Tot die koeie huis toe kom …

jimmy-manyi-ann7

Mzwandile Manyi, eienaar van Infinity Media Networks, by die ANN7-studio in Johannesburg saam met nuus-anker, Sindi Mabe. Foto: Getrude Makhafola/ANA

Toe ek ’n kind was en besig was met die dinge van ’n kind het my ma dikwels, wanneer ek onskuldig gepleit het, gesê: “Jy kan nou maar stry tot die koeie huis toe kom, maar ek weet jy het dit gedoen”.

Ek het die afgelope tyd dikwels aan die spreekwoord gedink te midde van die bohaai rondom die Guptas, hul televisiestasie ANN7, die suiwelplaas by Vrede in die Vrystaat, ens., ens. Die Guptas is saam met hul surrogaat Jacob Zuma en op soveel gebiede skuldig bevind, maar steeds is daar die een ontkenning na die ander, die een poging na die ander om uit die tronk te bly, die een poging na die ander om een van daai koeie dood te skiet voor hulle huis toe kom.

Die jongste poging wat oopgevlek is, is die nuus dat ANN7 sy deure gaan sluit nadat MultiChoice bekend gemaak het dat hy nie sy kontrak met die stasie gaan hernu wanneer dit in Augustus verval nie. MultiChoice self is onder skoot omdat hy miljoene aan ANN7 betaal het, na bewering om te help om eersgenoemde se monopolie in die digitale mark te verseker. MultiChoice ontken dit, en sê na ’n interne ondersoek het hy bevind dat daar geen bedrog gepleeg is nie. Was daar maar bedrog, want nou het MultiChoice daarmee erken dat hy willens en wetens, kan ons maar sê, sy siel verkoop het vir die spreekwoordelike lensiesop.

MultiChoice, as deel van die magtige Naspers-groep, word hoeka daarvan beskuldig dat hy sy mantel na die wind draai, net soos in die apartheidsera. Sy koerante is aan baie fronte nog nie vergewe dat hulle apartheid gesteun het nie. Veral in Afrikaner-geledere word hulle nou daarvan beskuldig dat hulle hul tradisionele ondersteunerskorps vervreemd het, dat hulle nie Afrikaans steun nie, en so meer.

Nietemin, Okosa, die nasionale media-waghond, is nou ook besig om MultiChoice te ondersoek om te kyk of hy die een of ander gedragskode oortree het.

Maar wat het MultiChoice verkeerd gedoen? Om mee te begin het hy politieke onsensitiwiteit aan die dag gelê deur sake met ANN7 en die Guptas te doen, en dit nog in die geheim. Hy moes geweet het dat die Guptas se streke die een of die ander tyd sou uitborrel. Maar meer nog, hulle het koerante soos The New Age en ’n stasie soos ANN7 begin om, met Zuma se steun, miljoene rande van Suid-Afrikaanse belastingbetalers te roof. Feitlik al die advertensies van die regering het na dié twee gegaan, en daar is met hulle sirkulasiegetalle gesmous. The New Age word op al Suid-Afrika se lughawens gratis uitgedeel – net soos Citizen destyds – en al wat dit bevat, is Zuma-propaganda.

Toe dit vir die Guptas te warm word, het hulle ANN7 aan Mzwaneli Manyi, toe nog verbonde aan Zuma se kantoor, verkoop. Nou ja, wie het hulle gedink gaan hulle flous? Die publiek is slimmer as dit. Dis dieselfde Manyi wat persoonlik op die Vrede-“suiwelplaas” opgedaag en ’n program gemaak het oor die “wêreldklas-fasiliteit”.  Nou toe nou.

Ander, meer onafhanklike mediahuise (Naspers inkluis) het lankal maer, brandsiek koeie gewys, masjiene wat ledig staan, ens. Ons weet ook dat die grootste deel van die geld wat Ace Magashule, nou sekretaris-generaal van die ANC, vir die skema bewimpel het, in die Guptas se hande beland het.

Vir die Guptas moes Suid-Afrika, toe hulle die eerste keer hier aangekom het, soos die paradys gevoel het. Mense is oop en bloot omkoopbaar, en dis sake soos gewoonlik (soos in Indië). Die manier waarop hulle te werk gegaan het, is eintlik ’n belediging vir Suid-Afrikaners se intelligensie.

Maar die hele saga het ’n ander sweer oopgevlek: die vraag van joernalistieke objektiwiteit. Wat is dit en is so iets moontlik? Vir wie moet die gewone mens glo?

Ek was by toe CNN in 1979 in Zimbabwe ’n klompie “betogers” bymekaarmaak en hulle só afneem dat dit lyk of daar baie is. Teen die tyd dat dit op die lug was, was daar “honderde” betogers. Net so is driekwart van die nuus wat deesdae uit die Midde-Ooste kom, doodeenvoudig fopnuus. Suid-Afrikaners kry ook al hoe meer met fopnuus te doen, veral op die sosiale media. Gelukkig kan hulle dikwels deur middel van dieselfde sosiale media die korrels van die kaf skei.

En wat van joernalistieke vryheid en die siening van joernaliste dat hulle as heilige koeie beskou moet word? Ek het ’n probleem daarmee. Hoekom moet ’n jongetjie met geen ervaring nie vandag by ʼn koerant begin, etlike foute maak en onaantasbaar bly? Joernaliste is nie bomenslike wesens nie en moet net soos die res van ons die gevolge van hul dade dra.

Wat ANN7 en MultiChoice betref: hulle kan maar ontken tot die koeie huis toe kom. Die een of ander tyd gaan die volle waarheid uitkom. Die publiek is nie meer so dom nie.

En die laaste van die Gupta-skandkas is nog nie gesien nie. Êrens het daar ʼn klein beriggie verskyn dat een van die Guptas se kontakte in Indië ʼn miljoenêr is wat in skrootmetaal handel dryf. In Suid-Afrika word miljoene rande se koperkabels elke dag gesteel. Waarheen verdwyn dit?

Dalk is die Vrede-plaas net die oortjies van die (see)koei.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Tienie Fourie

Tienie Fourie is ʼn oud-joernalis wat Suid-Afrika ook as diplomaat in Londen, New York en Wene verteenwoordig het. Hy het ook in Zimbabwe en China gewerk.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Hannah ·

O aarde…hierdie land is darem regtigwaar so korrup op die oomblik…. sal ons ooit uit hierdie gemors kan kom Tienie? Gaan dit maar oral so? Of is dit net hier waar dit so akuut blyk te wees?

Jacques Venter ·

Ek is skuldig daaraan dat ek eens n DSTV intekenaar was.
Toe ek agterkom dat hulle die Guptas steun het ek my verbintenis opgeskort.
Menige petisies is geloots dat DSTV sy bande met Guptas verbreek. Maar puur verniet.
Ek weet die ouens wil graag rugby kyk. Maar teen watter prys?

Joe Hall ·

Vir wat dit ookal werd mag wees, stem ek volkome saam met Tienie Fourie wanneer hy sê:
“…Joernaliste is nie bomenslike wesens nie en moet net soos die res van ons die gevolge van hul dade dra…”

Veral gedurende die tydperk wat mnr PW Botha die kitaar geslaan het en meeste siele in die omgewing aan’t dans gegaan het, was dit nie ‘n vreemde of seldsame gebeurtenis om te sien hoe sommige “wederstrewiges” die gevolge van hul dade moes dra nie.

Daar is ‘n paar interessante voorbeelde van joernaliste en ander siele wat destyds in die media bedryf doenig was, wat die argwaan van mnr Botha op die hals gehaal het en sommer op kort kennisgewing die gevolge van hul dade gedra het.

Jammer dat ons deesdae blootgestel word aan talle ‘heilige koeie’ in die joernalistieke bedryf wat oënskynlik sonder slag of stoot die vryheid geniet om met enige ding vanaf fopnuus tot karaktermoord weg te kom.

Miskien kan mnr Fourie ons van ‘n paar interessante voorbeelde vertel…

:-)

Jerry ·

Ek sou die gesegde verander sodat dit meer vanpas is op die huidige Suid-Afrika “jy kan nou maar stry totdat die pelgrims huis toe gaan”. Tereg kan gese word dat die Zuptas Suid-Afrika verhef het tot Mekka status. Ek is oortuig daarvan dat meer pelgrims Suid-Afrika binnestroom as in die geskiedenis van Mekka. Ek sou graag wou weet wie het vir hierdie pelgrims gese dat die Zuptas berei vir hulle plunderfeeste voor wat hulle verniet kan kom bywoon. Tereg stel die skrywer dit wat sover uitgekom het oor die Zuptas as die oortjie van die seekoei en ek stem saam want korrupsie het so geseevier oor die afgelope 9 jaar dat dit verrassend sal wees indien daar kabinetslede, staatsentiteitamptenare, staatsamptenare en wetstoepassers is wat nie gekaap is nie. Die enigste medisyne wat werk teen korrupsie en plundery is wetstoepassing. Ongelukkig vir Suid-Afrikaners is die wetstoepassers ook gekaap. CR het alle Suid-Afrikaners se ondersteuning nodig om sake in n nuwe en beter rigting te stuur. Niemand hoef n siener te wees om te sien hier kom groot olikheid na die fees.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.