Terugslag vir demokrasie tref Afrika in die hart

jacob-zuma-in-kongo

President Jacob Zuma saam met die president van die Demokratiese Republiek van die Kongo, Joseph Kabila, tydens ‘n besoek aan die land in 2015. Foto: GCIS/Flickr.com

Die Demokratiese Republiek van die Kongo, ook bekend as die DRK, het pas aangekondig die land gaan nie die beloofde verkiesings aan die einde van die jaar hou nie. Dit sal te duur wees en aangesien veral die koperprys gedaal het, het die land nie sy verwagte inkomste gehaal nie.

Die probleem is egter groter as net ʼn verkiesing wat nie gehou word nie. Pres. Joseph Kabila se tweede en laaste termyn het reeds einde verlede jaar verstryk. ʼn Verkiesing is egter nie gehou nie, omdat die land volgens die regering nie reg was daarvoor nie.

Dié besluit het tot onluste gelei waartydens minstens vyftig mense dood is. Met die tussenkoms van veral kerkleiers het die regering en opposisieleiers tot ʼn vergelyk gekom dat Kabila tot Desember aan bewind sal bly, maar dat hy nie herkiesbaar sal wees in die verkiesing wat dan gehou word nie.

Onderhandelings oor ʼn tussentydse regering, wat ook lede van die opposisie sal insluit, het egter hierna doodgeloop.

Min mense wat die Kongolese tradisie, waar die presidente hulself ten koste van die land verryk, ken, het verwag Kabila sal sonder ʼn paar maneuvers die aftog as president blaas. Opstande, afskeidings, burgeroorlog en sluipmoord is veel meer die Kongolese “tradisie.”

Kabila se pa, Laurent Kabila, wat die jarelange diktator Mobutu Sese Seko verjaag het, is self in ʼn sluipmoord dood. Joseph het self twee verkiesings oorleef, maar toe die grondwet sy verdere presidentskap kelder, word die grondwet eenvoudig onder die mat ingevee.

Bloomberg het in Desember verlede jaar die sluier effens gelig oor die omvang van die rykdom wat die Kabila-familie versamel het. Hulle besit of beheer onder meer 120 maatskappye, beheer mineraleregte van onder meer ʼn groot diamantveld en hierdie invloed strek oor die hele land. Presiese syfers is moeilik om te bekom, maar een maatskappy se opbrengs oor vier jaar het $350 miljoen beloop.

In Mei 2014 het City Press berig pres. Jacob Zuma se broerskind, Khulubuse Zuma, het twee olievelde in die DRK, ter waarde van 100 miljard dollar, bekom. Dit het glo deur die bemiddeling van die president self geskied. Na berig word het Kabila, wat die oordrag per dekreet laat geskied het, bepaal Suid-Afrika, die ANC en selfs die Zuma-familie moet baat vind daarby.

Dit is nie baie bemoedigend vir die demokrasie en die grondwet in Suid-Afrika as Zuma ongeveer heeltemal passief is oor wat Kabila met die DRK aanvang nie. In Wes-Afrika het Nigerië en ander moondhede gou ingegryp toe die sittende presidente eers in Senegal en toe in Gambië die verkiesings verloor, maar aan die mag bly klou het. Laurent Gbakbo, die afgesette Senegalese leier, word nou deur die Internasionale Strafhof verhoor.

Suid-Afrika se rol as streekmoondheid word so ontplooi dat Robert Mugabe al jare lank ʼn skrikbewind in Zimbabwe kan voer en dat die verkiesings wat te midde van streng perssensuur plaasvind, op ʼn streep as vry en regverdig verklaar word. Dit boesem nie baie vertroue in oor wat op eie bodem kan gebeur nie.

  • Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Skim ·

Janee dit is nou een ding van ‘n AFRIKA DIKTATOR, hy gee nie sommer sy plekkie in die son vir iemand anders nie. Hulle leef te lekker, Mugabe is een van die baie gevalle, en Zuma klou ook maar vir die vale. As hulle nie met ‘n staatsgreep verwyder word nie, sit hulle daardie sitplek warm tot die oordeelsdag.

Hendrik ·

Met al die gebeure die laaste paar maande, weke en dae voel ek dat daar is nie meer veel om te se nie. Die demokrasie is al van alle kante bespreek en ons almal weet waar die fout le. Volgens my le die fout dat die nie-ingeligte massa onverantwoordelik stem en ons kan niks doen daaraan nie. So wat nou gemaak? Plan B?

hendrik ·

Ek wonder wat maak Zuma daar. het hy lesse gaan neem hoe dit gedoen word??

willie ·

Tipies Afrika, die woord demokrasie bestaan nie in een van die afrika tale nie!

Johannes van Staden ·

Kan iemand asb net EEN land noem wat gekolaniseer was wat nou werk en vooruitstrewend is ?

Frik ·

Kyk na Somalië. Nooit gekoloniseer en die armste land ter wêreld

Leendert ·

Waar kon Afrika gewees het, ook Suid Afrika die afgelope 10 jaar, as dit nie vir die vergrype van hul leiers was nie. Mens kan nog verstaan, daar waar die leiers met geweld aan die bewind gekom het, maar in Suid Afrika skud mens net die kop ook die ANC en hul stemvee. Die agteruitgang van die land kan direk aan Zuma en die ANC in sy termyn aan bewind toegeslryf word. Sy opvolger gaan jare vat om dit reg te maak, maar, hy sal ook nie net kan maak en breek nie, ons gaan nog baie, baie jare met die gevolge van Zuma en sy nalatenskap sit. Jammer daar is nie iemand beter as Cyril om Zuma op te volg nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.