Tikkie pragmatisme in Trump-resep

Donald Trump

Donald Trump. Foto: AP Photo/Pablo Martinez Monsivais

Die gewoonte om ’n nuwe Amerikaanse president se vertoning ná 100 dae aan die bewind te beoordeel, kom uit 1933, toe pres. Franklin D. Roosevelt aan die bewind gekom het.

Roosevelt het die regering oorgeneem te midde van die ergste ekonomiese krisis wat die land – en die wêreld – in daardie stadium geken het. Hy moes vinnig en deurtastend optree om die ergste gevolge te hanteer.

Voor sy bewindsoorname het pres. Donald Trump gereeld gespog oor al die ingrypende maatreëls wat hy in sy eerste 100 dae (of sommer al op die heel eerste dag) in werking gaan stel. Dit is dié beloftes wat miljoene Amerikaners beweeg het om Trump se veelvuldige persoonlike gebreke te negeer en tog vir hom te stem.

Ná 100 dae in die Withuis is dit duidelik dat Trump die Amerikaanse politiek verander het, maar dat die Amerikaanse politiek hóm dalk nog meer verander het.

Wanneer hy, soos in die afgelope naweek, voor sy aanbiddende ondersteuners in Pennsilvanië optree, is dit die grootpraterige Trump van ouds wat spog oor hoe wonderlik hy en hoe leuenagtig die media is. Maar in verskeie onderhoude met hom het ’n ietwat naïewe verbasing deurgeskemer dat dinge toe nie so maklik en eenvoudig was as wat hy gemeen het nie.

Trump het verskeie dinge goed gedoen. Hy het homself, veral op die terrein van buitelandse en veiligheidsbeleid, met stewige raadgewers omring. Veral die driemanskap Rex Tillerson (minister van buitelandse sake) en genls. H.R. McMaster (nasionale veiligheidsraadgewer) en James Mattis (verdediging) is soliede mense op wie jy in ’n krisis kan vertrou.

Trump het ook ’n goeie keuse gemaak om die vakature as regter in die hooggeregshof te vul. Dit was Neil Gorsuch, ’n knap regsgeleerde wat daaraan glo om in sy beslissings by die reg te hou en nie polities gedrewe reg te skép nie.

Maar daar is nog tientalle senior poste wat gevul moet word, en Trump wend geen poging aan om dit te doen nie. Wat beteken dat bepaalde aspekte van die staatsadministrasie daaronder ly.

Trump het egter slegs ’n klein deel van sy beloftes nagekom, in teenstelling met wat hy self gereeld beweer. Hy het naamlik blitsvinnig agtergekom dat die Amerikaanse staatsreg ’n president se mag aan bande lê.

Sy dekrete om die binnekoms van Moslems uit sekere Midde-Oosterse lande te verbied is deur verskeie howe ongeldig verklaar. Hy moes sy eerste nasionale veiligheidsraadgewer, genl. Michael Flynn, ná net 23 dae in die pad steek omdat dié oor onwettige kontakte met die Russe gelieg het.

Sy onvermoë om na die Kongres uit te reik het veroorsaak dat sy poging om Obama se siekteversekeringstelsel te vervang op ’n vernedering uitgeloop het. Ook weier die Kongres om sy veelgeroemde muur aan die Mexikaanse grens te finansier. En klaarblyklik is die invloed van die ekstreemregse groep in die Withuis onder leiding van Steven Bannon die afgelope tyd aansienlik beperk.

Wat wel onrusbarend is, is dat hy sy binnelandse politieke mislukkings aan die Amerikaanse stelsel van wigte en teenwigte – “’n argaïese stelsel … ’n slegte ding vir die land” – toegeskryf het.

Sy grootbekpraatjies is herhaaldelik deur die “fopmedia” uitgevang. (Vir wat dit werd is, volgens die Washington Post het Trump 488 bewysbare leuens in sy eerste 100 dae vertel.)

Foto’s het gewys sy aanspraak dat die skare by sy inhuldiging groter as dié by pres. Barack Obama s’n in 2009 was, was onwaar. Sy bewering (sonder bewyse) dat Obama hom voor sy inhuldiging laat afluister het, is deur die hoof van die FBI, James Comey, in die openbaar verwerp.

Hy het ook beweer dat hy eintlik meer stemme in die verkiesing as sy Demokratiese opponent, Hillary Clinton, behaal het, ondanks die amptelike uitslag dat sy die populêre stemming met byna 3 miljoen gewen het. Hy het te kenne gegee “miljoene” onwettige immigrante het gestem of is na ander deelstate aangery, sonder om enige bewyse te verskaf. Ook dít is deur deelstaat-owerhede, wat die verkiesings behartig, teengespreek.

Die een dag het hy die intelligensiedienste met Nazi-Duitsland vergelyk. Twee dae later het hy gesê hy het ’n uitstekende verhouding met hulle.

Navo is as “verouderd” bestempel. Toe ontdek hy Navo is nié verouderd nie en baie nuttig.

China “verkrag ons land” en is ’n “valuta-manipuleerder”. Toe hy agterkom China kan ’n positiewe rol speel om Noord-Korea hok te slaan, sê hy “China is nie meer ’n valuta-manipuleerder nie”.

Die “liegmedia” verswyg terreuraanvalle van radikale Moslems, het hy beweer. Die media het geantwoord deur te wys op die enorme aandag wat aan die aanvalle in Parys, Nice, Berlyn en elders bestee is.

Hy het gesê die ekonomie groei, danksy sý wyse beleid. Hy het verswyg dat die groei sedert sy bewindsoorname juis verlangsaam het, en dat dit in Obama se laaste maande vinniger gegroei het.

Maar Trump het ook gewys dat hy kan leer, veral op buitelandse terrein. Sy ommeswaai oor China en Navo is goeie voorbeelde.

Trump se leuse was voortdurend “Maak Amerika weer groot” en “Amerika eerste”. Waarmee hy te kenne gegee het hy wil nie, soos vorige regerings, die wêreld se polisieman wees nie en hom met binnelandse sake besig hou.

Maar opeens het hy hom soos ’n wafferse globale polisieman begin gedra. Hy het die grootste konvensionele bom in die geskiedenis op Taliban-stellings in Afganistan gegooi en 59 missiele op ’n Siriese lugmagbasis gelanseer nadat pres. Basjar al-Assad gifgas in die burgeroorlog gebruik het.

Hy is besig met ’n reusagtige konsentrasie van vuurkrag in Oos-Asië. Hy dreig voortdurend om Noord-Korea aan te val as dié voortgaan met die kernwapenprogram wat volgens berigte binne twee tot drie jaar ’n akute bedreiging vir die Amerikaanse Weskus kan inhou.

As Noord-Korea nie “inbind” nie, dreig ’n “grootskaalse konflik”, het hy verlede week nog aan die persburo Reuters gesê.

Dis nie dat hy veel keuse het nie. Dis maklik om te beloof jy wil nie die wêreld se polisieman wees nie, maar as jou nasionale belange daadwerklike optrede verg, word dit moeilik om jou aan sulke onrealistiese beloftes te hou.

Uiteindelik moet ’n mens dus genuanseerd oor Trump se eerste 100 dae oordeel. Die gebreke in sy karakter maak dat hy probleme skep wat kon gebly het. Maar sy gebrek aan diep oortuigings maak ook dat hy skielik van koers kan verander as dit nodig blyk.

Daardie soort pragmatisme is (binne perke) ’n goeie ding.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Leopold Scholtz

Meer oor die skrywer: Leopold Scholtz

Leopold Scholtz is 'n onafhanklike politieke kommentator en historikus. Hy is al sedert 1972 as joernalis en historikus werksaam.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

6 Kommentare

humor ·

Hierdie hele skrywe laat my dink aan n sub A of dan nou n graad 1 klassie wat oor n nietigheid twis en vir mekaar tong uitsteek.

Gerhardus Petrus Padda ·

Goeie gebalanseerde artikel Leopold, maar ek dink jy mis nog steeds die strategie wat Trump gebruik met sy “uitlandiese stellings”. Trump probeer baie duidelik n “hefboom” kry wat hy kan gebruik in onderhandelinge, beide in Amerika en met ander lande.

Hier sy “uitdagings” soos wat hy self dit formuleer:

Die VSA betaal n te groot deel van Navo se kostes. Vergelyk nou die uitsprake wat hy gemaak het oor Navo met sy uitdaging. In onderhandeling met Europese lande wil hy kry dat die VSA minder betaal vir Navo.

Noord Korea is 3 jaar weg om Atoom bom missiele op Los Angeles of San Fransisco te kan vuur. Trump se strategiese posisionering tov handel met Sjina beteken hy kan dit gebruik om Noord Korea, Sjina se probleem te maak. Sy vertoon van mag in Sirie en Afghanistan het meer te maak om Noord Korea te intimideer as om “polisieman” te speel. Om jou eie land te beskerm is nie “polisieman” speel nie.

Sy posisionering teen die intelligensie dienste het twee doele gehad. Die hoofstroom media het Trump aan die begin as n “Hitler” uitgekryt. Deur dit af te wentel na die intelligensie dienste was strategies. Die media noem hom nie meer “Hitler” nie.

Trump weet hy het 4 jaar om sy doelwitte te bereik. Die GOP het net 2 jaar voor hulle volgende verkiesing. Trump sal daai stryd wen en gewone mense onthou nie so lank terug nie.

Dean ·

Die uitlating dat “Hy (Trump) die grootste konvensionele bom” gegooi het is verkeerd, die toestemming is gegee deur Gen. Nicolson wat bevestig het dat geen uitvoerende toestemming nodig was nie, en dat hy nie gevra het nie. Hierdie stuk is nie ompartydig nie….

Nico K ·

Trump gaan niks verander nie. Aan die einde van sy termyn sal ons sien dat niks in die VSA, of verhoudinge met ander lande of sy land se ekonomie verander het nie. Die VSA sal maar nog dieselfde land bly. ‘n President in die VSA het nie soveel mag as in Afrika nie. (Hoewel na my mening nog steeds te veel. En dit geld vir die meeste demokrasieë. Een persoon behoort nie alleen besluite te kan neem nie.)

Therese van Schalkwyk ·

Lees gerus ook die artikel van Christopher Ruddy in die New York Times getiteld:
“Don’t like Trump’s Bluster? Sometimes It Works”.

Die stuk is heelwat ‘vriendeliker’ vir Trump-ondersteuners.

Die laaste paragraaf lui:
“Even I do not agree with everything the President says or does. But we should be willing to recognize that, at times, he can be very effective. The Chinese have.”

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.