Tien vrae oor die wêreldpolitiek

Foto: Ben White/Unsplash

Elke generasie is sekerlik oortuig daarvan dat die tydperk waarin hulle leef eendag as ’n interessante tyd van verandering, vooruitgang of dalk ook ’n tyd vol donker laagtepunte in die wêreldpolitiek onthou sal word.

Jong Europese kinders wat die resultate van dekades se vrede en ekonomiese voorspoed beleef, kan vandag hulself moeilik indink in hoe die lewens van hul oupas en oumas moes wees toe dié kinders van die Tweede Wêreldoorlog was of in Oos-Europa die gevolge van kommunisme as klein kindertjies beleef het.

Terwyl die nuus, heeltemal te verstane, meestal gedomineer word deur negatiewe gebeure en tendense, is dit ook so dat die wêreld vandag veiliger, meer voorspoedig en meer welvarend is as ooit in die verlede. In die grootste dele van die wêreld heers daar tans vrede met oorlog wat tot slegs enkele lande beperk is. Die geweldige groei in welvaart wat die wêreld die afgelope eeu beleef het, het ten spyte van al die armoede wat steeds heers, tot ’n skerp afname in armoede in die wêreld aanleiding gegee.

Geen mate van vrede en voorspoed is egter genoeg om onsekerheid oor die toekoms volkome uit die weg te ruim nie. Terwyl die wêreld tans redelike vrede en voorspoed beleef, bevind ons onsself ook in ’n era waar die gevolge van globalisering tot groot onsekerheid oor die toekoms aanleiding gee. Demografiese verskuiwings wat soms met massa-immigrasie gepaardgaan, klimaatsverandering, grootskaalse tegnologiese vordering en ernstige vrae oor hoe ’n snelgroeiende wêreldbevolking met beperkte hulpbronne in die toekoms gaan oorleef, is net ʼn paar van die redes wat tot hierdie onsekerheid aanleiding gee.

Magsverhoudinge in die wêreld is ook besig om te verander en terwyl nuwe sterk rolspelers na vore tree, bestaan daar baie vrae oor die toekoms van veral die Westerse beskawing. Wie sou kon dink dat Klassieke Griekeland tot ʼn val sou kom? Wie sou kon dink dat die magtige Romeinse Ryk met verloop van tyd sou verbrokkel en uiteindelik heeltemal uitmekaar sou rafel? Wie sou kon dink dat die hart van die Bisantynse Ryk en tuiste van die Oosters-Ortodokse Kerk, Konstantinopel, voor die Ottomane sou val en in een van die grootste Moslemstede van die wêreld omskep word? Die wêreld het nog altyd bly verander, maar dit is natuurlik moeilik om vooruit te sien watter groot momente die toekoms gaan definieer.

Tien knellende vrae wat tans internasionaal bespreek word, is die volgende:

Pres. Donald Trump praat met verslaggewers net voordat hy op die Marine One vanaf die Withuis in Washington na Kentucky vertrek. (Foto: Alex Brandon, AP)

  1. Gaan die Amerikaanse handelsoorlog met China binnekort opgelos word?

Die maklike en kort antwoord is, ja. Die handelsoorlog het tans negatiewe gevolge vir die Chinese en Amerikaanse ekonomieë. Dit is egter die Chinese wat die duurste prys betaal omdat hul ekonomie baie meer van uitvoere afhanklik is as die Amerikaanse ekonomie. Uitvoere verteenwoordig slegs 13% van die Amerikaanse ekonomie. Donald Trump het ook meer suksesverhale nodig indien hy volgende jaar herkies wil word. ’n Goeie handelsooreenkoms wat as ’n oorwinning vir alle Amerikaners aangekondig kan word, sal sy kanse op herverkiesing verbeter. Daarom is die kanse goed dat die handelsoorlog voor die einde van die jaar opgelos sal word.

  1. Sal die VSA binne die volgende vyf jaar in enige nuwe oorlog betrokke raak?

Sedert die VSA in die Tweede Wêreldoorlog ingetrek is, het dié land ’n sterk intervensionistiese militêre beleid gehandhaaf. Dit het tot oorloë in, onder meer, Korea, Viëtnam, Irak en Afganistan aanleiding gegee. Die VSA het vir die grootste deel van die negentiende en twintigste eeu ’n sterk anti-intervensionistiese posisie ingeneem.

Thomas Jefferson het dit eerste geartikuleer en dit is later in 1823 deur James Monroe in die sogenaamde Monroe-doktrine vasgevat. Donald Trump se internasionale beleid neem Amerika weer toenemend terug na die anti-intervensionisme van voor die een-en-twintigste eeu. Die Amerikaanse burgers het tans geen aptyt vir oorsese oorloë nie en daar kan eerder verwag word dat Amerika deur dialoog en hoogstens sanksies en internasionale druk, soos wat tans vir Iran geld, hul buitelandse beleid gaan bedryf. Baie dinge kan in ’n kort tyd verander, soos wat die terreuraanvalle van September 2001 bewys het, maar soos dit nou lyk, is die kanse vir ’n volgende Amerikaans-geleide oorlog baie skraal.

  1. Gaan Donald Trump volgende jaar herkies word?

Tans lyk Trump se kanse skraal om herkies te word. Enigiets is egter moontlik soos wat die 2016-verkiesingsuitslag bewys het. Ek het toe self die uitslag verkeerd voorspel. Daar is baie redes waarom Trump herverkies behoort te word. Die Amerikaanse ekonomie doen goed, die land beleef ’n ongekende tyd van vrede en voorspoed en Trump se regering het heelwat suksesse bereik.

Terwyl baie Amerikaners in 2016 verby die kandidaat Donald Trump se onaanvaarbare uitsprake en sy twyfelagtige moraliteit gekyk het, oordeel hulle ’n president volgens ander maatstawwe. Trump se voortdurende beledigings, sy lofprysing vir homself en klein geveggies begin vir baie gematigde Amerikaners wat in 2016 vir hom gestem het, te veel raak. Indien hy meer gedissiplineerd kan begin optree en indien die Demokrate ’n swak kandidaat kies, sal Trump se kanse wesenlik verbeter. Daar word ook verwag dat Trump en die Republikeine baie meer geld en ’n beter georganiseerde veldtog as in 2016 en 2018 gaan hê. Hulle gaan dit nodig hê, want veral welvarende, vroulike, voorstedelike kiesers is ernstig afgesit deur Trump se bombastiese en soms ongeskikte aanvalle op opponente.

‘n Teen-Brexit betoger oorkant die parlement in Londen. (Foto: Kirsty Wigglesworth/AP)

  1. Gaan Brexit uiteindelik wel plaasvind?

Brittanje is ʼn demokratiese land en die demokratiese wil van die burgers gaan uitgevoer word. ’n Meerderheid van kiesers het in ’n vry en regverdige referendum ten gunste van Brexit gestem. Indien nodig, sal ’n vroeë verkiesing later vanjaar plaasvind en Boris Johnson sal die verkiesing wen en daardeur ’n mandaat van Britse kiesers kry om Brexit deur te voer.

Uiteindelik gaan ernstige vrae ontstaan oor Noord-Ierland en Skotland se deelname aan die Verenigde Koninkryk. Brexit gaan sonder twyfel in Noord-Ierland die steun vir herinlywing by die Republiek van Ierland laat toeneem en in Skotland gaan baie meer Skotte ná Brexit ten gunste van onafhanklikheid wees.

  1. Gaan enige ander lidlande van die Europese Unie ook die EU verlaat?

Daar is in geen ander lidland tans ’n wesenlike deel van die burgers wat ten gunste daarvan is om die EU te verlaat nie. Politieke partye wat voorheen sterk ten gunste van uittrede was, vra deesdae net dat die magte van die EU ingeperk moet word. In onlangse peilings was daar in geen EU-land, buiten Brittanje, meer as 30% van die mense wat ten gunste van uittrede was nie. Dit beteken egter nie dat die druk om die EU se magte in te perk, gaan afneem nie. Dit gaan waarskynlik eerder toeneem omdat baie Europeërs voel dat die EU hul eie lande se soewereiniteit bedreig.

  1. Gaan Turkye ’n lidland van Navo bly en gaan die land wes of oos kyk in die toekoms?

Met president Recep Erdoğan  aan die stuur van sake in Turkye het die persepsie die afgelope paar jaar ontstaan dat Turkye al hoe meer gaan islamiseer en dat die land se sterk bande met die Weste uiteindelik gaan verbrokkel. Erdoğan tree voorwaar soos die Ottomaanse heersers van ouds op. Die werklikheid is egter dat ’n meerderheid van die Turke nie meer tevrede is met Erdoğan en sy regering nie. Daarmee saam is Turkye tans die land in die wêreld waar sekularisering die vinnigste toeneem. Die meeste jongmense, veral in stede soos Istanboel en Ankara, volg sekulêre, Westerse leefstyle en daar kan verwag word dat Turkye weer in die toekoms ’n meer liberale regering gaan kry wat die bande met die Weste sal herstel en wat sal verseker dat Turkye deel van Navo bly.

Wladimir Poetin, die Russiese president, luister na Igor Artemjef, hoof van die Russiese federale teen-monopoliediens, tydens hul ontmoeting in die Kremlin in Moskou, Rusland. (Foto: Alexei Nikolsky, AP)

  1. Watter rol gaan Rusland in vrede en konflik in Europa en die res van die wêreld speel?

’n Groot fout wat Westerse lande gemaak het, was om Rusland die afgelope paar jaar te probeer isoleer. Veral verkleinerende optrede van Westerse leiers het baie Russe ontstel en het dit vir Wladimir Poetin moontlik gemaak om met die belofte dat hy weer internasionale respek vir Rusland sal herstel, sy magsposisie te versterk. Rusland ervaar egter baie groot ekonomiese en demografiese uitdagings. Die land se infrastruktuur en ekonomie is totaal verouder en die land se bevolking het ook skerp afgeneem en die afgelope ruk gestagneer met ’n lae bevolkingsaanwas. Rusland bly egter ’n baie belangrike internasionale rolspeler en die Weste sal ’n fout maak om Rusland te bly isoleer terwyl die land nuwe vriende in die Midde-Ooste en Ooste vind.

  1. Gaan Katalonië, Skotland of enige ander streek wat na selfbeskikking streef, onafhanklikheid verkry?

Ná Brexit gaan die kanse vergroot dat Skotland weer ’n onafhanklikheidsreferendum sal hou en dat dit wel sal slaag. Onafhanklikheid vir Skotland binne die volgende paar jaar is steeds ’n sterk moontlikheid.

Terwyl Katalonië eintlik baie goed geposisioneer is om onafhanklik te word, is daar bykans geen land wat ’n onafhanklike Katalonië sal erken nie. Sonder erkenning is enige onafhanklikheidstrewe dood gebore. Kosovo het bewys tot watter mate internasionale erkenning noodsaaklik is. Die feit dat Spanje en die Europese Unie nie ten gunste van ’n onafhanklike Katalonië is nie, is hul grootste uitdaging. Ná Brexit sal daar egter binne die EU heelwat steun vir ’n onafhanklike Skotland wees. Daar is genoeg rede om te glo dat al hoe meer volkere en streke in Europa, maar ook in die Midde-Ooste (die Koerde is ’n voorbeeld), die Ooste, Afrika en Suid-Amerika op onafhanklikheid begin aandring.

  1. Wat is die enkele belangrikste kwessie wat verandering vir die volgende paar jaar in die wêreld gaan dryf?

Indien ’n mens die media volg, bestaan die persepsie dat militêre konflik, klimaatsverandering of selfs ’n ekonomiese depressie die belangrikste kwessie is wat politieke gebeure oor die volgende paar jaar gaan dryf. Ek is egter daarvan oortuig dat demokratiese verskuiwings eerder die spreekwoordelike olifant in die vertrek is. In die VSA en Europa gaan dit tot heelwat spanning en politieke verandering aanleiding gee. Dit geld egter ook vir die res van die wêreld.

Massa-immigrasie is ’n huidige werklikheid wat die demografiese samestelling van byna elke Westerse land vir altyd gaan verander. Verder gaan die voortdurende skerp bevolkingsgroei in Indië van dié land ’n belangriker internasionale rolspeler maak. Daarteenoor ondervind China ’n groot uitdaging met ’n verouderende bevolking en te min jong werkers vir die ekonomie. Ook in Afrika is daar steeds skerp bevolkingsgroei in verskeie lande en dit kan uiteindelik tot ʼn groter massa-immigrasie en selfs konflik en oorlog in Afrika aanleiding gee.

Foto: Sergio Souza/Unsplash

  1. Gaan die wêreld oor 10 jaar van nou ’n beter plek wees om in te woon?

Ten spyte van al die onsekerheid oor die toekoms en ernstige vrae oor klimaatsverandering, massa-immigrasie en die aarde se dravlak in die lig van ’n steeds groeiende wêreldbevolking, is daar genoeg rede om te glo dat die relatiewe posisie van vrede en ekonomiese voorspoed wat tans in die wêreld heers, oor die volgende dekade sal voortduur met welvaart wat sal bly voortduur.

Daar gaan waarskynlik oor die volgende paar jaar nog wesenlike vordering gemaak word op die terrein van die mediese wetenskap en die optimalisering van voedselproduksie om slegs twee voorbeelde te noem. Die vraag is egter vir hoe lank die huidige verbruikerskultuur, besoedeling en veral vermorsing van natuurlike hulpbronne soos water, grond en woude, om slegs enkeles te noem, verduur sal kan word voordat daar eenvoudig te min hulpbronne is om ’n groeiende wêreldbevolking te bly dra.

Onsekerheid en kommer oor die toekoms is veral op die lang duur heeltemal geregverdig. Daar is egter min rede om te glo dat die wêreld op die kort tot medium termyn weer sal terugval in ’n posisie van grootskaalse oorlog en armoede soos wat al in die verlede die geval was.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Attie. ·

Jaco Kleinhans hetsy huiswerk goed voor hy dieartikel geskryf het. Tog is daar heelwat meer vrae as antwoorde. Indien Noord Ierland en Skotland afskilfer van Britanje, sal Engeland kan Bly voortbestaan? Wat is die toekoms van Europa indien die vlugtelingskrisis aanhou? Wat van Afrika word indien Sjina sy rente vir lenings begin opeis? Die bevolkingsaanwas in Eerste wêreld lande het bykans afgeneem na nul groei toe terwyl die vlugtelinge na Europa geen gesinsbeplanning doen nie, gaan dit die prentjie in Europa verander oor n periode van 10 jaar?

Zachrys ·

Goed gedoen Jaco, lyk of jy skryf asof jou gehoor ook iets tussen die ore het…. Doen so voort!

John ·

Navorsing ja, maar die antwoorde vir die toekoms? Fools rush in where angels fear to tread.

Jacobus ·

Ek stem saam en verskil met party van die vrae;

Punt 1

Handelsoorlog – Ja, dit is in die belang van Sjina, hulle ekonomie is grotendeels op uitvoer aangewese, kan gesien word in die verlate fabrieke en die hoë skuldvlakke.

Sjina is afhanklik van buitelandse valuta om die Sjinese masjien aan die gang te hou totdat hulle, hulle meer op binnewaartse BBP groei kan posisioneer.

Amerika is ook in die proses om van sy Chinese vervaardiging te skuif na Sentraal en Suid Amerika om die onwettige immigrate probleem te probeer bekamp deur werkskepping.

Die handelsoorlog is ook daarop gefokus om Sjina militêr te verswak, Sjina bedreig Amerika se invloed in die gebied en lande; Obama het al begin met die nuwe isolasie tegniek teen Sjina.

Geografies is Sjina in ‘n uiters swak posisie as daar na die see handelsroetes gekyk word daarom probeer Sjina nou die nuwe “Silk route” instel maar hulle is reeds in skaakmat geplaas deur Amerika met sy invloed in al die lande waardeur die roete gaan loop.

Sjina het reeds begin om ‘n menigte landbou produkte en ander vervaardigde produkte van Amerika vry te stel van handel tariewe as versoenende gebaar.

Met Amerika se lae werkloosheidsyfer kan Trump bekostig om te wag al moet hy dit uitrek tot na die verkiesing in 2020.

Jacobus ·

Punt 2

Sal Amerika in die volgende 5 jaar weer in ‘n oorlog betrokke raak; baie dubbelsinnige vraag.

Amerika sal in nuwe oorloë betrokke raak maar dalk nie op die gewone manier nie.

Amerika gaan meer in “proxy wars” betrokke raak, laat ander lande en organisasies namens hom veg soos reeds gesien kan word in Sirië en Yemen.

Amerika sal op die meeste spesiale magte ontplooi om leiding te gee maar nie gewone magte ontplooi nie.

Nadat Bolton die trekpas gekry het, het die Iran opsie van die tafel af geval.

Punt 3

Gaan Trump herverkies word.

Ja, as daar na die Demokratiese Party se beste drie kandidate gekyk word; Joe Biden, Bernie Sanders en Elizabeth Warren wat moontlik teen hom sal staan gekyk word.

Die Demokratiese Party se kandidate is besig om met hulle linkse en sosialistiese uitsprake gematigde Demokratiese kiesers weg te dryf om eerder van die stembus weg te bly of soos menigte dit ook al gestel het vir Trump in protes te stem.

As die Demokrate dit regkry om die onwettige immigrante op die stemlys te kry soos hulle probeer in California gaan die gety teen Trump draai.

Daar word reeds bespiegel dat na 2024 daar nie weer ‘n Republikeinse President, of beheerde Senaat of Kongres sal wees nie omdat die immigrante oorwegend vir die Demokratiese Party stem.

Jacobus ·

Punt 4

Gaan Brexit plaasvind.

Ja, op 31 Oktober gaan daar ‘n skeuring wees; met of sonder ‘n ooreenkoms.

Die EU begin reeds ekstra toegewings maak aan die VK al sê hulle dit nie openlik nie. Die EU Kommissie het nuwe bloed gekry en met al die verset vanuit die ander EU lidlande wil hulle meer toegewend wees.

Noord-Ierland gaan deel van die VK bly, daar is te veel politiek in hulle verlede; Protestant teen Katoliek om ‘n samesmelting te regverdig.

Skotland kan moontlik afstig maar as daar na hulle ekonomie gekyk word en hoe dit geïntegreer is met die res van die VK lyk dit nie moontlik nie.

Die EU sal dit ook probeer voorkom dat Skotland afstig omdat dit dan sal beteken dat hulle geen ander gebied kan keer om ook af te stig.

Punt 5

Enige ander EU-exit.

Daar is lande wat kyk hoe dit met Brexit sal gaan en wat die gevolge is voordat hulle verder sal besluit.

Die EU kan dalk hulle mandaat verander om meer vryhede aan lidlande te gee om meer besluite oor hulle ekonomieë en immigrasie beleid te neem.

Jacobus ·

Punt 6

Gaan Turkye deel van NAVO bly.

Dit hang af of Turkye volledig deel van die EU gaan word asook of die Kurde in die suide van Turkye ondersteuning vir outonomie gaan kry by Amerika en die EU.

Al word Turkye meer sekulêr in die stede, die grootste stem getalle is op die plattelandse gebied waar hulle meer konserwatief is.

Turkye word ook meer nasionalisties en onafhanklik van die weste.

Punt 7

Die Rusland dilemma.

Dit was verkeerd van die weste om Rusland te isoleer; kanse is verspeel om Rusland in die westerse invloedsfeer te kry.

Die verval van Rusland se infrastruktuur is besig om omgedraai te word asook stadig maar seker die negatiewe bevolkingsaanwas.

Die sanksies teen Rusland het ‘n nuwe soort patriotisme aangewakker wat daarop dui dat produkte wat gewoonlik ingevoer was nou plaaslik vervaardig word en uitgevoer word.

Die EU kan ook nie langer Rusland ignoreer met sanksies nie, hulle ekonomieë en politieke invloed in Oos-Europa begin swaarkry.

Rusland het reeds nuwe vriende gemaak en sy invloed uitgebrei in ander wêrelddele.

Jacobus ·

Punt 8

Selfbeskikking.

As die EU Skotland op enige wyse help of as onafhanklike lid aanvaar sal dit moeilik wees om om enige ander gebied in die EU te keer om ook onafhanklik te word.

Voor 2100 gaan die wêreld minimum ‘n addisionele 50 lande hê. Nie een van ons gaan daar wees om dit te sien nie, so die toekoms is duister to dan.

Ek sien dat in die toekoms Afrikalande gaan opbreek op etniese gronde om die kolonialistiese opgetrekte grense reg te stel.

Lande soos Irak, Sirië, Pakistan, Indië, Indonesia, Maleisië gaan ook opbreek.

Daar is selfs sprake dat Amerika kan opbreek op etniese, konserwatiewe en linkse grense. Amerika is die buiteperd maar niks is onmoontlik nie.

Dat enige groep mense wat onafhanklikheid wil verkry dit gaan maklik hê gaan buite die kwessie wees. Baie bloed gaan vloei; letterlik en figuurlik.

Punt 9

Belangrike Kwessie.

Die demografiese verskuiwing en die sogenaamde “white-replacement strategy” gaan botoon voer.

Punt 10

10-jaar kristal bal.

Die wêreld gaan relatief ryker wees met meer mense wat sosio-ekonomies sal uitstyg maar sal gevaarliker wees as daar nie gou politieke eenstemmigheid bereik gaan word nie.

Jerry ·

Die chaos wat Trump veroorsaak laat Amerika swak lyk teenoor anti-Amerika lande soos Iran en Noord Korea wie lyk of hulle lus is vir konflik met Amerika. Lande soos Iran sal Amerika se Trump al hoe meer uitlok tot konflik. Met Trump aan die stuur is Amerika swak en sal n land soos Iran begin maak soos hulle wil en Amerika toets. Midde oosterse en afrika terroriste groepe is ook weer besig om in getalle en in verskillende groepe te groei. Met Trump se beleid om nie betrokke te raak by konflik in ander lande nie lok hy aanvalle op Amerika uit en gaan Amerika wie seersekerlik die mees gehate land is in die wereld, eerder vroeer as later vir n vale moet keer vir hulle wickets!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.