Toerisme óók Afrikaners se skuld

Supra Mahumapelo. Foto: ANA

Deur Anton Meijer

Die ANC-regering laat nie ’n geleentheid verbyglip om die Afrikaner die sondebok te maak vir sy eie mislukkings nie.

Die jongste aantygings kom van die nuwe voorsitter van die parlementêre portefeuljekomitee van toerisme, Supra Mahumapelo, wat verlede week in ’n komiteevergadering daarop gesinspeel het dat Afrikaners se vrese oor grondonteiening sonder vergoeding die rede is waarom daar ’n afname is in die aantal buitelanders wat die land besoek.

Praat nou van na strooihalms gryp…

Dié kwessie het opgeduik nadat Toerisme Suid-Afrika in sy jaarverslag aangedui het dat die debat oor grondonteiening sonder vergoeding as een van vyf sleutelkwessies geïdentifiseer is, wat “negatiewe persepsies” veroorsaak het en internasionale toeriste wat Suid-Afrika wil besoek, beïnvloed.

Mahumapelo het direk tot die slotsom gekom dat dit die Afrikaner moet wees wat hierdie negatiewe persepsies skep. Dis die maklikste manier waarop hy dit kan rasionaliseer. Dis tog net die Afrikaner wat bekommerd is oor eiendomsreg wat uitgewis gaan word, en net Afrikaners het vriende en familie in die buiteland…

En die oplossing vir sy probleem? Die staat moet grondonteiening sonder vergoeding net beter aan die Afrikaner verpak en verkoop, sodat ons in ons gesprekke met vriende en familie in die buiteland kan sê dat dit eintlik nie so ʼn slegte idee is nie.

Hy ontken dat daar in die breë Suid-Afrikaanse samelewing kommer bestaan oor die regering se planne om grond te steel, ook onder die Engelse Suid-Afrikaners, Zoeloes, Xhosas en Pedi’s. Hy ontken ook dat die internasionale gemeenskap sy oë begin rek oor die rigting wat die regering inslaan.

Dit is hoog tyd dat die regering moet erken dat die grondgrypwetgewing verreikende internasionale gevolge het, ook op die aantal toeriste wat ons land wil besoek.

En nee, meneer Mahumapelo, dis nie die Afrikaner se skuld dat ’n toerbus vol Nederlanders in Johannesburg beroof is nie. Dis nie die Afrikaners se skuld dat toeriste agtervolg word van ons lughawens af en beroof word nie. Zindzi Mandela, ons ambassadeur in Denemarke, wat so lekker twiet oor grondgrype, is nie ’n Afrikaner nie. Die waarskuwings oor gewelddadige betogings en stakings, wat deur konsulate en reiswebblaaie geplaas word, is nie weens die Afrikaner se toedoen nie.

Glo my, geweldsmisdaad, vuil strate, onveilige paaie en onvriendelike personeel by toeriste-aantreklikhede is veel slegter ambassadeurs as ʼn handjievol Afrikaners wat, volgens jou, “negatiewe persepsies” uitstraal oor die land.

Hou op om jou eie mislukkings te ontken. Hou op om die skuld op die Afrikaner te pak vir alles wat verkeerd loop. Miskien kan ons dan die toerismebedryf én die land begin regruk.

Hou so aan, en oor vyftig jaar sal toerisme dalk weer toeneem. Dis nou nadat iemand ’n dokumentêr à la Chernobyl gemaak het oor Suid-Afrika se spookdorpe, en oorsese toeriste selfies wil kom neem voor ou verlate Afrikanermonumente, wat weens die regering se aanhoudende gehamer op die Afrikaner, as kernafval gebrandmerk is.

  • Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

30 Kommentare

jongste oudste gewildste
Eish

Nie dalk al die moorde, ook op toeriste en ongelukke op ons paaie, wat SA onveilig maak, wat oorsaak is?

Patriot

Ou Supra… het dit dalk by jou opgekom dat die oorgrote meerderheid van europese mense blank is? En dat hulle nie hulle alles goedkeur wat julle dink reg is nie? En dat hulle `n reg het om liewers na `n veilige land te reis as na hierdie nes toe?

marco polo

Hy het dalk ‘n punt beet. Hierdie Afrikaner vertel vir die Chinese wat met hulle kan gebeur as hulle SA wil besoek. Trouens, ek voel self nie eens veilig wanneer ek SA besoek nie.

JohanL

Ek kyk na die foto en dink by myself wat hy eintlik op daai oomblik kwytraak is die volgende: “En dit liewe mense, is hoe groot die leuen is wat ek praat”.

Jerry

“So what”! Dit maak nie regtig meer saak wie vir wie vir wat blameer in SA nie. Die klok het klaar gelui vir alle Suid Afrikaners. Die buiteland gaan baie duidelik nie in SA hulle geld bele nie en buitelandse toeriste gaan SA nie meer besoek nie. Suid Afrikaners wat ge-emigreer het gaan ook nie weer terugkeer na SA nie. Soos Steve daarvan hou om te se, dis hoe dit is! Die ANC se sosialisme het reeds misluk, daar is nog net n bietjie geld oor en as dit klaar is en die massas het nie water en kos nie… Lees meer »