Tien verlore jare: ’n Ver-dom-de land weens verdommende beleid

kompas-op-syfers-ekonomie

Foto: AbsolutVision/Unsplash.com

Deur Johannes Wessels van EOSA (Enterprise Observatory of SA)

Tito Mboweni se soeke na oplossings vir ekonomiese groei buite die algemene, oftewel “to think outside the box”, kan ʼn mens vergelyk met die toemaak van ʼn staldeur nadat die renperd nie net weggehol het nie, maar reeds ’n wedren elders gewen het.

Nadat Mboweni deur die ANC se vullishoop van afgekeurde advies gekrap het, het hy Ricardo Hausmann, ʼn ekonoom van Harvard, as adviseur genader, wel wetende dat Hausmann se advies oor produktiewe kundigheid sedert 2008 botweg deur die ANC-regering geïgnoreer is.

Hausmann sien produktiewe kundigheid as die sleutelfaktor wat suksesvolle lande van onsuksesvolle lande skei. En juis om hierdie rede sal ʼn gebrek aan produktiewe kennis ekonomiese groei vertraag.

Van 1990 tot 2003 het Suid-Afrika 7% van sy professioneel gekwalifiseerde mense verloor – die meerderheid van hul hooggeskoolde wit mense. Ná ʼn periode van redelike stabiliteit en groei gedurende die Mbeki- Manuel-jare, het die uittog opnuut opgevlam, aangevuur deur die groeiende onbevoegdheid van ʼn regering wat departemente en staatsbeheerde ondernemings (SBO’s) so radikaal vervorm het, dat daar nie veel meer as fassades oorgebly het nie.
Die polisiediens (SAPD), die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL), Transnet, die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) en munisipaliteite is enkele voorbeelde waar kaderontplooiing voorrang bo produktiewe kundigheid geniet het.

Die gevolge daarvan was:

  • Protes in die townships weens swak dienslewering.
  • Op professionele vlak ʼn nie-rassige gatvolheid oor die land se verval in korrupsie, wetteloosheid, onbevoegdheid, patetiese openbare dienste en die ondermyning van eiendomsreg – die laaste tyd emigreer meer hooggeskoolde swart mense as wit mense.
  • Op beleggingsvlak het Suid-Afrikaanse sakelui deur middel van regstreekse buitelandse beleggings (RBB) geëmigreer.

SEB strem groei

Hausmann, ’n voormalige kabinetsminister van Venezuela, was voorsitter van Thabo Mbeki se paneel van internasionale kenners om hom van raad te bedien ten opsigte van die Versnelde en Gedeelde Groei-inisiatief vir Suid-Afrika (ASGISA). Die term “gedeelde” is bygevoeg as teenwig vir die groeiende kritiek van Cosatu, die ANC Jeugliga en die Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party (SAKP) dat die Mbeki-Manuel-paar voorstanders was van neoliberalisme met hul Groei-, Indiensneming- en Herverdelingprogram (Gear).

Die ASGISA het nie werklik van Gear verskil nie, maar ʼn sterker fokus op swart ekonomiese bemagtiging (SEB) voorgestel – ’n soort Johannes die Doper ten opsigte van radikale ekonomiese transformasie. Die Hausmann-paneel het verskeie ingrypende aanbevelings gemaak asook die struikelblokke ten opsigte van groeivooruitsigte uitgelig en benadruk hoe belangrik dit is om SEB aan te pas sodat dit nie groei teenwerk nie.

Weens die verhoogde fokus op ʼn (nuwe) Groot Trek van produktiewe kundigheid uit die land na aanleiding van Johann Rupert se opmerkings tydens die “Chairman’s Conversation”, is dit van belang om enkele van die 2008-bevindinge en aanbevelings van die Hausmann-paneel uit te lig:

  • Om die groot tekort aan vaardighede die hoof te bied, moet SEB aangepas word om groei aan te moedig en nie te ontmoedig nie.
  • Die land moet werk met die produktiewe kundigheid waaroor hy beskik, nie die produktiewe kundigheid wat hy hoop om te hê nie.
  • SEB bemoeilik die totstandkoming van sakeondernemings, vererger die tekort aan reeds beperkte vaardighede in bestuursposisies, veroorsaak groter wetlike versperrings en ontmoedig beleggings en werkskepping.
  • SEB aandeelhouding-vereistes kom neer op ’n oop belasting op bestaande en nuwe kapitaal.
  • SEB moet ’n afloopklousule kry. Buitendien, as SEB suksesvol is behoort dit oorbodig te raak.
  • Hoe groter die vraag na werkskepping vir ongeskoolde arbeid, hoe groter is die behoefte aan geskoolde arbeid. ‘n Tekort aan hoogs geskoolde werkers veroorsaak dus ’n kleiner vraag na werkers met min vaardighede , bv. die tekort aan ingenieurs is waarskynlik die oorsaak van honderde fabriekswerkers wat hul werk verloor het.
  • Keer die emigrasie van hoogs geskoolde wit mense en draai die situasie om.

Swart professioneel gekwalifiseerdes het by die uittog aangesluit

Bogenoemde aanbevelings het die ANC onder Zuma in sy ideologiese pap laat stik. Hulle was buitendien oortuig hulle was op die regte radikaal ekonomiese transformasiepad deur van Mbeki en sy Gear-benadering ontslae te raak en SEB verder te intensifiseer.

Dit is onwaarskynlik dat Hausmann, teruggeroep as ‘n Mboweni-raadgewer, die situasie as ‘n verbetering op 2007/8 gaan beskryf. Wat die beskikbaarheid van produktiewe kundigheid betref het sake verder versleg. In sy eie Witskrif op Internasionale Migrasie (2017), erken die regering die volgende:

  • Vir elke professionele persoon wat na Suid-Afrika immigreer het agt professionele mense geëmigreer.
  • Wit professionele mense emigreer, onder meer, weens vrees vir verandering en geleenthede wat vir professioneel gekwalifiseerdes in die buiteland wink.
  • Die getal swart professionele mense wat die land verlaat het die afgelope jare die getalle wit professioneles oortref.
  • Terwyl die Nasionale Ontwikkelingsplan (NOP) die bevordering en verkryging van vaardighede vir inklusiewe groei as eerste prioriteit stel, het die regering geen voldoende beleid en strategieë opgestel of geïmplementeer om die doelwit na te streef nie.
  • Tussen 1989 en 2003 was 120 000 van die 520 000 hoofsaaklik wit emigrante professioneel gekwalifiseer (een uit vier) – ’n verlies van 7% van Suid-Afrika se totale aantal professionele mense.

As daar in ag geneem word dat die 1990 tot 2003-emigrasie van professionele mense voortgeduur het, ten spyte van die stabiliteit en groei onder Mandela en Mbeki, kan ’n mens maklik aanvaar dat daar minstens ’n gelyke getal wit professionele mense die land tussen 2004 en 2018 verlaat het – wat tot ’n skrikwekkende aantal van ten minste ’n kwartmiljoen wit professionele mense beloop. Sou ‘n mens ‘n gesin-situasie in ag neem, is dit ongeveer ‘n miljoen blankes.  Voeg daarby nog die emigrante wat nie professioneel gekwalifiseerd was nie.

Die laaste fase van die Zuma-katastrofe asook onteiening sonder vergoeding wat nou deur die ANC met ope arms verwelkom is, het die emigrasie van hoogs geskooldes verder laat toeneem – hierdie keer uit alle rassegroepe.

Die feit dat die Witskrif op Internasionale Migrasie verklaar dat daar onlangs meer swart as wit professionele mense die land verlaat het, kan ʼn mens, konserwatief gereken, aanvaar dat ten minste 400 000 professionele mense Suid-Afrika verlaat het. Uit die aard van die saak dra dit by tot ’n krimpende persentasie hoë-inkomstehuishoudings en veroorsaak dat die aantal mense wat in hierdie hoëbelastinggroep val, aan die afneem is en die SA Inkomstediens hierdie groep se belasting verbeur.

ANC-beleid laat lande soos Mauritius gedy

Die feit dat Mboweni desperaat in die ANC-ashoop rondgrawe en ou verwerpte adviseurs opdiep kon bemoedigend wees as dit nie was dat die ANC daardeur ruiterlik erken het dat hy, deur die verwerping en/of ignorering van Hausmann se advies, bygedra het tot die verarming van Suid-Afrika bloot omdat hy rassetransformasie van groter belang as produktiewe kundigheid geag het.

“Guptafikasie” en korrupsie kry dikwels die blaam vir lae groei en hoë werkloosheid.  Dit was lyfhoue wat die ekonomie seergemaak het, maar swak ekonomiese beleid en ondoeltreffende en oneffektiewe administrasie was houe teen die kop wat die Suid-Afrikaanse ekonomie laat rondsteier soos ‘n bokser wat op sy voete uit is.

’n Paar voorbeelde van hoe beleid en ondoeltreffendheid ekonomiese groei rem:

  • Ondoeltreffendheid in die logistieke stelsel (soos van die stadigste verskepingstye en hoogste hawetariewe wêreldwyd) is nie deur Guptafikasie ontlok nie, maar deur transformasie-strategieë soos regstellende aksie wat ondervinding en kennis by die deur uitgegooi het. Hoewel die doel van regstellende aksie begryp kan word, waarom sal buitelandse kopers van Suid-Afrikaanse uitvoer hierdie addisionele koste van ondoeltreffendheid dra as ander verskaffers (lande) wat meer doeltreffend is, dit teen laer koste kan verskaf?
  • Indien SEB enige koste by uitvoermaatskappye voeg – hetsy goedere of dienste – maak hierdie beleid Suid-Afrikaanse maatskappye minder kompeterend. Sulke maatskappye sluit dus óf hul deure en hervestig hulle in die buiteland óf hulle begin ’n sustermaatskappy in die buiteland wat nie belas is deur sulke regulasies om die taksman te ontduik nie. Die ANC het egter, deur middel van sy meng-en-pas-beleidsrigtings, dit reggekry om suksesvolle entrepreneurs na Mauritius en Botswana “uit te voer”.

Maatskappy-registers van die registrasie-owerhede in Mauritius en Botswana toon heelwat Suid-Afrikaanse burgers het die afgelope jare maatskappye daar geïnkorporeer. Van die direkteure se vanne is Botha, Basson, Coetzee, De Bruyn, Meyer en Van der Walt – vanne wat beslis nie enige SEB-punte in Suid-Afrika sal verdien nie. Deur die ekonomie te laat omvorm deur die rassedemografie bevorder die Suid-Afrikaanse regering effektiewelik ekonomiese groei in Botswana en Mauritius ten koste van laer plaaslike groei.

Kortom: Advies is nie nodig nie, wel leierskap wat die volgende besef:

  • Spitsberade kan nie die plek inneem van die herstel van standaarde en produktiwiteit nie.
  • Om die armes by te staan, is die wegdoen van beleid wat groei belemmer, veel belangriker as om die koorddansery tussen die faksies van ʼn ideologiese skisofreniese ANC – wat wissel van iets uit ʼn Stalinistiese riller tot ʼn klugspel – aan die gang te hou.
  • Voordat enige buitelandse beleggings na ons land gelok kan word, moet die ondoeltreffendheid van die polisie – wat as een van die 20 ondoeltreffendste polisiedienste ter wêreld gereken word en die koste van misdaad ten opsigte van besigheid die vyfde hoogste ter wêreld is – dringend en daadwerklik gepak word.
  • Die hoë koste wat staatsmonopolieë meebring, moet deur middel van kompetisie aan bande gelê word. Dit impliseer die ontbinding en privatisering van die meerderheid van staatbeheerde ondernemings (SBO’s)

Om dit duideliker te stel: Dit het tyd geword om vóór die 2019-verkiesing

  • ʼn moratorium op SEB te verklaar;
  • die polisiediens te verbeter asook die boonste vier vlakke van alle munisipale personeelposte, deur te verseker dat ampsdraers aan al die vereistes van hierdie posisies voldoen;
  • alle maatskappye met ʼn jaarlikse inkomste van minder as R50 miljoen vry te skeld van die beperking van kollektiewe bedinging;
  • die hawens aan ten minste vier konsortiums toe te ken virt bestuur om effektiewe omdraaitye van skepe te verseker asook onmiddellike hawe-tariefverlagings tot ten minste die internasionale gemiddelde en om terselfdertyd die owerheid te verbind om die hawens teen nie later nie as 2023 te privatiseer;
  • ʼn bewysstelsel (voucher system) bekend te stel sodat ouers skole vir hul kinders kan kies in ten minste twee provinsies, verkieslik Gauteng en die Wes-Kaap, met ingang van Januarie 2020;
  • die Sektorale Onderwys- en Opleidingsowerheid (SOOO)-stelsel te verander deur werkgewers vrylik te laat kies uit die totale reeks van geakkrediteerde opleidingskursusse; en
  • die nasionale kabinet tot niks meer nie as 20 ministers te sny.

Indien hierdie dinge nie begin gebeur nie, word nog vyf jaar weggegooi ten koste van ANC eenheid (sien die gestoei met die nasionale en provinsiale lyste). Teen daardie tyd het nog spreekwoordelike perde weggehol en gesogte trofees in die buiteland gewen soos die Patrick Soon-Shiongs en Elon Musks terwyl lande soos Mauritius en Botswana Suid-Afrika ver agterlaat en die Nasionale Ontwikkelingsplan (NOP) slegs wensdenkery bly.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie word ongelukkig tydelik gesluit tussen 19:30 en 06:00.

Jy kan steeds op Maroela Media se Facebook-blad en ander sosiale media saamgesels. Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.

4 Kommentare

marco polo ·

Daar word net van emigrasie gepraat, maar hoeveel duisende SAners het nie geemigreer nie, maar bloot in die buiteland gaan werk. Ek is een van hulle en ek het al letterlik honderde SAners raakgeloop wat oorsse werk, maar nie geemigreer het nie. Dan kyk ons na investrring. Watter persoon by sy volle poistiewe wat geld in die buiteland verdien, sal dit in SA investeer sodat dit ‘getransformeer ‘ kan word. Solank daar nie n erkenning van die regerende party kom dat hulle opgefoeter het en blankes ook nodig het nie, is daar geen hoop vir n beter toekoms nie.

Gert ·

SEB is gebaseer op die aanvaarding dat swartes en wittes identies dieselfde vermoeens het, en dat daarom as daar in enige professionele beroep die rassesamestelling verskil van die land s’n, moet dit wees weens diskriminasie.
Hierdie aanvaarding is absoluut vals en is oor en oor bewys wêreldwyd met o.a. IK toetse. Hierdie is ‘n sekere resep vir ineenstorting van die land, en dit gaan tans nie net voort nie, maar word aanhoudend verder verskerp.

Jerry ·

Johannes met alle respek gese, die kanse is 100% dat jy verandering in plaas van verbetering gaan sien en dit sommer nog voor die verkiesing en ook daarna. Enige verandering van anti revolusioner (kolonialisties/westers) na revolusioner (kommunisties/sosialisties) is volgens ANC bevrydingsideologie n verbetering! Wat jy dus sien as n verbetering of as vooruitgang verskil hemelsbreed van hoe hulle dit sien. Wat vir jou n mislukking is, is vir hulle n oorwinning. Wat jou hartseer maak oor bv SEB en OSV, maak hulle happy. ANC strategie is deurweek van misleiding. Die ANC sal jou goeie aanbevelings en werkbare planne vat en dit voorhou as die plan, maar dan presies die teenoorgestelde implementeer. Dit is hoe hulle ook strikke stel en jou dan blameer, jou verneder en intimideer, jou uitsluit, jou isoleer, jou soos n mislukking laat voel. In kort Johannes, die ANC het die rand laat val om die klimaat te skep vir radikale revolusionere verandering. Die ANC gaan nou daardie verandering implementeer en daarmee saam die rand weer optel en selfs jy mag dan begin dink dit is n verbetering, maar ook net totdat die volgende fase van klimaatskepping vir verdere verandering eers weer dmv plundering plaasvind. Die ANC melk die koei leeg en dan wag hulle totdat die koei weer lekker baie melk het en dan melk hulle die koei weer leeg! Miljoene revolusioneres staan in die tou en wag hulle beurt geduldig af om jou koei ook te melk!

Peet Schabort ·

Ons klim die berg treë vir treë vorentoe maar ons kom nie agter dat een vorentoe is twee agteruit. Laat my dink aan my vriend Thysie (reeds oorlede) wat gesê het dat dit is soos om om ‘n baan te hardloop. Daar kom ‘n stadium wat jy voel asof jy losvoor hardloop, dis wanneer jy heel agter is en die voorstes jou begin inhaal.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie word ongelukkig tydelik gesluit tussen 19:30 en 06:00.

Jy kan steeds op Maroela Media se Facebook-blad en ander sosiale media saamgesels. Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.