Die woorde wat sy hoor

silhoeet-vrou

Foto: Freestocks.org/Pexels.com

Deur die Bedonnerde Diva

Sy was pas vier toe die middeljarige man homself reg langs die motor ontbloot het. Dit was in die jare voor karstoeltjies en sy was in die passasiersitplek. Haar ma was agter die stuur en het eers besef wat aangaan toe hy sy onderlyf teen die venster vasgedruk het. Hulle het vervaard weggetrek, maar sy kon hom selfs bo-oor die brul van die motor hoor lag. Haar ma het gesê dis iets vuils wat met haar gebeur het en nie iets wat ʼn mens vir Pappa of Oupa en Ouma oorvertel nie.

Sy was vyf en nuut in die kleuterskool toe die sewejarige seuntjie haar genooi het om deel te word van sy vriendekring. Hy en sy maats het haar teen die muur omsingel en gesê hulle sal haar maatjies wees as sy haar rok vir hulle oplig. Dit juffrou het hulle kom verwilder en vir haar gesê sy moenie sleg voel nie, dis maar wat seuntjies doen op daardie ouderdom.

Sy was tien toe sy die briefie in haar tas gekry het: “Wys vir my joune, dan wys ek jou myne.” Sy het nooit uitgevind wie dit geskryf het nie, want al die seuns in die klas het gegiggel toe sy toestemming gevra het om die kamer te verlaat. Die juffrou het die seuns aangegluur en vir haar gesê sy moet asseblief leer om haar man te staan en nie oor alles te wil tjank nie.

Sy was veertien toe die gewildste seun in die hoërskool se atletiekspan vir haar gesê het sy het mooi t**t*, maar sy sal hulle meer moet wys as sy wil hê seuns moet haar uitvra. Sy het gewonder of dit iets is wat ʼn seun vir haar behoort te sê, maar sy wou ook graag uitgevra word, daarom het sy stilgebly.

Sy was sestien toe sy besef het die middeljarige onderwyser kom nie by haar bank staan om haar met werk te help nie, hy staan langs haar omdat hy by haar rok wil inkyk. Sy wou vir hom sê dat sy nie daarvan hou dat hy sy onderlyf teen haar skouer skuur of per ongeluk aan haar borste raak as hy na haar werk beduie nie, maar sy het die seuns in die klas hoor proes, en sy het geweet hulle noem haar ʼn prude agter haar rug. En die onderwyser was op die bestuurspan en het rugby afgerig.

Sy was negentien en laataand op pad terug koshuis toe van die biblioteek af toe die vreemde manstudent haar van agter af gegryp het en sy hand by haar bloes ingedruk het. Sy vriende het hom van haar afgetrek en laggend gesê sy moet hom vergewe, hy’s dronk.

Sy was agt en twintig toe die passasier langs haar op die vlug van Londen na Suid-Afrika langs haar gemasturbeer het. Die lugwaardin het gesê daar is nie ʼn ander sitplek nie en sy moet dit maar verduur, dié soort goed gebeur gereeld.

Sy was agt en dertig toe sy die man op die foon gevra het om haar “mevrou” te noem en nie “my skattebol” nie. Hy het haar ʼn b***h genoem en gesê hy kan verstaan waarom sy geskei is.

Sy was veertig toe sy verkrag is. Sy wou ʼn saak maak, maar hy het gesê as sy dit nie wou gehad het nie, moes sy nie saam met hom uitgegaan het nie.

Sy was vyftig toe sy vir die eerste keer die woorde gekry het om te sê vroue het die reg om menswaardig behandel te word. Om by die werk en by die skool en in die bank en op ʼn kampus en by ʼn partytjie en op WhatsApp en oor ʼn foon en op ʼn vlug van Londen na Suid-Afrika menswaardig behandel te word. Baie mense het haar ʼn b***h genoem. En ʼn libtard en ʼn feminazi. En sy het die woorde gehoor en besluit sy dra hulle soos ʼn vaandel bo haar kop, want as mense jou hierdie goed noem, doen jy iets reg.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Trots man ·

Alle waardige manne wat ek ken, en daar is baie, sal altyd ‘n vrou met die grootste respek behandel en die manne wat nie doen nie aanvat en vir alle vroue opkom, en nie net passief toekyk as ‘n vrou of enige ander persoon sleg behandel word deur ‘n man of enigander mens nie. Ons moet opkom vir mekaar, mekaar opbou en beskerm. Ons moet weer ‘n hegte, sorgsame gemeenskap word.

DewaldS ·

Die meeste mans in die samelewing waaraan ek blootgestel was tot waar ek nou 52 is, het vrouens beslis menswaardig en eintlik baie goed behandel. Maar dit sal dwaas wees om te ontken dat hierdie soort goed nie gebeur nie. Wat seuns aanbetref – sommige van dit wat seuntjies doen, het met onkunde en ‘n leer-proses te doen. En dit sal net regverdig wees as ons erken dat meisies ook sulke goed doen – goed wat seuns se gevoelens kan seermaak en wat met seksualiteit te doen het. Dit is nie aanvaarbaar nie, maar ja – terwyl ons kinders is, doen ons (seuns en dogters) mos nie altyd alles reg nie en ons moet op die regte pad gehelp word.

Wat seksuele vergrype van volwassenes tenoor kinders aanbetref (en – ja – dit gebeur ook teenoor seuns en dikwels deur volwasse vrouens) – dit is onaanvaarbaar in enige vorm en dit is heeltemal reg dat dit as kriminele oortredings geklassifiseer word.

As al hierdie dinge soos hierbo beskryf met een vrou in ‘n leeftyd gebeur het, dan voel ek bitter jammer vir haar. En mens kan verstaan dat sy dalk sal sukkel om mans te vertrou. En dit is seker dan haar keuse as sy wou kies om ‘n negatiewe, vernietigende houding in te neem soos wat die ‘feminazis’ somtyds doen. Die ding is net – pasop dat jy nie ook die ‘fabric’ van die samelewing wat jou as vrou juis kan en wil beskerm, saam vernietig nie.

DewaldS ·

Maar ek dink die soort gebeure is darem nie die algemene reël in die soort samelewing wat Maroela Media sal lees nie en om so ‘n groot hoeveelheid van uitsonderlike gebeurtenisse te begin voorhou as algemeen in meeste vrouens se lewe, is dalk nie 100% eerlik nie. Ek is oop vir oortuiging van die teendeel (dat dit algemeen is).

Ons mans WIL saam julle vrouens werk en die oorgrote meerderheid van ons WIL julle gelykes wees. Maar ons wil uiteraard nie minderes wees nie. En ons wil ook nie die altyd almal skuldig wees aan iets wat enkele kriminele doen, net omdat ons dieselfde geslag as hulle is nie…

Susan Lombaard ·

Dagsê Dewald

Dankie vir jou sinvolle en goed beredeneerde kommentaar. Hierdie meningstuk het my diep geraak, en daarom reageer ek graag – in my persoonlike hoedanigheid maar ook namens Maroela Media.

Die hartseer is dat ek so baie vroue en meisies ken wat wel met minstens een van die insidente in hierdie “verhaal” sou kon identifiseer. Die ander kant van die munt is egter dat die meeste mans wat ek ken, presies is wie jy beskryf – mans wat vroue respekteer en hul opbouende rol as mans in die samelewing verstaan. Daar is nog ‘n kant van die saak wat jy vinnig aanroer – soms is vroue en dogtertjies ook die skuldige partye. Ek hoop die boodskap kom duidelik oor – al is dit dan uit hierdie kommentaar van my – dat ons geensins alle mans oor dieselfde kam skeer nie, maar dat ons met hierdie meningstuk ‘n stem gee aan vroue wat wel kan sê “dit het met my gebeur, en ek moes stilbly”.

Groetnis
Susan Lombaard (uitvoerende hoof: Maroela Media)

Albaster ·

Dankie Susan vir jou uitstekende terugvoer, MM is voorwaar ‘n unieke media platform want julle is opreg objektief anders as meeste ander mediagroepe in die land wat nie gebalanseerd en objektief is nie.

Liberaal ·

Die liberale dilemma is dat aan die een kant veg liberales vir vroueregte (wat regses ook doen) maar aan die ander kant veg linkses baie harder vir kriminele regte. Liberaliste vernietig daardeur hulself. Jy kan mos nie vir vroue omgee ne dan terselfdertyd nog baie meer lief wees vir verkragters en vrouemoordenaars nie. Of hoe redeneer ons linkse liberale leiers?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.