Territoriale outonomie, ook bekend as gebiedsoutonomie, bestaan wanneer die sentrale regering ʼn deel van die wetgewende, uitvoerende en regsprekende gesag afwentel na ʼn etniese minderheid wat in ʼn geografiese gebied binne sy grense gekonsentreerd is.
Die sentrale regering het egter nog steeds die finale gesag en ʼn outonome gebied kan nie ʼn soewereine staat wees nie (maar wel deur afskeiding in sekere gevalle een word). Territoriale outonomie word onderskei van gewone federalisme in die sin dat territoriale outonomie ten minste oorspronklik aan ʼn etniese minderheid binne die staat toegestaan is, en die outonome gebied groter seggenskap oor sy eie sake het as byvoorbeeld die gewone provinsies of administratiewe distrikte van die federale staat.
State hoef ook nie federaal te wees om outonome gebiede te hê nie, maar in die meeste gevalle vind outonomie in federale state plaas. Outonomie kan eintlik net in demokratiese state betekenisvol gebeur, omdat magte na die bevolking van die betrokke outonome gebied afgewentel moet word en die sentrale regering ʼn deel van sy beheer opgee. Totalitêre state soos China of die Sowjet-Unie van ouds het ook sogenaamde outonome gebiede vir sekere etniese minderhede gehad, maar hulle is steeds deur die kommunistiese party beheer en die inwoners van dié gebiede was net so magte- en regteloos soos in die res van die land.
Redes vir territoriale outonomie
Die verskynsel van territoriale outonomie is histories relatief jonk en hang ten nouste saam met demokratisering wat, van enkele uitsonderings soos die VSA afgesien, eers na die Eerste- en veral na die Tweede Wêreldoorlog plaasgevind het.
Die eerste toekenning van outonomie was in 1921 aan die Alandeilande, wat polities tot Finland behoort maar deur etniese Swede bewoon word. Waar ʼn nasionale minderheid binne een land ʼn etniese moederland het, soos Swede in die geval, is dit makliker om as minderheid erkenning en territoriale outonomie te bereik. Ook Katalonië en die Baskeland in Spanje was van die vroegste voorbeelde wat outonomie op grond van etniese en taalkundige andersoortigheid in 1932 en 1936, onderskeidelik, verkry het. Die outonomie was egter van korte duur weens die Spaanse burgeroorlog en sy nagevolge en is eers in 1979 weer herstel.
Gewoonlik is die territoriale outonomie eers na ʼn lang en taai stryd toegestaan. Die motivering was dikwels die beëindig van konflik tussen minderheid en meerderheid en om die staat se gewelddadige opbreek te keer. Die argument is in die meeste gevalle reg bewys: waar minderhede goed geakkommodeer is en ʼn groot mate van selfbestuur het, soos in Skotland of Quebec, het hulle in referendums gekies om deel van die staat te bly (al was dit ʼn nabye uitkoms). Waar hulle wreed onderdruk is, soos in Suid-Soedan (binne Soedan), Eritrea (binne Ethiopië) en Oos-Timor (binne Indonesië) was daar geweldige steun vir onafhanklikheid eerder as outonomie.
Die vlak van outonomie verskil van staat tot staat. Op die hoogste vlak het die outonome streek beheer oor alles behalwe verdediging en buitelandse sake. By belasting en binnelandse veiligheid het die outonome gebiede dikwels gedeeltelike beheer.
Quebec in Kanada
Kanada se bevolkingsmeerderheid is Engelssprekend (sowat 57% van die 35 miljoen inwoners het Engels as moedertaal), maar daar is ʼn minderheid van sowat 21% Franssprekendes, wat veral in die provinsie Quebec in die Ooste gekonsentreerd is. Die res van die bevolking is ʼn groeiende getal immigrante uit alle dele van die wêreld, maar veral uit Asië − insluitende die Midde-Ooste. Van die sowat agt miljoen inwoners van Quebec is 80% Franssprekend, die res veral Engelssprekend. Ook is Quebec, anders as die res van Kanada wat tradisioneel protestants is, hoofsaaklik katoliek, te danke aan die historiese verbintenis met Frankryk. Die Engelssprekendes in Quebec is op hulle beurt weer veral in die stede gekonsentreerd, by name Montreal, sodat hulle op plaaslike vlak ook verkiesings kan wen.
Die provinsie Quebec in Kanada het deur ʼn evolusionêre proses meer en meer magte van die sentrale regering gekry, maar wel na ʼn lang stryd wat ook soms gewelddadig was. Kanada is ʼn federale staat en ook die ander provinsies, het eweneens meer seggenskap teenoor die sentrale regering gekry. Die Franssprekendes in Kanada het die nasionalistiese Bloq Quebecois (BQ) as hulle verteenwoordiger. In die provinsie Quebec self was die BQ se sustersparty, die Parti Quebecois (PQ), by tye die regerende party, die laaste keer in 2014. Die BQ en PQ se uiteindelike doel is ʼn onafhanklike Quebec. Ook die beskerming van die Franse taal in ʼn oorweldigend Engelssprekende streek is vir hulle kardinaal. Ten spyte van sy nasionalisme is die twee partye egter, op die sosiaal-maatskaplike en ekonomiese terrein, eerder links.
Twee keer, in 1980 en 1995, was daar referendums oor die onafhanklikheid van Quebec, wat egter al twee verloor is, die laaste een baie naelskraap met 49,4% wat vir onafhanklikheid gestem het. Aangesien die Franssprekendes in Kanada in ʼn groot mate geakkommodeer is, veral in Quebec waar hulle die meerderheid is, was die koste, onsekerheid en ontwrigtings van onafhanklikheid vir talle nie die moeite werd nie.
Dit was egter nie altyd so nie. Die Franssprekendes was vir lank die afgeskeepte en ekonomies swakker deel teenoor die Engelssprekende meerderheid. Aanvanklik het die Liberale Party wat binne Quebec in beheer was, met allerhande sosiale en ekonomiese hervormings die situasie van sy inwoners verbeter en sodoende die Quebecane se selfrespek en stukrag opgelig. Hulle leuse vir Quebec was ook “Maitre chez nous” (baas oor ons eie tuiste), nogal vergelykbaar met die Suid-Afrikaanse eerste minister JBM Hertzog se leuse “Suid-Afrika eerste” (teenoor Brittanje). Ook die ekonomiese ontwikkeling van die Afrikaner, hand in hand met kulturele opgang en groeiende selftrots, kan met die gebeure in Quebec, sowat 50 jaar later, vergelyk word.
Nes die Afrikaners was ook die Franssprekende Kanadese meer gemeenskapsgeoriënteerd teenoor die individualistiese en imperialisties ingestelde Britte. In 1974 het Frans die amptelike taal van Quebec geword. Die federale regering het gereageer en die Franssprekendes in Kanada probeer akkommodeer deur grondwetlike aanpassings om ʼn wegbreek, waarvoor daar groeiende steun was, te keer. In 1988 het Frans, naas Engels, die amptelike taal in die hele Kanada geword. Met die Charlottetown-ooreenkoms oor voorgestelde grondwetlike veranderings, sou die regte van die provinsies vergroot word.
Die aandrang vir groter provinsiale outonomie het egter veral vanuit Quebec gekom. In die sterk Engelssprekende westelike provinsies, soos Alberta en Brits-Columbië, was daar ʼn teenreaksie en in die referendum waar alle Kanadese kon stem is die grondwetlike veranderings met 55% verwerp. Selfs in Quebec was ʼn minderheid vir die grondwetlike veranderings, omdat dit vir hulle weer nie vêr genoeg gegaan het nie. As reaksie het die PQ-regering van Quebec drie jaar later hulle eie referendum oor afskeiding gehou, wat egter naelskraap verloor is.
Outonomie vir die Inuit in die Arktiese streek
In 1999, na jarelange onderhandelinge, het Kanada ʼn groot deel van die noordelike grondgebied as outonome gebied onder beheer van die Inuit, die oerbevolking in die Arktiese streek (vroeër bekend as Eskimo’s), geplaas. Dit staan as Nunavut (“ons tuisland”) bekend. Dit is van die mees yl bevolkte gebiede ter wêreld, met slegs sowat 30 000 inwoners op 1,8 miljoen vierkante kilometer. Die doel was veral om aan die oerbevolking, wat vir baie jare minderwaardig behandel is, ʼn simboliese vergoeding te gee en hulle in staat te stel om hulle kultuur te herontdek en uit te leef. Belangrik is ook dat die Inuit groot dele van die grond gemeenskaplik besit, beheer oor die ontginning van grondstowwe het en dat nie-Inuit beperk word wat die besit van grond en die bewoning van die gebied betref, want slegs enkele duisend intrekkers sal dié gebied demografies ontwrig.
Die naburige reuse Groenland, wat polities tot Denemarke behoort en eweneens deur veral Inuit bewoon word, het selfs nog groter outonomie as Nunavut. Sy bevolking en oppervlakte is vergelykbaar met Nunavut. Outonomie is reeds in 1979 toegeken met ʼn eie parlement en regering. In 2009, na ʼn referendum, is selfbestuur toegeken, die hoogste vlak van outonomie. Denemarke hanteer slegs verdediging en buitelandse sake, selfs daar het die regering van Groenland medeseggenskap in so verre dit Groenland self betref. Groenland se bevolking kan selfs hulle onafhanklikheid kies, maar die groot koste van die opbou van ʼn nuwe staat en die beperkte inkomste laat die meerderheid tans nog die status quo verkies. Sonder die jaarlikse fiskale bydrae van Denemarke sou Groenland finansieel nie kon oorleef nie.
Voorbeelde in Europa
Weens sy groot verskeidenheid volke en dikwels wisselende grense is daar in bykans elke land van Europa etniese minderhede. Die meeste van die volke moes lank veg vir erkenning en verskillende vlakke van outonomie. State wat reeds federaal ingedeel is, was meer gewillig om aan sekere dele outonomie toe te staan as sentralistiese state.
In Spanje het die twee gebiede met ʼn eie taal en identiteit, Baskeland en Katalonië, in 1979 outonomie gekry. Later, in 1981, het ook Galisië en Andalusië outonomie gekry, en daarna is ook na die oorblywende streke meer magte afgewentel, sodat die verskil tussen die vier outonome streke en die res vervaag het en Spanje effektiewelik van ʼn sentralistiese staat met enkele outonomie streke in ʼn federale staat verander het. Afskeiding van enige deel van Spanje word egter uitdruklik deur die grondwet verbied en daarom was ook Katalonië se eensydige afskeidingspoging in 2016 onwettig en is die outonomie intussen ingeperk.
Ook die skepping van streeksregerings vir Skotland, Noord-Ierland en Wallis in 1998 in Groot-Brittanje is ʼn voorbeeld van groeiende outonomie in Europa. Skotland kon selfs stem vir onafhanklikheid in 2014, maar dit is met 55% verwerp.
België het nie as staat van ʼn spesifieke volk ontstaan nie (en het ook geen staatsvolk nie), maar as ʼn strategiese bufferstaat tussen Nederland en Frankryk en die Belgiese identiteit is taamlik flou (die koningshuis en die sokkerspan is omtrent die enigste saambindende faktore van die land). Die aanvanklik sentralistiese staat is weens die aanhoudende konflik tussen Vlaams- en Franssprekendes in 1993 in outonome deelstate volgens taalgroep ingedeel. Die geval van België is interessant omdat die grootste bevolkingsgroep, die Vlaminge, nogtans in die gesamentlike staat afgeskeep gevoel het en daarom aangedring het op groter seggenskap oor hulle eie streek. Benewens die groot Vlaams-en Franssprekende deel (Wallonië) is daar ook ʼn outonome gebied vir die klein Duitssprekende minderheid van sowat 30 000 mense. Die hoofstad Brussel, wat aan geen groep behoort nie (histories was dit Vlaams, intussen is dit merendeels Frans), is ʼn streek op sy eie met gesamentlike bestuur deur die twee taalgroepe.
Italië het deur die anneksasie van Suid-Tirool van Oostenryk-Hongarye na die Eerste Wêreldoorlog ʼn etniese en taalminderheid gekry. Die Duitssprekendes in Suid-Tirool is ʼn totale minderheid (500 000 mense teenoor 60 miljoen in die hele Italië) en is boonop nog deur doelbewuste nedersettings van etniese Italianers in ʼn stadium ʼn minderheid in hulle eie gebied gemaak. Na ʼn lang stryd, deels ook gewelddadig, kon die twee kante mekaar egter vind (waarby Oostenryk as staat vir sy mense opgetree het teenoor die Italiaanse regering, wat Suid-Tirool nie as gelyke erken het nie) en ʼn outonomie-statuut is in 1972 onderhandel. Dit het bepaal dat die gebied waar die Duitssprekendes woon semi-outonomie in verskillende fases oor ʼn tydperk van 20 jaar sou kry. Die behoud van die Duitse taal, kultuur en gewoontes was daarby sentraal. Vandag gaan die stryd veral oor groter beheer oor die finansies, aangesien Suid-Tirool die rykste streek van Italië is en in verhouding die meeste tot die staatskas bydra.
Outonomie in die res van die wêreld
Outonomie is nog die uitsondering in die nie-Westerse state. Die ideaal van die nasiestaat (dikwels met ʼn sosialistiese inslag) geld hier veral. In Afrika het slegs die eiland Zanzibar (deel van Tanzanië) outonome status. Die outonomie van Jammu en Kasjmier in Indië is in 2019 beëindig. In Irak kon die Koerde na ʼn lang stryd ʼn outonome streek in 2005 kry. Ook in die Verre Ooste, in Indonesië en die Filippyne, is outonomie aan dele toegestaan wat ʼn sterk Moslem-bevolking het.
Maroela Media gaan in die komende weke tweeweekliks artikels plaas as deel van ʼn reeks oor outonomie, waarin die term en hoe dit in praktyk neerslag vind onder die loep geneem sal word. In die reeks word daar nie net na outonomiese state gekyk nie, maar ook na mikrostate wat outonoom funksioneer en wat dit in praktyk ook in Suid-Afrika mag beteken. Die reeks is deur Sebastiaan Biehl geskryf wat oor merkwaardige kennis rakende die internasionale politiek en die funksionering van verskeie politieke stelsels beskik.