Tirannie van die meerderheid, destyds en nóú

‘n Aanklag wat nie aldag teen Suid-Afrika se ‘wit minderheidsregering’ van weleer gemaak word nie, is dat dit meerderheidsoorheersing beoefen het. Tog het veral liberale wit Engelssprekendes die NP-bewind as ‘n sogenaamde tirannie van die meerderheid – in die konteks van die eksklusief blanke kieserskorps – beleef.

Ken Owen is 'n voormalige redakteur van die Sunday Times en onder meer skrywer van 'These Times - a decade of South African Politics' (1992)

In ‘n koerantrubriek in Mei 1990 het die bekende liberale joernalis Ken Owen geskryf dat Engelse kiesers sedert 1948 uitgelewer was aan ‘die tirannie van ‘n Afrikaner kiesersmeerderheid’ wat die NP aan bewind gehou het. Wit Engelssprekende Suid-Afrikaners, ‘n minderheid onder die kiesers, is deur die regerende meerderheid aan verskeie vorms van benadeling onderwerp. Owen het verwys na sensuur en ‘ander aanvalle op kulturele waardes’, bevoordeling van Afrikaner-Nasionaliste in regterlike aanstellings, ondermyning van akademiese vryheid, burokratiese beheer oor skole, uitsluiting van politieke opponente van regeringsaanstellings en staatskontrakte, diskriminerende aanwending van staatsgeld, en die propagandistiese misbruik van die openbare uitsaaier.

Owen het in sy artikel van 21 jaar gelede ook ‘n profetiese waarskuwing gerig:

Having endured the whims and oppressions of an Afrikaner electoral majority for the past 40 years, we seem destined now to endure the whims and oppressions of a black electoral majority.

Sedert 1994 is die skoen inderdaad aan die ander voet en ervaar veral Afrikaners die ANC-bewind as ‘n tirannie van die meerderheid, weliswaar ‘n volledig demokraties verkose een. Afrikaners voel nou aan eie lyf die soorte benadeling wat ons wit Engelstalige landgenote vantevore in Suid-Afrika se eng kleurgebonde ‘demokrasie’ verduur het.

Ken Owen is natuurlik nie die skepper van die begrip ‘tirannie van die meerderheid’ nie. Daardie onderskeiding kom die befaamde negentiende eeuse Franse politikus en politieke ontleder Alexis de Tocqueville toe. Die betrokke frase verskyn in sy seminale ontleding van die Amerikaanse grondwet, wat hy in 1853 gepubliseer het. In onlangse jare het die konsep van onderdrukking deur ‘n demokraties verkose meerderheid meermale opgeduik in studies van heterogene samelewings.

Een van die insiggewendste voorbeelde is te vinde in die World Development Report 2004 van die VN se Ontwikkelingsprogram (UNDP), getitel Cultural Liberty in Today’s Diverse World. Die verslag se uitgangspunt is dat die wêreld vandag die opkoms van ‘identiteitspolitiek’ beleef soos mense in baie lande eis dat hul kulturele identiteite – veral waar dit in die vorige eeu onderdruk is – deur hul samelewings erken, waardeer en geakkommodeer moet word. Is ‘gewone’ demokrasie die aangewese metode?

Hierop antwoord die World Development Report 2004:

…while democracy is the only form of government consistent with all freedoms (including cultural freedoms), majoritarian rule does not always protect claims for cultural recognition and respect.

Selfs wanneer lede van minderheidsgroepe gelyke politieke regte met die meerderheid geniet in ‘n demokrasie, ‘…they may be consistently underrepresented or outvoted, and so view the central government as alien and oppressive’, aldus die VN-verslag.

Charles Taylor (1931-), Kanadese politieke filosoof.

In dieselfde trant argumenteer die Amerikaanse politieke wetenskaplike Timothy Sisk dat eenvoudige meerderheidsdemokrasie spesiale probleme skep in etnies verdeelde samelewings. Etniese minderheidsgroepe verwag om deur die stembus permanent van politieke mag uitgesluit te word. Minderhede stel demokrasie dan nie gelyk aan vryheid van deelname nie, ‘…but with the structured dominance of adverserial majority groups’. Dis wat die Kanadese politieke filosoof Charles Taylor ‘democratic exclusion’ noem.

As die beeïndiging van wit minderheidsregering en die instelling van ‘n inklusiewe demokratiese orde in Suid-Afrika steeds nie die probleem van ‘n tirannie van die meerderheid opgelos het nie, hoe nou gemaak? Die World Development Report van 2004 bied ‘n uitweg met sy propagering van kulturele vryheid in multikulturele samelewings. Daaroor meer in ‘n volgende aflewering.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Deon Geldenhuys

Deon Geldenhuys is ‘n emeritusprofessor in politiek aan die Universiteit van Johannesburg.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Louis du Plessis ·

Deon ~

1  In die ou tyd ry ek saam met my pa, ‘n uitgesproke Afrikanernasionalis, om vergaderings van die Nasionale Party by te woon.  Na die tyd hoor ek hoe vra my pa se vriende:  “Kan die Engelse van die Verenigde Party dan nie verstaan ons sal altyd vir ons eie mense stem nie?!  Is hulle dan so blind?” 

2  Deesdae ry Sipho saam met sy pa, ‘n swart Afrikaannasionalis, om saamtrekke van die African National Congress by te woon.  Na die tyd hoor hy hoe vra sy pa se vriende:  “Kan die wittes van die DA dan nie verstaan ons sal altyd vir ons eie mense stem nie?!  Is hulle dan so blind?”

3  Die skoen is, soos jy welsprekend opmerk, tans tereg aan die ander voet.  Dankie dat jy vir ons skerp geslypte begrippe gee wat ons op vriend én vyand kan toepas!  

Fanie ·

Deon,

Sien uit om meer te hoor oor Kulturele Vryheid. Stel veral daarin belang of dit tipiese beperkte kultuurregte is, en of dit volle regte vir Kultuurgemeenskappe behels. Wat Ken Owen betref, loop ek nie oor van simpatie nie. Die Engelse Imperiale het die Afrikaner van alles uitgesluit toe hulle die mag gehad het, en die Afrikaners het daarna die mag gebruik om hulself te moderniseer, met steeds baie ruimer geleenthede vir Engelssprekendes as wat Afrikaners self gehad het.

Fanie

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.