Toekoms van BRICS ná Covid: Sal SA steeds inpas?

Deur prof Theo Neethling

Die Brics-lande se vlae. (Foto: Pixabay)

Die 13de BRICS-spitsberaad het pas plaasgevind. Die politiek-ekonomiese belangrikheid en invloed van BRICS en sy lede – Brasilië, Rusland, Indië, China en Suid-Afrika – is goed bekend in die internasionale gemeenskap.

Die vyf lidstate wat BRICS uitmaak, omvat immers ʼn gekombineerde oppervlak van 39 746 220 km2 en ʼn bevolking van meer as 3,2 miljard, dit wil sê meer as ʼn kwart van die aarde se oppervlak en meer as 40% van die wêreldbevolking. Die BRICS-lidstate tel ook onder die mees invloedryke ontwikkelende lande in die internasionale gemeenskap. Juis daarom is dit vir Suid-Afrika uiters voordelig om ʼn lid van BRICS te wees en Afrika inderwaarheid daarin te verteenwoordig.

Vanuit ʼn Suid-Afrikaanse oogpunt was daar egter ʼn knelpunt in die afgelope dekade. Trae groei en swak regering onder die Zuma-bewind het Suid-Afrika se invloed as ʼn leidinggewende Afrikastaat laat taan. In 2020 het die Covid-19-pandemie die wêreld in alle opsigte verander en Suid-Afrika in besonder trek baie swaar. Die vraag is hoe dit in die ander vier BRICS-lidstate gesteld is en of BRICS ná Covid-19 steeds soveel politieke belofte as voorheen gaan inhou.

Die grootste ekonomie in BRICS, naamlik China, het in die afgelope jare groeigewys afgeneem van ʼn uiters gunstige persentasie van tussen 8 en 9%, maar steeds amper 7% in 2016 gehaal. In 2017 en 2018 was dit steeds by net minder as 7%. Oudpresident Donald Trump se vyandige handelsproteksionisme jeens China het ook nie juis groei te negatief geraak nie en ondanks ʼn groot insinking in 2020 met Covid-19-maatreëls is daar vroeër vanjaar ʼn verbysterende 12,7% in die eerste kwartaal aangeteken en toe amper 8% in die tweede kwartaal. Daar kan dus steeds met sekerheid voorspel word dat China die VSA rondom 2030 as die staat met die grootste ekonomie gaan verbysteek.

Wat Rusland betref was daar in die afgelope dekade groot ekonomiese uitdagings. Van die belangrikste probleme was oormatige staatsbeheer in die ekonomie asook ander hindernisse om ʼn meer mededingende ekonomie te skep. Die Russiese regering het egter verskeie belangrike institusionele hervormingstappe onderneem om ekonomiese groei te verbeter. Dit het egter nie die Russiese ekonomiese probleme summier uit die weg geruim nie en hoë pryse vir olie en gas tot 2014 kon ook nie die land se ekonomie op ʼn sterk en gesonde pad van groei plaas nie. Met die daling van internasionale oliepryse in 2015 het sake selfs versleg en Westerse sanksies het die Russiese ekonomie aansienlik geknel. Kortom, van al die BRICS-lidstate het Rusland se ekonomiese groeivooruitsigte na die somberste gelyk en heelwat waarnemers het die land begin afskryf vir die waarde wat hy tot die BRICS-groepering toevoeg.

Die Russe het die donker ekonomiese dae van 2017 egter oorleef en selfs ʼn groeikoers aangeteken, ofskoon aan die lae kant en weliswaar onder die globale groeikoers van 3%. Met streng Covid-19-inperkings in 2020 het die Russiese ekonomie met soveel as 3% afgeneem, hoewel effens minder as die gemiddeld te wêreld. Daar is tans weer lewe in die Russiese ekonomie met meer as verwagte groei en vir die toekoms word groeivooruitsigte voorsien van tussen 2% en 3% vir 2022 en 2023. Die Russiese ekonomie bly steeds 11de op die wêreldlys en die land mag selfs ʼn plek of wat in die rangorde in die komende jare opskuif.

Brasilië, die BRICS-vennoot in die suidelike halfrond, het eweso met groot ekonomiese knelpunte geworstel. Dié land was tot 2011 een van die vinniggroeiende ekonomieë in die internasionale gemeenskap en het hom as een van die sewe grootste ekonomieë gevestig. Vanaf 2012 het sake begin skeefloop en Brasilië het gesukkel om sy ekonomie te laat groei. Politieke ontevredenheid in Brasilië het hoogty gevier en die merkwaardige opgang wat Brasilië tussen 2002 en 2011 onder president Luiz Inácio da Silva gemaak het, het meteens vervaag. Daarby het politieke onsekerheid in Brasilië ʼn hoogtepunt bereik sedert demokrasie in die 1980s in Brasilië ingevoer is.

Sedert 2017 het Brasilië egter uit sy resessie gegroei en hoewel die Brasiliaanse ekonomie in 2017 nog nie sterk groei getoon het nie, kon die land in 2018 ʼn groeikoers van meer as 1% aanteken. In 2020 het Brasilië ʼn groot ekonomiese insinking beleef, asook die wêreld se grootste aantal Covid-19-gevalle (12,7 miljoen) en sterftes per dag aangeteken. Die ekonomie is egter weer aan die groei en ʼn verwagte koers van meer as 2% word vir die komende jare voorspel. Daarby het die land steeds internasionaal die negende grootste ekonomie.

ʼn BRICS-land propvol belofte is Indië. Die Indiese ekonomiese groei was deurlopend meer as 7% en die ekonomiese vooruitsigte bly steeds gunstig met ʼn hoë groeisyfer wat na verwagting gehandhaaf sal word. Trouens, die Internasionale Monetêre Fonds het reeds in 2015 die verwagting gestel dat Indië in 2019 die sewende grootste ekonomie in die internasionale gemeenskap gaan wees. Dit is algemene kennis dat Covid-19 Indië hard getref het, maar na ʼn 7%-insinking in 2020 word niks minder nie as ʼn dubbelsyfer in groeikoers vir 2021 voorsien. Indië is steeds die sewende grootste ekonomie ter wêreld en analiste wat verwag dat die land teen 2050 onder die topvyfekonomieë in die wêreld gaan tel, gaan heel waarskynlik reg bewys word as sake soos nou voortduur.

Waar laat dit Suid-Afrika? Ongelukkig is Suid-Afrika tans ver verwyderd van sy hoogtepunt in ekonomiese groei van 5,6% wat in 2006 onder oudpresident Thabo Mbeki se leidende rol aangeteken is. Trouens, in daardie stadium het die regering ʼn voorste diplomatieke rol in die visie van ʼn Afrika-renaissance gespeel asook erkenning as ʼn gerespekteerde lidstaat in die ontluikende Afrika-unie geniet.

In hierdie konteks is Suid-Afrika in die IBSA-groepering (Indië, Brasilië en Suid-Afrika) en liggame soos die G20-state opgeneem, asook as ʼn nie-permanente lid van die Veiligheidsraad van die Verenigde Nasies gekies. Suid-Afrika het as leidinggewende Afrikastaat inderwaarheid in ʼn paar opsigte sy plek in hierdie en ander instellings verdien.

In die afgelope dekade het die eens blink Suid-Afrikaanse ster internasionaal en in die Afrika-konteks taamlik onder die bewind van oudpresident Jacob Zuma verdof. Vandag is Suid-Afrika lank nie meer die onbetwiste ekonomiese en diplomatieke leierstaat in Afrika nie. Trae ekonomiese groei met gepaardgaande vaardigheidstekorte, hoë werkloosheid, gereelde en gewelddadige protesaksies, swak dienslewering, uitermate hoë vlakke van korrupsie en kroniese misdaad het trouens kenmerke van die Suid-Afrikaanse politiek-ekonomiese landskap geword. Bygesê, internasionaal word ekonomiese groeivooruitsigte vir Suid-Afrika tans as positief gereken, maar die bogenoemde faktore en diep sosiale verdelings in Suid-Afrika, asook hoë risiko vir beleggers wat met situasies verband hou soos dié wat onlangs in KwaZulu-Natal en dele van Gauteng uitgespeel het, doen groot afbreuk aan die land se geweldige potensiaal om internasionaal te presteer.

Dit alles kom weereens maar op een saak neer: Ons politieke leiers sal beter moet presteer en besef dat al die bogenoemde faktore Suid-Afrika se invloed en seggenskap op etlike terreine – polities, diplomasie, ekonomies en militêr – geleidelik laat erodeer. Tensy dinge op ʼn nuwe baan geplaas word, gaan die groot skade van die Zuma-jare nie omgekeer word nie en gaan die land in die post-Covid-era uiteindelik nie meer die invloedryke Afrikastaat wees wat sy plek in ʼn instellings soos BRICS stewig kan volstaan nie.

  • Prof Theo Neethling is verbonde aan die departement politieke studie en regeerkunde aan die Universiteit van die Vrystaat.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Vrijburger ·

Interessant dat die ander BRICS lande se stand op die wereldlys van ekonomie genoem word, maar nie Suid-Afrika sin nie.
(Maar laat ons eerlik wees, SA is die ‘token’ lid van BRICS.)

gatgogga ·

Ons is nou weer in ‘n tyd van industriele revolusie – dit sal nou begin posvat, soos wat Covid kwyn. En dis waar RSA totaal gaan agterbly.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.