Teologiese opleiding op die spits gedryf

Deur professor Johan Janse van Rensburg

Bybel_Kruis_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Dit is nie moontlik om dit langer te ontken nie. Die kat is spreekwoordelik uit die sak gelaat. Nog onlangs het die voorsitter van die Algemene Sinodale Kommissie die lidmate van die NG Kerk verseker dat ons nog gereformeerd is. Dit is immers die Nederduitse GEREFORMEERDE Kerk.

Dit was egter tóé al bekend dat die Fakulteit Teologie van die UV reeds 10 jaar gelede besluit het om nie meer gereformeerde teologie aan voornemende predikante te doseer nie. Onlangs het die dekaan van die Fakulteit Teologie van die UP in ʼn amptelike verklaring die volgende gesê: “The faculty is consciously seeking to move from a reformed confessional faculty to an ecumenical one, embracing a variety of Christian denominations and traditions.”

Hierdie radikale koerswysiging kon seker te wagte gewees het aangesien die fakulteite nie langer onder kerklike beheer is nie. Universiteite is onder staatsbeheer. Dit kan daarom verwag word dat die inhoud van die kurrikulum temas soos swart teologie, Afrika Christelike teologie, bevrydingsteologie en feministiese teologie sal insluit. Om van hierdie teologiese tendense in die akademiese konteks kennis te neem, is begryplik en selfs noodsaaklik. Wanneer dit egter deel van die studente se paradigmatiese vertrekpunte gemaak word, word ʼn wesenlike gevaar geskep dat studente van hulle veronderstelde gereformeerde geloofsoortuigings afstand moet doen of dit relativeer.

Die verklaring van die dekaan van die UP se teologiese fakulteit toon uitdruklik dat dit die doel van die opleiding is om inklusiwiteit en verdraagsaamheid te bevorder. Daar is reeds aanduidings dat studente, in lyn met hierdie beleid en in ooreenstemming met ʼn postmoderne paradigma, beïnvloed word om vir ander teologiese oortuigings ontvanklik te wees. Dit staan in skrille kontras met kerklike formuliere wat voornemende doopouers en belydende lidmate vra of hulle alle leringe wat met die gereformeerde leer in stryd is, sal verwerp. Dit is eweneens teenstrydig met artikel 1 van die Kerkorde van die NG Kerk.

Dat die fakulteite akademiese instellings geword het, is ʼn onomkeerbare werklikheid. Daarmee het die kerk die reg verloor om op wysigings in kurrikulums aan te dring. Moet die kerk dan maar swyg en die status quo aanvaar? ʼn Groterwordende getal dolerende gemeentes toon duidelik dat daar in die kerk groot ontevredenheid oor sinodebesluite en teologiese opleiding is. Gegewe die amptelike bekendmaking van teologiese vertrekpunte vir teologiese opleiding is dit begryplik dat gemeentes, predikante en lidmate nie die situasie langer stilswyend kan aanvaar nie.

Studente moet immers nie alleen akademies toegerus word nie, maar spesifiek vir die bediening in ʼn bepaalde kerklike (gereformeerde) verband opgelei word. Studente wat hierdie inklusiewe teologiese opleiding deurloop, gaan waarskynlik spoedig op kansels staan om die Woord te verkondig. As hulle aanvaar het dat die Bybel nie die Woord van God is nie, is daar ʼn al hoe groterwordende getal predikante wat nie langer die prediking as verklaring van die Woord van God (VDM, oftewel Verbi Divini Minister of “bedienaar van die Woord”) kan bedien nie. Wat kan immers van die inhoud van die verkondiging verwag word as studente geleer word dat die tekste in die Bybel bloot vir daardie tyd en kultuur gegeld het maar nie op vandag van toepassing kan wees nie?

Ons hoor die verweer dat die bykomstige seminarium by die UV aan studente gereformeerde teologie doseer. Geld dit steeds as gereformeerde teologie wanneer die Heidelbergse Kategismus die enigste kurrikulum is wat behandel word? ʼn Teologiese kurrikulum behels immers veel meer as die bespreking van ʼn belydenisskrif. Wat van die ander belydenisskrifte? Hoe word dié inhoud van die belydenis aan studente oorgedra as dit binne die konteks van akademiese kritiek teen die Skrif en die Kategismus plaasvind? Hoe rym dit wanneer openlik gesê word dat die sosiale en seksuele etiek van die Bybel nie meer vandag geld nie, terwyl die Kategismus (Sondag 34-44) juis oor die etiese implikasies van die Wet uitbrei? Maak die inklusiewe benadering dit nie onmoontlik om vakke soos apologetiek (die verweer teen afwykende beskouings) aan te bied nie? Watter impak het dit wanneer dosente openlik vir ʼn postmoderne epistemologie – wat geen vasstaande waarhede wil erken nie – kies en studente sodanig beïnvloed?

In die lig van die voorafgaande inligting is dit begryplik dat al hoe meer stemme opgaan om alternatiewe teologiese opleiding vir voornemende predikante te fasiliteer. Ander kerke het hulle eie teologiese seminariums wat hulle geloofsleer beskerm en leer. Waarom moet die NG Kerk dit ontbeer? Hoe lank kan die onhoudbare situasie in die huidige teologiese opleiding vir die NG Kerk nog verduur word? Kan daar nog enigsins iets gedoen word? Ons kan begin deur op te hou om voor te gee dat daar geen probleem is nie. Dit gaan die NG Kerk in meer as een opsig duur te staan kom.

  • Johan Janse van Rensburg is reeds meer as 40 jaar ’n NG Kerk-predikant. In 1994 het hy ook ’n pos aan die Fakulteit Teologie van die Universiteit van die Vrystaat aanvaar waar hy 16 jaar praktiese teologie doseer het. Hy het drie doktorsgrade verwerf by Stellenbosch, Unisa en die UV.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Pieter9 ·

As die Geroormeerde Kerke nie ‘n plan maak om hulle eie teologiese opleidings instelling daar te stel nie is dit wat nou gebeur slegs die aanvang van wat gaan kom. Dit is o.a die groot rede hoekom lidmate die NG kerk verlaat. Soos ek. Die tyd is nou daar dat die wat in Jesus Christus glo en in ‘n persoonlike verhouding met hom leef, opstaan en die Woord/Bybel as die enigste geopenbaarde wil van God van elke verhoog proklameer. Daar is GEEN ander evangelie, daar is GEEN ander Verlosser en die Woord het nie vandag ‘n ander boodskap as 2000 jr gelede nie. God verander nie, die mens verander. Ek verstaan die akademie ( het ook ‘n kwalifikasietjie of twee), maar die veto-reg van die Woord mag en kan nie versmoor word deur die wereld interpretasie / populere sekulere beskouing. Kom ons staan op hierteen,

Jan Seerot ·

Ek weet nie of die Apostoliese Geloofsbelydenis nog van krag is in die NG Kerk nie, maar wat skree ten hemele sou wat die Prof hier te sê het, die geval sou wees.

Heinrich ·

Politieke korrektheid en die menseregte gees van die dag het reeds die NG Kerk duur te staan gekom. Om elke keer die ‘waardestelsel’ van die moderne Christen aan te pas by die tydsgees i.p.v. die Bybel (die hele Bybel en nie net sekere selektiewe stukkies nie) as ware handleiding te gebruik is kortsigtig.

Piet Snot ·

Die Kerk sal moet begin deur nie meer kwalifikasies te erken wat by afwykende universiteite verwerf is nie.
Daarmee saam sal ons waarskynlik ons eie teologiese opleiding moet begin.
Hierdie verrotting kan nie toegelaat word om die Kerk te oorspoel nie.

Net ek ·

Ek skryf hier uit “ondervinding”, my kind studeer by UV se teologie fakulteit en my hare staan almal regop oor watse gemors hulle geleer word. As my kind verskil van die lektor word dit duidelik gesien in die behandeling en punte. Gelukkig is die siminarium daar vir NG spesifiek opleiding maar teen die trant wat die sinode die pad buister raak weet ek ook nie aldag nie. Daar is gelukkig ook nog NG predikante wat glo in die Bybel en net die Bybel en een God, een so preditkant is my kind se mentor vir wie ek baie dankbaar is. Mag deur die genade van ons Verlosser daar ‘n positiewe omswaai wees.

Diederick ·

Die ou skryf nogal n waar ding raak. Ek is n teologiese student en is juis nou besig met n taak oor afrika teologie en feministiese teologie en swart teologie. Ek stem 100% saam met sy sienings dat die universiteite ons gerformeerde studente op n dwaalspoor wil lei en dat dié teologiese opleiding teen die kerk formelure is. Die snert word in ons kele af gedruk deur die akedemici en ons as studente kan niks daaran doen nie dis n saak van bly stil en doen dit maar net of die alternatief om modules te pluk indien ons durf waag verskil van wat hulle beskou as teologie. Ek sien ook die pad vorentoe as n privaat akademiese instelling vir NG teologiese opleiding maar met die werldse wyses wat aan bewind is by die NG kerk is daar skraal hoop daarvoor. Ek verskil well oor sy uitsprake dat die vrystaat seminarium net doseer op HK. Die ander belydenis skrifte soos bv. Dortse leerreels en nederlandse gelsoofs beleidenis word wel ook behandel en ander nutige toeristing word daar vir ons geleer.

Oom ·

Hoekom die wiel oor uitvind. Die teologiese skool by die NWU is darem nog vir nou op die regte spoor. Die voortdurende gekla oor die toedrag van sake mbt sinodale besluite en teologiese skole bring niemand iets in die sak nie. As dit nie vir Moses was nie, was die Jode nou nog in Egipte. Elke gelowige is verplig om hom/haar by die ware Kerk te voeg. (NGB art 28 en 29). Die voortdurende gekibbel oor wat reg is of nie reg is nie trek die aandag af van ons primêre geloofsopdrag, naamlik om die HERE GOD sonder ophou met hart en siel te dien.

Hennie ·

Die NG se eie sinode aanvaar verskillende maniere van trou en saam leef wat teen die Bybel is en die vaxx wat skeinbaar ‘n liefdesdaad is sonder om ‘n dieper navorsing daaroor te doen en julle bekommer julle dat die predikante verkeerd geleer gaan word???

Anel ·

Dankie tog die Afrikaanse Protestante Kerk het sy eie Akademie. As ek so lees en luister dan dink ek het die NG kerk dit heeltemal verloor.
Net ‘n voorbeeld, jare terug, sing ons jongste seun in die laerskoolkoor. Hulle sing die Sondag by n NGGemeente. Nie eers halfpad deur die dien, wou hy opstaan en loop. Ek kon hom keer, maar na hulle gesing het, het hy by die deur uit gestap. Dit was laaste. Dieselfde op universiteit gaan hy saam met ‘n vriendin die oggend kerk toe. Dit was Nagmaal. So kty hulle die wyn en brood by die deure en kinders, glo bo 12, kan ook gebruik. Dit was laaste wat hy saam gegaan het. By ons met Nagmaal moet die predikant ook gereeld besoekers vermaan dat slegs jongmense wat beleidenis van geloof afgelê het mag gebruik. Dit is soos Geskiedenis. Die regwring wil dit herskryf voor kinders dit miet leer. Mens kan dit nie herskryf nie. Net so ook die Bybel. Jy kan die Bybel nie herskryf om jou te pas nie. Dit is die woord van die Here. Jy moet daarvolgens lewe.

JoHines ·

Dankie proffesor dat jy bereid is om met die waarheid vorendag te kom.
NG lidmate word deesdae, al slapend, mislei.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.