Tienpuntplan vir erfenisbewaring

Flip Buys, voorsitter van die Solidartiteit Beweging. (Foto: René Roux)

Minister Nathi Mthethwa se plan om die Afrikaanse Taalmonument te dwing om sy naam te verander, is die nuutste bewys dat die staat nooit die mag oor ʼn ander taal- of kultuurgemeenskap se kulturele erfenis mag hê nie. ʼn Regering wat ʼn taal- of kultuurgemeenskap se kulturele bates aantas, doen daarmee ʼn kwalik bedekte aanval op daardie gemeenskap se bestaan.

Die Wet op Nasionale Erfenishulpbronne (no. 25 van 1999) bepaal duidelik dat openbare monumente beskerm moet word en dat gemeenskappe aangemoedig en in staat gestel moet word om hul nalatenskap vir toekomstige geslagte te bewaar. Dit geld vanselfsprekend ook vir die naam van ʼn monument, veral as dit in wese ʼn monument vir die Afrikaanse taal is.

Regsmening

Mthethwa se optrede is terselfdertyd ook strydig met die gees van die wet wat uitdruklik klem lê op “kulturele diplomasie”. Hierdie jongste poging van kulturele vandalisme deur die ANC is ongelukkig in ooreenstemming met die regering se dekade lange plundering en verwaarlosing van die land se bates. Daarom win die Solidariteit Beweging reeds regsmenings in om te kyk hoe Mthethwa teengestaan kan word.

In die lig hiervan is dit belangrik dat taal- en kultuurgemeenskappe self in staat gestel moet word om hul kulturele bates te bewaar deurdat die beheer van monumente en standbeelde, saam met die belastinggeld wat daarvoor benodig word, vanaf die staat aan gemeenskappe oorgedra word. Die fout kom nie net in by Mthethwa se belaglike plan nie; dit is bloot die gevolg van die fout dat die staat die Afrikaanse Taalmonument besit en beheer.

Die Voortrekkermonument is die beste voorbeeld van ʼn taal- en kultuurgemeenskap wat sy kulturele bates bewaar. Dié monument word gesamentlik deur Afrikanerorganisasies beheer en deur die FAK bestuur. Dit is egter uiters onregverdig dat Freedom Park in die vorige boekjaar R97 miljoen se belastinggeld ontvang het, terwyl die Voortrekkermonument geen subsidie kry nie.

Tienpuntplan

Die regering het lankal bewys dat hy nie met ander gemeenskappe se kulturele erfenisse vertrou kan word nie. Daarom het die Solidariteit Beweging op ʼn “Ons sal self”-tienpuntplan vir erfenisbewaring besluit, wat nou met alle toepaslike instellings bespreek gaan word.

  1. Ons sal self

Afrikaners moet self verantwoordelikheid neem vir ons vlagskipmonumente en -standbeelde. Daarom steun die Solidariteit Beweging die FAK se projek om die Voortrekkermonument se volhoubare voortbestaan te verseker deur 10 000 ondersteuners te werf wat maandeliks tot die monument se bedryfskoste bydra.

  1. Landswye bewaring

Die Beweging het reeds landswyd plaaslike komitees gestig om monumente en standbeelde te bewaar. AfriForum-takke en die FAK se kultuurnetwerke is hiervoor verantwoordelik. Die Erfenisstigting se span kundiges staan gemeenskappe met hierdie taak by.

  1. Van staat na gemeenskap

Die staat gaan genader word om monumente en standbeelde wat onder regeringsbeheer is (met hul subsidies) na die Erfenisstigting oor te dra, wat deur die FAK bestuur word.

  1. Twee vir een

Die Beweging weet dat talle monumente en standbeelde deur verwaarlosing of vandalisering tot niet gaan, of deur die staat afgebreek of uitgeskuif word. Daarom is die FAK gevra om al hierdie kulturele bates te digitaliseer, en onderneem ons om dan elders twee monumente op te rig vir elke monument wat vernietig word. Ons wil ook soveel moontlik klein modelle van die belangrikste monumente en standbeelde maak sodat mense dit self kan aanskaf en in hul huise vertoon.

  1. Virtuele museum

Die FAK se Internetmuseum vir Afrikanergeskiedenis gaan verder uitgebrei word om vir virtuele museums voorsiening te maak, sodat mense verafgeleë monumente vanuit hul huise kan besoek.

  1. Skoolgeskiedenis

Die regering se projek om die land se multikulturele werklikheid met sy monokulturele ideologie te probeer standaardiseer, probeer om Afrikanerjongmense van hul gemeenskap te vervreem deur ons geskiedenis te kriminaliseer. Daarom het die Beweging verskeie projekte aangepak om te verseker dat jongmense ʼn ewewigtige beeld van die geskiedenis kry. Die FAK se Internetmuseum en die gratis Afrikaanse kinderensiklopedie, WEET, speel ʼn belangrike rol hierin.

  1. Kulturele respek en diplomasie

Ons gaan terselfdertyd wedersydse erkenning en respek vir die verskillende kulture en hul erfenisse in die land bevorder en wil die beginsel van kulturele diplomasie uitleef.

  1. Kulturele selfvertroue

Afrikaners se kulturele selfvertroue moet herstel word omdat ons gemeenskap se gelykheid en menswaardigheid deur jare lange staatspropaganda afgetakel is. Die ANC probeer om sy eie verpolitiseerde weergawe van die geskiedenis die amptelike siening van almal in die land te maak. Afrikaners se verlede word gekriminaliseer om die ANC se rassebeleid van die hede tot in die verre toekoms te probeer regverdig. Kulturele selfvertroue en selfrespek is nodig vir enige gemeenskap wat wil voortbestaan en wat nie permanent onderdanig aan ʼn korrupte, onbevoegde en rassistiese regering wil wees nie.

  1. Kulturele outonomie

ʼn Demokrasie sonder kulturele outonomie bied net vryheid vir die demografiese meerderheid. Daarom is kulturele federalisme of kulturele outonomie ʼn voorwaarde vir ware demokrasie, waar gemeenskappe self besluite kan neem en uitvoer oor die sake wat hulle raak. Dit geld vir die bewaring van kulturele bates en erfenisse, maar ook vir instellings soos skole wat verantwoordelik is vir kultuuroordrag na die volgende geslagte toe. In ons strewe na groter en groeiende outonomie put ons onder meer uit internasionale standaarde soos die VN se Ontwikkelingsprogram (UNDP) se 2004-verslag oor kulturele vryheid. In hierdie verslag het die VN bevind dat ʼn gewone demokrasie en grondwetlike waarborge van individuele regte nie voldoende is nie en dat kulturele outonomie noodsaaklik is.

  1. Internasionaal

Die Beweging gaan erfenisbewaring en die regering se hantering daarvan verder internasionaal bekendmaak en ons gaan by die beste praktyke van wenlande leer. Ons neem met erns kennis van die UNDP se verslag oor kulturele vryheid wat die gevolge van kulturele miskenning prontuit stel: “As die geskiedenis van die 20ste eeu iéts bewys het, dan is dit dat pogings om kultuurgroepe weg te wens of in die meerderheid te laat opgaan, eerder ʼn lewenskragtige kulturele herlewing uitlok.”

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Flip Buys

Flip Buys is voorsitter van die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Harley Davidson ·

Hoe bewaar jy jou erfenis, geskiedenis en voortbestaan as jy nie ‘n land het waar jy dit kan uitleef nie ,die Duitsers,spanjaarde,Engelse Suid Sotho’s het almal hulle stukkie land met hulle eie regering en erfenis ” niks met apartheid ” te doen nie net ‘n plekkie wat jy n tuiste kan noem en deur regte leiers geregeer word en nie onderdruk word en net goed genoeg is om belasting te betaal.

groenboer ·

Ja, Afrikaners is duidelik nie juis welkom in SA nie. Ons kan ook nie almal “terugkeer” na Europa (waar nie een van ons in elk geval vandaan kom) nie.

Die oplossing is dan voor die hand liggend: gee vir ons ‘n stuk grondgebied, dan trek ons almal daarheen en SA is van ons ontslae. Dit beteken natuurlik wel dat ‘n goeie deel van die regering se belastinginkomste daarmee heen is – g’n wonder ouens soos Panyaza Lesufi vaar so uit teen Orania nie…

Hulle wil ons nie hier hê nie en hulle wil ons ook nie laat gaan nie. So hoe dan nou?

B-Man ·

Ek sal beslis die versameling beeldjies/modelle ondersteun.

groenboer ·

Onder punt 6: “…gratis Afrikaanse kinderensiklopedie, WEET…”
Daar is ‘n gratis Afrikaanse kinderensiklopedie? Eerste wat ek daarvan hoor, en ek kry niks op die web daaroor nie.

Dalk weet iemand?

Janice du Plessis ·

Dagsê Groenboer
Dankie vir jou kommentaar.
Hier is die skakel na die gratis Afrikaanse kinderensiklopedie, WEET.
https://weet.co.za/
Groetnis
Janice du Plessis
nms Maroela Media

Suid-Afrika Eerste - Vrydenker Vlakvark ·

‘n Minderwaardigheidskompleks en jaloesie en magsbeheptheid is wêreldwyd die drieling dryfkrag vir die ondermyning, onder die vaendel van dekolonialisering, van die Anglo-Germaanse prestasies en kultuurgoedere. Bestudeer die Chines kulturele revolusie.

Geen regering kan met die bestuur van enige kultuurgoedere van enige kultuurgemeenskap vertrou word nie.

Afrikaners, raak onverwyld betrokke by die bewaring en uitbou van Afikaner kultuurgoedere.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.