Teologiese opleiding op die spits gedryf

Deur professor Johan Janse van Rensburg

Bybel_Kruis_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Dit is nie moontlik om dit langer te ontken nie. Die kat is spreekwoordelik uit die sak gelaat. Nog onlangs het die voorsitter van die Algemene Sinodale Kommissie die lidmate van die NG Kerk verseker dat ons nog gereformeerd is. Dit is immers die Nederduitse GEREFORMEERDE Kerk.

Dit was egter tóé al bekend dat die Fakulteit Teologie van die UV reeds 10 jaar gelede besluit het om nie meer gereformeerde teologie aan voornemende predikante te doseer nie. Onlangs het die dekaan van die Fakulteit Teologie van die UP in ʼn amptelike verklaring die volgende gesê: “The faculty is consciously seeking to move from a reformed confessional faculty to an ecumenical one, embracing a variety of Christian denominations and traditions.”

Hierdie radikale koerswysiging kon seker te wagte gewees het aangesien die fakulteite nie langer onder kerklike beheer is nie. Universiteite is onder staatsbeheer. Dit kan daarom verwag word dat die inhoud van die kurrikulum temas soos swart teologie, Afrika Christelike teologie, bevrydingsteologie en feministiese teologie sal insluit. Om van hierdie teologiese tendense in die akademiese konteks kennis te neem, is begryplik en selfs noodsaaklik. Wanneer dit egter deel van die studente se paradigmatiese vertrekpunte gemaak word, word ʼn wesenlike gevaar geskep dat studente van hulle veronderstelde gereformeerde geloofsoortuigings afstand moet doen of dit relativeer.

Die verklaring van die dekaan van die UP se teologiese fakulteit toon uitdruklik dat dit die doel van die opleiding is om inklusiwiteit en verdraagsaamheid te bevorder. Daar is reeds aanduidings dat studente, in lyn met hierdie beleid en in ooreenstemming met ʼn postmoderne paradigma, beïnvloed word om vir ander teologiese oortuigings ontvanklik te wees. Dit staan in skrille kontras met kerklike formuliere wat voornemende doopouers en belydende lidmate vra of hulle alle leringe wat met die gereformeerde leer in stryd is, sal verwerp. Dit is eweneens teenstrydig met artikel 1 van die Kerkorde van die NG Kerk.

Dat die fakulteite akademiese instellings geword het, is ʼn onomkeerbare werklikheid. Daarmee het die kerk die reg verloor om op wysigings in kurrikulums aan te dring. Moet die kerk dan maar swyg en die status quo aanvaar? ʼn Groterwordende getal dolerende gemeentes toon duidelik dat daar in die kerk groot ontevredenheid oor sinodebesluite en teologiese opleiding is. Gegewe die amptelike bekendmaking van teologiese vertrekpunte vir teologiese opleiding is dit begryplik dat gemeentes, predikante en lidmate nie die situasie langer stilswyend kan aanvaar nie.

Studente moet immers nie alleen akademies toegerus word nie, maar spesifiek vir die bediening in ʼn bepaalde kerklike (gereformeerde) verband opgelei word. Studente wat hierdie inklusiewe teologiese opleiding deurloop, gaan waarskynlik spoedig op kansels staan om die Woord te verkondig. As hulle aanvaar het dat die Bybel nie die Woord van God is nie, is daar ʼn al hoe groterwordende getal predikante wat nie langer die prediking as verklaring van die Woord van God (VDM, oftewel Verbi Divini Minister of “bedienaar van die Woord”) kan bedien nie. Wat kan immers van die inhoud van die verkondiging verwag word as studente geleer word dat die tekste in die Bybel bloot vir daardie tyd en kultuur gegeld het maar nie op vandag van toepassing kan wees nie?

Ons hoor die verweer dat die bykomstige seminarium by die UV aan studente gereformeerde teologie doseer. Geld dit steeds as gereformeerde teologie wanneer die Heidelbergse Kategismus die enigste kurrikulum is wat behandel word? ʼn Teologiese kurrikulum behels immers veel meer as die bespreking van ʼn belydenisskrif. Wat van die ander belydenisskrifte? Hoe word dié inhoud van die belydenis aan studente oorgedra as dit binne die konteks van akademiese kritiek teen die Skrif en die Kategismus plaasvind? Hoe rym dit wanneer openlik gesê word dat die sosiale en seksuele etiek van die Bybel nie meer vandag geld nie, terwyl die Kategismus (Sondag 34-44) juis oor die etiese implikasies van die Wet uitbrei? Maak die inklusiewe benadering dit nie onmoontlik om vakke soos apologetiek (die verweer teen afwykende beskouings) aan te bied nie? Watter impak het dit wanneer dosente openlik vir ʼn postmoderne epistemologie – wat geen vasstaande waarhede wil erken nie – kies en studente sodanig beïnvloed?

In die lig van die voorafgaande inligting is dit begryplik dat al hoe meer stemme opgaan om alternatiewe teologiese opleiding vir voornemende predikante te fasiliteer. Ander kerke het hulle eie teologiese seminariums wat hulle geloofsleer beskerm en leer. Waarom moet die NG Kerk dit ontbeer? Hoe lank kan die onhoudbare situasie in die huidige teologiese opleiding vir die NG Kerk nog verduur word? Kan daar nog enigsins iets gedoen word? Ons kan begin deur op te hou om voor te gee dat daar geen probleem is nie. Dit gaan die NG Kerk in meer as een opsig duur te staan kom.

  • Johan Janse van Rensburg is reeds meer as 40 jaar ’n NG Kerk-predikant. In 1994 het hy ook ’n pos aan die Fakulteit Teologie van die Universiteit van die Vrystaat aanvaar waar hy 16 jaar praktiese teologie doseer het. Hy het drie doktorsgrade verwerf by Stellenbosch, Unisa en die UV.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

10 Kommentare

jongste oudste gewildste
Pieter9

As die Geroormeerde Kerke nie ‘n plan maak om hulle eie teologiese opleidings instelling daar te stel nie is dit wat nou gebeur slegs die aanvang van wat gaan kom. Dit is o.a die groot rede hoekom lidmate die NG kerk verlaat. Soos ek. Die tyd is nou daar dat die wat in Jesus Christus glo en in ‘n persoonlike verhouding met hom leef, opstaan en die Woord/Bybel as die enigste geopenbaarde wil van God van elke verhoog proklameer. Daar is GEEN ander evangelie, daar is GEEN ander Verlosser en die Woord het nie vandag ‘n ander boodskap as 2000… Lees meer »

Jan Seerot

Ek weet nie of die Apostoliese Geloofsbelydenis nog van krag is in die NG Kerk nie, maar wat skree ten hemele sou wat die Prof hier te sê het, die geval sou wees.

Heinrich

Politieke korrektheid en die menseregte gees van die dag het reeds die NG Kerk duur te staan gekom. Om elke keer die ‘waardestelsel’ van die moderne Christen aan te pas by die tydsgees i.p.v. die Bybel (die hele Bybel en nie net sekere selektiewe stukkies nie) as ware handleiding te gebruik is kortsigtig.

Piet Snot

Die Kerk sal moet begin deur nie meer kwalifikasies te erken wat by afwykende universiteite verwerf is nie.
Daarmee saam sal ons waarskynlik ons eie teologiese opleiding moet begin.
Hierdie verrotting kan nie toegelaat word om die Kerk te oorspoel nie.

Net ek

Ek skryf hier uit “ondervinding”, my kind studeer by UV se teologie fakulteit en my hare staan almal regop oor watse gemors hulle geleer word. As my kind verskil van die lektor word dit duidelik gesien in die behandeling en punte. Gelukkig is die siminarium daar vir NG spesifiek opleiding maar teen die trant wat die sinode die pad buister raak weet ek ook nie aldag nie. Daar is gelukkig ook nog NG predikante wat glo in die Bybel en net die Bybel en een God, een so preditkant is my kind se mentor vir wie ek baie dankbaar is.… Lees meer »