Tienpunt-aksieplan vir vryheid, veiligheid en voorspoed

Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging. Foto: Reint Dykema

Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging. Foto: Reint Dykema

Daar is onmiskenbare tekens dat die huidige bedeling sy einde nader, en dat daar opnuut vir die toekoms beplan moet word.

Soos die politieke kommentator Max du Preez dit stel, “Ons ervaar tans die afsterwe van die post-1994-bedeling en die pynlike geboorte van ʼn nuwe orde. Dit is ʼn unieke geleentheid om die grondslag vir dié nuwe orde nou te lê eerder as om te wag dat dit deur revolusionêre magte en opportunistiese populiste op ons afgedwing word.”

Hierdie siening mag te dramaties vir sommige mense klink, maar die tekens dat groot veranderings om die draai lê, is daar vir almal om te sien. Kom ons noem ʼn paar:

  • Die voortdurende verswakking van die staat en verval van dele daarvan;
  • Die radikalisering van die swart politiek weens die teleurgestelde verwagtings oor die vrugte van vryheid, gepaardgaande met groeiende rassisme;
  • Duidelike tekens dat politieke mag al meer voorrang geniet bo grondwetlike gesag, en dat die ANC staatsmag gebruik om sy oorspronklike sosialistiese doelwitte te bevorder;
  • Die Zumafikasie van die staat deurdat die land al meer deur persoonlike en politieke netwerke regeer word as deur die amptelike instellings;
  • Die gevaar van ekonomiese verval en die afgradering van die land tot rommelstatus. Die onlangse krisis rondom die minister van finansies het gewys hoe naby ons werklik aan die afgrond is.
  • Die gedrewenheid om die land en al sy instellings te Afrikaniseer volgens ʼn rasseformule van “demografiese verteenwoordigendheid”.
  • Die groeiende totalitêre neigings van die regerende elite, wat al meer praat van “African hegemony” oftewel Afrikaan oorheersing en die nasionaal demokratiese rewolusie van die ANC.
  • Die toenemende tekens van ʼn wydverspreide Afrikaner- en wit teleurstelling met die bedeling, omdat die 1994-verwagting dat meerderheidsregering verruil is vir minderheidsbeskerming, nie verwerklik is nie.
  • Weghol-korrupsie het weer groot weersin gewek toe Transparancy International bevind het Suid-Afrika het Nigerië nou verbygesteek as die korrupste land in Afrika.

Grondwetlike leeftyd

Die gevaar dat die nuwe bedeling na net meer as twee dekades besig is om aan sy einde te kom, is nie uniek nie. Die Chigaco Law School het onlangs bevind dat die gemiddelde leeftyd van grondwette oor die afgelope twee eeue net 17 jaar is. Die waarskynlike rede hiervoor is dat die politieke elites wat die grondwetlike skikkings aangaan, se politieke “leeftyd” sowat twee dekades is. Daar is byvoorbeeld nou net 12 parlementslede wat deel van die 1994-parlement was en dit lyk al meer of die nuwe geslag hulle nie gebind voel aan  ʼn ooreenkoms wat deur hul voorgangers aangegaan is nie. Dit is waarom die Kanadese filosoof, Charles Taylor, gesê het tussengroep-vertroue in ʼn multi-etniese samelewing moet gereeld met opvolgooreenkomste vernuwe word.

Indien die stelling waar is dat die huidige bedeling sy einde nader, bied dit wel ernstige rede tot kommer, omdat die kanse tans nie goed lyk dat dit ʼn beter bedeling kan wees nie. Met ʼn nuwe bedeling word nie noodwendig ʼn nuwe Grondwet bedoel nie, maar ʼn nuwe politieke speelveld wat tot heeltemal ander beleidsrigtings in die land kan lei. Dit wek kommer, omdat die magsverhoudinge swakker is as in 1994 en die gevaar bestaan dat goed georganiseerde- en radikale populiste die rigting van die toekoms gaan bepaal.

Daarom kan Afrikaners nie langs die kantlyn bly sit nie. Ons onttrekking uit die openbare lewe kan ons as gemeenskap en die land duur te staan kom as ons nie weer aan die landsgebeure begin deelneem nie. Die doel van hierdie tienpunt aksieplan is om ʼn raamwerk vir hierdie deelname te help skep.

Tienpunt aksieplan

Stap 1: Afrikaners sal hulself in netwerke van sterk selfdoengemeenskapsorganisasies moet organiseer, soos die Helpmekaarbewegings van ouds. Minderhede kan nie meer op die staat staatmaak om vir ons ʼn toekoms te verseker nie.

Stap 2: Hierdie organisasies moet groot en sterk gebou word. Dit beteken daar moet op elke belangrike terrein georganiseer word, met werkbare planne wat daadwerklik uitgevoer word. Daar moet ruimte wees vir verskille en samewerking ten spyte daarvan.

Stap 3: Daar sal gebou moet word aan die vermoë om planne te maak en self uit te voer. Mooi ideale is ʼn goeie begin, maar die uitvoerende vermoë om dit in praktyk om te skep is deurslaggewend. Ons kan nie langs die kantlyn sit nie, maar sal op die veld moet draf en sorg dat ons gesien en gehoor word, sodat ander nie die agenda vir ons bepaal nie.

Stap 4: Demonstreer en protesteer waar nodig. Dit is nie deel van ons politieke kultuur nie, maar daar is ongelukkig nie ʼn ander uitweg nie omdat dit die nuwe spelreëls is. Demonstrasie kan nie net tot die internet beperk wees nie, maar sal na die strate moet oorspoel. Ons sal veral moet aandring op waarde vir en inspraak in die besteding van ons swaar verdiende belastinggeld.

Stap 5: Besef dat politieke magteloosheid ons nie magteloos maak nie. Sterk georganiseerde gemeenskapsorganisasies kan selfs meer as regerings vermag. Solidariteit se bou van die tegniese kollege Sol-Tech met die tienrande van gewone werknemers, is maar een voorbeeld van wat gedoen kan word.

Stap 6: Beskerm bestaande belange en instellings soos jou skool, veiligheid, universiteit, regsorde, ekonomie, Afrikaans, geskiedenis, monumente en gelyke geleenthede vir jongmense.

Stap 7: Skep nuwe werklikhede waar nodig, soos Afrikaanse media, universiteite, skole, kolleges en dorpe.

Stap 8: Sluit vennootskappe waar moontlik en moenie jouself isoleer nie. Bind Afrikaners saam in sterk organisasies en reik daarna uit deur bruê te bou na ander gemeenskappe. Goeie verhoudinge met alle groepe is belangrik en samewerking met die owerheid moet waar moontlik nagestreef word.

Stap 9: Risikobestuur is noodsaaklik, veral op die gebied van persoonlike veiligheid, geldsake, gesonde gesinne en eiendom.

Stap 10: Bevorder groeiende selfstandigheid deur sterk en groeiende gemeenskapsorganisasies. Afrikaners se probleem is nie ons min getalle nie, maar die dun verspreiding daarvan. Ons is meer Afrikaners as die onderskeie bevolkings van Namibië, Lesotho, Macedonië, Slowenië, Letland, Botswana, Gambië, Gaboen, Estland, Swaziland, Mauritius, Ciprus, Luxemburg, plus nog ʼn menigte ander volke. Om ʼn toekoms te hê waarin ons ook vry, veilig en voorspoedig kan wees, sal Afrikaners moet konsentreer in sterk organisasies, gemeenskappe, dorpe en stede. Ons kan nie die risiko loop om blywend van die meerderheid se verdraagsaamheid afhanklik te wees vir ons grondliggende belange soos ons taal, skole en veiligheid nie. Weerlose minderhede is kwesbaar en moet leef in ʼn toekoms wat soms vyandige meerderhede bepaal. So toekoms is nie volhoubaar nie.

Kom ons organiseer onsself en neem aktief deel aan die vorming van die komende bedeling. Ons is dit aan ons kinders verskuldig.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Flip Buys

Meer oor die skrywer: Flip Buys

Flip Buys is voorsitter van die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

19 Kommentare

Boscia ·

Goeie plan en verder – Laat ons nie laer opstel nie maar brue bou.

Gemsbok ·

Ek stel voor die een word gedoen en die ander word nie nagelaat nie.

Beide brue en laers kan handig te pas kom tydens ‘n onseker toekoms, so laat ons nie nou reeds ons opsies beperk deur een bo die ander te kies nie.

Stephan ·

Dankie Flip om die 10 punte te deel. Kom ons begin met Centurion dat hy weer sy eie stadsraad kry waar ons tax spandeer word. En dan as voorbeeld dien vir ander gemeenskappe.

Johan 2 ·

Stephan dit is presies wat ons moet doen. Selfs kleiner stadsrade soos Lyttleton en Dorinkloof sal onafhanklik kan funksioneer..waar begin mens? En ons gaan heuwig teenkanting kry.

Johannes Meintjes ·

Hoor-hoor! Nou nog net vir die saam doen-doen!

Dirk Breytenbach ·

Dankie Flip soos gewoonlik is jou opsomming van die situasie objektief, relevant en jou oplossings werkbaar. Die kritieke faktor is deelname aan organisasies en instansies deur Afrikaners wat van van kernbelang vir ons oorlewing as ‘n kultuurgroep binne SA.. Ek is bemoedig deur die verantwoordelike aktivisme wat duidelik na vore gekom het met gister se protesoptogte teen die onhoudbare regerings styl wat die president op demokratiese SA uitoefen. Dankie vir jou visionere insigte en leierskap.

Derek Meyer ·

Ek stem saam met jou Flip, maar, ons moet mense soos daai sesdaagers baie vinnig wegstuur. Met mense soos hulle gaan ons dit nie maak nie. Hulle jaag die opgevoede jongmense weg.

Richard Dyer ·

Iewers sal daar sleutel persone moet sekere areas verteenwoordig, aangestel moet word. Die moet geinterigreerde selle wees, met rang struktukture. Die tipe organisasie kan, mag nie oorgelaat word aan elke gemeenskap self nie. Dan gaan niks daarvan kom nie. As daar belangstellendes is, moet hul verwys kan word na hul area se verteenwoordiger.

Kom, die ou manne moet hier help. Nationale intelegensie manne ensovoorts. Ek bid dat daar al klaar so ‘n struktuur bestaan.

Mag VADER ons genadig wees.

Henry ·

Goeie en prakties-uitvoerbare planne wat hierbo uiteen gesit word.. Daar is vir seker nog planne wat die lig kan sien.

Sonder dat mens jouself in die verraderlike omgewing van die politieke doolhof hoef te begeef, is daar mynsinsiens ‘n dringende behoefte om die buitewêreld oor die vergrype, korrupsie, diskriminasie ens van die regime in te lig. Uiteindelik is dit waar ons hulp en ondersteuning vandaan mag kom, Die onlangse voorleggings by die VN kan as ‘n voorbeeld dien.

Daar is makliker, eenvoudiger en goedkoper metodes. As voorbeeld:
‘n Deurlopende/konstante vloei van korrekte inligting oor die regime se ware kleure en gebeure – kort, bondige info wat die regte en invloedryke mense TYDIG bereik.
Buitelandse media, politici, internasionale mpye met belange in die RSA ens.

Daar is heelwat meer moontlikhede.
Punt is dat soos Flip Buys-hulle ook besef, hierdie droewe land uit 50 miljoen swart mense en hoogstens 3 miljoen mense van Europese herkoms bestaan. Ek sluit nie Bruin en Indiër getalle hierby in nie, aangesien beide groepe hulself nou en veral later as deel van die swart bevolking sal/wil sien. Getalle sal altyd die struikelblok wees. Party politieke betrokkenheid is mynsinsiens nie ‘n opsie nie.

Hulp en begrip sal kwalik van binne hierdie landsgrense kom. Daarom moet ons buite toe kyk en met goed deurdagte en objektiewe inligting ons saak stel en invloedryke simpatiseerders/ondersteuners werf. Politici maar veral internasionale besigheidslui wat geld in hierdie land belê het, het ongelooflike invloed en gesag wanneer dit by die beïnvloeding van plaaslike politici kom.

Daar is oorgenoeg voorbeelde van minderhede en andere wat met sulke aksies groot sukses behaal het. Die ANC en veral hul Mandela veldtogte van die tagtiger jare is ‘n uitstekende voorbeeld.
Maar nou ja. Vir wat dit werd is…

Naarskrif
Weet nie of hierdie poging MK is nie. Indien nie, sal ek maar ander planne maak.

Loeis ·

Hierdie is alles baie belangrike punte.

MAAR. ‘n Volk moet oor sy eie sake kan besluit. Indien die einddoel nie selfbeskikking is nie, help al die inisiatiewe niks, sou ‘n radikale groep aan bewind kom.

Werklike verandering in Suid-Afrika gaan nie van die stembus kom nie. Malema en kie is reg wanneer hulle se dat ‘n rewolusie vanaf die arm massas op pad is. In meer as twintig jaar van swart regering en swart bevoordeling het dit nie verander nie. Die meeste mense wie hierdie lees, het in 1992 “Ja” gese om deel van daardie ramp te wees (sodat hulle kon kyk hoe die nasionale span internasionaal kriket speel, belaglik wat dit is).

Nou moet ons dringend uit die sisteem kom, of daardeur verswelg word.

Hierdie leef weg van oorheersing word selfbeskikking genoem.

Oom Harry ·

Flip Buys haal weereens die regte raakpunte aan. Die Afrikaner sal net kan oorleef in sy eie land indien hy vir homself sal dink en doen. Daar is heelwat voorbeelde in ons geskiedenis en ook wat afspeel op Orania en op verskeie plekke in die wereld waar minderhede al meer seggenskap oor hulself en hul eie sake verkry. Kom ons vergeet van die rugstekers en ander kabouters wat ons in die huidige toestand laat beland het met sogenaaamde wigte en teenwigte wat nooit verduidelik is nie. Die grondwet verloor daagliks krag bv deur besluite en wetgewing wat deurgevoer word om veral die blanke en spesifiek die Afrikaner te verkleineer en te benadeel. DAAR IS EGTER EEN BELANGRIKE VOORWAARDE: DIE BEGRIP EN WOORD “POLITIEK” EN ENIGE GEDAGTE DAAROMHEEN SOOS “POLITIEKE PARTYE” OF SELFS “PLAASLIKE POLITIEK” ENS., ENS., MOET HEELTEMAL UIT DIE AFRIKAANSE WOORDESKAT VERBAN WORD!

Johann ·

Flip lyk mos vir my jy en die ander kommentators wil n nuwe party stig, wat sou die naam wees? Ai toggie die wesdenkery en kantlyn spelery tog!!!

Marietjie ·

Ek het een keer na ‘n onderhoud geluister waar iemand ook vir Flip gevra het of hulle dan belangstel in ‘n politieke party, toe antwoord hy die persoon: “Julle onderskat ons aspirasies!”

10 ·

Die beste en enigste 10 Punt aksieplan staan in Exodus 20 . Sedert dit nou nie meer op ons van toepassing is nie …… moord , roof , armoede , droogte ens . Ruda iemand en n sekere Steve het op TV gese dis tyd vir n nuwe 10 Gebooie . Voel die effek !

John ·

Ongelukkig is ons Afrikaners se probleme nie meer uniek aan ons land nie; dis nou ‘n wereldwye fenomeen. Vyandigheid jeens die sogenaamde ‘witmens’ is orals aan die groei. Daarmee saam ook weerstand teen die Christendom en soos maar altyd teen die Jode. Lees gerus op die internet hoe mense elders in die wereld mekaar verseker dat die wit ras uiteindelik verswelg sal word deur die bont massa waaraan daar doelbewus gewerk word. ‘n Eenvormige wereldryk word in die vooruitsig gestel. Selfs Angela Merkel se gesig op die buiteblad van Times word met snedigheid beskryf as ‘n toonbeeld van dit wat moet verdwyn. ‘n Nuwe tydvak het aangebreek. Die swartsmeerdery van die Afrikaners deur dr Philip en andere in die 1800’s het ons groot skade berokken wat nou nog gevoel word. Ons gaan ons tyd mors om nou die teendeel te probeer progageer eenvoudig net omdat die res van die wereld chaoties en die leiers self verward is want dit waarvan hulle ons beskuldig het staan nou voor hul eie deure. Ons swart leiers sien self ook nie wat plaaslik aan die gebeur is nie. Voor hulle hul oe uitvee is vreemde volke hul base en boer hul lustig op die plase wat van die wit boere ‘teruggeneem’ is. Die Afrikaners moet leer om mekaar te ondersteun en weer bietjie begin bid en glo. Dit was nog altyd ons swak punt.

knipmes ·

Ek is bevrees die wit skrif is teen die muur! Die werklike smeltkroes lê nog voor, ongeag al die geploeter. Maak vas julle gordels, die tyd en tye wat voorlê gaan verrassend wees op verskeie vlakke, al word daar ook hoé geploeg…

Toekoms ·

Afrikaners moet ons kragte saamsnoer en ‘n nuwe Afrikanerstad aan die Weskus bou.

Deur te fokus op een van die bestaande dorpe soos Port Nolloth (bevolking 1275) , Koingnaas (bevolking 175) of Hondeklipbaai (bevolking 575) kan ons bestaande infrastruktuur (soos ‘n basiese/plaaslike hawe, toegang tot paaie en treinspore en water-en rioolvoorsiening) benut om soos Tel Aviv vir Israel ‘n moderne stad te bou waarin Afrikaners kan tuiskom.

Die swak bestuur van Suid-Afrika se hawens is reeds besig om die ekonomiese groei van die land met 1% per jaar terug te hou. ‘n Private diepsee hawe kan geskep word om aan hierdie vraag te voldoen.

‘n Verbinding met die SEACOM kabel wat vlak verby die Weskus loop na Europa kan die stad onafhanklik maak van Telkom en die Suid-Afrikaanse regering vir telekommunikasie, en die ontwikkeling van besighede wat deur die Internet internasionaal meeding aanmoedig. Die stad kan, soos ander in die midde-ooste en Australië, ‘n wêreldleier word in die gebiede van seewater-ontsouting, die gebruik van hernieubare-energie en hidroponika om voedsel op industriële skaal te produseer.

So ‘n stad kan ook die setel word van ‘n Afrikaanse universiteit (Australië met 20 miljoen mense het 43 universiteite, daarom regverdig Afrikaners op hul eie ten minste 5 universiteite) of ‘n inwonende kampus van Akademia.

So ‘n Solidariteit-stad sal in lyn wees met al 10 stappe hierbo uiteengesit.

MariethA ·

Ek sal graag deel wil wees van ‘n oplossing. Hou van die 10punt plan. Waar begin mens? Sal graag meer detail wil sien oor hoe om in my gemeenskap ‘n verskil te maak.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.