Toespraak: Die NDR, die groenskrif en die impak op landbou

Iewers moet die rolspelers in Suid-Afrika met mekaar begin eerlik raak. Daar is geen moontlikheid om konstruktief te werk in ’n rigting solank daar deurlopend verskuilde agendas betrokke is, solank die waarde sisteme wat prosesse moet rig dramaties verskil van ander rolspelers en solank die leuen so hard verkondig word dat dit later as die waarheid beslag kry nie. Hierdie verskille behoort eerder eerlik toegelig te word om dan met ’n ware stel feite te werk om dit wat geskep word as blywend daar te stel.

Om ’n land te regeer verg ’n sekere kundigheid en ingesteldheid met ʼn eerlike deursigtige agenda wat toekomsgerig is. Van die belangrikste aspekte wat ’n regering behoort na te kom is om die veiligheid van die inwoners van die land te verseker en om dan ook toe te sien dat die regte klimaat geskep word waarbinne die ekonomie kan gedy. Indien dit ontleed word sou daar vanuit ’n Westerse oogpunt geoordeel besef word dat die regering klaaglik misluk in hul regeerposisie. Indien die waardes en benadering wat in Afrika geld die kriteria sou wees om te evalueer sou daar moontlik geoordeel word dat daar nie noodwendig so sleg gevaar word nie.

Hierdie twee wêrelde waarbinne groeperings wat binne ’n staatkundige model vasgevang is moet funksioneer skep noodwendig verskillende verwagtings en daarmee saam ook die hoop op uiteenlopende uitkomste. Wanneer daar dan nog op ’n emosionele wyse verwagtings geskep word wat op geen wyse deur ons ekonomie gediens kan word nie is ’n resep vir chaos geskep. Die een groot probleem wat aangespreek behoort te word is die werkloosheid. Indien mense kan werk kan hul sodoende vir hulself ’n vaste toekoms skep. Die belangrikheid dus om die regte ekonomiese seine  uit te stuur sodat entrepreneurs bereid sal wees om te investeer is die basis van waaruit dinge soos werkskepping sal ontsluit. Stuur die regering die regte seine uit sodat daar voldoende vertroue is vir persone om graag te investeer is die kern belangrike vraag en is die antwoord nie noodwendig positief nie.

1. Vertroue as basis vir die ekonomie

Wanneer die ideologiese onderbou ontleed word en meer belangrik hoe dit vergestalt in die praktyk kan die ANC regering hul hand diep in eie boesem steek as dit moes gaan oor die skep van vertroue. Die diskriminerende aard van sommige wetgewing sowel as die onlogiese aard van ander soos die arbeidswetgewing het reeds verskeie stemme laat opgaan dat dit gevaarlik is om in die landbou-omgewing in Suid-Afrika te investeer. Uitsprake deur politici wat onbepaald voortgaan en indien wel, baie later en dan net saggies reggestel word skep baie vrae. Dit word selfs ondersteun soos in die praktyk gesien was met die Malema hofsaak waar baie senior mense in die ANC dit goed gevind het om daardie uitlatings van hom te probeer regverdig. Die uitsprake oor grondbesit soos wat deurlopend gemaak word moet rooi ligte laat brand. Die president se staatsrede neem alle twyfel uit die weg oor wat is die ANC standpunt oor grond. Dit kan nie ongesiens verby gaan indien die volgende deur president Zuma gesê word nie:

The year 2013 will mark the centenary of the Natives Land Act of 1913, which took away 87 percent of the land from the African people.

The Constitution requires that the State must realise the restitution of land rights for those who were dispossessed by the 1913 law.

We have only distributed 8% of the 30% target of land redistribution for 2014 that we set ourselves. The process is slow and tedious and there is general agreement that the willing buyer- willing seller option has not been the best way to address this question.

That is why have introduced a new policy framework, the Green Paper on Land Reform.

We urge the public to participate in the process of improving land redistribution and reform to reverse the impact of the 1913 Act.

Verder moet daar ook kennis geneem word dat die vorige minister van landbou in ’n vergadering gesê het dat hulle al die grond gaan terugvat want dit is gesteel by hulle. Die opmerking van president Zuma tesame met die minister se opmerkings plaas die Groenskrif in ’n bepaalde lig waarvan daar nie net kennis geneem kan word nie.

2. Groenskrif

Die Groenskrif is daar gestel om juis die ANC se grondbeleid deur te voer. ’n Grondbeleid wat in hul Vryheidsmanifes (Freedom Charter) soos volg besitreg bewoord: “the land shall belong to those who work it.” Hierdie beskouing is gebaseer op leuens oor die geskiedenis van grondbesit. Talle voorbeelde kan genoem word waar daar onder eed beweer is dat die grond wel besit was. Nadat dit selfs op lugfoto’s uitgewys is as ’n leuen wou die grondeisekommissaris steeds voortgaan om dit as ’n wettige eis te registreer. Wat is die eerlike agenda van die ANC – u raaiskoot is so goed soos myne! Daar behoort kennis geneem te word van die boek van Prof. Louis Changuion met die titel Omstrede Land waar die geskiedenis van grondbesit behoorlik nagevors is.

Met die daarstel van die Groenskrif is daar 6 werkgroepe deur die departement saamgestel om die verskillende aspekte te ontleed en aanbevelings te maak. Die werkgroepe het hoofsaaklik uit swart mense bestaan met telkens slegs enkele blankes as deel daarvan. Die werkgroepe het spesifieke voorstelle gemaak wat nou blyk slegs gedeeltelik deur die departement aanvaar word. Wat is die waarde van konsultasie indien daar slegs vir die skyn sekere prosesse van konsultasie deurgegaan word om dan agterna steeds te volhard op die voorstel wat duidelik vir niemand iets goeds inhou nie.

Daar word beplan om gedurende hierdie jaar 3 van die werkgroepe naamlik die Grondbestuurskommissie, die Waardeerder-generaal en ook die Drie-vlak grondbesit se witskrifte daar te stel.

3. NDR se gevolge in samelewing

Die groter prentjie van die proses waarmee die ANC besig is moet raakgesien word. Nadat die politieke mag verkry is het die ANC openlik verklaar dat die rewolusie eintlik toe eers begin. Slegs twee aande gelede sê Gwede Mantashe op die TV nuus dat hulle het die reg om hulle rewolusie te verdedig. Verskeie sodanige uitsprake word van tyd tot ervaar. Tydens die Malema hofsaak is die ANC met die Nasionaal Demokratiese Rewolusie gedaag wat dit dan ook erken het as die beleidsrigting wat hulle stap. ’n Rewolusie word normaalweg deur ontevrede mense gevoer teen ’n regering. Hulle voer eintlik ’n rewolusie teen hulleself. Hoe irrasioneel kan mens wees? Die Times in Londen berig oa ook op 13 Februarie 2012 die volgende: “South Africa is the only country in the world whose affirmative action policy favours a majority who also happens to have complete political control.”

Daarmee wil hul die totale samelewingsorde herrangskik om ingevolge hul idioom soos vervat in die Vryheidsmanifes georden te word. Dit sluit alles in die samelewing in soos bv. die aanslag op ons taal, die verandering in die kurrikulum van skole waar seker die grootste bedreiging ervaar word – dit is daar waar die siel van ons volk gesteel word. Waardesisteme word daar sodanig herrangskik dat Afrikanerkinders later selfs skaam gaan wees oor hul geskiedenis. Dit is skokkend om te verneem wat bv. in die geskiedenisleerplanne aangaan.

Die proses vanuit die NDR met ’n meganismes soos die groenskrif is maar deel van die groter prentjie. Iewers sal daar besluit moet word of daar maar verlief geneem word van die hierdie proses waarmee die ANC besig is. Watter waardesisteme gaan oorbly as hul klaar is met dit wat hul beoog?

Die grootste gevaar is die langtermyn gevolge, maar intussen is die gevolge van hierdie denkrigting besig om stukkie vir stukkie elke dag Suid-Afrika onberekenbare skade te berokken. In die landbou-omgewing (en moet daarteen gewaak word om te sê dat dit die grootste probleem is – elke sektor van die ekonomie ervaar dieselfde dilemma) word groot probleme ervaar. Suid-Afrika se kommersiële boere word internasionaal beskou as die beste boere in die wêreld. ’n Groot rede daarvoor was puik navorsing sowel as ’n dinamiese voorligtingsdiens wat die jongste tegnologie en praktiese metodes na die plase gebring het. Vandag sit ons in ’n situasie dat a.g.v. aspekte soos “affirmative action” die verlies van kundigheid so groot is dat tydens ’n voorligtingskonferensie wat bygewoon is die hoof voorligtingsbeampte van ’n kantoor meld toe daar oor probleme gepraat word “my biggest problem is that nobody send me on a course that I can learn how to farm” Suid-Afrika kan alreeds nie die prys van “affirmative action” bekostig nie. Die probleem is dat die gevolge daarvan nou eers werklik begin inskop en hef-aan lê nog voor.

Die benadering van die ANC met dit wat hulle doen breek direk vertroue af. Selfs internasionale entrepreneurs oorsee tydens konferensies daar bygewoon meld openlik dat hul nie bereid is om in SA te investeer met hierdie kortsigtige benadering wat die regering hier volg nie. Daar word dan spesifiek verwys na die arbeidswetgewing sowel as die benadering t.o.v. eiendomsreg.

Grondhervorming misluk klaaglik en gaan produktiewe grond uit produksie. Die korrupsie en oneerlikheid wat in die verband plaasvind is omvangryk. Selfverryking is aan die orde van die dag. Daarby moet kennis geneem word dat daar in die verlede waar mense om politieke redes geskuif was hulle wel kompensasie hetsy in die vorm van ander grond of geldelik ontvang het. Nou word die vorige grond teruggeëis, maar word daar nie afstand gedoen van die kompensasie reeds in die verlede ontvang nie. Die belastingbetaler betaal dus twee keer vir ʼn eiser. Die regering is ook nie eerlik met hul eie mense nie. Titelaktes word nie in alle gevalle aan die eisers gegee nie en behou die staat dit. Die eisers kry net ’n gebruiksreg met die gevolge dat die grond nie as kollateraal aangebied kan word nie. Buiten die moontlike onvermoë om te kan boer sal die nuwe grondbenutter ook nie maklik finansiering kan kry nie aangesien die grond nie as waarborg kan dien nie. Die regering is dus eintlik reeds besig met ’n nasionaliseringsproses.

Buiten die onvermoë wat deurlopend geskep word deur die regeringsbeleid word ernstige vrae ook gevra oor die politieke wil wat geopenbaar word om die krisisse aan te spreek. Hierdie is ’n probleem op alle vlakke. Kan hier dink aan die onvermoë om bv. die veiligheidsituasie aan te spreek, die wyse hoe daar toegelaat word om seker die skaarste hulpbron naamlik water so erg te besoedel, ens, ens.

Die grondwet se sogenaamde beskerming van eiendomsreg het ’n sirkus geword en kan van die volgende gevalle studie kennis geneem word:

’n Boer in die Burgersfort omgewing het 7 jaar gelede 6 plakkershutte by hom op die plaas gekry. Het dadelik by die SAPD ’n klagte gelê en dit daarna met verskeie klagtes opgevolg en ook by die munisipaliteit. Daar is ook saam met ’n prokureur gepoog om die saak te beredder, maar sonder sukses. Tans is daar ongeveer 250 strukture waarvan sommiges ’n dubbelverdieping huis is wat met stene gebou is. Die SAPD het die boer selfs gedreig met arrestasie indien hy wou optree teen mense wat onwettig op sy grond betree en daar plak. Dit het nou al so ver gegaan dat die munisipaliteit dienste vir die strukture begin gee en dit alles sonder die boer se toestemming en met sy beswaar oor dit wat gebeur. Die staat is direk hier aandadig om konstruktiewe onteiening te laat gebeur en ondersteun hulle dit direk. Daar word baie gevra of ons in Suid-Afrika moontlik die Zimbabwe-situasie gaan bereik. Die werklikheid is dat ons reeds die SA-situasie bereik het wat selfs erger as die Zimbabwe-situasie kan wees deurdat ons geleidelik onkant gevang word oor wat gebeur. Verskeie ander voorbeelde van verskillende omvang is reeds hier aanwesig en kom die betreders weg daarmee. Die onbillikheid dat ’n wettige grondeienaar self ten duurste sy eiendom moet beskerm in die howe teen betreders wat selfs regeringsondersteuning kry wys vir ons wat is die werklikheid wat reeds in SA heers. Die regering verkrag die grondwet deur hierdie optrede. Ons moet onsself nie terg oor wat hier aan die gang is nie. Dit is soos minister Thoko Didiza destyds gesê het dat die grond herverdeling in SA sal nie soos in Zimbabwe wees nie – hier sal dit met wetgewing geskied. Dit word oa gedoen met die Esta wetgewing en dan ook die onvermoë of die gebrek aan optrede deur die SAPD en departemente sowel as munisipaliteite.

Die tentakels wat inspeel op landbou is wyd uiteenlopend. Dit is later diekumulatiewe effek wat vir enige boer net te veel word. Hierdie gevolge speel op die kleiner boere baie sterker in as op die groter eenhede. Die wêreldwye neiging dat plase a.g.v. ekonomie van skaal groter word sal in Suid-Afrika nie ontsnap word nie. Die regering se benadering van kleinboervestiging plaas hierdie persone in armoede slagysters en bied geen toekoms indien so eenheid nie gemeet word vir winsgewendheid om volhoubaarheid teweeg te bring nie. Die klimaat deurlopend geskep deur politici dat die mense grond gaan kry is uiters onverantwoordelik en skep verwagtings wat nie aan voldoen kan word nie. Voedselsekerheid word reeds onder druk geplaas.

Die konsep van SEB is eerder ’n ontmagtigingsproses as wat dit ʼn magtigingsproses is. Volgens TLU SA berekenings sal ongeveer 70% van die kommersiële boere nie finansieel die pyp rook as hulle moet voldoen aan die SEB voorwaardes nie. Sodra hulle bankrot gaan raak sal die sogenaamde bemagtigdes (werkers) uiteraard geen toekoms daar hê nie en kom die hele proses eerder neer op ʼn ontmagtigingsproses.

Groot gewag is gemaak oor infrastruktuur wat geskep gaan word. Met watter kundigheid gaan dit geskep word kan tereg gevra word? Hoeveel van die geld wat daarvoor geoormerk is sal a.g.v. korrupsie en wanbestuur iewers in iemand se sak beland en sal die staat steeds nie presteer nie.

Die land het in ’n groot mate wetteloos geraak danksy die regering se onvermoë om te kan regeer. Dit vraag kom al hoe meer na vore of Suid-Afrika nog die ANC se beleidsrigting kan bekostig.

4. Die pad vorentoe

Die regering sal vir homself eerste, maar daarna aan die massas moet antwoord of hulle wil kos hê in Suid-Afrika. Dit verg dat die regte dinge op die regte tyd gedoen moet word. Dit kan slegs ’n ekonomiese proses wees waar die ekonomiese beginsels korrek toegepas word. Slegs produserende kommersiële boere wat winsgewend is kan dit vermag om voedselsekerheid op die lang duur te waarborg. Indien ’n vorige minister van landbou sê dat sy nie die kommersiële boere se kos nodig het nie, want sy kan dit invoer kan mens nie anders as om te wonder wat word regtig in die binnekringe bespreek nie.

Hoe gouer die regering gaan besef dat die grootste bate waaroor hulle beskik is ’n kommersiële boer wat in produksie is en wat vir die mark produseer en dan daarvolgens handel in hul beleid en ook wetgewing, hoe gouer sal hul die ekonomie op dreef kry. Die waarde van kommersiële boere in die platteland om daar stabiliteit te bewerkstellig en mee te doen dat die dorpe ekonomies kan gedy word nie altyd na behore verreken nie. Verneem maar by enige besigheid in die platteland of daar ’n toekoms is indien kommersiële landbou gaan sneuwel.

Die beleid van “affirmative action” waar kundigheid vervang is met iemand van kleur en waar kundigheid by aanstelling nie die hoofoorweging is nie, het groot kundigheidsverliese te weeg gebring. Suid-Afrika kan nie voortgaan op hierdie kortsigtige pad nie en sal  hierdie beleidsrigting totaal geskrap moet word indien daar resultate bereik wil word.

Diskriminerende praktyke teen blankes se voorbeelde is legio in al die sfere van die samelewing. Blankes sal hulself moet inlig oor wat is ons regte en dit dan sterk toepas.

Geen boer het sy grond gesteel nie en moet ons waak dat die oormatige gebombardeerdery met al die leuens wat so aanmekaar vertel word nie ’n skuldgevoel laat ontwikkel nie. Die kommersiële boere kan en moet trots wees op dit wat in hierdie land vermag is.

Die glybaan waarin Suid-Afrika geplaas word a.g.v. regeringsbeleid stuur af op ’n ineenstorting van kapasiteit en vertroue. Indien die ANC se beleid wat vergestalt vanuit die Vryheidsmanifes deur ’n Nasionaal Demokratiese Rewolusie binne in dokumente soos die Groenskrif sal voortgaan, sal dit baie moeilik wees om ’n toekoms gebaseer op bepaalde Christelike waardes te skep.

Die ANC moet op ’n verantwoordelike wyse nasionaal en internasionaal blootgelê word vir dit wat hul beleidsrigting inhou. Die gevolge van dit kan gesien word in lande soos Georgië waar ’n baie senior persoon gesê het dat hulle alles in hul vermoë sal doen om uit ’n sisteem te probeer kom waar hulle sien ons regering ons probeer invat. Die eindresultaat is soos hulle dit stel: “the mindset of the people is stolen.”

Die kundigheid van blankes wat oor eeue heen ’n vooruitstrewende Suid-Afrika geskep het sal positief gerig moet word vir die toekoms. Daar sal nuut gedink moet word en gewis nie in die ANC denkrigting nie – dit hou vir niemand iets goeds in nie.

Ons moet nie toelaat dat ons oorval word met negatiwiteit nie. Aan die ander kant kan ons ook nie met naïwiteit ’n positiewe utopieë skep waarvan die droom dalk later blyk ’n nagmerrie te wees nie. Ontleed alles vir wat dit is – sien die groter prentjie raak en werk dan met ʼn positiewe houding met ’n oplossoekende benadering om energie sinvol te gebruik. Leer ’n onderskeidingsvermoë aan om te kan onderskei tussen dit wat ’n verskil kan maak en wat gaan net ’n geraas in die wind wees.

Ons as blankes is deel van hierdie land en moet ons nie toelaat dat ons erfreg van ons gesteel word nie. Die grootste deel van die blankes kan nie ’n ander heenkome vind nie, al sou hulle ook wou. Ons moet ʼn toekoms hier uitwerk in ons land en al sou dit beteken dat daar positief gewerk moet word na ’n ander staatkundige bedeling moet dit met geloof, hoop en entoesiasme aangepak word.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Bennie Van Zyl

Meer oor die skrywer: Bennie Van Zyl

Bennie van Zyl is hoofbestuurder van TLU SA.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Menefrego

Goeie artikel Bennie. Dis eintlik baie maklik om die ANC te verstaan. Hulle houding is een van die eevoudigste, en mees emosionele analise: Julle het ons goed gevat, en nou vat ons dit terug. Politiek in Afrika, gaan waar witmense betrokke is, altyd gaan oor grond. Swartmense gun ons geen grondbesit in Afrika nie. Was dit by Levubu waar daai een ANC aparatchik vir die boer geantwoord het dat die enigste plek waar hulle hom en sy grond sal uitlos, Australië is? Aanvaar hierdie houding, en werk dan daarmee. Ter wille van oorlewing, gaan ons blitsvinnig ons volkstaatplanne agtermekaar moet… Lees meer »