Toespraak gee Trump-veldtog nodige momentum

Foto: facebook.com

Foto: facebook.com

’n Sesjarige swart meisie se briljante weergawe van “America the Beautiful”, ’n gay miljardêr uit Silicon Valley se vurige toespraak waarin hy sy steun aan Donald Trump toesê, die kandidaat se dogter Ivanka wat haar pa in een van die beste toesprake van die vier dag lange konvensie voorstel en die kandidaat self wat die langste aanvaardingstoespraak van ’n presidentskandidaat in meer as 40 jaar lewer, terwyl die skare aan sy lippe hang. Dit is die verhaal van die ongewone gebeure wat miljoene Amerikaners Donderdagaand vasgenael voor hul televisies laat sit het.

Met Donald Trump moet die ou bekende of dit wat as normaal in die Amerikaanse politiek beskou word, nooit verwag word nie. Die afgelope vier dae se Republikeinse konvensie in Cleveland, Ohio, was vol verrassings en goed wat soms die oë van gryskop politieke kommentators baie wyd laat rek het. Trump se onkonvensionele aanslag is egter juis wat hom die Republikeine se benoeming as presidentskandidaat besorg het en op die laaste groot aand het hy nie teleurgestel nie.

Trump het in sy toespraak van byna 80 minute eers ’n donker prentjie geskets van die enorme uitdagings wat die VSA vandag in die gesig staar. Temas soos armoede, misdaad, terrorisme, werksverliese weens swak handelsooreenkomste en staatskuld is meesterlik deur hom uitgepak. Trump het Hillary Clinton direk aan talle mislukkings gekoppel en Amerikaners aangemoedig om ’n ander rigting as die een wat die land die afgelope agt jaar geneem het, in te slaan. Daarna het hy op sy tipies populistiese manier ’n hele reeks beloftes aan die Amerikaanse bevolking gemaak. Die hoogtepunt van sy toespraak was toe hy ’n eenvoudige kontras tussen homself en Clinton probeer skets het deur Clinton se slagspreuk “I’m with her” te vervang met sy eie: “I’m with you – the American people!” Daardeur het hy die persepsie dat Clinton nie in voeling met gewone Amerikaners is nie beklemtoon en homself as die stem van gewone Amerikaners voorgestel.

Terwyl politieke kommentators op CNN, MSNBC en ander bekende televisiekanale met groot negatiwiteit op Trump se toespraak gereageer het, het die gewone Amerikaners dit duidelik baie positief ervaar. In ’n peiling wat deur CNN onderneem is in die uur nadat Trump sy toespraak gelewer het, het 57% van mense wat na die toespraak gekyk het dit as baie positief ervaar. Slegs 24% het negatief gereageer. Sowat 56% van respondente in die peiling het aangedui dat Trump se toespraak dit meer waarskynlik maak dat hulle vir hom sal stem.

In ’n tyd waarin byna 70% van Amerikaners voel dat hul land in die verkeerde rigting beweeg en waar daar ernstige teenstand teen gevestigde politieke belange is, het Trump met sy populistiese aanslag die politieke landskap in Amerika vir altyd verander.

In sy toespraak het hy temas aangeraak wat voorheen nooit deur ’n Republikeinse presidentskandidaat geopper sou word nie. Hy het met passie gepraat oor armoede en misdaad in minderheidswoonbuurte en het na swart Amerikaners en ander minderheidsgemeenskappe uitgereik. Hy het sy steun aan die gay gemeenskap belowe en het internasionale handelsooreenkomste, iets wat tot onlangs soos kroonjuwele in die Republikeinse Party beskou is, uitmekaargeskeur en China, Suid-Korea en ander lande van onbillike handelspraktyke beskuldig.

Trump se toespraak kan as nasionalisties of eerder patrioties beskryf word. Dit was gefokus op Amerikaners wat moeg is vir ʼn intervensionistiese internasionale beleid wat gereeld op oorloë uitloop en die optrede van politici wat nie gewone Amerikaners se behoeftes eerste stel nie. Trump wil duidelik ’n nuwe koalisie van werkersklas, laermiddelklas en gefrustreerde konserwatiewe voorstedelike en landelike Amerikaners daarstel sodat hy op 8 November genoeg stemme kan kry om as president aangewys te word.

Donderdagaand se toespraak was sonder twyfel Trump se beste nóg. Dit sal hom waarskynlik binne ’n dag of twee die voorloper in peilings maak. Dit beteken egter glad nie dat Trump nou die gunsteling is om president van die VSA te word nie.

Volgende week sal die Demokrate hul konvensie hou en sal miljoene Amerikaners weer na Clinton en haar boodskap luister. Dit sal die pendulum weer na haar kant toe laat swaai. Daarna lê drie maande van harde steunwerwing voor. Die Demokrate se grondvlakoperasie is tans baie beter as die Republikeine s’n. Clinton is ook ’n heelwat beter debatvoerder as Trump en die twee sal gedurende September en Oktober in drie debatte mekaar die stryd aansê.

Maar Trump se grootste uitdaging bly die demografie van die kiesers wat in November gaan stem. Sy steun onder minderheidsgroepe is steeds uiters beperk. Indien hy enigsins ’n kans wil staan om in November te wen, sal hy na minderheidsgroepe moet uitreik, maar ook daarin moet slaag om ’n baie hoë persentasie wit kiesers agter hom te verenig. Die somme, staat vir staat, tel nie tans in Trump se guns nie. Selfs al wen hy meer as 50% van die stemme gaan dit vir hom baie moeilik wees om die regte state te wen sodat hy in die Amerikaanse kieskollege kan wen. Onthou, George W. Bush het in 2000 byna 500 000 minder stemme as Al Gore gekry, maar omdat hy in die regte state gewen het, het hy die kieskollege gewen en uiteindelik president geword.

Donald Trump het na die Republikeine se konvensie heelwat momentum. Hy en sy veldtog sal egter baie meer moet doen indien hulle enigsins ’n kans wil staan om in November suksesvol te wees. Intussen moet Hillary Clinton steeds as die gunsteling om op 8 November te wen beskou word.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Emile ·

Dit was vir my kommerwekkend dat daar ooglopende politieke inmengery was om te verseker dat Clinton in die resies bly. Dit n.a.v die FBI wat besluit het om haar nie te vervolg nie vir die sekuriteitsbreuk rondom haar privaat epos gebruik. Klink baie verdag en meer soos die laergooi rondom JZ en sy wederregtelike optredes.

In haar kandidaatstoespraak het Clinton ook alles aan almal belowe. Baie onrealisties en uit voeling met realiteit. Belowe basies vir die hele Mexiko gratis VSA gesondheidsorg, onderwys en maatskaplike toelae. Klink maar na ons ANC.

Ook baie interessant hoe die demokrate skielik die begrip “demokrasie” herdefineer om hul agenda te pas.

Carel ·

Vir die liberale en radikale karakter wat Trump is, kan ons verwag dat hy gaan wegdoen met die normale stereotype presidentskap wat ons die afgelope klomp jare sien. As hy glo in iets spat die vonke, hy vra nie gewildheid nie, hy doen wat hy voel is reg.
Ek soek ook so ‘n bumper sticker Quintin!

JC ·

Oulike en insiggewende artikel Jaco, Wil net se: Orania is “awesome”!!!

china ·

ek hoop trump wen. my kinders is op pad soontoe. hopelik kan ons agterna

Chris Ws ·

As ek kon stem vir Trump as president van Amerika het ek.Hillary belowe almal alles nes Mandela en die anc gedoen het.Nou betoog sy eie anc mense teen die anc se afwesigheid van dienslewering!

gatiep ·

Trump gaan daai US skud.Wens ook ek kon stem vir hom.Defnitief moet die USA verander dit kan nie so aangaan nie hy is reg,die wereld moet n verandering ondergaan.
As Zuma so toespraak gegee(en dit kon nakom)het het ek sy voete gaan soen.

Lance ·

Ja Gatiep and that aint gona happen …zuma net te pateties en ongelettered….hy se die week hy het homself geeducate ….well dis baie duidelik !

Louwrens ·

Kan n KUNDIGE asseblief vir ons (my) verduidelik wat die effek vir Suid Afrika sal wees , indien enige, Trump of Clinton die president sou word.
Byvoorbeeld, wat sal die ekonomiese implikasie op ons markte en geldeenheid wees?

Jaco Kleynhans ·

Louwrens. Myns insiens sal die gevolge beperk wees. Amerika beweeg stelselmatig weg van ‘n intervensionistiese internasionale beleid na ‘n meer nasionaal georiënteerde beleid en oor die langtermyn beteken dit minder Amerikaanse oorloë, maar ook die beskerming van Amerikaanse produksie (invoerheffings, ens) en waarskynlik minder van ‘n fokus op Afrika oor die volgende paar jaar.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.