Theresa May en die Brexit-spook

Britse eerste minister Theresa May en pres. Cyril Ramaphosa (Foto: Kopano Tlape/GCIS)

Die Britse eerste minister, Theresa May, se wollerige uitspraak op haar pas afgelope besoek aan Suid-Afrika, dat sy grondhervorming in Suid-Afrika ondersteun – solank dit net wettig is, was maar erg teleurstellend. Om die waarheid te sê, dit sluit nou aan by President Cyril Ramaphosa se standpunt dat die Grondwet verander moet word sodat onteiening sonder vergoeding of grondgryp kan plaasvind. Dit is in teenstelling met die VSA se president Donald Trump, en die Australiese regering se openlike afkeer van dié tipe grondherverdeling. Trump se twiet daaroor verlede week het skokgolwe deur die SA regering gestuur en speel beslis ’n rol in dié se skielike belangstelling om te kyk na alternatiewe grondhervormings.

‘Sagte’ en ‘harde’ Brexit

Ewenwel, om terug te keer na Theresa May. May se besoek aan Suid-Afrika is deel van haar regering se pogings om handelsbetrekkinge en ekonomiese geleenthede in Afrika te ondersoek noudat Brittanje in Maart 2019 die Europese Unie (EU) gaan verlaat (dié proses word Brexit genoem en moet plaasvind nadat Britse kiesers in 2016 besluit het hulle is klaar met die EU). Die Britse regering is onseker van hul handelsbetrekkinge in ’n post-EU tydperk. Gevolglik het die Britte reeds besluit dat hulle na Statebonds-lande moet uitreik (oftewel oud-Britse kolonies) om nuwe handelsbetrekkinge en moontlikhede te ondersoek. Tot dusver was May nie vreeslik suksesvol nie.

Dit wil egter toenemend voorkom of May nie die regte persoon is om die Britte uit die EU te lei nie. Dis nou buiten dat sy aanvanklik nie die Brexit-beweging gesteun het nie. Die onderhandelinge met die EU het tot dusver op vele gebiede vasgeval en May en haar regering kan geen duidelike aanduiding gee op watter wyse hul toekomstige verhouding met die EU gaan verloop nie. Alle aanduidings is dat May eerder ’n “sagte” Brexit verkies, terwyl ander lede van haar party ’n “harde” Brexit voorstaan. Dit het al gelei tot die bedanking in Julie van een van haar grootste teenstanders in die Britse Konserwatiewe Party – die Britse buitelandse minister Boris Johnson – nadat May aangedui het dat sy die meeste bande met die EU wil behou.

Die voorstanders van ’n harde Brexit voorsien dat Brittanje weer sy onafhanklikheid moet terugkry en self moet besluit oor grense, beweging van mense oor die grens, asook dat handel met lande buite die EU moet uitbrei en versterk, terwyl ’n afsonderlike ooreenkoms met die EU oor handel gesluit moet word. Brittanje behoort ook hul eie belastings te hef en ophou om bydraes aan die EU te betaal om armer lande in die EU te befonds. Die idee van ’n sagte Brexit, wat tans deur May voorgestaan word, kom daarop neer daarop dat Brittanje se handels- en ander betrekkinge met die EU maar eintlik voortgaan soos tevore en Brittanje deel bly van die EU se handelsunie. Selfs die voortgesette vrye beweging van mense van die EU na Brittanje is moontlikhede wat May se regering ondersoek. Uiteraard is dit logies dat Brexit voorbokke soos Johnson en die regsgesinde Nigel Farage dié tipe Brexit as ’n klug bestempel.

Die groot voordeel van ’n harde Brexit is dat Brittanje weer die vrye beweging van ongewenste immigrante wat Europa as’t ware binneval in duisendtalle, kan stopsit. Dit was die vernaamste rede dat Britte vir Brexit gestem het. Die Britte is bekommerd oor die invloei van vlugtelinge van Afrika en die Midde-Ooste en die gevolglike toename in misdaad en terrorisme.

Die grootste nadele van Brexit is dat Brittanje nuwe in- en uitvoertariewe moet beding met die EU en dat Brittanje sy hoofkwartier as Europa se finansiële- en banksektor sal verloor. Dit kan werkgeleenthede in gedrang bring en goedere, medisyne en kos, wat Brittanje tans op groot skaal van die EU-lande invoer, duurder maak. Brittanje sal ook ’n ongenoemde bedrag aan die EU moet betaal as vergoeding vir sy onttrekking, wat tot soveel as 50 miljard Britse pond kan wees (meer as R900 miljard).

Die voorstanders van ’n verenigde Europa is uiteraard bekommerd dat indien Brittanje se uittrede uit die EU suksesvol is, ander lande kan volg. Die opgang van nasionalistiese partye in verskeie EU-lande sal die aandrang om die EU en sy immigrantekrisis te verlaat, verhoog. Daar is dus reeds aanduidings dat die oorstroom van die immigrante en sy eie ekonomiese probleme, Italië kan dwing om uit die EU te tree. ’n Klompie ander lande kan stellig volg en die hele konsep van globalisme (versinnebeeld deur die EU) kan verkrummel.

’n EU-Britse ooreenkoms is nodig

May probeer om so gou moontlik ’n ooreenkoms te bereik met sterk handelsbande sonder tariewe met die Europeërs, aangesien haar regering bekommerd is dat die onsekerheid tans ekonomiese groei sal belemmer en inflasie sal verhoog. Dié wat ’n duidelike breuk met die EU voorstaan, is moeg vir die EU se administrasie, die Europese Kommissie, wat links en regs polities en ekonomies vir Brittanje voorskryf.

Een van die groot twispunte in onderhandelinge is dat Brittanje se Noord-Ierlandgebied nie geslote grense met Ierland kan bekostig nie (Ierland bly ’n EU-lidland). Die Ierland/Noord-Ierlandgrens is ’n dilemma aangesien dit die enigste vaste grens tussen Brittanje en ’n EU-land is (Brittanje word deur die see geskei van die res van Europa). Ten spyte van May se buigsaamheid, is dit moontlik dat Brittanje en die EU nie ʼn ooreenkoms kan bereik voor die sperdatum van 29 Maart 2019 nie, wat die onsekerhede verder verhoog.

Britse Nasionaalgesindes sal nie noodwendig daaroor bekommerd wees nie, aangesien hul grensbeheer wil herinstel, maar Britse sakelui is bekommerd dat grens- en doeanebeheer tot chaos by die grense kan lei en die tekorte van voedsel en noodsaaklike produkte sal veroorsaak.

Ons moet net hier byvoeg dat skeptici van Brexit reeds voor die referendum in 2016 voorspel het dat Brittanje net ná die stemmery ’n onmiddellike ekonomiese krisis gaan beleef. Hoewel die pond redelik geval en daarna weer verstewig het, het die ekonomie stabiel gebly en groei met amper 2% per jaar, beter as die meeste ander groot Europese state. Werkloosheid het afgeneem en inflasie stabiel gebly.

Wat ook al die uitslag van die onderhandelinge met die EU, May blyk ongewild te wees in Brittanje en selfs in haar eie party. Haar besoek aan Afrika-lande in die hoop dat Statebondlande skielik meer gaan belangstel in Brittanje, is maar wensdenkery. Soos Suid-Afrika, het die meeste Statebondlande (met die uitsondering van Australië, Indië en Kanada) self ekonomiese probleme en verhoogde handel is maar ’n droom.

Gogga maak vir baba bang

Op die langer termyn is die bangmaakstories oor die moontlike Britse ekonomiese krisis indien die EU verlaat word, meestal maar net dit: bangmaakstories. Selfs as daar in- en uitvoertariewe en grensbeheer ingestel word, sal probleme daarmee redelik vinnig opgelos word. Hoewel toegegee word dat ekonomiese groei op die kort termyn wel geaffekteer kan word, sal dit nie op groot skaal plaasvind soos voorspel word nie. Pryse behoort wel te styg, maar die idee dat daar nie kos en medisyne op die rakke gaan wees nie, lyk oordrewe.

Brittanje sal nooit weer sy vorige glorie herwin, toe dié land in die 19de eeu die leier van die wêreld en ’n reuse- imperiale moondheid was nie. Nietemin behoort ’n ordelike (harde) Brexit die land weer meer onafhanklikheid en selfvertroue op die internasionale terrein te gee. Dit kan ook keer dat onbeheerste immigrasie dié land se sosiale strukture (soos tans) vermurwe en terselfdertyd die toenemende misdaad en terrorisme stuit.

Die Konserwatiewe Party onder Theresa May is in die moeilikheid en kan selfs die volgende algemene verkiesing teen die uiters linkse Jeremy Corbyn se Arbeidersparty verloor. Dalk is die antwoord vir die Konserwatiewe Party om ’n pro-Brexit en meer beginselvaste premier, soos Boris Johnson, aan te wys om Brittanje se uittog uit Brexit te bestuur, eerder as ’n onseker May wat nie juis indruk maak met haar onderhandelinge met Brexit nie.

Dalk kry ons dan ’n Britse eerste minister wat meer bekommerd is oor grondgryp in SA.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Nico Stegmann

Nico Stegman is ’n onafhanklike skrywer met 25 jaar ondervinding in navorsing en analise oor diplomatieke en internasionale aangeleenthede.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

5 Kommentare

Staak ·

En so kom die magtige Britse ryk ook toe tot sy einde. Afrika het klaar sy merk in Britanje gelos, dorpe en stede wat al reeds moslem gedomuneerde inwoners het en n swaar las op belsting betalers geword het vir toelae. Selfs Londen se burgermeester begin sy vergaderings volgens streng moslem geloof en alle ander gelowe word simuur geïgnoreer.
Daar is geen salf meer te smeer nie, harde of sagte BREXIT.
Globoluse het die oorhand gekry, In London, Essex, Bristol, Newcastel ens is n suiwer britse ras op skool minder as 10%, die res van die kinder is gemengde ras of Afrikane uit Afrika, die Britse toekoms lyk maar bleek en daar is geen stop aan die vlugteling probleem nie, tensy Britanje met n tiepe van apartheid begin en depirtasie.

Die kopstuk sal nog lees.

RIP
Queen and Country!

sebastiaan ·

Nico ek hou van jou goed beredeneerde artikels. Altyd die moeite werd om te lees.

B ·

Ek stem saam sebastiaan.

Ja May is toe nie Maggie V2.0 nie, inderwaarheid ‘n swakkeling wat kan doen met visie, ruggraat en daadwerklikheid.

John ·

Miskien moet ons die tekens van die tye lees… Mayday… Mayday… Brittanje dalk ook…

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.