Tien redes hoekom Afrikaners moeg is om verskoning te vra

flip-buys-2017-11-01

Flip Buys, die voorsitter van die Solidariteit Beweging. Foto: René Roux.

Die storm oor die FW de Klerk Stigting se standpunte oor apartheid as misdaad teen die mensdom, het opnuut vrae laat ontstaan oor Afrikaners se omgang met die verlede.

Die EFF en sekere Afrikaanse kommentators, het opnuut ’n oproep gedoen dat Afrikaners weer om verskoning vir apartheid moet vra. Aan die ander kant blyk dit dat ’n groot groep Afrikaners moeg daarvan is om jammer te sê. Die vraag is hoekom soveel Afrikaners so voel? Die maklikste antwoord sou seker wees dat Afrikaners nou eerder op die toekoms wil fokus en die verlede wil agterlaat.

George Orwell het immers gesê elke geslag dink hy is slimmer as die voriges en wyser as die volgende geslag.

Dit is egter nie so maklik om van die geskiedenis weg te kom nie. Samuel Huntington, ’n Harvardse politieke wetenskaplike, het die rede vir botsende sienings oor die verlede goed opgesom: “Elke gemeenskap sien homself as die sentrum van die wêreld, en skryf sy geskiedenis as die sentrale drama van die mensdom.”

Die ANC wil húl meesterverhaal die enigste weergawe van die verlede maak – ’n historiese draaiboek waarvan niemand mag afwyk sonder om op die brandstapels van die openbare mening verbrand te word nie. Só word geskiedenis ʼn gevaarlike wapen in die hande van die regeerders. In Orwell se woorde: “Die doeltreffendste manier om ’n volk te verpletter, is om sy eie verstaan van sy geskiedenis te ontken en te vernietig.”

Die bekende Dan Brown het hierteen gewaarsku in sy treffer The Da Vinci Code: “In ʼn botsing van kulture word die verloorder uitgewis, want die wenner skryf die geskiedenis om hul eie saak te verheerlik en die vyand s’n af te kraak. Geskiedenis is altyd eensydig.” Lees gerus enige skoolhandboek om die waarheid van Brown se stelling te toets.

Kortom beteken al hierdie stellings dat daar nie net een regte geskiedenis is nie en dat ons in ʼn land soos Suid-Afrika moet ruimte maak vir meer “geskiedenisse”. Demokrasie veronderstel verskille oor die hede, die toekoms én die verlede.

Daar is egter ook verskeie ander redes waarom die meeste wit mense en Afrikaners nie lus voel om verder jammer te sê oor die verlede nie.

Magspolitiek

Ten eerste meen talle dat die voortdurende verwyte oor die verlede as oorsaak van alle probleme, ʼn magspolitieke greep van die ANC is om wit mense se spraakvryheid en demokratiese inspraak in te perk. Die beste “verskoning” vir apartheid is die feit dat wit mense al dekades lank herhaaldelik by die stembus daarteen gestem het.

Ten tweede klink die aanhoudende geskop na die lyk van apartheid na ʼn doelbewuste projek om die aandag te probeer aflei van die ANC se grootskaalse wanbestuur en straffelose korrupsie.

Wit mense word verantwoordelik gehou vir wat lank voor hul geboorte gebeur het, terwyl die ANC nie aanspreeklik gehou wil word vir wat hulle vandag aanvang nie.

Jong wit mense wat nie deur apartheid bevoordeel is nie, wil nie meer om verskoning vra vir jong swart mense wat nie deur apartheid benadeel is nie. Hulle voel dat mense se visie vir die toekoms nou sterker moet wees as hul geheue oor die verlede.

Derdens voel baie wit mense die juk van die ANC se (eie) rassebestel aan eie lyf, en ervaar ʼn bepaalde skynheiligheid oor klagtes ten opsigte van die rassewetgewing van die verlede. Die meeste Afrikaners sal toegee dat die gevolge van baie apartheidsmaatreëls steeds voortduur, maar glo dat talle van die probleme net soveel te wyte is aan die ANC se swak regering en die ontwikkelingsprobleme wat oor die hele Afrika voorkom.

Vierdens het wit mense se aanvanklike uitgelatenheid oor die nuwe demokratiese bedeling waarin almal welkom, vry en gelyk sou wees, plek gemaak vir ʼn groeiende ontnugtering en vervreemding. Regeringsbeleid en -praktyk skep die indruk dat die ANC net toegewings by Kodesa gemaak het om die mag te kry, maar nou die struggle met staatsmag voortsit. Wit mense voel taamlik magteloos en nie vreeslik opgewonde oor die langtermynvooruitsigte van ʼn demokratiese stelsel, waarin hulle stemreg sonder genoeg “stemkrag” het om dinge by die stembus te verander nie.

Afrikapad

Vyfdens laat die politieke koersloosheid en ekonomiese rommelstatus baie wit mense vra of Suid-Afrika nie maar dieselfde afdraande pad as die meeste postkoloniale Afrikalande loop nie. Baie wit mense koop nie meer die ANC se meesterverhaal oor die verlede nie, en vermoed dat dit eensydig geskryf word om twyfelagtige ANC-beleidsrigtings te regverdig en wit mense onderdanig “op hul plek” te hou.

Die verval van talle staatsinstellings, rassisme teen wit mense, onveiligheid, die komende onteiening sonder vergoeding, beplande nasionalisering van gesondheidsorg en al meer sosialisme onder die vaandel van radikale transformasie, herinner Afrikaners dat die vyf Mandela-jare miskien die uitsondering op die ANC se eeu lange geskiedenis is. Talle begin vra of wit mense nie dalk teen ʼn ANC-bewind geveg het omdat die ANC van die verlede nóg erger was as die huidige ANC nie. Al meer begin onthou dat die ANC nie vir ʼn liberale demokrasie geveg het nie, maar om ʼn kommunistiese bestel deur ʼn gewelddadige omverwerping van die vorige regering te vestig.

Terselfdertyd dink hulle daaraan dat die meeste wit mense sedert 1981 PW Botha se hervormingsbeleid gesteun het om apartheid stelselmatig af te skaf, swart mense ekonomies op te hef, en planne gemaak het om swart groepe wat tot vreedsame verandering verbind was, in die regering te betrek. Die herlewing van Rusland laat baie wit mense terugdink aan die “warm” Koue Oorlog wat die politieke bewegingsruimte in Suid-Afrika tot 1990 gevries het.

Die feit dat die ANC nog glad nie sy eie foute – om die demokratiese oorgang te vertraag – erken het nie, demp die geesdrif onder Afrikaners en om deurentyd aan hul ouers se foute herinner te word, maak hulle mismoedig. Dit beteken nie dat wit mense terugverlang na die verlede onder apartheid nie, maar wel dat hulle nie uitsien na die toekoms onder die ANC nie. PW Botha was nie die enigste krokodil nie!

Geweldsmisdaad

Die sewende rede is die plaag van geweld wat die land teister. Mangosuthu Buthelezi het die ANC al in 1987 gewaarsku dat ʼn strategie om die land onregeerbaar te maak, Suid-Afrika ná hul magsoorname steeds onregeerbaar sal laat. Daar is wel ook sosiale en demografiese oorsake vir die geweld, maar die regerende ANC sit nou opgeskeep met baie van die probleme wat die ANC-in-struggle help veroorsaak het.

Die agtste rede is dat baie Afrikaners meen die ANC het die demokratiese skikking van 1994 verbreek. ’n Meerderheidsregering het ontaard in meerderheidsoorheersing en die ANC maak wat hulle wil. Regering deur die mense, het regering oor die mense geword. Versoening is verskraal tot inlywing by die meerderheid, en demokratiese grondwetlike ruimtes vir kulturele vryheid word met politieke mag toegestop.

Die negende rede is dat baie wit mense in die nuwe bedeling nie meer vry voel nie. Die ANC se rasgebaseerde transformasieformule van 80 swart, 9 bruin, 9 wit en 2 Indiër waarborg dat elke aspek van minderheidsgroepe se lewe deur die meerderheid beheer word weens “verteenwoordiging”. Daardeur het dekolonisasie ʼn nuwe kolonisasie-projek geword.

Laastens sien talle wit mense die ANC se jare lange wanbestuur as die verpersoonliking van hul historiese vrese vir die gevolge van ʼn ANC-bewind. Dieselfde wit mense wat die eerste swart president in 1995 toegejuig het, ervaar ʼn weersin in die straflose epidemiese korrupsie in die ANC-regering.

Waar apartheid vroeër die skuld vir alles gekry het, het die kragkrisis, die ekonomiese insinking, die geweldsmisdaad en die wydverspreide staatsverval die simbool geword van wat in die land verkeerdloop. Die ANC se skandalige regeringsgeskiedenis is nou die grootste struikelblok in die pad van ʼn normale geskiedenis – ʼn nuwe, ewewigtige meesterverhaal oor die land se verlede.

Só ’n normale geskiedenis is ’n voorwaarde vir ’n normale toekoms.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Flip Buys

Flip Buys is voorsitter van die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

20 Kommentare

Chris ·

Ek sit met dieselfde wroeging in my. Hoeveel keer en vir hoe lank nog moet ek as blanke/wit Afrikaner man verskoning/vergifnis vra oor ‘n politieke bestel wat nie meer bestaan nie. Ek verstaan die wrewel van die wat daaronder gelei het. Wat my ook opval is dat daar ander minderheidsgroepe wat ook onder dieselfde stelel “deurgeloop” het, ook op die karretjie klim en saam in die koor kerm. Wat word eintlik van die Afrikaner verwag? Wat moet ons nog doen? Wat my nog meer laat wroeg is dat daar blanke/wit “geleerde/akademici/media persone” manne/vroue is wat dieselfde gekerm het. Ek sal baie bly wees as iemand dit net vir my kan verduidelik sodat ek kan probeer ophou skuldig voel.

Johan Venter ·

Flip, in die naam van demokrasie regverdig hulle dit ook dat wit mense se beweging gemonitor en gereguleer word, of dit nou by wyse van SEB, regstellende aksie, kwotas is of watter naam hulle ook al daaraan gee.

Jy het als hier bo baie goed saamgevat, ek sou dit op heelparty plekke sterker gestel het, sommer baie en selfs ‘n paar kragwoorde ingewerk het, maar dit sou nie die modereerder se oog ontsnap het nie.

Dan het dit nou seker hoogtyd geword dat ons met die ANC ooreenkom dat ons die swart mense se ware historiese grond aan hulle terug gee, in ruil vir die ware historiese grond van die wit mense, en dan gebruik ons hierdie artikel van die TLU om die grense af te steek:
https://maroelamedia.co.za/nuus/sa-nuus/tlu-sa-ondersteun-ware-geskiedenis-oor-grondbesit/

Kaal Keiser ·

Ek stem. Mens moet standpunt in neem. Genoeg is ook nou genoeg…

Sipho ·

Mandela was geen uitsondering nie. Dit was maar net die begin van die sagmaakproses. Al die genoemde punte was altyd op die boeke. Dit was naief om anders te glo.

Wicus ·

Ek is bevrees, wanneer my als vir jouself wil hê verloor jy als! Hoe is daar nie gemor en gesukkel om tuislande te konsolideer nie, ook was die goedkoop arbeid te lekker en so kan ons net onsself blameer.

Werner ·

Wicus, ek stem glad nie met jou hele kommentaar saam nie, maar een ding wat jy reg het, is dat goedkoop arbeid by verre die grootste probleem van die hele stelsel was. Hier moet mens beide die wittes wat goedkoop (volksvreemde) arbeid gebruik, sowel as die swartes wat goedkoop arbeid aanbied, verkwalik. Afrikaners se grootste fout in die apartheidtyd was die houding van “ek soek jou goedkoop arbeid, maar sonder dat jy of jou gesin naby my bly.”

Enige toekomstige onafhanklikheid sal net werk as volkseie arbeid toegepas word.

Michael ·

Ek het nog nooit verskoning gevra ek sal ook nooit net soos fw se regering gediskrimineer het teen gekleurde persone net sop diskrimineer Ramaposa se regering teen wit minderhede, ons sit in die middel met geen sê en ons is net goed genoeg om belasting te betaal is n land waar daar na ons verwys word as rassiste en gronddiewe.

Johan Venter ·

Flip, daar kan baie, baie sterk aan gedink word dat hierdie boek van Die TLU SA, ‘The South African Land Issue’, waarvan ek hier bo in my vorige kommentaar van melding maak, in Afrikaans en Engels asook die video’s, by al die Afrikaanse kultuurorganisasies se persele uitgestal en op hul webwerwe adverteer word, die burgerlike organisasies soos bv Solidariteit, Kraaluitgewers, ek dink ook aan Die Voortrekker Monument en ander kultuurterreine. Dan sal dit ook wonderlik wees as hierdie materiaal in private skole se leerplanne opgeneem kan word.

Maar wat van ‘n oplewing in die Suid-Afrikaanse/Afrikaanse geskiedenis deur ‘n reeks films wat daardie tyd verromantiseer soos bv in die boeke van FA Venter oor daardie tyd, ook boeke van Karel Kielblock oor die ‘ou’ Kaap, die wat nog nie van hom gehoor het nie, gaan Google dit gerus. Ek dink aan die films oor die Amerikaanse geskiedenis wat die rolprentwêreld vir lank oorheers het. Waar is ons draaiboekskrywers en filmmakers?

Astrain ·

Is dit vergesog om dan die konklusie te maak dat alles komende van die gewraakte apartheidsjare(ek praat nou nie van die huidige rassistiese bestel, selle poeding, ander sous nie) , dan vernietig moet word nie. Jy kan nie met dieselle hand en mond apartheid kruisig en dan in die resultate daarvan geniet nie? Die deler is mos so goed as die steler…ons bly onverskoning vra vir die welvaart wat oorgeneem is en geplunder is tot net die grate oorbly, ag nee man, dis mos nou twak! Die padda wil nou nie meer gekook word nie…

Botterblommetjie ·

Die land en ander lande word beheer en gemanipuleer deur die woord “rasisme”, apartheid en sexisme.
Om die kaart te speel, veral die woord – rasisties, kom ons nêrens. As ek ‘n anderkleurige kollega vra om iets te doen of nie te doen nie, rasisme. Ons kan aangaan as die leiers vir die mense sê om groot te word, die verlede agter hulle te sit. Niemand word vervolg weens simpel woorde of vlae ens. nie. Want waar trek jy nou eintlik die streep. Ons is soos ‘n klomp kinders wat heeltyd, “jufrou jufrou… skree. Die een het dit gesê.. isnie juffrou hy het eerste dit gesê…” hoe moet ons blankes nie maar sluk en sluk nie.. hoekom sluk ons, want ons het selftrots en eie-ek-respek. Hoeveel van ons is al beledig, aspris gestamp en goed aangedoen, en wat doen ons… ons kyk noord en foeter voort… want ons het nie tyd om heeldag te toi toi en klip te gooi en goed af te brand nie. Ook nie lus vir sulke goed nie….

Moedeloos ·

Hoekom moet ek verskoning vra. Dis nie ek wat die wette gemaak het nie. Dis nie ek wat op ander neergekyk het nie. Maar in dieselfde asem wil ek graag weet hoekom vra die ANC nie omverskoning vir al die SA soldate wat hul afgemaai het nie. Daar is nou nog bitterheid in gesinne wat geliefdes verloor het destyds en dit als verniet. Geskiedenis en geskiedenis aanvaar dit en beweeg aan. Hier is nou baie meer apartheid wat plaasvind maar hul noem dit net ander name. Ons SA inwoners is al by moedloosheid verby.

Michiel ·

Ons eie republiek, baas oor onsself. So klein soos Swaziland is al genoeg. Welvarend. Bewaakte fysiek grense. Eerstewerelds. Afrikaans. Ons voorouders het dit nagestreef. Waarop wag op?

Therese ·

Die fiasko rondom die F.W. de Klerk-Stigting se apartheid-uitlating en die daaropvolgende verskoning mag wel één positiewe uitkoms hê.

Afrikaners van regs én links het nou ‘n laaste kans om ‘n eenvormige standpunt oor hierdie omstrede kwessie te formuleer. Dit is, soos Chris ook hierbo meen, fataal om onder mekaar te verskil oor hóé skuldig ons aan gronddiefstal en massamoord tydens apartheid was. Genugtig, dink aan die geslagte wat gaan volg met hierdie albatros om die nek.

Wanneer president Ramaphosa frases soos “the original sin” en “it is treasonous to deny … ” gebruik, flikker die gevaarligte. As 25 jaar, nadat ons “ja” gestem het vir ‘n beter lewe vir almal, nie genoeg is om die ANC te oortuig van berou en goeie bedoelings nie, sal geen linksgesinde Afrikaner akademici, joernaliste, sakeleiers of elite boere dit regkry nie.
Kry ‘n nuwe plan.

Charl Albertus ·

Ek het nie tyd om verskoning te vra nie, ek is te besig om die huidige nonsens wat hulle veroorsaak te oorleef…. Sodra hulle reg is om verskoning te vra vir die gaos wat hulle my elke dag meer en meer in dompel sal ek sit en luister…..

Eddie ·

Dankie Flip , net jammer die regerende party sal nooit na hierdie kant van die munt wil kyk nie !

Maria ·

Dit is alles waar dr Buys en dankie vir u ongelooflike werk. Briljant uiteengesit. Die enigste enkele probleem wat die regering in die gesig staar is die verlies van inkomste uit belasting en dit wat daarop gaan volg. Dit is alreeds besig om te gebeur, alles tussenin is net geraas en die meeste mense weet beter en kan met redelikheid voorspel wat die trajek behels. Die ANC geskiedenis van toe EN nou speel af op die wêreldverhoog vir almal om te sien. Hulle nalatenskap is dinamies aan die gebeur elke dag. Die beste is om uit die pad te bly (gewone mense) en om die buitewêreld ingelig te hou so regverdig en gebalanseerd as moontlik. Misdaadstatistieke bly ‘n goeie bron van inligting al is StatsSA ook al in ‘n verswakte toestand. Die feit dat kinderverwaarlosing nie meer deel is van misdaadstatistiek is nie, is tipies van sondes onder die mat vee.

PIETER ·

Stem saam met hierdie artikel, ek het JA gestem vir ‘n nuwe bedeling omrede ek van mening was dat apartheid moreel onregverdig was en my JA-stem moet dan ook beskou word as my verskoning. Verder dra ek by tot die ontwikkeling van die land deur op gevorderde ourderdom steeds voltyds te werk, mense in diens te neem, belating te betaal en by te drae tot welsynsaksies. Hierdie bydrae moet ook gesien word as boetedoening vir die sondes van die verlede.

Verdere betalings aan paralelle strukture en dienste soos veiligheid, onderwys, welsyn, medies ens word gedoen omrede ‘n wanfunksionele regering nie in staat is om dit te lewer nie. Hierdie is addisionele boetedoening vir my sondes van die verlede en gevolglik dink ek nie dit is nodig om weereens/voortdurend jammer te sê nie.

Gerrie ·

‘n Aspek wat nooit opgehaal word nie, is dat die voortdurende geteem oor apartheid en wittes se rassisme ‘n meganisme is om die Swart politci se inherente minderwaardigheidskompleks te verdoesel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.