Toutrek oor Gibraltar ná Brexit-besluit

Gibraltar-en-Engelse-vlae

Gibraltar en Brittanje se vlae. Foto: Joernhb/Pixabay.com

Gibraltar, ʼn Britse enklawe wat aan Spanje grens en deur Spanje opgeëis word, is al dekades lank ʼn twisappel tussen dié twee lande. Solank al twee lande lede van die Europese Unie (EU) was, was dit relatief maklik omdat handel en beweging van persone maklik was, talle wette ooreengestem het en geen werklike grensbeheer plaasgevind het nie. Gibraltar is baie sterk aangewese op toerisme, finansiële dienste en (tolvrye) handel en sy enigste landsgrens is met Spanje. Spanjaarde is ook die grootste deel van die werkers in Gibraltar en pendel elke dag vir werk.

Met die Brexit-referendum het die inwoners van Gibraltar oorweldigend vir Brittanje se lidmaatskap in die EU gestem (96%) omdat hulle aangewese is op handel en oop grense. Feitlik alles moet ingevoer word omdat Gibraltar met sowat 30 000 inwoners heeltemal te klein is om noemenswaardig self iets te produseer. Die Britse militêre basis en die hawe is wel ʼn aansienlike bron van inkomste. Gibraltar het ook sy eie belastingwetgewing en het besonder lae maatskappybelasting van 10%, teenoor 25% in Spanje, wat die gebied vir die registrasie van buitelandse maatskappye aantreklik maak. Dit is juis ʼn steen des aanstoots vir Spanje. Tolvrye inkopies dra ook by tot die gebied se inkomste. Gibraltar het in wese die beste van al twee wêrelde en dit dra by tot sy hoë per capita-inkomste en feitlik geen werkloosheid nie, wat sterk kontrasteer met die arm suidelike deel van Spanje waar werkloosheid om en by 35% is. Hier kom Eerste en Derde Wêreld in ʼn sekere sin bymekaar.

Brittanje het wel vir Brexit gestem en die stem geld ook vir Gibraltar. Gibraltar het ʼn groot mate van selfbestuur – Brittanje hanteer slegs verdediging en buitelandse sake. Spanje koester nou die hoop dat die vooruitsigte van Brexit vir Gibraltar só nadelig sal wees en dat inwoners eerder sou besluit om in die lig van die nuwe politieke situasie deel van Spanje te word om in die EU aan te bly. Die land is daarin deur die EU-kommissie ondersteun deurdat die kommissie gesê het Spanje kan self besluit hoe die Brexit-besluit sy verhoudinge met Gibraltar raak.

Sulke hoop is egter deur die Britse regering sowel as die regering van Gibraltar die nekslag toegedien. Die Britse eerste minister, Theresa May, het beklemtoon dat niks aan Gibraltar se status sal verander nie en dat dit deel van Brittanje sal bly en meer nog, dat sy bereid is, soos haar voorganger in die 1980’s, Margaret Thatcher, om Gibraltar militêr teen vreemde aggressie te verdedig soos destyds die geval was met die Falkland-eilande. Die gevoel is deur die hoofminister van Gibraltar, Fabian Picardo, beaam, wat die wil van sy klein entiteit om deel van Brittanje te bly, ook in die geval van ʼn Brexit, bevestig het. Die Gibraltarese het al verskeie kere onomwonde hulle wens om deel van Brittanje te bly uitgedruk, laas in 2002 met ʼn referendum waar bykans 99% vir die behoud van die huidige status gestem het.

Nogtans is albei regerings verbind tot onderhandelinge en is die kanse op ʼn oorlog oor Gibraltar feitlik nul. Gibraltar is wel geografies deel van Spanje, maar is nou al bykans 300 jaar polities deel van Brittanje. Die stad is destyds deur Spanje aan Brittanje gegee as erkenning vir Brittanje se steun aan die wenfaksie in die stryd tussen verskillende koningshuise. Later het Spanje egter gepoog om Gibraltar terug te wen met die stok-en-wortelbenadering, maar het nooit só ver gegaan om die stad militêr te verower nie, hoewel Spanje onder die diktator Francisco Franco tydens die Tweede Wêreldoorlog amper tot so ʼn stap oorgegaan het.

Daar is egter ook aanduidings dat die hernieude bekgeveg oor Gibraltar net deel is van die Spaanse en EU-regering se strategie om die maksimum uit die “egskeiding” te kry. Spanje se taktiek kan wees om in ruil vir talle ekonomiese toegewings in Brittanje, immers ʼn ekonomies welvarende land, die geveg oor Gibraltar af te las.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Sebastiaan Biehl

Sebastiaan Biehl werk tans as ʼn analis in Berlyn, Duitsland. Hy is ook ʼn skrywer van romans en reisbeskrywings in sy vrye tyd en was op ʼn tyd (2001-2005) ook vir Solidariteit se media-afdeling werksaam. Sy kwalifikasies is BA algemeen, BA Hons (Politieke Wetenskap) en MA Politieke Wetenskap by Bloemfontein en RAU, onderskeidelik. Sebastiaan se gebiede van belangstelling is veral politiek, geskiedenis en reis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

John ·

Die Britte wil steeds die wereld bestuur. Hulle is ook die oorwig in die VSA se millitere magte al noem hulle hulself Amerikaners… dominerende bullebakke. Die queen gaan haar vakansies in in die kasteel van die afgesette queen Mary of Scotland mis as Skotland afskei en dit kan nie… en die hawe vir atoomduikbote is lekker ver weg van die paleis in Skotse waters en sal nou moet skuif… en … en nou ‘back-paddle’ die spul maar weer na die EU op hul so bekende vroom-slinkse styl.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.