Toekoms van Navo bevraag­teken ná Afghanistan-gebeure

‘n Konvooi van Taliban-vegters in ‘n straat in Kaboel. (Foto: Aamir QURESHI/AFP)

In aanloop tot die Amerikaanse verkiesing van 2016 het Donald Trump, toe ʼn kandidaat vir die presidentskap, gesê dat die Noord-Atlantiese Verdragsorganisasie ʼn verouderde en uitgediende instelling is. Trump het, totaal ongekend vir ʼn Amerikaanse presidentskandidaat en veral vir ʼn Republikein, heeltemal tereg daarop gewys dat die VSA ʼn baie groter bydrae tot Nato maak as enige van die ander 28 Navo-lidlande.

Die afgelope twee dekades se oorlog in Afghanistan het dit weer bevestig. Terwyl daar tereg na die dramatiese oorname van Afghanistan deur die Taliban as ʼn verleentheid vir die VSA verwys word, behoort dit in werklikheid selfs ʼn groter verleentheid vir Navo en sy ander lidlande te wees omdat Navo geen werklike leierskapsrol in die oorlog gespeel het nie, ten spyte daarvan dat Navo ʼn direkte party tot die oorlog was.

Tydens die hoogtepunt van die Afghaanse oorlog ʼn paar jaar gelede was daar 130 000 Navo-soldate in Afghanistan. Van hulle was meer as 90 000 Amerikaanse soldate en slegs 40 000 van ander Navo-lidlande. Een Navo-lidland, Turkye, het hom die afgelope twee weke grootliks aan die kant van die Taliban geskaar met dié land se president wat die Taliban se oorname as ʼn verdrywing van Westerse indringers uit Afghanistan beskryf het. Turkye is reeds die afgelope paar jaar besig om ʼn grap van sy Navo-lidmaatskap te maak, met die Navo-leierskap en ander Navo-lidlande wat bloot net bly wegkyk en dit verdra.

In 2014 het die 29 Navo-lidlande ooreengekom dat elkeen 2% van hulle bruto binnelandse produk (BBP) aan verdediging sal bestee. Teen 2019 het slegs sewe lande daardie doelwit bereik, met van die grootste en sterkste lede soos Duitsland, Kanada, Spanje en Italië wat nie eers naby die doelwit kom nie.

Terwyl die VSA byna 3,5% van sy BBP aan verdediging bestee, is dié land ook verantwoordelik vir 70% van Navo se jaarlikse begroting van meer as 1 biljoen dollar (“one trillion dollars” in Engels). Die VSA het 75 jaar ná die einde van die Tweede Wêreldoorlog steeds 65 000 soldate in Europa en hy bestee miljarde dollars aan gevorderde verdedigingstelsels in Europa wat teen beweerde, maar duidelik oordrewe, Russiese aggressie gebruik kan word.

‘n Helikopter met ‘n Taliban-vlag vlieg oor ondersteuners van die groep wat die VSA se onttrekking aan die land vier. (Foto: Javed Tanveer/AFP)

Die een gevolg van die oorlog in Afghanistan is dat die VSA die grootste verantwoordelikheid vir die oorlog en sy gevolge aanvaar het, maar dat Navo eenvoudig nie sy kant gebring het nie en dat die meeste Navo-lidlande, veral Europese lande, weggeskram het daarvan om meer soldate na Afghanistan te stuur of meer geld aan die heropbou van die land te bestee toe dit die nodigste was. Die gemors waarin Afghanistan nou verkeer, is nie net die VSA se skuld nie; ander Navo-lidlande moet heelwat meer skuld kry as wat tans die geval is.

In 2019 het die Franse president Emmanuel Macron Navo as “breindood” beskryf. Teen daardie tyd is president Trump in die VSA deur die sekretaris-generaal van Navo, Jens Stoltenberg, om sy pinkie gedraai en het Trump omgeswaai en ʼn groot verdediger van Navo geword. Sy kritiek van 2016 het toe soos mis voor die son verdwyn. Trump het op Macron se opmerking gereageer deur Macron aan te val en te beweer dat Frankryk Navo die nodigste het van alle lidlande.

Trump se bewerings in 2016 dat Navo se doelstellings uitgedien geraak het, is nou weer in Afghanistan bewys. Wat is volgende vir Navo? Die verdediging van Europa teen beweerde Russiese aggressie is ʼn redelik afgewaterde doelstelling in ʼn tyd waar Rusland se vermoë dikwels oorskat word.

Heelwat leiers in Navo wil sien dat die organisasie ʼn globale instelling teen terrorisme, diktatuur en menseregtevergrype raak. Politieke leiers en politieke wil is egter hiervoor nodig. Die VSA en die meeste Europese lande het tans verswakte leiers en min, indien enige, politieke wil om ʼn grootskaalse hervorming van Navo aan te pak. Intussen sal Navo sy begroting bly regverdig deur die beweerde bedreiging wat Rusland vir lidlande soos Pole en die Baltiese state inhou, te propageer. Dit is egter geen langtermynstrategie nie en Navo beskik tans nie juis oor ʼn langtermynstrategie wat die alliansie se bestaan, begroting en werksaamhede vir lank gaan bly regverdig nie.

Aborsieregte op die agtervoet in die VSA

Pres. Joe Biden. (Foto: Saul Loeb / AFP)

Een van die strengste wette om aborsies in ʼn Amerikaanse deelstaat te beperk, het vroeër vandeesweek in Texas in werking getree nadat die wetgewer van dié Amerikaanse deelstaat vroeër vanjaar die wet goedgekeur het, maar die wet daarna in verskeie howe getoets is. Groepe wat ten gunste van aborsieregte is, het in ʼn laaste poging om die implementering van die wet op 1 September te verhoed, die Hooggeregshof in Washington DC vir ʼn dringende bevel genader, maar vyf van die nege regters het beslis dat so ʼn versoek nie toegestaan word nie.

Die hoofregter van die Hooggeregshof is die meer konserwatiewe John Roberts wat in 2005 deur president George W. Bush as regter en hoofregter van die Hooggeregshof benoem en deur die Amerikaanse senaat goedgekeur is. Roberts, hoewel gematig konserwatief, het egter die afgelope paar jaar toenemend saam met liberale regters in die hof begin stem.

Nadat president Trump verlede jaar, na die dood van een van die mees liberale regters, Ruth Bader Ginsburg, die meer konserwatiewe Amy Coney Barrett benoem het en sy deur die senaat goedgekeur is, het die hof nou ʼn gemaklike konserwatiewe meerderheid. Dit het hoop geskep onder konserwatiewe Amerikaners dat die 1973-uitspraak van die Hooggeregshof in Roe vs. Wade, wat aborsies wettig gemaak het, in die toekoms omgekeer sal word.

Die hof se kort uitspraak die afgelope week was egter geen uitspraak oor aborsieregte nie. Die hof het slegs beslis dat die Texas-wet in werking kan tree en dat dit daarna eers in howe getoets kan word.

Verskeie konserwatiewe Amerikaanse deelstate het die afgelope tyd streng nuwe wette goedgekeur om aborsies te beperk. Die Texas-wet is ʼn vreemde wet omdat dit individue persoonlik die reg gee om ʼn eis in te stel teen enige diensverskaffer wat ʼn fetus aborteer wat ouer as ses weke is. Die Texas-wet skep dus ruimte vir siviele eise teen enigiemand wat ʼn persoon gehelp het om ná ses weke van swangerskap ʼn aborsie te kry. Dit verklaar egter nie hierdie aborsies as ʼn kriminele oortreding nie. Dit verskil dus wesenlik van ander deelstate se wette wat aborsies ná ʼn sekere aantal weke onwettig verklaar en dit dus ʼn kriminele oortreding maak.

Die wetgewer in Mississippi het vroeër vanjaar bepaal dat niemand ʼn aborsie ná 15 weke van swangerskap in dié deelstaat mag kry nie. Verskeie groepe het die wetgewing in Mississippi ook die afgelope maande in die hof beveg. Hierdie saak gaan waarskynlik later vanjaar deur die Hooggeregshof aangehoor word. Hoewel die afgelope week se vyf-teen-vier-beslissing geensins die huidige nege regters se standpunt oor aborsieregte reflekteer nie, maar eerder op tegniese punte beslis is, bestaan die kans dat die hof in latere beslissings strenger aborsiewette as grondwetlik sal verklaar sonder om aborsies heeltemal onwettig te maak.

Sedert aborsies in die Roe vs Wade-uitspraak in 1973 wettig in die VSA geword het, is meer as 62 miljoen babas reeds geaborteer. Die afgelope vyf dekades voer konserwatiewe groepe ʼn voortdurende stryd om die 1973-uitspraak omgekeer te kry of om minstens aborsies te beperk.

Daar was ook die afgelope paar jaar ʼn skerp afname in die getal aborsies wat in die VSA gedoen word, en sedert 2013 vind daar jaarliks minder aborsies plaas as wat voor die 1973-uitspraak, toe aborsies eintlik nog onwettig was, gedoen is. Vanaf 2011 tot 2017 het die getal aborsies wat jaarliks in die VSA gedoen word, van meer as 1 miljoen tot 862 000 gedaal. Die persentasie swangerskappe wat deur aborsies beëindig word, het in dieselfde periode ook van 21,2% tot 18,4% gedaal.

Strenger wette om aborsies verder te beperk, sal verder tot ʼn afname bydra, hoewel die afname die afgelope paar jaar hoofsaaklik weens ʼn algehele afname in swangerskappe meegebring is. Tog bly die aborsiedebat, soos oor die afgelope vyf dekades, een van die mees verdelende debatte in die VSA.

Hoewel dit moontlik is dat die Hooggeregshof met sy meerderheid konserwatiewe regters – selfs al sou Roberts saam met die drie liberale regters stem – kan beslis dat strenger wette soos dié in Mississippi inderdaad grondwetlik is, ondersteun ʼn meerderheid van Amerikaners steeds wettige aborsies. Volgens die Pew-navorsingsinstituut is 59% van Amerikaners van mening dat aborsies in die meeste of in alle gevalle wettig moet wees. Daarteenoor meen 39% dat dit in die meeste of alle gevalle onwettig moet wees. Sowat 34% van Amerikaners meen dat dit in alle gevalle wettig moet wees en 26% meen dat dit in alle gevalle onwettig moet wees. Daar is dus ʼn meerderheid van Amerikaners wat van mening is dat aborsies wettig moet wees, maar hulle verskil oor wat die omstandighede en tydraamwerke daarvoor moet wees.

Republikeine in die VSA, en veral konserwatiewe groepe, se een argument die afgelope vyf dekades is dat deelstate toegelaat moet word om self te beslis hoe aborsieregte daar toegepas moet word. Die Texas-wetgewing is egter gedoem tot mislukking en gaan waarskynlik nie verskeie hofsake oorleef nie. Die gerespekteerde Wall Street Journal het die Texas-wet die afgelope week as onwerkbaar beskryf.

Daarteenoor maak die wetgewing in ander konserwatiewe deelstate meer sin. Daar sal egter oor die volgende maande heelwat hofsake hieroor gevoer word en dit lyk toenemend asof aborsieregte weer in die komende verkiesing ʼn belangrike politieke vraagstuk gaan wees.

 

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

jou gewete ·

ek wonder nou nogal, my pa het baie gese na die tweede wereldoorlog het iemand wie se naam ek vergeet het gese dat die derde wereldoorlog in die midde ooste sal begin. dalk was hy reg

annie ·

Navo beskik seker oor die jongste wapentuig op die planeet met die grootste spul bangbroeke onder die son en al wat hulle doen is sit en grootpraat en bak in die son. Die Weste se vyande lag lekker vir die sirkus. Waarom so baie aborsies gedoen word weet g’n mens met soveel geboortebeperkingsmiddels beskikbaar nie. Waarom ‘n intieme verhouding aanknoop en nie die gevolge dra nie?

groenboer ·

‘n Goeie deel van wetgewing in Amerika is bloot politieke teater vir die stemveë, en die wetgewers weet goed die wet sal nooit in werking gestel word nie, of sal gou in die hof sneuwel. Maar dit hou die publiek gelukkig in die waan dat “iets nou gedoen word.”

Hoekom ·

Dieselfde pro choice mense wat demonstreer teen die aborsie wet, is dieselfde mense wat ander wil forseer om inentings te kry en maskers te dra. Waar is die pro choice dan?? Of geld dit net in sommige gevalle? “Liberals are hypocrites”

Pieter9 ·

Ek het ‘n poilitieke kommentator verlede week hoor sê dat jy kan nie ‘n land regeer soos wat jy ‘n mpy/besigheid regeer nie; ek is van mening dat dit dalk ‘n uitgediende denkrigting is…te min spasie om te moriveer: die wêreld het nou doeners nodig.

Eclectus ·

Lyk my die Ranger het nou die Hilux as terrie transport vervang. Wonder waar hulle vandaan kom want met my laaste waarneming kon daar nie vasgestel word wie al die Toyotas verskaf het nie.

Eclectus ·

Ek wonder of die skrywer nie eerder ‘n rubriek wil doen oor Suid-Afrikaanse aborsie wetgewing nie. Die meerderheid, insluitend myself, het nie ‘n benul wat op ons wetboeke is rakende hierdie saak nie. Ek kan nie insien hoe die woelinge van die Amerikaners ons raak nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.