Toekomsberaad: Kom help bou aan ‘n toekoms.

Toekomsberaad-Flip-Buys

Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging. Foto: Reint Dykema.

Ek kom om vir ʼn volk te laat wat klein langs ander volke staan, dat hul naam nie sal verklink en tot die stiltes gans vergaan.

Dames en Here, hierdie strofe uit NP van Wyk Louw se “Dieper Reg” het my onlangs weer getref toe ek deur ʼn eensame bejaarde dame gevra is “dat ons tog moet help dat al haar kleinkinders nie landuit trek nie, want sy wil  ʼn ouma van kinders in Suid-Afrika wees, nie ʼn ‘granny’ vir kinders in Australië nie”. Daar is waarskynlik grootouers in hierdie gehoor wat weet wat verlange na jou kleinkinders is.

Hierdie roerende versoek van ʼn gewone ouma het my laat besef hoekom ons eintlik vandag hier is: Dis ons geslag se taak om die omstandighede te skep waarin Afrikaners blywend vry, veilig en voorspoedig in Afrika kan leef, en nie net as enkelinge probeer oorleef nie.  ʼn Sterk georganiseerde Afrikanergemeenskap met die ruimtes om tuis te voel in Afrika, sal juis die vertroue in die toekoms skep deur hier te bly en ʼn volhoubare bydrae tot die land en al sy mense te lewer.

Daarmee bedoel ek nie dat ons moet laer trek of onsself teen ons landgenote moet opstel nie, maar dat ons juis die omstandighede moet skep dat ons nie landuit hoef te trek of “land-in” te onttrek nie. Ons bly nie op ʼn eiland nie; daarom moet ons as kultuurgemeenskap na binne bind, maar terselfdertyd na “buite” brûe bou na die groter Afrikaanse taalgemeenskap en na al die ander mense met wie ons hierdie mooi land deel. Want as ons net op die verskille klem lê, gaan die klowe en verdelings net groter word en speel ons in die hande van radikale populiste wat die land in vlamme wil sien.

Ons is Afrikane en Suid-Afrikaners, maar ons mag Afrikaners ook wees, want daar kan van geen gemeenskap op aarde verwag word om hul bestaan op te hef en so hul geskiedenis en grondwetlike bestaansreg en -regte prys te gee nie. Dis tog kulturele selfmoord! Dit is hoekom ons Grondwet in Artikel 30 en 31 uitdruklik voorsiening maak vir die bestaan van kultuurgemeenskappe en hul reg om hulself uit te leef. Want die geskiedenis het wêreldwyd getoon dat indien nasionale eenheid verskraal word tot inlywing by die meerderheid, die prys te hoog word om te betaal.

Daarom mag ons maar aan ons eie kant wees, want dit beteken nie om teen ander te wees nie. Apartheid is verby, en Afrikaners is in wêreld-oë nie meer die slegte ouens nie en ons moet ook nie in daardie era vassteek nie. Ons kan ook nie toelaat dat ons met ʼn skuldkompleks as politieke gyselaars van die verlede aangehou word nie. As Afrikaners nie vir hulself omgee nie, gaan niemand anders dit doen nie. Afrikanerskap is ’n vrywillige keuse, kies vir of teen dit, maar moenie ons kwalik neem as ons daarvoor kies nie. Groei verby daardie vooroordeel, aanvaar mekaar se keuses, en gaan aan met die lewe.

Ons Beweging het op 5 Mei vanjaar ʼn Krisisberaad gehou om te besin oor die dubbele krisis van staatsverval en tweedeklasburgerskap. By daardie beraad het ons gesê dat die staat gelukkig nog nie verval het nie en dat daar nog baie positiewe faktore is wat ʼn mens hoop gee dat die land nie sommer heeltemal sal verval nie. Maar die rooi ligte flikker omdat belangrike dele van die staat reeds so ingrypend verswak of reeds verval het, dat dit die res van die staat kan omtrek as dit nie betyds gekeer word nie.

Daarmee saam het ons gewaarsku oor die groeiende gevaar van tweedeklasburgerskap vir groepe soos Afrikaners, waar meerderheidsregering oorgaan na meerderheidsoorheersing omdat die ANC elke aspek van ons lewens wil beheer. Dis amptelike ANC beleid wat uitdruklik bepaal dat transformasie volgens “verteenwoordigende” rasseteikens “African hegemony” oftewel African oorheersing ten doel het.

Probleme word egter nie opgelos deur net daaroor te praat nie; dit word opgelos deur iets daaraan te doen. Van Wyk Louw het tereg gesê dat ʼn volk se voortbestaan nie op abstrakte regte of dinamiese leiers berus nie, maar op dade waarmee die mense daagliks hul bestaansreg bevestig.

Daarom het ons teenoor u onderneem om te werk aan praktiese oplossings wat ons dan by die Toekomsberaad sal kom bekend stel. Die planne wat ons vandag hier voorlê, is die resultaat van suksesvolle loodsprojekte wat ons oor die afgelope vyf jaar getoets het, verryk het met die insette wat ons van die publiek gekry het en verfyn het met die hulp van 20 kundige projekspanne.

Maar om werklik ʼn sistemiese verskil te maak, moet dit ingrypend versnel, vergroot, en daadkragtig uitgevoer word. Ons gee nie voor dat dit die aller en enigste antwoorde is, of dat ons nou alle probleme alleen kan oplos nie. Ons geskiedenis het egter bewys dat wanneer gewone mense saamwerk, hulle selfs in ongewone omstandighede buitengewone resultate kan behaal.

Met ons Beweging se 330 000 lede verteenwoordig ons, saam met hul gesinne, seker meer as ʼn miljoen mense en ons gee geensins voor dat ons namens alle Afrikaners kan praat of besluit nie. Ons aksieplanne is egter ten bate van Afrikaners se reg om blywend vry, veilig en voorspoedig in Afrika te kan lewe, en wil ook tot voordeel van die land en al sy mense strek.

Helpmekaar-beweging

Ons beskou hierdie plan as die derde groot “Helpmekaar”-beweging in die Afrikaner se geskiedenis, waar mense self verantwoordelikheid vir die toekoms aanvaar het. Die eerste beweging het ʼn eeu gelede, ná die Oorlog, ontstaan toe ons voorouers ʼn bepalende rol gespeel het om die land ná die “verskroeide aarde”-beleid van die Britte weer op te bou.

Die tweede beweging het begin met die destydse “Reddingsdaad”-kongresse in die dertigerjare. Natuurlik weet ons dat die tye verander het en dat die omstandighede heeltemal van daardie era verskil. Maar die groot les van daardie geskiedenis bly steeds staan, naamlik dat wonderwerke kan plaasvind as ʼn gemeenskap hulself in sterk selfdoen-organisasies organiseer en saam aan ʼn gemeenskaplike toekoms bou. Dit help nie om met ‘n wenslys by die regering te gaan vra nie, kom ons stel eerder ons eie werkslys op en begin dit uitvoer.

Daar is 3 groepe probleme in die land wat alle inwoners raak, dié wat alle Afrikaanssprekendes raak en dié wat Afrikaners raak.

Ons besef dat swak regering almal in die land raak As die bos brand, sal dit nie help om te sê dat jy nie ʼn boom is nie. As die bos brand, brand ons saam; as die staat val, dan val dit op ons almal. Daarom help ons waar ons kan om nasionale probleme saam met ander gemeenskappe op te los, ongeag of dit ʼn dorp se watervoorsiening, elektrisiteit- of veiligheidsprobleme is.

Ons sal saam met ander groeperings werk om te help keer dat die land verval of dat ons in ʼn vryheidslose “demokrasie” ontaard. Natuurlik het ons nie altyd dieselfde beleid as ander groepe nie, maar as ons dieselfde belange het, is daar minstens ruimte vir handevat oor bepaalde sake. So kan ons op ʼn belangebasis saamwerk waar ons mekaar nie op ʼn beleidsbasis kan vind nie. Brugbou na buite is in ons land net so noodsaaklik soos binding na binne. Maar daar kan tog nie van ons verwag word om die regering se werk te doen nie; hy word verkies, betaal en met ons belastinggeld befonds om dienste te lewer en ons moet en gaan hulle daarvoor aanspreeklik hou. Dit is hoog tyd dat hulle hul werk begin doen!

Afrikaans is een taal met baie kulture wat aan almal behoort wat vir Afrikaans lief is. Daar is ernstige probleme wat alle Afrikaanssprekendes raak en wat ons Beweging as lid van die Afrikaanse Taalraad (ATR) met die owerhede opneem en hanteer.

Benewens die probleme wat almal in die land en alle Afrikaanssprekendes raak, is daar uitdagings wat meer bepaald die Afrikaner as kultuurgemeenskap raak. Dit behels sake soos rassewetgewing, die kriminalisering van ons geskiedenis, die vandalisering van Afrikaner- monumente, die aanvalle op universiteite, skole en ander instellings wat ons voorouers opgebou het en die misbruik van politieke mag om die grondwetlike ruimtes vir ons kulturele vryheid te verstop. Die ANC sê altyd dat politieke vryheid sonder ekonomiese vryheid net vryheid vir die rykes is. Maar ons ervaring is dat politieke vryheid sonder kulturele vryheid net vryheid vir die meerderheid is!

Ons Helpmekaar 2020-plan is nie daarop gerig om te probeer terugkeer na die verlede nie, maar om ʼn beter toekoms te bou. Dit is ook nie ʼn poging om onsself te isoleer, parallelle regeringstrukture op te rig, om rassepolarisasie te veroorsaak of om laer te trek of ʼn apartheidsvolkstaat te probeer stig nie. Ons werk mét en ín die werklikhede van die land, maar ons berus ons nie daarby nie, want ons verwag meer van onsself.

Ons hele strategie is daarop gerig om deur sterk selfhelporganisasies groter en groeiende selfstandigheid op noodsaaklike terreine te bewerkstellig. Dit is eerder aanvullend tot die swak of onwillige staatstrukture en die doelwit daarmee is om aan ons die vermoë te gee om besluite te kan neem en dit self uit te voer. Deur hierdie selfdoen-strukture wil ons ons afhanklikheid van swak staatsbesluitneming verminder met sterk en selfstandige gemeenskapstrukture.

Die ervaring in ander lande wys dat ʼn minderheidsgroep in ʼn oop gemeenskap sterk instellings nodig het om suksesvol te kan oorleef. Waar die ANC staatsmag, staatsinstellings en staatsfondse het om sy belange te bevorder, het die Afrikaner sterk selfdoen-instellings nodig om sy grondliggende belange te beskerm.

Daarom is die doel van ons plan om dit vir mense moontlik te maak om hier te bly; om nie landuit te trek of “landin” te onttrek nie. Noem dit maar ʼn mededingende alternatief vir emigrasie en vir die glybaan waarop die land tans na onder beweeg.

Dit val egter tog vreemd op die oor as die ANC-regering ons uit die staatsdiens, werkplek of universiteite uitskuif, maar dan terselfdertyd sê Afrikaners moet hulself nie eenkant hou nie. Of as hul rassebeleid wit mense se geleenthede in die werkplek en sakewêreld aan bande lê, maar ons dan van rassisme beskuldig as ons ander planne maak.

En van wanneer af is die beskerming van grondwetlike regte nou “regs”? Daarom wil ek vandag Langenhoven se vraag aan mnr. Zuma herhaal: Hoekom is jul rassisme altyd net politiek, maar ons politiek altyd rassisme? Hou eerder op om ons kinders op grond van hul ras by universiteite en kolleges uit te skuif onder die dekmantel dat Afrikaans toegang beperk of dat alles verteenwoordigend van die rassesamestelling van die land moet wees.

Minister Nzimande wil nie minder Afrikaans op die kampusse hoor nie; hy wil minder Afrikaners op die kampusse sien! Hy raas eintlik oor ras! En as ons dan begin om met die tienrandnote van gewone mense die bomenslike taak aan te pak om weer ʼn wêreldklas- Afrikaanse universiteit te begin bou, dan het hy boonop die vreemde vermetelheid om oningeligte uitsprake te maak dat daar nie meer plek vir Afrikaanse universiteite is nie!

Van krisis in 2015 na oplossings in 2020

Daar is mense wat dit vreemd vind dat ons sê ʼn gemeenskap moet verantwoordelikheid vir sy toekoms aanvaar asof dit nie doodnormaal is nie. Geen regering ter wêreld kan alles vir almal doen nie, wat nog te sê ʼn regering wat teen ʼn deel van sy burgers regeer?

Dit is mos heeltemal onverantwoordelik om jou toekoms net aan ʼn regering oor te laat – vra maar vir die Grieke, die Zimbabwiërs, of enige ander land. ʼn Suksesvolle land bestaan tog uit ʼn doeltreffende staatsektor, ʼn groeiende privaat sektor en ʼn aktiewe gemeenskapsektor.

Maar die ineenstorting van die staatsektor kan die ander sektore ook vernietig, soos in Zimbabwe gebeur het toe die regering se vernietiging van sy burgers se politieke en burgerlike vryhede tot ʼn werkloosheidsyfer van 80% gelei het. Waar die doel van ʼn ekonomie is om die lewenstandaard van die bevolking te verhoog, is die doel van ʼn gemeenskapsektor om die lewensgehalte te verhoog.

Daarom is ons droom om vanaf ʼn krisis in 2015, met behulp van Helpmekaarplanne, teen 2020 praktiese oplossings in werking te hê wat ons goed op die pad van ons visie sal plaas na ʼn toekoms waar ons gemeenskap blywend vry, veilig en voorspoedig in Afrika kan lewe, en nie net oorlewe nie, want dit klink te na aan oorlede!

Natuurlik besef ons dat alles nie teen 2020 maanskyn en rose gaan wees nie, maar ons glo dat praktiese planne met meetbare doelwitte wat deur sterk organisasies uitgevoer word, ons veel verder gaan vat as om net jou oë toe te knyp; elke vyf jaar te stem en verder te hoop op die beste. Daarmee wil ons die moedelose gevoel onder mense die nek inslaan dat om polities mag-loos te wees, ons terselfdertyd magteloos maak. Dit is nie waar nie! Kom ons fokus eerder op uitvoerbare planne wat ʼn tasbare verskil in mense se lewens gaan maak – dis hoe ʼn toekoms geskep word.

“Volkseenheid deur volksveelheid”

Die voorwaarde vir die sukses van enige plan is dat soveel Afrikaners as moontlik dit moet steun en aktief moet meehelp om dit uit te voer. Ons wil vir ʼn hele gemeenskap ʼn toekoms skep; nie net vir een faksie nie. Maar om hierdie kritieke massa se steun te kry, sal die belangrikste en soms uiteenlopende sienings deel van hierdie plan moet wees.

Planne vir “volkseenheid” werk nie omdat dit veronderstel dat almal by een plan moet inval. Dit is wensdenkery dat almal met alles moet of sal saamstem – dit gebeur nêrens ter wêreld nie. Daarom, teenstellend soos dit mag klink, is die belangrikste vereiste vir eenheid dat daar ruimte moet wees vir “veelheid”. Ons uitgangspunt is dat mense nie met alles hoef saam te stem om steeds met mekaar te kan saamwerk oor die sake waaroor hulle wel saamstem nie.

Dít waaroor ons verskil, hoef ons nie te verdeel nie. Kom ons los die debatte oor wie wat in 1992 gestem het, maar werk eerder saam in 2015. Daarom sal ons die demokratiese verdraagsaamheid aan die dag moet lê om met planne waarmee jy saamstem, saam te werk en om dit waarvan jy verskil, nie teen te staan nie. Kom ons kyk wat dit in die praktyk beteken wanneer ons by praktiese planne kom.

Grondwetlike selfstandigheidsplan

Staatsafhanklikheid of -onafhanklikheid is nie nou prakties haalbaar nie – dit het ons ondersoeke duidelik uitgewys. Daarom behels ons voorstel ’n derde weg, oftewel ’n middelpad, en dit is Afrikaner-selfstandigheid – wat ook nie ’n kortpad is nie, maar na ons mening die enigste pad vorentoe. Die haalbaarheid van hierdie weliswaar moeilike plan moet opgeweeg word teen die haalbaarheid en volhoubaarheid van die huidige bedeling. Daar is ongelukkig nie meer volmaakte en maklike planne oor nie, en ons plan behels eerder ’n werklys as ’n wenslys.

Die omstandighede in die land laat ons met drie keuses.

  • Aanvaar en berus jou by hoe ons regeer word en hoop daar gebeur ʼn politieke wonderwerk.
  • Verlaat die land na groener en gelyker weivelde.
  • Organiseer in sterk selfdoenorganisasies en skep vir jou ʼn volhoubare toekoms.

Baie mense vra vir my hoe ons toekoms lyk, en my antwoord is dat ons toekoms gaan lyk soos die een wat ons saam skep.

Baie mense het reeds in reaksie op swak regering hulself begin “regeer”, al sien of noem hulle dit nie ʼn selfstandigheidstrategie nie. Hulle verkies om te bly in ʼn provinsie, stad of dorp waar hulle deur daardie meerderheidsparty hulself regeer. Hulle kyk na privaat televisiekanale. Hulle het privaat mediese fondse. Hulle bly in privaat dorpe. Hulle het privaat sekuriteitsdienste. Hulle werk in die privaat sektor. Hul kinders is in privaat skole en hulle het kragopwekkers sodat hulle selfs oor hul eie elektrisiteit kan beskik.

Maar hierdie persoonsgebaseerde selfstandigheidstrategie is baie duur en is ook weens praktiese redes nie orals en vir almal moontlik nie. Daarom is ons beplanning op gemeenskapselfstandigheid in plaas van persoonlike selfstandigheid gebaseer.

Ons strategie is om die bestaande grondwetlike ruimtes vir selfstandigheid te gebruik en om deur sterk selfhelporganisasies groeiende selfstandigheid op elke noodsaaklike gebied te bevorder. Dit is ons Helpmekaarbeweging se plan in een sin. Ons weet oplossings val nie uit die lug uit nie, maar moet van die grond af opgebou word. Dit beteken nie dat ons onsself téén die regering opstel nie, maar dat ons die sentralistiese verstaatliking van die samelewing teenwerk deur die ruimtes vir die selfstandigheid van gemeenskappe te beskerm.

Kortom gaan dit oor ’n plan vir selfstandigheid om swak staatsbesluitneming te verruil of te versag met groeiende selfbesluitneming. Die vlak van selfstandigheid van ’n spesifieke lewensterrein word bepaal deur die wil en vermoë en prestasies van die instellings wat op daardie terrein werksaam is, asook deur eksterne faktore soos demografiese, ekonomiese en politieke werklikhede.

Die Grondwet maak eerstens voorsiening vir individuele regte (Handves van Menseregte), tweedens vir gesamentlike of gemeenskapsregte (artikels 6, 29, 30, 31, 185), en derdens selfs vir gebiedsregte in artikel 235. Net soos ander gemeenskappe in Skotland, Quebec, België, Spanje en in talle Afrikalande, is daar onder Afrikaners steun vir elkeen van hierdie drie groepe regte of kombinasies daarvan. Dit is normaal, demokraties en grondwetlik, en voorstaanders mag op ʼn wettige en demokratiese manier enige van hierdie opsies bevorder.

Daar heers natuurlik hewige verskille oor die haalbaarheid van elkeen van hierdie drie sienings, en daar bestaan inderdaad groot praktiese struikelblokke vir elkeen. So het die voorstanders van individuele regte agtergekom dat dit dikwels nie genoeg is om hul belange te beskerm nie omdat die individuele regte van die meerderheid in die praktyk swaarder weeg as die individuele regte van kleiner groepe.

Daarteenoor het voorstanders van gesamentlike regte soos Afrikaanse skole of Afrikaans as universiteitstaal agtergekom dat politieke mag homself ook nie altyd aan grondwetlike gesag steur nie.

Maar net so het voorstanders van gebiedsregte soos selfbeskikking ontdek dat die gebrek aan ’n uitvoerbare plan en demografiese, politieke en ekonomiese werklikhede dikwels swaarder weeg as historiese ideale en internasionale regte.

Maar die praktiese probleme met hierdie drie kategorieë regte gee niemand die reg om een van hierdie groepe se grondwetlike reg om daarna te streef, te misken nie. Dit sou ondemokraties en selfs ongrondwetlik wees.

Ek het onlangs Frans de Klerk se boek, Orania, van dorp tot stad, gelees en my gevolgtrekking was dat al is daar talle praktiese probleme wat so ʼn dorp nog sal moet oorkom, dit ʼn baie meer uitvoerbare en regverdigbare plan as die volkstaatplanne van ouds is.

Orania mag daarna streef om ʼn stad te word, en kan met hierdie grondwetlike reg as “vloer”, namate hulle groei met die regering onderhandel om die “plafon” van selfstandigheid te verhoog in verhouding met die grootte van die beplande stad. Ondersteuners van gebiedsregte sal baie verder met die praktiese uitbou van ʼn “kultuurstad of -stede” kom as om te bly wens dat die regering vir hulle ʼn staat soos ‘n “Skotland” gaan gee – wat nie in Suid-Afrika vir Afrikaners bestaan nie. Weer eens, ‘n werklys wat van jouself afhang eerder as ‘n wenslys wat van die regering afhang.

Daarom moet ons bly veg vir al ons grondwetlike regte en ruimtes, anders kan ons maar die Grondwet in ʼn argief gaan toesluit. Dis nie ondenkbaar dat dele van al drie hierdie kategorieë deel van die oplossing is nie. As jy die Grondwet ondersteun, kan jy dit mos nie soos ‘n spyskaart gebruik en net kies waarvan jy hou nie. Gun mekaar die ruimtes wat daar is, al hou jy nie van die bepaalde “gereg” nie.

Samewerking met opposisiegroepe

Daar kan ʼn saak uitgemaak word dat Afrikaners hulself nie per definisie in een blok teen die ANC moet opstel nie en eerder moet probeer om politieke skikkings oor knelpunte met die regering te sluit. Maar samewerking met opposisiegroepe is ook belangrik omdat daar gemeenskaplike belange is, selfs waar daar nie altyd gemeenskaplike sienings is nie.

Ons mening is wel dat ʼn beter regering nie in die kort termyn haalbaar is nie en dat ʼn beter bedeling nodig is om probleme te oorkom en nie net ʼn beter regering nie. Ons sal ʼn ander bewind verwelkom, maar is nie oortuig dat dit al die probleme in die land sal kan oplos nie – ons land se uitdagings lê veel dieper as die politiek.

Maar daar is belangrike gemeenskaplike belange wat as grondslag vir samewerking met opposisiegroepe kan dien. Georganiseerde kultuurgroepe wat hul regte en belange bevorder, kan ’n onmisbare deel van ‘n strategie wees om te keer dat te veel mag in te min hande beland en so ’n “tirannie van die meerderheid” verhoed.

Tweedens is vryheid ondeelbaar, en raak die aantasting van een soort vryheid al die ander. Dit maak nie saak of dit persoonlike vryheid, mediavryheid, die vryheid van die regbank, ekonomiese vryheid, die vryheid van die burgerlike samelewing of die vryheid van kultuurgemeenskappe is nie. Al hierdie vryhede is saam die enigste teenvoeter vir die totalitêre transformasie van die ANC wat die hele samelewing wil oorheers.

Ons Beweging stel egter nie daarin belang om self die partypolitiek te betree nie omdat ons “meer weeg as wat ons tel” en weens die getalleverhoudings nie ʼn saakmakende verskil in die parlement sal kan maak nie. Ons glo dat ons baie meer buite die partypolitiek kan bereik. Daarby stem ons lede vir verskillende partye en sal ons net onnodige verdeeldheid in ons beweging invoer sonder dat dit voordele vir ons lede inhou.

Helpmekaar 2020-raamwerkplan vir gemeenskapselfstandigheid

Die vraag is waarna mik ons met hierdie 2020 helpmekaarplan? Wat wil ons uiteindelik bereik, en waarvoor vra ons u steun? Hoe lyk die mylpale op die pad na vryheid, veiligheid en voorspoed, en waar is die padkaart om daar uit te kom?

Laat my asseblief toe om kortliks meer te vertel van die praktiese uitkomste wat ons wil bereik. Daarna sal die hoofde van die Beweging se lede-organisasies meer besonderhede deurgee.

Nasionale gemeenskapsnetwerk

Die Solidariteit Beweging besef dat ons nie alles alleen kan regkry nie. Daarom wil ons graag vennootskappe sluit met ander organisasies wat Afrikaners verteenwoordig met die doel om ʼn nasionale gemeenskapsnetwerk tot stand te bring. Hierdie netwerk moet die uitvoering van planne koördineer en groter eendragtigheid teweegbring, met strukture van plaaslike tot op nasionale vlak. Daarom sal ons graag suksesvolle organisasies met wesenlike steun of belange betrek wat breedweg ons standpunte, Christen-demokratiese waardes en sienings oor kulturele selfstandigheid deel. Die besonderhede hiervan sal ons graag saam met belangstellende vennote uitwerk.

‘n Gemeenskap leef deur sy instellings. Daarom wil ons graag gemeenskapsnetwerke in elke stad en dorpsgebied vorm, wat met behoud van elkeen se identiteit gesamentlik omsien na prioriteite soos veiligheid, noodsaaklike dienste, die omgewing, werksgeleenthede, die bevordering van Afrikaans, maatskaplike sorg en gesonde gesinne, skakeling met die betrokke owerhede, monumente, ondersteuning aan Afrikaanse skole en kinders, geskiedenis, media, opleiding, goeie regering, besigheidsbevordering, kapitaalmobilisering en die bevordering van goeie rassebetrekkinge.

Terselfdertyd wil ons hierdie strukture tot op nasionale vlak vestig, waar ons benewens hierdie prioriteite ons bestaande nasionale projekte soos buitelandse skakeling met mense wat geëmigreer het wil uitbrei en ook bande met hoofstroom buitelandse groepe wil verstewig.

Teen 2020 wil ons graag hierdie strukture uitbou tot ‘n landwye Afrikanernetwerk wat die vermoë het om besluite te neem en dit uit te voer, een wat na ons gemeenskap se grondliggende belange kan omsien, wat ooreenkomste met die owerhede oor knelpunte sluit, ’n Afrikaanse Taalsentrum wat Afrikaans se toekoms beveilig, wat help om ons dorpe en stede te laat werk, wat alle grondwetlike regte en ruimtes voluit benut, wat gelyke geleenthede in die werksplek verseker, wat in samewerking met alle rolspelers misdaad hokslaan, wat korrupsie beveg, wat ’n groeiende Afrikaanse privaat universiteit tot stand gebring het, wat deur die Helpende hand se Skole ondersteuningsentrum ons skole suksesvol help hou.

’n Netwerk  met genoeg Studiefondse om alle jongmense wat wil te help om te studeer en met Loopbaansentrums wat ons jeug help om hul volle vermoë te verwesenlik, wat ons geskiedenis normaliseer, wat ons erfenisse bewaar, wat die regsorde help beskerm en wat selfstandigheid op elke moontlike gebied bevorder. Sien dus in u gedagte ‘n opwaartse grafiek wat van onder af in 2015 opwaarts tot by 2020 trek.

Dames en here, ‘n wyse man het gesê dat elke geslag verantwoordelik is vir sy eie tyd. Dis nou ons beurt om daardie verantwoordelikheid op ons skouers te neem. Wat ‘n wonderlike voorreg om vir ons kinders ‘n veilige toekoms te skep!

Finansiering van die Helpmekaarplan

Dit is so dat ons grootste uitdaging is om “staatsdienste” te lewer sonder om belastinginkomste te ontvang en sonder dat mense twee keer vir een diens betaal. Die Beweging bestaan meestal uit organisasies sonder winsoogmerk, en beskik nie oor onuitputlike finansiële bronne nie. Daarom is ons strategie om “grootgeld met kleingeld” te maak deur gereelde “Helpmekaar”-bydraes van duisende gewone mense.

Op hierdie manier kon ons dit tot dusver regkry om R50 miljoen rand in Sol-Tech te belê, waarvan byna alles uit gereelde tienrandbydraes van vakbondlede bestaan het. Dieselfde geld vir Akademia, hoewel ons bevoorreg is om met groter skenkings van enkele weldoeners baie vinniger te groei as wat andersins moontlik sou wees.

Ons gaan eersdaags ‘n spesiale Afrikaanse Universiteitsfonds stig om hierdie belangrike projek te versnel omdat niemand weet hoe lank ons kinders nog onbeperkte plek by die bestaande universiteite gaan kry nie. Ons moet eenvoudig Akademia binne ’n dekade tot ‘n omvattende Afrikaanse universiteit uitbou!

Die R3,5 miljard wat die Solidariteit Beweging in die volgende vyf jaar gaan mobiliseer, bestaan in die eerste plek uit die fondse wat gegenereer word deur die instellings met lede en ondersteuners, teen ’n gemiddelde bedrag van R100 per maand. Daarom wil ons uit ons harte dankie sê vir die lede van AfriForum, die Solidariteit vakbond, Solidariteit Helpende Hand en die FAK wat dit vir ons moontlik gemaak het om tot hier te vorder en vir hul volgehoue ondersteuning om hierdie Helpmekaar 2020 plan voluit in werking te stel.

Daarbenewens verkry die Beweging ook inkomste uit die mobilisering van Afrikaanse koopkrag en natuurlik uit die betaling vir dienste gelewer. Besighede van die Solidariteit Beleggingsmaatskappy soos ons Eiendomme- en ons Finansiële Dienste Maatskappy bring ook hul kant en dra miljoene tot die totaal by.

Afsluiting

Ons vra nie vir die regering spesiale gunste en gawes nie, selfs welwillende verwaarlosing sal vir ons die ruimte gee om te doen wat ons moet. Maar ek wil vir almal wat so hard aan hierdie droom werk en mooi ideale in werkbare vyfjaarplanne omskep het van harte bedank. Dis ’n wonderlike voorreg om met sulke spanne saam te werk en te sien hoe ’n droom besig is om waar te word.

Maar ek wil in besonder vir u almal bedank vir u teenwoordigheid vandag by hierdie beraad en ek wil u uit die diepte van my hart vra om saam met ons aan ’n vrye, veilige en voorspoedige toekoms te bou. Ons mag dit doen, ons kan dit doen, en ons gaan dit doen.

Ek wil graag afsluit met die laaste strofe van Totius se gedig ’’Die Besembos’’ met die pragtige Afrikaans van sy tyd, ter ere van die geslag wat ná ’n verwoestende oorlog die land weer opgebou het en van wie ons soveel kan leer:

Maar al slaan om my stam die woedende vlam

wat knett’rende vonke saai;

al kom al die winde, die kwalik gesinde,

om my as uit die wêreld te waai;

al kom ook die dier om sy eetlus te vier;

al word ek gekap en gekloof;

al word ek gestowe deur die son daarbowe

wat my laaste sappe wil roof –

nogtans sier ek my hoogte in die vreeslikste droogte

met my altyd groenende top;

en word my wortels verduur én droogte én vuur,

ja ek staan uit my as weer op.

Laat dan mense en diere, droogte en vure,

met al wat hul kwaad wil versin,

maar kom om te kap, te brand en te trap –

ek leef en sal lewe; my dood kry is min!

  • Die Toekomsberaad kan regstreeks op www.toekomsberaad.co.za gevolg word. Die volledige verslae van die Toekomsberaad se Helpmekaar 2020-plan sal ook op dié webwerf gelees kan word.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Flip Buys

Meer oor die skrywer: Flip Buys

Flip Buys is voorsitter van die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

11 Kommentare

jongste oudste gewildste
Peet J

Vogens die dokument van Solidariteit kom dit daarop neer dat die Afrikaner hom moet beywer om die staat te ondersteun om sodoende te voorkom dat die land in ‘n chaotiese toestand ontaard.
Jammer ek stel nie belang nie want die ANC is nie my regering nie.

Lize Schoeman

Dankie , ek is baie opgewonde en lus om te help waar ek kan, ons moet almal die groter prentjie sien.

Bert

Dankie Flip. Ek is pro-Afrikaner en pro- Suid – Afrikaans. Sink die een, sink die ander. Ek is trots Afrikaner en wil graag trots Suid – Afrikaans wees.

Peet J

@André ja ek sien julle hou die een oog op die pot en die ander op die skoorsteen. Julle moet nie dink julle gaan die regering met julle doen en late beindruk nie.

Koos

Baie opgewonde. Sal help waar ek kan. Maar julle weet natuurlik die anc sal nie n privaat universiteit aanvaar nie. Sal dit etiketteer as “neo-apartheid” ” rassities” ens. Ons sal worstel vir die reg om onsself te kan help .Weet nie of ons dalk vriende in die buiteland het wat daarme kan help nie. Die anc is nie mense met wie mens wil onderhandel of n debat voer nie.