Deur Johan Schoeman – Solidariteit Beweging
ʼn Onlangse artikel in die pers maak melding van ʼn skerp toename is in private universiteite in Afrika. Volgens statistieke, was daar sewe private universiteite in Afrika in 1960.Teen 1990 was die getal 27 en teen 2006 was 22% van alle inskrywings op die kontinent by private instellings.
Verskeie nuwe projekte word in die vooruitsig gestel. Só beplan die African Leadership University om 25 universiteite binne die volgende 25-30 jaar op te rig. ʼn Kampus is onlangs in Mauritius geopen, wat binnekort gevolg gaan word deur kampusse in Rwanda en Nigerië.
Verder beplan ʼn organisasie soos Trans National Education ook die oprigting van 10 universiteite in Afrika. Hierdie inisiatiewe is veral noodsaaklik omdat studentegetalle op die kontinent vinniger groei as die aanbod van geriewe vir verdere opleiding. Dit is onder meer die gevolg van regerings wat nie genoeg fondse het of toeken vir die ontwikkeling van openbare instellings vir opleiding nie. Studente-inskrywings het oor die tydperk van 1991 tot 2006 gestyg van 2.7 miljoen tot 9.3 miljoen, wat ʼn 16% styging oor die tydperk verteenwoordig. Terselfdertyd toon statistiek dat Afrika minder as 2 000 kolleges en universiteite gehad het vir ʼn bevolking van 1 miljard mense in 55 lande.
Baie van die private universiteite word natuurlik bestuur as ʼn onderneming wat ingestel is op wins. Onlangse navorsing toon die prestasie van hierdie belegging beloop ongeveer 21%, wat ʼn goeie beleggingsopbrengs verteenwoordig.
Die gevaar is egter dat die winsmotief ʼn impak mag hê op die gehalte van kursusinhoud, wat daarom goeie gehaltebeheer vereis. Waar dit wel die geval is, kan hierdie soort universiteite ʼn belangrike rol speel om die profiel van die kontinent te verhoog wat opleiding betref.
Hierdie instellings moet gesien word as aanvullend tot openbare instellings en nie as mededingers nie. Uit bogenoemde blyk dit dat inisiatiewe vir private opleiding op tersiêre vlak al meer in prominensie toeneem en ʼn belangrike rol kan speel in die lewens van gemeenskappe en lande en daarom verwelkom moet word.
Dit vorm ook ʼn deeglike grondslag vir wat in Suid-Afrika met soortgelyke ondernemings beoog word. Solank as daar gehalte-inhoud en goeie korporatiewe en akademies-verantwoordbare bestuurspraktyke geld by sulke instellings, kan hierdie instansies ʼn belangrike bydrae lewer tot die aanspreek van ʼn skreiende tekort aan vaardighede en werk op die vasteland en ook in Suid-Afrika.
gaan hierdie mense almal werk kry met hulle wonderlike privaat-grade? ek was vir n lang tydperk werkloos en eks nie NET oor velkleur afgewys vir werk nie. Daars ook gese “overqualified” of “wrongly qualified”. Uiteindelik het ek goeie werk gekry nadat ek my universiteitsgraad AFGEHAAL het van my CV af
Sjoe. Mag ek vra watter kwalifikasie en van watter instansie?
Goeie gehaltebeheer sou keer dat “gehlatebeheer” en “Suid Afrika” deurglip ;) Tikfoute te vermaaklik-ironies om te ignoreer.
Dagsê Paul
Dankie dat jy ons daarop gewys het – die berig is gewysig.
Groetnis
Suné
nms Maroela Media