “goed” beskryf en niks is meer verkeerd vir sulke mense nie. Die hele konsep van sogenaamde “gelykheid” is boos en vals en sluit die volgende in:

Liberale Humanisme (vryheid, gelykheid, broederskap)
Kommunisme
Marxisme
Sosialisme

Rupert Ashford ·

Jes 5:20, 2 Tim 3:1-5. Hierdie dinge is lank gelede al voorspel. Die ouens se hulle sal nie met mense soos ons kan saamleef in die toekoms nie. Die harde tye kom – wat is dan hulle plan met ons as ons nie goed is om mee saam te leef nie?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.